Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 9


Скачать книгу

agter die berg af gesien kan word nie.

      Sy sien hoe die man hier voor haar hom van sy perd afswaai en toe sy weer opkyk, staan hy voor haar. ’n Oomblik lank is sy heeltemal uit die veld geslaan. Hy lyk glad nie soos iemand wat hom aan sulke lae, gemene misdade skuldig sal maak nie. Sy gesig is bruingebrand van die son en die twee helderblou oë steek vreemd af teen sy donker hare en vel. Die uitdrukking in sy oë kan enigiets van jammerte tot verleentheid wees.

      Vererg ruk sy haar reg. Sy is darem nie meer ’n bakvissie wat haar deur ’n aantreklike gesig om die bos sal laat lei nie. Sulke mans is gewoonlik die gevaarlikste. Sy sal elke oomblik op haar hoede moet wees. Vinnig kyk sy weg toe sy die spottende lig in sy oë sien. “Kom!” Hy staan langs haar perd en steek sy hande na haar toe uit. Onwillekeurig deins sy terug. Hy steek egter sy hande onder haar arms in en tel haar van die perd af.

      Sonder om weer na haar te kyk, vroetel hy met die toue aan haar hande en die hoop vlam hoog in haar op dat hy haar gaan losmaak. Hy trek egter net die knoop stywer en beduie dan na die hut. “Jy kan maar daar gaan rus as jy wil.”

      Katrien kners op haar tande. Oor haar dooie liggaam sal sy in daardie hut ingaan waar hy haar kan vaskeer.

      “Is jy bang om my hande los te maak? Wat kan ek tog aan ’n groot man soos jy doen?”

      Dewald glimlag breed af in die vuil, stowwerige gesiggie. “Ek vertrou jou nie.”

      “Wel, ek vir jou nog minder. Maar ek dink darem dit is net regverdig dat ons met dieselfde wapens veg. Watse kans het ek terwyl my hande vasgebind is?”

      Hy gooi sy kop agteroor en lag skaterend sodat die klank daarvan teen die klowe vasslaan en vrolik na hulle terug weergalm.

      “Dit is nie vir my wat jy moet bang wees nie!”

      “Gmf! Dan wonder ek nogal vir wie ek moet bang wees! Dit is immers net jy wat hier is.” Haar stem klink spottend en darem braaf genoeg in haar eie ore. “Ek het dors.”

      Katrien verander skielik van taktiek. Dalk moet sy hom nie treiter nie. Hy lyk darem na iemand met ’n bietjie humorsin en miskien is dit beter om hom nie kwaad te maak nie.

      “Kom, ek sal vir jou gaan water gee. Daar anderkant is ’n fontein.” Katrien stap gedwee saam met hom na die fontein toe wat omtrent vyftig tree van die hut af is. Hy skep van die lekker koel water in ’n blikbeker en hou dit na haar toe uit. Sy steek die twee vasgebinde hande na die beker toe uit en draai die een hand by die ander een verby sodat sy darem die beker aan sy oor kan vat. Gulsig drink sy die beker byna leeg en dit is toe sy die beker aan hom wil teruggee dat sy sien hy staan haar peinsend en dophou. Skielik is haar oë weer waaksaam en baie bang.

      Dewald beskou haar aandagtig en steek dan sy hand uit om die beker by haar te neem. ’n Vreemde uitdrukking verskyn in sy helderblou oë. Terug by die hut sit sy met haar rug teen ’n boomstam terwyl sy hom behoedsaam onder oog hou. Dewald saal die perde af en sit hul saalsakke in die hut. Haar blik volg elke beweging wat hy maak. Haar liggaam is snaarstyf gespan en in haar kop woel ’n swetterjoel planne hoe sy haarself tot die bitter einde kan verdedig. Hy lyk nie vir haar soos wat sy Kas vir haarself voorgestel het nie, maar dit maak hom in elk geval nie minder gevaarlik nie. Volgens Klaus se praatjies het hy ’n swak vir vroumense en sal hy dit vreeslik geniet om haar hier op te pas. Maar sy sal hom dwing om haar dan liewer te skiet, besluit sy heimlik.

      Die man het al ’n vuurtjie gemaak en skuif die keteltjie oor die vlamme. Katrien se maag grom en sy besef nou eers dat sy rasend honger het. ’n Plan skiet haar skielik te binne toe sy na haar vasgebinde hande kyk. “Maak my hande los, dan sal ek vir ons kan kos maak.”

      Dewald kyk vinnig op en grinnik na haar toe. “Wel, ja . . . dit sal gaaf wees. Jy sal nie veel van ’n ete kry as ek moet kos maak nie. Hier is nie vleis om te braai nie.”

