Louisa du Toit

Die uurglas wentel


Скачать книгу

tjommel Hannes voort. “Eers, die mishoring. Toe trek die mis oop en ons sien die kabelhuisie op Tafelberg. Beth was daar, en Camelia en Frank.”

      “Niemand anders nie?” vra Flip, ’n bietjie wreed.

      Hannes dink na, besluit dan dat die vraag in lyn is met sy diepste verdriet; dat die persoon wat hy die heel graagste wou sien nie daar was nie. Dan onthou hy die rede vir sy uitbreek vanaand: “Wee’ jy watse dag is dit vandag, ou Flip? My troudag. My bleddie troudag, hoor.” Die warm hand wikkel Flip se knie heen en weer by wyse van nadruk.

      Dit bring Flip in ’n bui van begrip. Arme Hannes.

      “Tiende September, dit was net bloeisels, bloeisels.” Hannes Moorrees stoot sy steil, ligte kuif uit sy oë. Hy het normaalweg sprekende oë, maar nou is hulle vertroebel en vraend soos hy oor sy eie woorde nadink. Sy wimpers, deur die jong Frank geërf, is donker en amper vroulik dig. “En die volgende jaar was die kleintjie daar, toe’s dit net doeke, doeke. Agnes het my altyd met die vuil doeke laat werk. Knyp ek my neus met ’n wasgoedpennetjie toe as ek die doek omruil, so waar as vet, ou Flip, ek lieg nie.”

      Flip Rabie verstom hom dat ’n andersins redelike mens so baie nonsens kan praat. Dit klink byna asof die druising op die motordak bietjie bedaar. Of raak hy net meer gewoond daaraan? Dit kan ook wees dat die druising in sy kop, soos van ’n verre see, ’n teenwig bied. Want binne enkele minute sal hy voor Beth Moorrees moet staan met haar broer. Dis waar, hy kan vir Hannes alleen binnetoe stuur, hom net tot by die deur help en so vir Beth vermy, maar hy oorweeg dit nie regtig nie. Daarvoor is die geleentheid te seldsaam en te kosbaar.

      “Kom maar, ou Hannes, laat ons spring. Sit jy, ek kom jou help uitklim.”

      Dit gaan maar moeilik. Hannes het nie volle beheer oor sy ledemate nie. Arms en bene steek alkante toe uit. Hy lyk soos ’n bondel slordige vuurmaakhout terwyl hy hom uit die motor laat help. Flip het sy reënjas uitgetrek en hang dit nou oor hulle albei se koppe. Die nabye kontak met die besope Hannes wek ’n vreemde gevoel van afkeer, gemeng met simpatie. Warm is die ander man se middellyf as hy sy arm daaromheen slaan. Wanneer laas het hy sy arm so om ou Hannes se middellyf gehad? Toe hulle eerstejaarstudente was en op die pawiljoen of in die strate gewiegsing het. Vanaand voel dit egter heeltemal anders. Dis een ding om ’n sorgvrye studentemaat te omarm, ’n ander om ’n ontnugterde, gedrinkte man huis toe te bring. Na regte kon hy vir Hannes na sy klein woonwa in die bloekombos teenaan die dorp gevat het, want hy bring die meeste van sy tyd daar deur. Maar tog is Victorina sy eintlike tuiste sedert hy terug Lieberville toe gekom het, minus sy vrou.

      Hulle bereik die beskutting van die klein agterstoep. Die dak vorm ’n oorhang wat hulle van bo redelik beskerm. Van die kant af swiep die reën egter teen hulle vas. Nadat Flip ’n tweede maal geklop het, is daar nog geen reaksie nie. Die deur is gesluit. Die huismense moet iewers ver van die deur af wees, reeds in hulle eie kamers. Of wag, hy hoor tog veraf klavierklanke. Frank wat speel … op die klavier van sy oorlede ouma Marta.

      “Ek sal omstap voorkant toe, wag jy hier,” beveel hy vir Hannes.

      “Jy sal nou onthou, ou Flip, ek’s nie dronk nie. Ek het net ’n paar biere gevat,” herinner Hannes hom noudat hy hom op die randjie van ontmaskering bevind.

      “Dit moet jy maar vir jou huismense vertel,” troef Flip hom met ’n herhaling van die tikkie wreedheid wat hy netnou ook in hom voel opkom het. “Bly jy eers hier staan.” Koesend om die voorkant van die huis te bereik, glip hy om die hoek, reënjas oor die kop. Soos silwer wier streep die reën voor die dowwe lig van ’n badkamervenster verby. Krane spoel. Dalk is dit Beth wat in die bad is. Dis ’n opwindende gedagte: Beth in die bad in kerslig, ’n glimmende marmerbeeld. Dit beteken ook dat hy haar nie vanaand sal sien nie. Maar miskien is dit Camelia. Frank is by die klavier.

      Dit word bevestig toe hy die voordeur bereik. Hier, onder die ruimer oorhang, mis hy die volle geweld van die reën. Deur die groot noordevenster, waarvan die gordyne ten volle oopgetrek is, sien hy vir Frankie Moorrees in die lig van ’n gaslamp voor die regop klavier sit. Charl Moorrees wou glo altyd vir sy Marta ’n vleuelklavier koop, maar die geld het weggevloei in sy sosiale bedrywigheid. Frank is die belowendste musiekleerling in Lieberville se hoërskool. Gevoelig, pligsgetrou. Die seun is donkerder as sy pa, ook frisser as Hannes gebou. Aard, wat sy bou betref, seker meer na die oupa aan vaderskant. Die gelaatstrekke is Hannes s’n.

