jy kan darem vreeslik snork! Dan slaap jy nog met ’n oop mond ook.”
“Ag!”
“Kom, liefie, dat ek die bande wat ons bind, loswikkel.” Hy vroetel aan die tou by sy enkel en toe dit los is, tel hy haar voet in sy hand op. Haar voet is omtrent so groot soos sy hand en hy draai die tou om haar enkel versigtig los.
Hy vryf die rooi merk wat die tou gemaak het liggies met sy vingerpunte en toe hy opkyk, kyk hy reg in haar oë waarin daar ’n peinsende uitdrukking is.
“Moet net nie vir my sê jy is jammer hieroor nie. Ek dink jy skep ’n sadistiese behae daarin om my so te verrinneweer.”
Dewald haal sy skouers op en lag skeefweg. “Wel, ek weet van min ouens wat met ’n vrou kan redeneer en as oorwinnaar uit die stryd tree.”
Katrien sien sy ontspanne houding en nuwe planne begin al weer in haar agterkop rondfladder. Sy sal net moet seker maak van haar rigting en alles eers haarfyn beplan.
Dewald staan op en trek haar aan haar hand op. “Kom ons gaan haal koffiewater en gaan was ons sommer ook.”
Katrien kry eers gou haar goedjies in die hut en draf dan na buite waar hy geduldig vir haar staan en wag. Met meer konsentrasie beskou Katrien die omgewing. Die geweer staan teen die boomstam, maar op hierdie oomblik is Dewald tussen haar en die boom. Sy sal net eenvoudig moet probeer om vandag nog hier weg te kom, anders is dit te laat. Hierdie klomp skelms het ’n ander wegkruipplek by Otjimbingwe en sy moet hulle inhaal voordat hulle daar is.
Hulle voel heerlik verfris toe hulle terugkom, en Katrien sny solank die vleis in klein stukkies om saam met die sampioene te braai. Soos ’n ou getroude paartjie wat nie ’n enkele probleem in die wêreld het nie, sit hulle gesellig saam ontbyt en eet.
“Dink jy nie ons moet ’n slag die perde opsaal en ’n entjie met hulle gaan ry nie?” Katrien sê dit gewoon, maar Dewald is dadelik agterdogtig.
“Hoekom?”
“Hulle het ’n bietjie oefening nodig.”
“Ons kan hulle sommer hier rondlei.”
“Dit sal lekker wees om ’n entjie te gaan ry.” Katrien hou haar baie doenig met die kos in haar bord.
“Dit is te bergagtig, dit sal allermins ’n plesier wees. Hierdie valleitjie is ook te klein om te dink ons sal hier kan rondry.”
“Ag, jy is darem naar!”
Dewald lag. “Ek het hierdie uitdrukking laas op . . .” Hy bly skielik stil en staan op om vir hom nog koffie in te gooi.
Nuuskierig sit Katrien regop. “Waar het jy dit laas gehoor?”
“Nêrens nie.”
“Jy vertel my ook niks van jouself nie. Wie is jy en waar kom jy vandaan?”
“Dit is beter dat jy nie weet nie.”
“Jy weet alles van my af.”
“Darem nie alles nie. Ek weet nog nie of jy dalk verloof of verlief is nie.”
“Ek het jou ’n vraag gevra, Dewald.”
Dewald maak asof hy nie haar laaste vraag gehoor het nie. “Het jy?” Hy klink so onskuldig.
“Het ek wat?”
“Het jy ’n kêrel wat vir jou wag? Klaus het gepraat van ’n kêrel wat vir jou wag, of nee . . . jy sou by hom op die plaas gaan kuier het.”
“Nee, dit was sommer ’n storie om Lukas tevrede te stel. Hulle almal, met my ouma aan die voorpunt, soek heeldag vir my ’n man – eintlik iemand om die plaaswerk uit my hande te neem. Dit was al storie wat hom sou oorhaal om my alleen te laat ry.”
Dewald hoor die hartseer in haar stem en hy wens dat hy haar in sy vertroue kan neem. Dinge is egter te deurmekaar en te delikaat in hierdie stadium. Hy kan nie nou kanse waag nie, want dan was al die opoffering tevergeefs.
“Is daar iemand anders daar naby julle?”
“Miskien.”
Katrien staan op en gaan haal van die rou vleis. “Ons sal van hierdie vleis moet kook; dit gaan nie hou nie.” Sy sny die vleis in blokkies en gooi dit in die driebeenpot terwyl Dewald ’n paar kooltjies onder die pot krap sodat dit stadig kan kook.
