ek sal dit doen. Rol net asseblief vir my daardie groot klip naby die vuur.”
Hulle eet later in stilte en Dewald gaan spoel self die borde en bekers uit.
“Ons moet al die biltong wat hier is in die saalsak druk, want ons gaan ’n goeie twee dae op die pad wees.” Dewald pak die laaste bietjie koffie en suiker ook in die saalsak. “Ons kan ongelukkig nie die ketel ook saamvat nie. Ons het net die een perd en jy, met jou beseerde enkel, sal meestal daarop moet ry.”
“Ons kan mos maar die water sommer in die bekers kook,” doen Katrien skaam aan die hand, al ignoreer Dewald dit ook geheel en al.
Hy kom staan voor haar waar sy teen die boom sit.“Jy waag nie weer een van jou simpel planne nie. As jy nie so wantrouig was nie, het ons nog albei perde en die geweer gehad.”
Katrien sug. Dit was seker ’n onnosel ding wat sy gedoen het, maar hy kan darem nie verwag dat sy ’n rower wat haar ontvoer het, moet vertrou nie. Dit is darem verregaande!
“Verstaan jy my? Dit gaan nou om jou lewe en myne. Of jy my nou vertrou of nie, dit maak aan my geen saak nie. Ek het jou belowe dat ek jou lewend hier sal uitkry en ek sal dit doen, al breek ek ook my eie nek!”
Katrien laat haar kop sak en kyk op haar hande af.
Dewald sak af en kom sit op sy hurke voor haar. “Ek het ’n goeie vermoede wat jou dunk van my is. Maar hoekom jy my vrees, weet ek nie. Dinge is nie soos dit op die oog af lyk nie. Ek kan jou ongelukkig nie nou in my vertroue neem nie. Die situasie is te delikaat en dit kan alles verongeluk.”
“Hoe kan jy van my verwag om jou te vertrou?”
“Vertrou my net! Dit is al wat ek vra. As jy regtig nie kan nie, belowe my dan net jy sal nie weer probeer vlug of my van die gras af probeer maak nie. As ek nie by jou is nie, gaan jy geen kans hê nie.”
“Ek wou jou nie doodmaak nie. Regtig nie . . . ek . . .”
“Spaar jou traantjies. Ek laat my nie twee keer met dieselfde strik vang nie. Kry dit net in jou kop dat jy nie met daardie beseerde enkel moet probeer wegkom nie. Die ander gaan nie vir jou genade hê nie.”
Dit voel vir Katrien asof sy nog nie ’n oog toegemaak het nie, toe sy al vir Dewald hoor werskaf om vuur te maak. Die dag skyn grou by die hut se deur in.
Katrien swaai haar bene van die bed af en toets haar beseerde voet liggies. Dit is nog gevoelig, maar beslis nie meer so seer soos die vorige dag nie. As sy die voet vandag nog laat rus, behoort dit gou-gou heelwat beter te wees.
Sy hou aan die hut se deurkosyn vas en spring dan op haar een been na buite. “Kan ek help?”
“Nee wat, dit is nie nodig nie.”
Sy steur haar egter nie verder aan Dewald nie en wip weer terug na die hut toe om die meel te kry om pap mee te maak.
Die ontbyt verloop stil en stroef en voordat die son nog behoorlik op is, sit sy al op die perd en vat Dewald die teuels stewig vas om hulle die berg uit te lei. Die saalsakke is bultend, want hulle moes alles daarin druk. Hy haak hare en syne oor die perd en stadig begin hul uittog.
In doodse stilte stap hulle al kronkelend deur die berg. Dit is gevaarliker as toe hulle gekom het, want die paadjie is skerp afdraand en Dewald is uiters versigtig dat die perd nie moet gly en seerkry nie. Dit voel soos ’n ewigheid voordat hulle onder die berg op die gelykte uitkom.
Dewald vee die sweet van sy voorkop af en steek sy hande uit om haar van die perd af te tel. Sy buk vooroor en gly gemaklik in sy arms af. ’n Oomblik lank staan sy styf teen hom aan en ’n vreemde begeerte om haar arms om sy lyf te slaan en haar kop teen sy bors te druk, spring soos ’n fontein in haar op.
Verleë en ongemaklik oor hierdie vreemde begeerte staan sy vinnig terug en ontwyk sy oë.
Hulle drink van die water uit die watersak en laat die perd so ’n uurtjie rus. Daar is egter nie water vir die perd nie en Katrien wonder bekommerd wanneer en waar hulle vir die stomme dier gaan water kry.
“Waarheen gaan jy nou met my?” Katrien krap met ’n stokkie voor haar in die grond.
“Otjimbingwe toe.”
