Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 9


Скачать книгу

het nie. Sy sou dalk broers en susters gehad het om vir haar die dae op te vrolik. Daar sou geselskap en vrolikheid gewees het. Daar sou jong stemme op die plaaswerf gewees het en die jong mense van die ander plase sou ook kom kuier het. Miskien sou sy teen hierdie tyd reeds getroud gewees het, moontlik selfs kinders gehad het. Veral as sy ’n broer gehad het wat die pligte op die plaas kon oorneem.

      Sy rek haar lank en lekker uit en klim dan traag in die wa. Daar is dit egter bedompig en warm en op die ingewing van die oomblik haal sy haar kampbedjie en matrassie af en slaan dit langs die wa op. Hier buite onder die sterbelaaide hemel sal dit tog baie lekkerder wees as binne.

      Die fris naglug maak haar lomerig en kort voor lank is sy ver weg in ’n ander land. Sy wou haar nog uittrek, maar die vaak kom druk sommer haar oë toe terwyl sy nog met klere en al op die bedjie lê.

      Die verskrikking van ’n nagmerrie, saam met die rustige Suidwesnag en die helder skoon lug, wil net nie tot haar deurdring nie. Sy hyg na asem, maar dit word behoorlik uit haar liggaam gepers deur ’n groot hand wat baie stewig oor haar mond gehou word. Haar oë is groot in die helder maanlignag en die slaap wyk vinnig voor die skrik wat nou om haar vasslaan. ’n Gesig wat tot oor die neus met ’n swart doek bedek is, is ’n handbreedte van haar eie gesig af.

      Sy probeer vervaard orent kom, maar ’n gespierde arm druk haar styf op die bedjie vas.

      Die stem agter die doek is sissend hier by haar oor. “Moenie ’n geluid maak nie, anders is jy dood.”

      Nou eers sien sy die blink lem van ’n mes, wat styf vasgeklem in sy hand skitter, waar dit dreigend byna teenaan haar bors gehou word.

      Sy lê gespanne weer terug teen die kussing. Haar oë is onafgebroke gerig op die bedekte gesig en die twee gloeiende oë wat tussen die hoed en die doek om sy mond uitloer.

      “Ek gaan my hand wegneem, maar as jy ’n geluid maak, steek ek jou dood. Die Herero’s is ook almal onder skoot van my manne. Die jakkalse sal jul vleis hier vreet nog voordat die son môre opkom.”

      Sy knik liggies en toe die gemaskerde man sien dat sy verstaan, neem hy sy hand baie stadig van haar mond af weg. Die groot liggaam is egter snaarstyf gespan en die blink mes word nog steeds gespanne bokant haar hart gehou.

      Katrien haal ’n slag diep asem om weer genoeg lug in haar longe te kry en staar na die indringer.“Wat wil jy hê?” Die woorde kom in ’n skor fluistering oor haar lippe.

      “Die beeste!”

      “Maar julle kan dit nie doen nie!” Haar stem is angstig en pleitend.

      “Ons vra nie, ons vat!”

      “Wel, wat keer julle?” Katrien se stem is fluisterend, maar iemand wat haar ken, sou dadelik die dodelike kalmte daarin gehoor het.

      “Jy gaan maak soos ek sê! Môreoggend gaan julle doodgewoon trek soos elke dag. Ek bly hier in jou wa en jy sorg dat jy heeldag op die wa bly waar jy onder skoot gehou kan word.”

      “Ons sou nie môre getrek het nie. Ons sou hier oorgestaan het om die beeste ’n bietjie te laat rus.”

      “Nee, julle trek. Jy gee môre opdrag soos wat ek jou nou gaan voorsê.”

      “Ek sal dit nie doen nie!”

      “O, ja, jy sal!”

      “Dit is wat jy dink.” Katrien se rug trek styf van beslistheid. “As julle die beeste wil vat, kan julle maar vir my ook doodskiet. Dink julle miskien ek is bang?” Sy lig haar kop op om meer beslis te klink. “Ek trek nie môre nie! Die beeste is moeg en moet ’n slag rus en goed wei.”

      Katrien besef sy betrap die rower onkant. Hy het natuurlik gedink sy gaan doodverskrik en bang wees en maar te gewillig om met hom saam te stem net om haar eie bas te red. Hy ken haar darem baie sleg! Die dag dat Katrien Viljoen vir ’n bullebak en ’n dief gaan skrik, moet nog kom.

      Die gemaskerde man buk vooroor en sis gebiedend hier by haar oor: “Jy sal maak soos ek sê, verstaan jy my?”

