Скачать книгу

lag net. Hierdie veediefstalstorie bekommer haar glad nie. Dit is darem taamlik vergesog en sy blaker die eerste een wat aan haar beeste wil vat vol lood. Lukas knyp sy mond op ’n stywe plooi en Katrien kan sien hy het hom vir haar vererg.

      “Ag, toemaar, Lukas! As die oumeneer gesê het julle moet waghou, dan moet julle seker maar. Ek gaan in elk geval nie vannag help nie.”

      “Nee, dit is goed. Oumeneer het immers gesê dat juffrou Katrien nie alleen mag waghou nie.”

      “Jy en jou oumeneer is twee regte ou knoeiers! Julle twee bespreek glad te veel dinge agter my rug.”

      Lukas lag net en skree in sy eie taal op die jong wagters.

      By die kampplek het Filemon al die paar osse uitgespan en die rooster en kampstoeltjie van die wa afgehaal.

      Katrien saal vir ou Bes af en stap met haar na die water toe sodat sy ook kan suip.

      Die middagsonnetjie begin lang skaduwees gooi teen die tyd dat die diere versorg is, en die rustigheid van die stil veld kom kruip diep in Katrien se siel. ’n Vreemde eensaamheid kom skop nes in haar binneste. Skielik wens sy dat daar vanaand iemand was om hierdie vreemde stilte en hierdie vrede met haar te deel; iemand wat nog jonk en vrolik is, sodat hulle saam kan lag en saam die stilte van die aand kan geniet.

      Katrien haal haar hoed af en die dik, bruin vlegsel lê breed agter teen die skraal ruggie af. Sy vee die sweet van haar voorkop af en wens sy kan haar hare afsny, maar haar ouma wil ’n aanval kry wanneer sy dit net noem.

      Sy skuif haar gemaklik teen die boomstam reg en kyk in die helder vlammetjies van die vuurtjie waarop sy aanstons ’n vleisie gaan braai. Die werkers het vanaand hul vuurtjie naby die beeste gemaak, sodat hulle daar kan wees wanneer dit begin donker word. Lukas is baie beslis dat hulle vanaand al gaan wagstaan.

      Katrien glimlag en staan dan op om vir haar ’n bietjie koffie te maak toe sy vaal stoom by die tuit van die ketel sien uitborrel.

      Filemon kom staan stil eenkant langs die wa en wag op verdere opdragte.

      “Filemon, jul meel en vleis is agter in die wa in die groen kis. Jy kan maar gaan, ek sal sommer my eie vleis braai. Sê asseblief ook vir Anna sy kan maar daar by julle bly, ek sal haar nie nodig hê nie.”

      Katrien skud laggend haar kop terwyl sy aan Anna dink. Sy is Lukas se vrou en Stien het daarop aangedring dat sy moet saamkom om na Katrien te kyk. Katrien kan mos nie so alleen sonder ’n ander vrou rondry nie!

      “Goed, juffrou Katrien. Dan sê ek maar nag, juffrou.”

      “Nag, Filemon. Julle moenie te laat gaan slaap nie – die dae gaan nou lank wees en julle gaan moeg word.”

      “Nee, dit is reg so, juffrou Katrien.”

      Die aand is soel en warm en die rustigheid van die veld met sy kenmerkende naggeluide maak Katrien vroegaand lomerig. Nadat sy geëet het, sit sy nog ’n lang ruk so stil en staar droomverlore oor die kole voordat sy eindelik opstaan en haar gaan was. Daarna gaan maak sy haar tuis vir die nag in die watent.

      Die dae vloei rustig die een in die ander. Die stilte van die veld en die stilte in Katrien se siel vloei ineen tot een stroom verlatenheid. Hierdie gevoel, wat sy nog nooit vantevore ervaar het nie, kom lê diep en onrustig binne-in haar.

      Hulle is al vier dae op pad met die beeste. Hulle het die afgelope drie dae darem vinniger getrek as die eerste dag, maar sy wil probeer om oormôre die diere eers ’n slag goed te laat uitrus. Sover sy kan vasstel, lê hier vier of vyf plase langs mekaar wat nie bewoon word nie, en dis hier waar hulle vanaand oorstaan.

      Lukas is van gister af al onrustig. Hy sorg dus ook dat die jong Herero’s vanaand ’n kraal van droë takke trek waarin hulle die beeste kan jaag.

      “Juffrou Katrien, jy moet die wa vanaand nader aan ons kamp trek.”

      “Wat is dit vanaand met jou, Lukas?”

      “Ons is by die Waterberg. Die storie loop dat die rowers gewoonlik hier rondom die Waterberg toeslaan. Hulle het natuurlik ’n lekker wegkruipplek hier.”

