p>
Marzanne Leroux-Van der Boon
HaKotel
Die Muur
Lux Verbi
Hoofstuk 1
Julie 2013
Jerusalem
Marc staan voor ’n wye vensterraam in die Hadassah Mediese Sentrum. Ver onder hom lyk dit of Jerusalem in die drukkende somerhitte bewe. Hy vryf onbewustelik die sweet aan sy palms teen sy T-hemp droog. Ál wat hy sien, is Natan se donker oë en sy natgeswete hare. Ál waaraan hy kan dink, is: Adonai Tzva’ot, nie nóg ’n keer nie!
Hy skrik toe Rivkah liggies aan sy arm raak. Sy is terug van die laboratorium waar Natan weer vir toetse opgeneem is. Haar gesig is só bleek dat hy nie daarna kan kyk sonder om ’n dowwe pyn in sy hart te voel klop nie. Hy vou haar woordeloos in sy arms toe. Slap soos ’n lappop sak sy teen hom aan. Hy hou haar vas, sy bewende mond teen haar hare.
“Het hy gehuil?” vra hy toe sy steeds stilbly.
Sy skud haar kop. “Hy het vandag glad nie gehuil nie.” Haar stem is byna onhoorbaar sag.
Sy ouers ook nie, dink Marc, want hulle kan nie meer huil nie.
“Het dr. Gilles verder iets gesê?” vra hy later.
Met haar hande teen sy bors stoot sy haarself regop, maar sy kyk weg van hom af. Sy skud weer haar kop. “Ek is seker hy gaan hom vannag hier hou …”
“Lo!” kreun hy.
Sy maak haar los uit sy arms, wat willoos teen sy sye val.
Ek moet sterk wees vir haar, dink hy moeg, maar die krag ontbreek hom. Hy bly stil langs haar voor die groot vensterraam staan.
Jerusalem bars uit sy nate. In Ben Yehudastraat, ’n wandellaan vol winkels en restaurante, weerklink die stemme van kopers wat lag en praat. Dis skoolvakansie in Israel en dis somer. Oral klink die musiek van straatmusikante tussen die gejoel op. Die klanke van viole, trombone, dwarsfluite – selfs ’n harp en elders ’n trekklavier – kan gehoor word. Drie kunstig gegrimeerde narre in skelgeel-en-pers drag trek met ’n horde jillende kinders teen die effense straathelling op. Onder een van die bome knoop ’n man ballonne in wonderbare vorms. ’n Bont troppie kinders vergaap hulle aan sy skeppings.
’n Entjie verder onder nóg ’n boom staan twee Chassidim in swart pakke en breërandhoede met peyot, baarde en swaaiende tzitziyot by ’n tafel bedek met tefillin, kippot, talliyot, siddurim en ander bybehore van die ultra-Ortodokse leefwyse. ’n Aantal moontlike klante hang daar rond en maak luide aan- en opmerkings. Die gesiggies van babas in ’n eindelose variasie van stootkarretjies vertoon bloesend in die versengende hitte. Swanger mammas met trossies spruite om hulle heen staan die bedrywighede met ’n roomys in die hand en gadeslaan. Oral is groepies soldate in uniform te sien. Baie van hulle is pragtige, jong vroue. Elke sitplek onder die sambrele van die talle straatkafeetjies word deur vrolike klante beset.
Daar is ’n atmosfeer van feestelikheid in die lug, want gister was Tisha B’Av, ’n dag van rou waarop daar vir 24 uur lank, van sononder tot sononder, gevas is. Dit is die negende dag van die Joodse maand Av. Dis nie ’n dag van toewyding omdat dit ’n oesfees is of omdat ’n bepaalde mylpaal in die lees van die Tora bereik is nie. Dit is eerder ’n dag van nasionale rou omdat dit herinner aan die grootste onheil wat die Joodse volk ooit getref het – die verwoesting van die twee tempels. Volgens Joodse oorlewering is die Eerste Tempel en Tweede Tempel op hierdie selfde datum verwoes.
Die Babiloniërs het die Eerste Tempel in 586 v.C. in puin gelê. Die Romeine het in 70 n.C. dieselfde met die Tweede Tempel gedoen. Met die verwoesting van die Tweede Tempel het die diaspora of verstrooiing van die Jodedom begin, wat uiteindelik tot die stigting van die huidige Israel-staat gelei het. Die vernietiging van die tempels was egter nie die laaste tragedie wat op Tisha B’Av sou gebeur nie. Op hierdie dag in 1290 het koning Eduard I van Engeland die Jode uit sy land verban. Die Jode is ook 202 jaar later, in die jaar 1492, uit Spanje verdryf. Hulle moes teen Tisha B’Av uit die land wees.
