Gepas, nè? Daarna het ek sommer geïmproviseer.”
“Dit het hartseer geklink.”
“Omdat dit in mineurtoon was. Dalk word ek ’n tweede Mozart,” besluit hy met sigbare selfspot. “Ek gaan maar kamer toe, ek het nog skoolwerk. Kan ek die gaslamp in die sitkamer vat?”
“Ja, gerus.” Dis een van die knellende probleme wat sy met Hannes moet bespreek: dat Victorina herbedraad moet word. In die badkamer en kombuis het hulle gas, maar die ligte is ’n gesukkel. Die brandgevaar was so groot dat hulle die munisipaliteit versoek het om die toevoer af te sny. Die kragopwekker staan ongebruik. Met ’n bietjie aandag sal dit wel aan die gang kan kom. Tog, ten spyte van die ekstra sleur van gas en paraffien, verwelkom sy die kerse en gaslampe wat genadiger met harde werklikhede omgaan. Op die oomblik brand daar ’n kers op die kombuistafel, en dit snoer haar en haar broerskind saam. Of so hoop sy.
Haar broeiende blik volg vir Frankie toe hy die kombuis verlaat om die gaslamp te gaan haal. In die gang dein skaduwees soos wassende en krimpende swamme. Hy gee ook nie vir elektriese lig om nie, het hy al vir Beth verseker. Wil hy haar net beter laat voel? Hy wil tog seker ook graag televisie kyk, elektroniese apparate gebruik. Maar hy is anders as sy tydgenote. Hy is gewild, maar nie omdat hy deel van die kudde vorm nie. Hy het sy eie kwaliteite wat hom onderskei. Ten spyte van die breuk tussen sy ouers en ’n meestal afwesige vader, vaar Frank goed. Dalk maak dit alles hom juis meer selfstandig en volwasse.
Hannes voer feitlik die lewe van ’n nomaad. Sy was so dankbaar toe hy ’n slag hier in Lieberville self ’n kontrak losslaan, as konsultant vir die stadsingenieur. Die een of ander uitleg, van ’n nuwe rioolstelsel of wat ook al. Sy weet nie presies nie. Met Hannes weet sy deesdae nooit presies nie. Tye lank bly hy hier in die huis, tye lank in sy verbleikte klein woonwa op die rand van die dorp, onder een van die reusebloekoms.
Sy kan nie glo dis dieselfde voortreflike broer van vroeër nie. Na die breuk met Agnes is dit byna asof hy doelbewus die stutte rondom hom begin afbreek het. In ’n stadium het alles in sy lewe begin sneeubal, afdraand. Sy is geneig om aan daardie keerpunt te dink as ’n soort skeidsmuur, tussen toe en nou. Tussen voor en na. Ook vir haar, ’n beëindiging van die tyd wat sy in die skoolkantoor gewerk en op daaglikse basis vir Flip gesien het, tot waar sy nou allerhande werk vanuit haar studeerkamer doen en vir Frankie ’n vaste tuiste skep.
Sy voel hoe sy nog liggies van ontsteltenis bewe. Want Flip Rabie was hier, minute gelede nog, tussen dieselfde mure as sy. Daar, net daar, het hy gestaan, met sy hare klam teen die sterk kop. Asof sy die beeld finaal wil uitwis, gryp sy die kers en loop na Hannes se kamer toe. Hy lê met klere en al op die bed, reeds vas aan die slaap. Met teensinnige sorg gooi sy ’n kombers oor hom nadat sy sy skoene afgestroop het. Sy troudatum. Flip dink dat sy vergeet het. Sy het nie, want sy was ’n laerskooldogter toe Hannes trou, sy en die kleine Camelia was blommemeisies. Op Agnes se tuisdorp, dit was ’n hele uittog soontoe saam met hulle ouers. Die hele proses het ’n groot en baie romantiese indruk op haar gemaak. Toe Frankie gebore word, het sy en Camelia hom geniet asof hy ’n opwenspeelding is.
Wat ouderdom betref, is daar nogal groot gapings tussen die drie Moorrees-kinders. Vir die susters was Hannes die aloue, alwyse “Ouboet”. En hulle was vir hom “Betjie” en “Kameeltjie”. Maar soos sy ouer geword het, is Beth stap vir stap in Agnes ontnugter, en ook in Hannes se onvermoë om sy huwelik en gesin te bestuur.
Daarom het sy vandag bly hoop dat Hannes die herdenking liewer nie sal onthou nie. Maar hy het, en gaan dronk word, wat meegebring dat Flip Rabie, van alle mense, hom huis toe moes bring. Wat ’n vernedering. Hulle naam is tog bekend in die dorp, hulle is deel van ’n dinastie. Sal Hannes vanaand se dinge onthou, môre, as hy nugter is? En verlekker Flip hom dalk? Nee, nee, hy is nie so ’n soort mens nie. Wat daardie keer tussen hom en Agnes gebeur het (al beweer hy daar het niks gebeur nie), moet eerder voor Agnes se deur gelê word. Maar kon hy nie sterker gestaan het, haar van sy voordeur af weggestuur het nie? Hoe vergewe sy hom ooit, óóit?