      “Of wat?” Katrien se fluisterstem is so sarkasties dat jy dit met ’n mes kan sny.

      Hy dink ’n oomblik lank na en lag dan sag en gedemp. Hierdie klein vuurvreter het hom byna van balans af gehad. Hy het nie gedink sy sou so vreesloos wees nie. Maar hy moet haar kry dat sy van koers verander en op die onbewoonde plaas uitkom!

      “Goed, as jy dan liewer alleen tussen ’n klomp mans wil wees . . . Ek dink nogal die ander ouens sal dit geniet, veral ou Kas.” Die man bly ’n oomblik lank stil en lag dan weer sag en walglik hier by haar gesig. “Hy sal natuurlik verkies om jou net vir homself te hê, so moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

      Katrien voel die ysigheid van vrees stadig in haar knieë opkruip. “Wat . . . wil jy hê moet ek doen?”

      “Nee, ek het nou net besluit dat dit ’n baie beter plan sal wees. Jy gaan saam met my in plaas daarvan dat ek saam met jou gaan.”

      “Ek gaan nêrens saam met jou nie, ek bly net hier by my mense en my beeste. Hier sal julle my moet doodskiet.”

      “Nie vir jou nie, maar jou werksmense wel! Ons sal hulle skiet en dan het ons nog ’n vroumens om ou Kas mee te vermaak.”

      Die betekenis van sy woorde slaan Katrien vol op die krop van haar maag, sodat sy voel of sy vooroor wil buig om die fisieke pyn te keer. Sy knyp haar oë toe en bid geluidloos: Ag, Vader, dit kan nie werklik met my gebeur nie. Wat gaan van my word in hierdie woeste, afgeleë stuk wêreld?

      As hulle vir Lukas en die ander moet doodskiet, sal niemand weet waar sy is nie. Hulle sal maar aanneem dat sy ook vermoor is. “Goed, ons kan môre trek.” Sy probeer haar stem so kalm moontlik hou sodat die vrees nie moet deurslaan nie.

      Dit laat die gemaskerde man egter net sinies en lelik lag.“Die dag gaan nou-nou breek. Ek gaan in jou wa wegkruip. Jy kom sit voor op die bankie en ek gaan die geweer dodelik beslis op jou hou. Sodra die ander opstaan, gaan jy normaal voort soos gewoonlik.”

      Katrien knik liggies.

      “So teen agtuur roep jy jou voorman en sê vir hom dat jy ’n ent vooruit gaan ry. Twee dae se trek met die beeste hiervandaan is ’n plaashuis wat tot onlangs nog bewoon was. Julle moet van koers verander; dit is ’n klein draaitjie, daarom dat ons jou hier moes voorkeer. Jy sê vir hulle jy gaan daarheen om by die mense wat daar woon te kuier. Hulle moet dan oormôre daarheen begin trek. Sê jy sal daar vir hulle wag.”

      ’n Duisend planne maal deur Katrien se kop, maar sy kan aan geen uitvoerbare een dink nie. “Wel . . .” Katrien sukkel om haar gedagtes by sy woorde te hou. “En wanneer hulle daar kom en ek is nie daar nie?”

      “Dit sal my bekommernis wees; ek sal sorg dat hulle tevrede gestel word. Buitendien sal jy dan al drie dae weg wees en sal hulle nie meer jou spoor kry nie.”

      “Hoe de drommel dink jy gaan jy dit regkry?”

      “Dit het niks met jou te doen nie,” snou die gemaskerde man haar ongeskik toe.

      “My mense sal nie ’n tree sonder my trek nie.”

      “Jy gaan hulle oortuig om dit te doen sonder dat hulle die minste agterdogtig raak.” Sy woorde is dreigend en beslis en Katrien voel vasgekeer en benoud. “Een verdagte beweging van jou kant af en ek skiet jou en al jou werksmense net hier dood. Onthou, ons speel nie.” Katrien meet die afstand na die wa toe met haar oë. Haar geweer is in die hoek naaste aan haar en hy is gelaai.

      Sy sit regop en maak ’n beweging met haar skouers asof sy die stram spiere ’n bietjie wil rek. Die gemaskerde man se oë is onafgebroke op haar gerig. Sy liggaam is snaarstyf gespan, gereed vir enige beweging van haar kant af.

      Katrien swaai haar bene van die bedjie af en hou die man gespanne dop. Hy is egter tussen haar en die wa en sy besef dat dit omtrent ’n onbegonne taak is om by die geweer te kom.

      “Goed, ek sal maak soos jy sê, maar jy raak nie aan my mense nie!” Katrien se stem klink vir haarself maar taamlik onvas en bang.