om haar hande te vat, maar skielik is al die opgekropte frustrasie en woede heeltemal uit rat uit binne-in Katrien. Voordat Dewald weet wat gebeur, sak haar gesonde, wit tande weg in sy hand se sagte vleis.
“Eina! Jou klein satanskind!” Soos blits staan hy agter haar en sy arm span soos ’n klem om haar keel terwyl sy baie styf teen sy groot, gespierde liggaam vasgedruk word. “Doen dit weer!” Hy sis die woorde afgemete uit. “Ek sal jou waaragtig so ’n loesing gee, jy sal dit nooit vergeet nie.”
“Hoekom probeer jy nie? Jou skelm! Jou . . . rower! Dink jy ek is bang vir jou?” Katrien voel hoe sy spiere om haar nek verslap terwyl hy iets onverstaanbaars grom.
Sonder simpatie maak hy haar deeglik vas. Hy dra haar tot teen die boomstam en maak haar dan aan die boom ook vas. “Ek is nou weer terug. Roep my as jy na my verlang.”
“Loop, jou uitvaagsel! Ek haat jou! Ek wens ’n slang pik jou in die donker!”
Dewald se grimmigheid van so effe is skoon vergete. Hy lag lekker en fluit ’n vrolike deuntjie terwyl hy met die voetpaadjie langs fontein toe stap.
4
Katrien se oë flikker oop en sy kyk na die grou hemel bokant haar. Die dag is seker besig om te breek. ’n Mens sal later in die oggend die son eers sien, want die berge keer dit hier in die valleitjie van alle kante af.
Sy roer effens en frons dan sodat die fyn plooitjies haar voorkop opkreukel. Sy het sowaar aan die slaap geraak en heerlik geslaap die grootste gedeelte van die nag.
’n Entjie van haar af lê Dewald en slaap met ’n salige uitdrukking van rus en vrede op sy gesig. Hy lyk skoon en vars na gisteraand se bad en hy het selfs sy hare gewas, want daar is geen teken van stof daarin nie. Die swart hare is blink en los op sy kop.
Hy is ’n eienaardige mens. Sy het gisteraand met doodse vrees hier kom lê, want sy het nie kans gesien vir die bedompige hut waarvan hy nog die deur ook wou toemaak nie. Toe hy sien dat sy nie van plan is om in die hut opgesluit te word nie, het hy ’n tou aan haar voet vasgebind met ’n vreemde soort knoop, wat hy weer aan sy voet gebind het. Die middelste gedeelte van die lang tou was aan haar voet en die knoop aan syne. Sy kon dus nie eens probeer om die knoop los te kry nie.
Wel, dit sal sy hom darem ter ere nagee: hy is vindingryk! Hy het ook nie gedurende die nag geprobeer om haar enigsins leed aan te doen nie. Trouens, hy het nie eens aan haar geraak nie. Die hele aangeleentheid slaan haar dronk. Is hy dan nie juis uitgekies om haar hier op te pas omdat hy so ’n voorliefde vir vroue het nie? Sy weet nie wat in daardie kop van hom aangaan en waarvoor hy wag nie. Maar hy moet net weet dit gaan nie ’n piekniek wees nie. Hy sal weet hy het haar opgepas!
Sy ruk hard met haar voet en Dewald sit dadelik regop. “Haai! Wat dink jy doen jy?”
“Ek is wakker en ek het lus vir koffie.”
Dewald kan die glimlag nie van sy gesig weer nie. “En ek slaap dan nou so lekker hier by jou.”
“Wel, ek slaap glad nie lekker nie.”
“Jy het die hele nag soos ’n baba geslaap, liefie. Moenie nou jok nie.”
Katrien gluur hom net vies aan, want sy kan nie eens stry nie. “Dit lyk vir my jy begin my darem al vertrou.”
“Ek vertrou liewer ’n geelslang.”
“Liefie! Hoe kan jy sulke lelike dinge vir jou slaapmaatjie sê?” Katrien besef dat sy al weer besig is om aan die kortste ent te trek. “Maak my los; ek wil opstaan.”
“Hoe sê ’n mens?”
“Het julle dalk vir my asseblief gevra toe julle my beeste wou steel?”
Dewald lag en buk vooroor om die tou aan sy enkel los te maak. Dan staan hy op en rek hom behaaglik uit.“Nou ja, dan gaan maak ek maar vuur as die baas lus het vir koffie.”