Met die flikkerende kers in die blaker, loop Beth deur die huis en vergewis haar dat die buitedeure gesluit is. Ook die vensters moet op knip wees. Dis die kruis van ’n huis sonder diefwering. En sy is die een wat elke aand daarna moet omsien. Daarom het sy vir haar ’n slaapkamer op die grondvloer ingerig. Hannes het ook ’n klein slaapplek onder, die vorige spens. Camelia en Frank verkies om bo te slaap.
Die huis is totaal te groot vir hulle behoeftes, besluit Beth vir die hoeveelste keer moedeloos. Die helfte daarvan kan maklik verhuur word, was dit nie dat mens huiwer om te dink aan vreemde mense met vreemde gewoontes heeldag in jou onmiddellike nabyheid nie. Sy deins terug vir die implikasies. Hulle kan jou vaskeer met geselsies, of nalaat om stiptelik die huur te betaal. En sentraal is die huis ook nie geleë nie. Die uitbreidende Lieberville het wel sy nuutste woonbuurte uitgestoot tot naby, maar die huis met sy loodkleur dak sit nog op die ver westepunt van die dorp, ’n soort landmerk.
Die goeie meubels, sommiges nog vanuit oupa Moorrees se eerste huwelik, staan geduldig op wag. Die eertydse dorpsleier met sy digte grys krulhare kyk vanuit ’n geraamde vergroting op sy kleindogter neer. Dis agtervolgende oë, dié van oupa Moorrees. Na die dood van sy eerste vrou, moeder van sy seun Charl, is hy getroud met die veel jonger Victoria, vir wie hy die huis in ’n dubbelverdieping verander het; die fondamente was hiervoor goed genoeg gelê. Lieberville het effens spottend na haar verwys as Die Jonkvrou. Dalk om almal te oortuig van die waarde van Die Jonkvrou, is daar op groot skaal onthaal in die tuin van Victorina, die naam van die pragtig herboude woning.
Toe, ironies, sterf oupa Moorrees se jong Victoria voor hom. Hy treur en boer agteruit. Voor sy dood nog kom Charl oorneem, en die reeds wankele boerdery krepeer verder. Stuk-stuk is die grond afgesny en verkoop, vir Lieberville om uit te brei. Geld wat weggevloei het. Vandat Beth kan onthou, het haar ouers gespook om kop bo water te hou, terwyl haar pa boonop die onthaal-mite wou voortsit. Beth onthou vanuit haar kinderjare en vroeë jeug die gesellige verkeer, laggende stemme op die stoep en grasperk met die stoepligte wat alles deurstraal en die tuin in ’n towerland omskep. Maar sy onthou ook hoe haar ma daglank met pen en papier kon sit en begroot, planmaak met kos en klere.
Toe kom die motorongeluk waarin haar pa, Charl Moorrees, dood en haar ma maande lank in die hospitaal gelaat is. Hannes was reeds getroud en ’n pa, hy kon nie veel geld afknyp nie. Beth het haar studie gestaak en huis toe gekom, begin werk om haar ma se hospitaalverblyf tot haar dood te help betaal. En om om te sien na Camelia, duskant matriek. Grappenderwys is sy en Camelia toe “die twee jonkvroue” genoem.
Die sterfte van Pa Charl was erg, maar Ma Marta s’n was opperste verdriet. Sy was die sterk een wat haar hand op alles gehad het. Nie baie prakties nie, maar gekultiveerd, ’n voormalige onderwyseres en aflos-orrelis in die kerk. Sy het die liefde vir goeie boeke en musiek op hulle oorgedra. Sy het dit altyd betreur dat sy nie “groen vingers” het nie, maar Camelia se naam het sy gekies omdat haar enigste kamelia (sedertdien tot niet) glo oortrek van blomknoppe was toe haar jongste gebore is. Sy was ’n aanwins vir Victorina en vir die naam Moorrees, al was sy aangetroud. Marta Moorrees was, hoewel ’n privaat mens, veel gewilder as haar stiefskoonma Victoria, wat in haar leeftyd nie veel dorpstatus kon opbou nie. Dat Marta en die jonger Zonia Rabie binne agtien maande uit mekaar begrawe is, was ’n gevoelige slag vir Lieberville.
Maar nou was Marta Moorrees heen, soos haar man enkele maande voor haar, en dit was of ’n ster geval het. Meteens was Victorina dood en stil, met net hulle twee meisies hier. Snags het die groot huis en werf onmeetlik wyd om hulle gestrek. Hulle kon nie alleen bly woon nie. Maar asof dit so bestem was, kom daar juis toe ’n roering in Hannes se persoonlike sake. Hy word opgeneem in die span wat na Antarktika toe sou gaan. Agnes sou met die twaalfjarige Frankie vir die jaar van sy afwesigheid by hulle kom inwoon. Hy sou hier skoolgaan; dis dieselfde provinsie, dit sou gereël kon word. Dis wat Hannes wou hê, dalk veral sodat sy mooie Agnes onder toesig kan wees.
Ter voorbereiding van hulle koms, het Beth die poorte van Victorina weer begin oopgooi. Sy het onthaal, sonder groot uitgawes, dikwels ’n bring-en-eet, maar nietemin gesellig. Die skoolpersoneel het graag hier kom braai en dans. Want Beth, wat by die skool as hulpsekretaresse begin het, het gou die volle pos gekry en deel van die skoolkorps geword. Dikwels toesig in klasse en oor