      “Ag, Lukas, dit is sommer stories. ’n Mens kan dit glad nie glo nie. Dit was Hendrik Oupos se storie en hy kan maar baie dinge uit sy duim suig.”

      “Ek weet darem nie, juffrou Katrien. Die ander manne wat by hom was, sê ook dat hulle die beeste gesteel het en die wagters aan ’n boom vasgemaak het. Hulle het amper twee dae daar gesit voordat daar iemand verbygekom het wat hulle losgemaak het. Hulle sê die rowers het ook op hulle geskiet. Sê nou maar net hulle skiet ons dood, wat word dan van jou, juffrou Katrien?”

      “Dit is nie oor my wat julle bekommerd moet wees nie, Lukas. Dit is oor die beeste. As ons hierdie beeste verloor, is ons onderdeur. Ons sal nie geld hê om verder aan te gaan nie.”

      Lukas dring daarop aan dat Filemon die wa omtrent dertig tree van hul kampplek af trek en Katrien bekyk Lukas se organiseerdery met ’n sagte glimlag. Hy is darem al net soos haar ouma en oupa; altyd vreeslik bekommerd oor haar welsyn.

      Die nag gaan egter rustig verby en Katrien kan die skelm glimlaggie om haar mond nie keer toe sy na die vaak Lukas kyk wat asvaal die oggendsonnetjie uit sy oë probeer hou nie.

      “Jy was verniet so bekommerd, Lukas. Dit lyk vir my die veediewe is met vakansie.”

      “Gmf!” Lukas snork net verontwaardig en verwerdig hom nie eens om haar verder op die aanmerking te antwoord nie.

      Die dag is warm en Katrien is teen die middag moeg en iesegrimmig. Die kakieklere is warm en klou aan haar natgeswete lyf vas. Die dik vlegsel is vandag swaarder as gewoonlik en sy het sommer lus en sny dit met haar slagmes af. Sy sal darem baie betaal vir ’n lekker bad vanaand. Hulle het vandag een van hul langste skofte gehad. Maar daar is ook ’n ligstraaltjie, want daar waar hulle beoog om vanaand uit te span, behoort ’n heerlike fontein te wees. As sy reg onthou, is daar ook ’n plaat bome wat ’n afdak vorm waaronder hulle kan intrek. Sy wil juis by hierdie oase ’n dag oorstaan met die beeste.

      Die son begin al vinnig in die weste sak voordat hulle moeg en vuil onder die digte afdak van die blare en takke intrek. Katrien is op ou Bes tussen die beeste en help aanjaag. Anna maak solank ’n vuurtjie by die kampplek sodat die koffiewater kan kook teen die tyd dat hulle die beeste klaar versorg het. Die twee jong veewagters is besig om ’n kraaltjie van bosse en doringtakke te maak en almal werk fluks met die een oog op die sonnetjie wat vinnig besig is om te sak.

      Die fonteintjie is ’n lus vir die oog. Dit borrel en raas en stoot ’n blink stroom helder water in ’n voor af. Luidrugtig en uitgelate raas die blink water oor die gladde klippe om verder af om ’n draai agter ’n plaat bosse te verdwyn.

      “O, Anna, die koffie ruik darem lekker! Ek het so honger, ek kan doodgaan daarvan.”

      Anna lag breed en gaan maar net stil-stil aan om die lewer en vetdermpie van die springbok wat Katrien vroeër die dag geskiet het, gereed te kry vir die rooster.

      “Ek gaan net gou kyk of ek vir Lukas en Andreas kan help om die beeste almal gesuip te kry, dan moet jy my kom help dat ek gou kan gaan bad.”

      Anna knik bevestigend en Katrien kan nie help om hardop te lag vir die verontwaardigde uitdrukking op Anna se gesig nie. Anna beskou darem nie ’n fontein as die beste badplek nie, dit sien Katrien sommer op haar gesig.

      Dit is al sterk skemer voordat die beeste klaar gesuip en in die primitiewe kraaltjie ingejaag is.

      “Kom, Anna!” Katrien kry vir haar ’n handdoek en seep en ook skoon klere.

      Anna skree iets vir die mans in haar eie taal en Katrien neem aan dat sy hulle waarsku om nie naby die fontein te kom nie. Sy plas en bad soos ’n kleuter in die vlak stroompie en voel heerlik ontspanne en verfris toe sy eindelik uitklim en haar droogvryf. Sy sal môre, terwyl hulle hier oorstaan, haar hare was. Dit is al te laat om dit nou te doen; die dik bos hare sal nie nou meer droog word nie.

      Anna verdwyn stil-stil na hul vuurtjie toe en Katrien skuif moeg en eensaam teen die boomstam vas met