Danie Botha

Die helder dae


Скачать книгу

swartheid wil jou vasdruk. (Soos by Sand Hills naby De Doorns waar die pad deur die berg geskiet is; jy sit agter in die Nash en kyk op. Meteens net geel rotse en grond en grond hoog bo jou uit. Maar nou’s ons naby Ver-Oupa-hulle op Orchard!) Jy kan daarteen opgaan, maar hoe ver? Wat wag op jou waar dit die donkerste is? Jy kan gly en afstort.

      Nou in die nag kan ’n mens nie te ver in die skoorsteen in op sien nie.

      Jy kan ook nie deur die klein venstertjie agter die stoofplate en die kastrolle kyk nie. Donker, donker.

      Die kombuisdeur se onderkant laat wind en reën deur. Ook deur die hap regs bo aan die bodeur waar Pa se duiwe vroeër jare deurgevlieg het voor die plek in ’n huis verander is.

      Op die vensterbank bo die kombuistafel brand die lantern. Die vlam rek, swaai, buig.

      Ná ete is net Jako en Ma nog in die kombuis. Sy droog die laaste skottelgoed af.

      Hy kan die reën en die wind nou goed hoor.

      Môre sal die Brandwachtberg toe wees onder die sneeu. Grys en koud tot by die laagste hange. Nooit tot op die plaas self nie. Behalwe die een jaar baie lank gelede toe die Groothuis ook toegeval het. Oupa was altyd trots op die foto wat in meneer P.A. Malan se eksekuteurskantoor op Worcester gehang het.

      Die lae sneeu en die talmende donker reënwolke verander die berg. Dit het nou iets van die Here: almagtig, sterk, ontoeganklik. En jy word bang om daarna te kyk. Vanaf al die kranse kan onheil elke oomblik toeslaan. Sal die sneeumassas nie nader stroom oornag nie?

      Ma se hare is swart. Toe Braam nog ’n babatjie was, het sy middae op die bed met hom gelê en vir hom gesing: “‘Luister hoe fluister die wind deur die boompietjies. Heen en weer wieg hy al oor die stroompietjies. Doedoedoe, bladertjies, slapenstyd nadertjies, so sê die windjie aan blaartjies en blompetjies.’ ” Dan lê Jako ook by hulle op die bed en draai en draai ’n lok van Ma se hare om sy vinger, en glo Mamma sing dit vir hóm ook terwyl Ouma se hoenders kloek, en skaduwees teen die dak skuiwe wanneer iemand of iets in die hitte van die middag voor die huis verbygaan. Dan sink-sink Jako in Ma se liefde in.

      ’n Ou skaapwagter uit haar jongmeisiedae op Keurbosch anderkant De Doorns was die enigste man wat ooit vir haar gesê het sy’s ’n skoonheid, sê sy altyd. Hy het haar “die roos van Matroosberg” genoem. Pa het darem seker ook die een of ander tyd gesê sy’s mooi toe hy na haar gevry het. Sy’t toe in die Nasorgafdeling van die Skool vir Blindes op Worcester gewerk, Matrone gehelp in die kombuis. Maar sy was met baie mans deurmekaar, terg Pa altyd.

      Ma sing Hallelujaliedere wanneer sy die dag stoof skoonmaak en roetbesmeerd raak.

      Sy kyk nou na Jako, dan na die agterdeur, en begin die resitasie uit haar skooldae opsê:

      “‘Wie roer aan my deur

      so vertroulik en sag?

      Kom binne maar, vreemd’ling –

      dis awend, dis nag.’

      “‘Nee, ek mag nie na binne,

      ek, pelgrimskind;

      my lewe is swerwe,

      my naam is die wind.’ ”

      Is die pelgrim al weg by die agterdeur? Loop hy nou al deurnat verby Ouma se hoenderhok?

      Gaan hy vannag nog alleen die koue en donkerte van die Brandwachtberg in?

      Dalk staan hy by die dorsvloer en kyk terug na die lanternlig.

      Is hy hartseer voor hy na die Here gaan?

      Uit: Abraham de Vries (samesteller): Uit die kontreie vandaan, Human & Rousseau, Kaapstad, 2000; ook opgeneem in Abraham de Vries (samesteller): Die Afrikaanse Kortverhaalboek, sesde hersiene uitgawe, Human & Rousseau en Tafelberg, Kaapstad, 2004.