Sy sug diep. Sou hierdie week saam met haar nie ook iets aan hom gedoen het soos aan haar nie? Is hy werklik nog van plan om aan te gaan met hierdie diefstal en haar nog aan die genade van die ander rowers uit te lewer?
“Dewald . . . as jy nie kans sien om die geld te verloor nie, hoekom laat jy my dan nie net gaan nie? My oupa het nie juis geld nie, maar ek is seker daarvan as ons die plaas verkoop, sal hy jou iets kan gee as . . . hy my lewend kan terugkry.”
“Ek kan nie. Hulle wil jou daar hê sodat Lukas en die ander kan dink alles is reg. Lukas en jou ander mense moet die beeste aanjaag tot kort voor Windhoek. Hulle wil so min moontlik agterdog wek, want almal is deesdae op hul hoede vir die veediewe.”
“Julle het alles haarfyn beplan, nè? Tot alternatiewe planne ingeval een nie uitwerk nie.”
“Ja, alles is haarfyn beplan.”
Sy skuif nader aan hom en lê haar hand pleitend op sy arm. “Dewald, ek smeek jou, asseblief! Laat my asseblief gaan. Ek het daaroor gedink en ek besef nou dat my ouma en oupa al die jare maar net vir my geleef het. Hulle sal eerder vir my wil terughê as die beeste of die geld.”
Hy kyk nie na haar nie. Sy blik rus stil op die hand wat sy arm so benoud omklem. Binne-in hom woed ’n stryd wat sy nie sal verstaan nie. Hy is self so onwillig om haar aan soveel gevare bloot te stel, maar die sukses van sy plan hang geheel en al van die volgende paar dae af. As sy tog net naby hom wil bly en nie weer probeer ontsnap nie! Hy kyk op en sien die trane aan die lang wimpers en iets knak binne-in hom. Sonder dat hy dit so wil hê, is sy skielik in sy arms en soen hy haar wild en onbeheers.
Die bruin oë, so vol bewondering, wat so sag na hom kyk, ruk hom tot die werklikheid terug en hy verag homself vir sy volgende woorde, veral toe hy die ongeloof en verwarring op haar gesig sien. “Jy speel al weer met vuur, nè? Een van die dae gaan ek vergeet dat ek ’n heer is en dan gaan jy nie so goed daarvan afkom nie.” Sy groot hand omvou haar gesiggie en dan sak sy kop weer laer en rus sy mond nog ’n keer sag en talmend op hare.
Hy laat haar gaan en Katrien kyk hom net verslae aan. Sy is seker daarvan dat sy oë sy woorde weerspreek en dit verwar haar heeltemal. Vinnig druk sy haar gesig in haar hande en haar skouers ruk terwyl geluidlose snikke deur haar golf.
Dewald staan vinnig op en stap ’n ent van haar af weg. Wat moet hy doen? Hy het nie verwag dat sy so pragtig en vroulik sou wees nie. Hulle het almal gedink sy sou groot en grof wees. ’n Vrou wat so ’n lang trek met ’n trop beeste aandurf, behoort groot en grof te wees en soos ’n man met ’n vuis te kan slaan.
Sy kyk na sy breë rug waar hy ’n entjie van haar af gaan staan en ver voor hom uitstaar. ’n Vreemde mens! Hy was hierdie afgelope dae net goed vir haar. Hy het haar nooit te na gekom of probeer molesteer nie, behalwe die dag daar by die fontein, en wel, dit was darem abnormale omstandighede en hy het haar darem net gesoen.
Asof vanself gaan haar hand na haar mond toe en vryf sy liggies oor haar lippe waarop syne nou net met soveel emosie en dringendheid gerus het. Peinsend kyk sy na hom. Sy is seker daarvan hy voel iets vir haar. Hy behandel haar met soveel respek. Hy pleit gedurig by haar dat sy hom moet vertrou. As sy net kan weet wat die bende rowers se planne is, wat sý plan is, dan kan sy probeer om iets uit te werk.
Doelgerig druk ’n plan wat sy al vroeër op die proef gestel het, hom weer pertinent op die voorgrond. Haar enigste wapen is die feit dat sy ’n vrou is, en sy sal net moet baklei met die wapen tot haar beskikking – al moet sy ook van haar trots en selfrespek daarvoor inboet. Sy sal baie versigtig moet wees. Hy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. As sy nou ewe skielik vriendelik en toegeeflik word, sal hy hond se gedagtes kry. Sy sal dit geleidelik moet doen sodat dit natuurlik kan lyk. Dit is blykbaar nog twee dae se reis na Otjimbingwe toe en dit gee haar darem ’n kans.
Sy laat sak dus weer haar kop op haar knieë en sit doodstil