      “Wat is hier?” Haar oë fynkam die omgewing. Sy sal haar kans afwag en hom net gerus laat voel. Sy moet hier wegkom voordat Lukas en die ander te ver weg is, want dan sal sy hulle nie weer kan inhaal nie.

      “Hier is mieliemeel en gewone meel. Dan is hier nog biltong en ’n emmertjie met skaapvet – en darem sout ook. Verder net koffie en suiker.”

      “Ek sal pap of roosterkoek maak. Maak net my hande los.” Dewald kom hurk by haar. “Jy probeer nie een van jou slim planne nie, verstaan jy my?”

      “Nou wat kan ek tog hier doen? As ek hier probeer wegkom, vreet die leeus my in elk geval op. Ek het nie eens ’n geweer nie; dit het julle ook gevat.”

      Dewald neem Katrien se plek teen die boom in, met sy geweer op sy skoot.

      Katrien stap na die hut toe om te gaan kyk wat sy vir ete kan maak. Die hut is baie primitief gemeubileer met ’n houtbed waarop ’n paar velle en ’n ou kombers lê. Alles is vuil en vol stof. In die een hoek is ’n ruwe kas waarin die kosvoorraad gebêre is. ’n Paar vuil blikborde staan op die lendelam tafel en daar is ook drie blikbekers waarin die koffiereste al taai en klewerig geword het.

      Haar oë soek rond vir ’n bak of skottel om die deeg in aan te maak, maar daar is net twee potte – ’n gewone driepoot-ysterpot en ’n platboompot. Wel, die platboompot sal maar moet diens doen as ’n skottel, besluit sy. Maar sy sal eers ’n plan moet kry vir ’n bietjie suurdeeg voordat sy die roosterkoeke sal kan maak. Sy vat die pot aan sy hingsel en stap na buite.

      “Waarheen gaan jy?” roep Dewald agter haar aan toe sy by hom verbystap met die pot.

      “Ek gaan net die pot was. ’n Mens sal siek word as jy kos in so ’n vuil ding maak.”

      Dewald stap vinnig agter haar aan en haal haar met drie lang treë in. Sy grinnik net sarkasties in sy rigting, maar praat nie verder met hom nie. Toe die pot skoon genoeg is na haar sin, stap sy terug en gooi sommer van die kook­water uit die ketel daarin, voordat sy vir hulle pap maak.

      Intussen het Dewald ’n bord gaan haal wat Katrien sommer saam met die bekers ook onder die kookwater laat deurloop het. Hy sit nou met ’n stuk biltong en kerf dit fyn op in die een bord.

      In stilte eet hulle die pap en biltong en dit smaak heerlik vir Katrien. Die koffie is geurig en verfrissend en sy drink sommer twee bekers vol daarvan.

      Sy ignoreer Dewald geheel en al. Sy praat nie ’n woord nie, kyk ook nie eens in sy rigting nie. Sy oë, wat haar so onderlangs dophou, laat haar bang en paniekerig voel. Sy bid amper hardop dat die son moet stilstaan, want wat gaan gebeur wanneer dit vanaand donker word?

      “Jy kan maar daar in die hut gaan lê as jy wil.” Katrien kyk vinnig op en die vrees lê naak op haar gesig. Dewald vloek saggies. “Ek sal jou nie opvreet nie! Ek het gesê jý kan daarbinne gaan lê. Dit is koeler daar.”

      “Dankie, maar ek bly liewer buite. Ek laat my nie in ’n hut vaskeer nie.”

      Dewald sug en sy blik rus peinsend op haar. Hy wens hy kan haar gerusstel en in sy vertroue neem, sodat sy nie so vreesbevange hoef te wees nie. Hy kan dit egter nie waag nie – te veel hang van hierdie volgende paar dae af.

      Die hitte maak Katrien lomerig en haar kop knik ’n slag. Sy laat haar kop op haar opgetrekte knieë sak en wens sy kan net wegdommel en rustig slaap.

      Dewald sit doodstil. Om in die koelte te wees, moes sy noodgedwonge onder dieselfde boom as hy kom sit en kan hy dus net oorbuk om aan haar te raak.

      “Luister, ek sal vir ons iets moet gaan skiet om te eet.” Hoop vlam hoog in Katrien op. Nou is haar kans!

      Dewald sien die hoopvolle flikkering in haar oë en sug innerlik. Om haar lewe te beskerm, sal hy haar hier moet hou. Sy mag nie nou probeer ontsnap nie. Hy sal dit ook nie kan waag om haar in sy vertroue te neem nie; die risiko is te groot.

      Sy skud net gedwee haar kop en versluier vinnig haar oë.

      “Ek sal jou moet vasmaak totdat ek terugkom. Ek vertrou jou nie; jy sal weer iets onnosels probeer aanvang.”

      “Ag, asseblief nie! Ek . . . sal hier bly.”

      “Jammer, juffroutjie! Vasmaaktyd.” Hy