Katrien verkyk haar aan die vrolike uitdrukking op sy gesig. Weer eens kry sy die gevoel dat hy darem nie lyk en optree soos ’n misdadiger en ’n vrouemolesteerder nie.
Dewald maak fluit-fluit vuur en tel dan die keteltjie op om water by die fontein te gaan haal. “Kom, stap saam, anders moet ek jou weer vasmaak en dit raak nou vervelig.”
Katrien weet dat sy nie eintlik ’n keuse het nie.“Ek wil net gou my handdoek en tandeborsel kry, anders moet ek netnou weer hier afstap sonder my skoene.”
Dewald fluit sy vrolike deuntjie terwyl hy vir haar wag en swaai die keteltjie op die ritme daarvan rond.
Dit is eers later, terwyl hulle terugstap, dat Katrien besef sy het haar waaksaamheid heeltemal laat verslap. Dit is natuurlik sy plan van aksie: hy wil haar eers gerus en ontspanne maak, en dan slaan hy toe.
Sy maak vir hulle koffie en gaan haal dan van die beskuit wat sy in die saalsak gedruk het.
“Waar boer jou oupa?” Dewald druk die heerlike beskuit diep in sy koffie en slurp dit dan met genoegdoening op.
“Naby Otjiwarongo.”
“Jy sê hulle het jou grootgemaak?”
“Ja. My oupa was ’n onderwyser en hy het my sommer geleer ook. Ek is net die laaste twee jaar van my skoolloopbaan Windhoek toe.”
“So, dan is jy nogal ’n slim meisie ook.”
“Ja, slim genoeg dat ek my eie brood verdien en nie nodig het om ander mense se goed te steel nie.”
Dewald sug net en antwoord haar nie daarop nie.
Katrien kyk na die oop, eerlike gesig en dit word seer binne-in haar om te dink dat ’n mens se uiterlike so bedrieglik kan wees. “Meneer . . .”
“Ek het jou al gesê my naam is Dewald. Of . . . as jy wil, kan jy vir my ook maar ‘liefie’ of ‘skatjie’ sê. Dit werk goed.”
“Dewald . . . hoeveel kry jy uit hierdie transaksie?”
“Dit hang af hoeveel ons vir die beeste kry.”
“Wel, dis jy en Klaus en twee Ovambo’s.”
“Nee, ons is vyf. Die geld word in vier dele verdeel. Die twee Ovambo’s gaan saam een deel kry; hul taak is minder veeleisend as ons ander s’n.”
“Help my, dan gee ek jou meer. Toe, asseblief!”
“Ho, wag nou! Wag nou, my engel! Jy is mos nou skelm!”
“Om my eie goed terug te wil kry!”
“Jy wil hê ek moet nou teen my vriende draai om jou te help. Vergeet dit! Ou Klaus sal my saam met jou soos ’n hond doodskiet.”
“Jy is ’n papbroek! Klaus is net so groot soos jy, maar jy is bang vir hom!”
“Ek sal nou nie sê bang nie. Dit is net . . . wel . . . ek verdien ’n klomp geld so en dit is nie moeilike werk nie. Al wat ek moet doen, is om jou geselskap te hou. ’n Mens slag nie die gans wat die goue eiers lê nie.”
“Maar ek sê mos vir jou ek sal jou meer betaal as wat hulle vir jou kan gee.”
“Luister, meisiekind, met mense soos hulle speel ’n mens nie. Ons twee het nie ’n kans teen hulle nie.”
“O, jy maak my siek! Ek sal hulle alleen aandurf as jy dan te vrotsig is.”
“Jy sal eers van my ontslae moet raak.” Dewald grinnik in haar rigting.
Katrien staar moedeloos voor haar uit. Sy sal vinnig aan ’n ander plan moet dink. Miskien moet sy maak asof sy hom vertrou en dan, wanneer hy dit die minste verwag, die hasepad kies. Sy staan stram op en rek haar uit. “Ek gaan die borde was.”
“Trek jou skoene uit.”
“Hier is dorings; ek gaan dit nie doen nie.”
Dewald staan vinnig op en met een tree is hy by haar. Hy buk af, tel haar voet op en begin haar sandaal losmaak. Sy breë rug