      Hemelvaart

      Die bruinswart skilpaaie kruip nors

      deur die hospitaal se sopnat binneplaas.

      Daar binne in die kindersaal

      lê Ora van oom Org en tant Debora

      met die witste slaapklere aan.

      Alles is lig en wit om haar.

      En al die mense sit en staan

      of hulle haar op wil lig en weg wil dra.

      Ek bly by die bruines.

      Ek buk by een.

      Hy trek sy kop vinnig in

      en hóú dit so.

      Hy roer nie, hy bly die ene dop.

      Uit: New Nation, Februarie/Maart 1980.

      Die wou-wou Kersfees

      Die veld, die boord, die wingerd skitter-bewe van die son se hitte. In die hoë bloekombome hou die geskree van die sonbesies aan en aan. Daar trek nie ’n luggie nie.

      Jako mag nie rondloop solank dit nog so warm is nie. Daarom sit hy op die verandastoep met ’n prenteboek. Hy probeer lees van ’n seeperdjie se avonture, maar kort-kort dink hy maar weer: Wat gaan hy vir Kersfees kry?

      Nog net vannag slaap en dan … Môreoggend maak hy die kussingsloop oop. Sê nou maar daar’s ’n kamera in? ’n Rolprentkamera. Dan kan hy orals op die plaas rondloop en alles afneem: Ouma Botha se eende op die dam agter die bloekombos, en Fido, hul hond, wat Braam se skilpad pla of hul duiwe laat opvlieg van die afgeoeste hawerland.

      Oor ’n rukkie gaan die skadu’s al hoe langer begin word oor die boord, oor die wingerd. Dan gaan die beeste stal toe kom en Pa-hulle gaan begin melk.

      Daarna kom die maan op agter die ver berge, dit klim en klim en skuif later deur die donker lug. Dit gaan nag word oor die veld net soos daardie nag toe Jesus gebore is.

      Sodra dit heeltemal nag is, kom almal bymekaar by die Kersboom in die voorhuis. Nie net Jako-hulle nie. Tant Wiesie en oom Kosie kom in hulle bakkie van Boplaas af; oom Jan, tant Maraai en Thomas stap sommer die entjie van hulle ronde huis onderkant die hawerland af. ’n Mens kan altyd hoor wanneer oom Jan-hulle aan die kom is, want kort-kort raas ’n vies kiewiet oor hulle hom opjaag.

      Hulle sal weer Kersliedere sing en Ouma sal uit die Bybel lees. Oupa sê hý lees nie; hy sukkel te veel met sy bors.

      Daarna sal dit slaaptyd vir Jako, Braam en Dria word. ’n Hele nag wat hulle moet omslaap. Dan eers … Dis nog so lánk.

      Sal hy nie maar vir Ma gaan vra nie? Miskien … miskien sal sy sê wat hy gaan kry. Sy sal seker in die kombuis wees.

      Dis skemerig in die huis. Ma hou die gordyne toe vir koelte.

      Daar in ’n hoek van die voorhuis staan die Kersboom. Dis ’n sipresboomtak in ’n paraffienblik. Hier op Brandwacht is daar nie dennebome nie. Andri, hul neef wat op die dorp woon, kry sy geskenke onder ’n slap denneboom. Die sipresboom is stewiger as die denneboom, en dit het ’n klomp klein takkies om blinkgoed aan vas te maak.

      Dis te donker; hy kan die boom nie mooi sien nie. Maar dis tog asof die eenmaal-in-die-jaar-se-ding wat so stil daar staan, met hom wil praat: Dis Kersfees!

      Op die buffet staan Ma se handewerk: twee grootkoeke en bakkies en borde vol kleinkoekies. En daar is ’n groot rangskikking van wildepruimtakke en kerslelies op die tafel.

      Nou stap hy verby die spens. Hier is dit donkerder, want die venstertjie is bitter klein. In dié koel donkerte gis gemmerbier in ’n erdekan.

      In die kombuis versier Ma ’n sjokoladekoek.

      “Ma, wat gaan ek vir Kersfees kry?”

      “Kan jy nie wag tot môre nie? Ek gaan nie sê nie.” Meteens lyk Ma se gesig ’n bietjie treurig. “My kind moet tog nie te groot drome droom nie. As ons maar net die geld gehad het, het ek vir julle gekoop net wat julle harte begeer.”

      Elke jaar praat Ma so van die min geld, maar elke Kersfees is