      Dis so ’n aangrypende prentjie dat die onderwyser bly staan om nog ’n rukkie te kyk en te luister. Ek kan hom nie roep, hierdie fyn oomblik wreed versteur om sy beskonke pa by die agterdeur te ontvang nie, besluit Flip. Die musiek wat tot hom kom, is roerend. Hy is nie ’n musiekkenner nie, maar ken wel vir Frank ’n bietjie, weet dat hy soos ’n gevoelige seismograaf is wat die krag en rigting van ’n trilling bepaal. Die musiek wat gespeel word, sal dus wel die musiek van die nag en van reën wees.

      Die gedagte aan Hannes wat by die agterdeur wag, hulpeloos en ontoerekenbaar, spoor Flip aan om die dwang van die klaviermusiek te verbreek en verder om die huis te speur. Hy ken die plek redelik goed. Dit was ’n gewilde oord van samekoms vir die skoolpersoneel in die jare wat Beth sekretaresse was, voordat sy die werk oornag laat vaar het. Lieberville het gedink dit is om moeder te speel vir Frankie, in die afwesigheid van sy eie ma. Maar Flip weet die waarheid: sy wou hóm vergeld. Haar skokbedanking was ook vir die skool ’n verlies. Sy is ’n stil, doeltreffende werker, toeganklik vir oud en jonk. Want selfs die skoolkinders, ja, het hulle dikwels in probleme tot haar gewend: “Sy is dierbaar,” was die algemene uitspraak.

      Ook onder die personeel was die algemene motto: “Vra vir Beth.” Sy was nooit lief om die leiding te neem, groot besluite te finaliseer nie. Maar sy was almal tot steun. Sy verdien nou glo vanuit haar huis, tikwerk, finansies, hy weet nie wat alles nie, sy is veelsydig. Doen dinge vir die ouetehuis, die rolbalklub, biblioteek. Net van die skool af bly sy ver weg.

      Dis onder die denneboom met ruisende naalde, skuins duskant die voordeur, dat hy, Flip, vir Beth Moorrees die eerste (en enigste) keer in sy arms gehou het. Dis ’n versteende herinnering, maar alles behalwe uitgewis. Op hierdie oomblik staan die reuseboom kildonker en druipnat. Teen die stam, grondlangs, woeker die varings ruig.

      By ’n volgende venster, dié van die studeerkamer, as hy reg onthou, vind hy ook lig. Alle vensters is al op knip vir die nag. Hy wil eers aan die ruit klop, dink dan aan die skrik wat daarop kan volg. “Beth!” roep hy in ’n harde fluistering, bo die suising van die reën.

      Oomblikke later word die gordyn weggetrek. In die rukkie voordat sy haar hand uitsteek om die knip oop te maak, het Flip geleentheid om haar ten volle te aanskou. Sy lyk onseker, weerloos. Maar nie bang nie. Sy is ’n beheerste mens. Sy is geklee in ’n ligte rok wat sag om haar lyf plooi. Sy dra haar bruinblonde hare nie meer kort nie, en die langer styl laat die krulle om haar kop staan; met die lig van agter is daar byna ’n ligrandjie om. ’n Halo, verbeel jou. Op ’n tyd sou hy dit vir haar kon sê, en sy sou lag. Hoe lank nog, voordat die eerste grys haartjies verskyn? Vyf jaar? Tien? Sy is op pad dertig toe. Is sy maar bereid dat haar beste jare so oor haar kop heen gly?

      Sy aanbid vir Frankie, seun van haar ouer broer Hannes. Maar dis vir haar geen belegging vir die toekoms nie, reken Flip. Binnekort is die seun uit die huis en uit haar lewe. Sal sy dan die eerste knaging van ware eensaamheid voel? Sielseensaamheid soos hy dit ook ken? Toe hy hom kom kry, het hy ’n struik se lentegroeisels flenters getrap in sy poging om nader aan die venster en aan Beth Moorrees te dring.

      “O, dis jy,” sê Beth nadat sy oomblikke lank die omgewing buite die venster bespied het. Want sy eien vir Flip Rabie in die lamplig wat verby haar op hom skyn. Die grys reënjas hang oor sy skouers en sy hare kleef nat om sy kop. ’n Welgevormde kop, dit onthou sy noudat die digte hare plat lê. Die enkele woorde wat sy uitgekry het, was meer as ’n klank van herkenning. Dit was ook afkeer, ’n besliste wegwysing. En wat nog? Sy weet self nie. Ekstase? Sy weet nie watter gevoelens dit is wat in haar stry om bo te kom nie. Sy weet net dat dit haar lamslaan dat Flip Rabie, nadat hulle mekaar lank laas van aangesig tot aangesig gesien het, hier buite in die reënnag verskyn.

      Dan kom die tweede gedagte: Hannes! Hannes moes iets oorgekom het, daarom is hy nog nie tuis nie. Die twee is ou studentevriende, daarom sal dit Flip wees