Die drie weke tussen die 17de van Tammuz en die kulminasie van dié tydperk op die negende van Av is ’n periode waartydens menige tragedie die Joodse volk getref het. Dit word as so onheilspellend in die Joodse kosmologie gereken dat geen huwelike dan toegelaat word nie. Die hare word nie gesny nie. Geen nuwe klere word dan gekoop of gedra nie. Daar word selfs nie na musiek geluister of plesierritte georganiseer nie. Dis ’n tyd van diepe rou en intense selfondersoek.
Dus, ná ’n dag van rou en vas oor soveel ellende uit die verlede, maak elkeen wat nie hoef te werk nie van dié heerlike sonskyndag gebruik. Daar word veral aandag gegee aan die kinders wat hierdie droewige 21 dae swaar beleef het.
Chaim het met Yhoshi, sy oudste kleinseun, stad toe gekom. Natan, twee jaar jonger, moes vandag weer vir ’n breinskandering gaan. In die Krige-huishouding loop die spanning uiteraard altyd hoog wanneer sulke tye aanbreek, veral omdat Natan die laaste tyd weer bleek en lusteloos was. Al was hy twee maande gelede ook daar, het sy dokter gevra dat hy vir ’n skandering moet gaan. Daarom het Chaim dit goed gedink om Yhoshi ’n bietjie uit te neem. Hulle sit nou by so ’n straatkafeetjie. Elkeen het ’n roomys voor hom. Vlak by hulle speel ’n skraal, jong vrou op haar silwerdwarsfluit ’n sonate van Beethoven. Die fyn klanke hang wondermooi om hulle in die hete middaglug. Haar lang, donker hare beweeg liggies in die warm wind terwyl sy speel.
“Jy word volgende maand agt, Yhoshi! Vir my voel dit soos gister toe ons jou bris gevier het.”
Die seuntjie lek die room met die punt van sy tong van sy bolip af.
“Saba! Ek is nou Yhosh, nie meer Yhoshi nie. Jy weet mos!” Hy klink verontwaardig.
“Slicha,” lag sy oupa, “ek sal probeer onthou.”
Die kind frons en sy oë raak diep blou soos sy ma s’n. “Saba?”
“Wat pla jou?” vra die rabbi, wat sy skrander kleinseun maar alte goed ken.
“Gister was Tisha B’Av en ons het soos altyd weer gevas en gerou en gedoen …”
“Ek glo nie jý het nie.”
“Nee, maar almal het.”
“Ken. Wat wou jy vra?”
“Hoekom rou ons ná al die eeue nog steeds oor ons die tempels verloor het? Hoekom is dit so ’n groot ding?”
“Nu …” Chaim haal sy bril af en begin die lense met sy groot, wit sakdoek poleer, asof hy goed nadink oor hoe hy die vraag moet beantwoord. Toe, soos die Jode maar maak, antwoord hy die vraag met ’n teenvraag. “Waarom dink jy beteken dit vir ons so baie?”
“Miskien oor ons dit nie meer het nie?”
Die rabbi glimlag oor die manier waarop sy kleinseun op ’n slim manier uit die valstrik wil kom. “En toe ons dit gehad het – hoekom was dit toe so belangrik?”
“Omdat …” Yhoshi se voorkop trek op ’n plooi. “Omdat die Jode wat in Israel gewoon het, altyd met Pesach en Shavuot Yerushalayim toe gekom het om in die Tempel te aanbid en die feeste te vier.”
“En wat dink jy het dit vir hulle beteken dat hulle dit kon doen?”
“Miskien het hulle gevoel hulle kom baie naby HaShem daar …”
“Nachon. Nou verlang ons harte daarna en rou ons oor ons dit nie meer het nie.”
“Nes die Jode ál die jare getreur het oor ons nie ons eie land het nie – nè, Saba? Maar nou hét ons.”
“Nachon. Net so sal ons weer ’n tempel ook hê.”
“Wanneer HaMashiach kom?”
“Ken,” sê die rabbi, “wanneer HaMashiach weer kom.”
Die kind se oë verdonker. “Dink jy Hy sal in ons tyd kom, Saba?”
“As ek na die wêreld om ons kyk, sal ek sê ja, Hy sal gou kom.”
“Die Jode van ál