moes hom juis hierdie week disnis werk om genoeg petrolgeld bymekaar te skraap vir dié trippie en hy was niks lus vir twak nie. Daarom het hy die man net van onder sy sopnat kuif bekyk en skeefweg geglimlag: “Ek het ’n goeie fiets, meneer Otto!”
Saul het hom ’n paar oomblikke niksseggend staan en aankyk en toe omgeswaai om die studeerkamerdeur agter hom liggies toe te klap: Dis toe dat Pietman geweet het: Die Otto’s was oorgehaal vir hom. Hul kapasiteit vir verdraagsaamheid het sy vlak bodempie bereik. En as hul mooi dogter nie die man tot ander insigte kon laat kom nie, sou Saul en Mariaan dit vir haar doen. Die gedagte het hom op die plek roekeloos vies gemaak. “Waar kan ons gesels?” wou hy koud weet.
“Wil jy nie eers gaan was nie?” wou Surita half senuagtig weet en haar oë het hom gesmeek. Net ter wille van haar smagting na soete vrede het hy gou trapop gegaan, sy gesig, arms en hande gewas en sy kuif ’n vegie gegee, ’n skoon hemp en broek aangetrek. Toe hy weer onder kom, kry hy haar in die woonkamer en haar ma is nêrens te sien nie. Daar het ’n skinkbord met papierdun toebroodjies en koffie opgedaag en hy het in stilte geëet. Sy het nader gekom om by hom op die bank te sit en toe sy sy huiwering merk, gerusstellend geglimlag: “Toe maar, hulle het gaan slaap. My ma reken ons moet self die probleem oplos. Daarvoor is daar vannag mos baie tyd.”
Maar hy het swyend eers saam met haar koffie gedrink, opeens gevoel hoe die behaaglikheid van kos en drank sy binneste warm maak. Hy was nie lus om te baklei nie. En hy sou móés. Al genade was om die saak tot op die been oop te kloof.
Hy het sy mond oopgemaak om die inleiding tot die rede te lewer toe sy oog die mooi lyn van haar kuit vang. Hy het asem opgehou en sy blik het vanself opgegly tot daar waar die minirompie net-net toemaak. “Jy ontstig my,” het hy toe geglimlag en die ys voel breek. Want hy was al klaar minder vies vir die Otto’s en sy het selfversekerd nader geskuif tot teenaan hom. Dit was dáárdie “move” van haar wat die hele proses van regstellende aksie vertraag het. Toe hy sy arms om haar skuif en haar mond onder syne voel, het hy teruggeglip in die rol van Pietman-met-die-Mêrs. Sy probleme het weggesmelt soos wat die bloed in sy are gebrand het en dit sou die maklikste ding ter wêreld gewees het om hom net oor te gee aan die lekkerte. Baie ander ouens sou nie eers daaroor dink nie, het hy homself wysgemaak. Toe sy opeens met loom oë na hom opkyk en hy merk dat die mini’tjie opgeskuif het tot waar daar ’n strokie spierwit kant uitsteek, het ’n soet skrik hom laat bewe en hy het abrup weggeskuif. ’n Oomblik lank het hy geen gedagtes gehad nie; net die helder wete dat hy op ’n drumpel staan. Miskien was dit die feit dat hy nie so bedrewe was met hierdie dinge as wat hy gemeen het hy sou wees nie. Dalk was dit omdat sy kop tog weer begin werk het en hy uit die bloute oupa Murray se woorde van anderdag in sy ore hoor klink het – iets van ’n mens wat moet toeneem in begrip en fyn aanvoeling. Vir ’n bisarre oomblik het hy gewonder presies watter vers in Filippense dié boodskap bevat – en toe het hy opgestaan, sy hande in sy broeksakke gedruk en stadig op en af in die lang vertrek begin loop. Surita het hom botstil vanaf die sofa beskou, haar lang bene gestrek en stadig orent gekom.
“Jy het my nie lief nie,” het sy die oeroue argument van die verstote vrou uitgehaal.
“Ag magtig . . .” het hy net gesug, weer voor haar kom staan. “Dit het niks met liefde te doen nie! Dit sou verskriklik dom wees om maar voort te stoom terwyl ons nie weet of ek eers ’n bed sal kan koop as ons moet nie!”
“Dus is geld die kwessie?” was sy vinnig om die gapinkie te vat en hy het sy hande in die lug gegooi, sy asem met bolwange uitgeblaas.
“Jy verdraai als! Natuurlik is geld die groot kwessie hier, maar jy weet goed wat my standpunt oor seks is, Surita!”
“Nonsens,” het sy skielik kilkwaad gesê en voor hom kom staan. “Dis die natuurlikste ding op aarde. Dis soos kos. Jy het nie ’n standpunt daaroor of jy moet éét of nie, het jy?”