Katrien beweeg ongemerk nader aan die geweer. Sy het die omgewing goed opgesom. Haar beste kans sal wees om deur die opening agter die hut weg te kom.
Die dag lê eindeloos lank en vervelig voor met niks om te doen nie. Hoeveel dae het sy nie gewens dat sy net een dag kon kry om te rus nie; net een dag van salige niksdoen! Noudat sy dit in haar skoot kry, kan sy dit egter nie geniet nie.
Dewald sit ontspanne teen die boom en Katrien besef dat hy baie minder op sy hoede as aan die begin is. Sy staan op en stap na die hut toe. Hy kyk net lui op en gaan aan om ’n stukkie hout met sy knipmes te sit en kerf.
In die hut haal sy ’n stuk biltong uit haar saalsak en druk dit in haar broeksak, asook ’n dosie vuurhoutjies wat eenkant op die tafel lê.
Sy vat haar borsel en gaan sit weer onder die boom. Tydsaam maak sy haar hare los en begin dit borsel. Sy sien hoe Dewald se hande verstil en sy blik peinsend op haar hare rus. Dit laat haar ongemaklik voel. Behendig vleg sy die lang hare en gooi die vlegsel oor haar skouer.
“Sal ons nie vir ons ’n bietjie koffie maak nie? Dit is wel nou teetyd, maar koffie sal ook lekker smaak.”
“My ma sou sê jy het darem ’n vreeslike droë lewer.”
“Leef jou ma nog?”
“Ja, sy leef nog. Sy het net sulke mooi, lang hare soos jy.”
“Dewald, hoe kan jy hierdie dinge aan haar doen?”
Dewald antwoord haar nie. Hy staan net op en weeg die koffiekan in sy hand. Dan buk hy oor die vuur om nog ’n stukkie hout op te sit.
Dit is toe dat Katrien haar kans waarneem. So sag moontlik beweeg sy nader aan die geweer en met ’n blitsvinnige beweging gryp sy dit aan die loop. Met al haar krag slaan sy Dewald teen sy agterkop. Hy spring om, dan knak sy knieë stadig onder hom en hy slaan neer soos ’n os.
Katrien gryp die geweer, maar draai eers weer om na hom toe. Ag, Vader, gee tog dat ek hom nie doodgeslaan het nie, bid sy en buk by hom. Toe sy die ligte deining van sy borskas sien, sug sy van verligting.
Vinnig gryp sy haar hoed en met een beweging gooi sy die saal oor ou Bes se rug en trek die gespe van die buikgord vas. Sonder Bes sal sy nie die beestrop kan inhaal nie.
Haar tog gaan egter tergend stadig. Sy het nie opgelet hoe hulle gekom het nie. Sy loop haar gereeld teen hoë rotse of kranse vas wat absoluut onoorkombaar is, en dan moet sy weer ’n ent terugbeweeg. Sy moet in ’n suidwestelike rigting gaan en as plaaskind is dit nie ’n probleem om die rigting te bepaal nie. As sy tog net eers uit die berg met al sy gevare en draaitjies kan kom.
Na meer as twee uur se gesukkel voel sy heeltemal verdwaal. Sy maak vir Bes aan ’n rotspunt vas en klim op ’n hoë rots. Sy is nog diep in die berg, maar toe sy bo-op die rots is, kan sy die blou lug in die verte sien.
Veiligheidshalwe lei sy liewer vir ou Bes. Dit gaan moeisaam en die son speel ook nie saam nie. Dit is op die hitte van die dag en die son staan behoorlik stil. In haar haas om weg te kom, het sy vergeet om water te vat en sy maak al die afgelope uur met haarself daaroor rusie. Dat sy as gebore Suidwester nou so iets gekliks kon doen, gaan haar verstand te bowe. Haar tong klou aan haar verhemelte vas en die droogheid het al versprei tot in haar bors, sodat sy sukkel om asem te kry.
Na ’n moeisame uur lange gesukkel sien Katrien ’n hoë rots voor hulle. Sy moet liewer maar weer hier opklouter en kyk of sy nie kan sien waarheen hulle moet gaan nie. Dit is toe sy haar arms uitstrek om op te klim dat sy die vars voetspoor in die sand onder die rots sien. Stadig sak sy op haar hurke en kyk verdwaas na die spoor. Met ’n gevoel van teleurstelling