“Moenie laf wees nie, Surita! Lyk my jy leen jou oortjies uit vir mense wat die kan-nie-anders-nie-ideologie aanhang. Wel, daar is so iets soos wil-nie-anders-nie en ek verkies dit so. Trouens, ek begin dink ons probleem is dat ons nooit juis diep genoeg gesels nie!”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Ek bedoel dat ons dalk nie heeltemal dieselfde vertrekpunt het nie,” het hy sag, meer genaakbaar geantwoord. “Daar is dinge waarin ek glo, meisie.”
“Maar ek ook!” het sy gedemp en na aan trane uitgeroep, “dis net dat . . .”
“Dat jy dit so effentjies wil wysig,” het hy opeens doodkalm gesê en haar versigtig nader getrek, want sy was baie bleek, haar hande saamgebal. So koppig, het hy gedink – en juis daarom weerloos. Sy wil my liggaamlik bind in die hoop dat ek sal toegee dat haar pa maar my studies kan betaal, vir my ’n kar kan koop, my klere voorsien en my lewe met die klein luukses vol maak. En kort voor lank sal ek Otto-eiendom wees. Ek sal nooit, ooit weer Pietman de Waal kan wees nie. Nie dié Pietman wat vry is om sy eie ding te doen nie.
Selfs met Surita se geurige sagtheid teenaan hom, het die gedagte hom geweldig beklem en hy het haar soetjies maak sit op die bank, haar stram hande oopgevou en oor die palms gestryk. “Luister nou mooi . . . ons het baie tyd. En nog baie om eers reg te maak in hierdie verhouding.” Hy het haar klein suggie geïgnoreer, aan haar ontspanne liggaam gesien dat hy veld wen. Dis miskien een van die redes waarom Surita Otto tog aan sy hart kan raak, het hy gedink. Sy luister wel na ’n man. Iewers in haar is daar ’n kern wat vatbaar is vir oortuiging ook. En as hy mooi werk met haar, sal hy haar later oorhaal om soos hy te dink. Want hy glo hy dink reg. “Luister,” het hy weer gesê en langs haar gaan sit, “ek het nou ’n probleem wat jy eers moet begryp. Ek is nie meer Pietman met die rooi sportmotor nie. Heng, ek het nie eens ’n hoender in die bank nie!”
“Maar jy wil nie toelaat . . .” het sy begin en hy het betyds drie vingers oor haar lippe gedruk.
“Nee, jy moet eers klaar hoor. Surita, ek en my ma is dakloos. As dit nie vir my oupa se barmhartigheid was nie, was ons op straat. Ek moet werk vir ’n lewe en geld leen by die bank. Verder moet ek swot dat die byle huil, want LL.B. is nie my idee van ’n grappie nie! Ek het nie eers deel gehad aan die Jool nie, want ek moes wérk!” Maar hy het gesien dat sy haar onttrek. Haar oë het soos altyd wanneer sy belangstelling verloor, skoon verby hom gekyk en hy het die moegheid van vroeër die aand in hom voel opstu. Die moedeloosheid ook. Toe het hy sommer spontaan oor iets anders gepraat. Iets wat hy buitendien al eerder moes aangeraak het, het hy feitlik dadelik besef.
“Ons het twee loseerders,” het hy begin en skielik nie die moed gehad om meer te sê nie.
“Loséérders . . .?” het sy verstom gevra – so asof dit ’n sinoniem vir fossiele of krygsgevangenes is. “Waar op aarde kom julle aan hulle?”
“Een van hulle is Keppie. Hy’t toe nie deurgekom nie en swot nou onderwys op die PUK.”
Sy het gesnuif-lag. “Hoe absoluut kleinburgerlik! Maar miskien is dit die regte ding vir Keppie!”
Pietman was op die plek vuurwarm vies. “Dit is beslis, ja. En ek het nog iets wat ek jou van Keppie kan vertel!”
In ’n stroom woorde het hy alles uitgepak. Van Keppie die rykmanseun wat om een of ander rede, dalk omdat daar te veel druk op hom geplaas word, verkies om sy ouerhuis te ontglip wanneer hy kan. En ook van Keppie wat al agter hulle twee aan deur Frankryk gereis het bloot omdat dit hom vermaak het. Wat, let wel, ryk genoeg is om te maak net wat hy wil, wanneer hy wil, hóé hy wil.
Vir een maal het Pietman Surita se onverdeelde aandag gehad toe hy van Keppie Fourie praat. Sy was amper sprakeloos.
“En hy swot onderwys?”
“Ditsem. En hy gaan ’n goeie onnie wees.”
Sy het ’n rukkie lank roerloos gesit en toe met ’n onseker trekkie om die mond na hom gedraai. “Pietman, moet nou nie weer dadelik kwaad word nie. Maar as jy dan nie by my pa wil geld leen nie, waarom leen jy nie by Keppie nie?”
Hy het tot by drie getel en toe met geslote oë teruggeleun, sy hande agter sy kop saamgevat. “Geld, geld, géld!” het hy gesê. “Jy dink ’n mens kan net mooi alles daarmee