Helene de Kock

Helene de Kock Omnibus 4


Скачать книгу

Baie lief. Liewer as myself! Maar hoekom kom die woorde dan nie?

      Hy byt opeens sy lip vas. “Ag, tj! Ek druk myself swak uit, jy weet mos!”

      Tot sy innige verligting glimlag sy, streel met haar hand oor sy opgetrekte knieë. “Vir seker, ja, maar miskien is dit beter so. Ek dink nogal jy’s eintlik die macho tipe. Stil en sterk. En soms ru.”

      “Sjoe!” Hy lag. “Dit klink gevaarlik baie na ’n sepiekarakter! Net skuim – en as die wind dit skep, is daar niks!”

      “Toe nou, dis nie wat ek bedoel nie! Buitendien klink jy nou erg teatraal!” sê sy.

      “Ek wou eintlik ernstig klink, Surita. Dis hoog tyd dat ons praat. Ek . . . ons kan nie maar net so aankarring nie.”

      Sy vou haar arms driftig oor haar bors, maar haar oë ontwyk hom. “Dis wat baie van ons vriende maar doen, hoor. Veral as hulle reeds weet hulle gaan eendag trou.”

      Pietman kyk haar ongelowig aan, sit orent en vou sy arms om sy knieë. En toe kom die woorde – nie dié wat hy weet sy wil hoor nie, maar sy eie, eie woorde wat in sy bloed en sy gebeente is: “Surita, die massa laat my koud. Of hulle saamslaap, skeel my nie. Ek het jou gesê ek is my eie mens. En ek wil nie voor die huwelik seks hê nie. Jy eintlik ook nie . . .”

      “Ek dag jy gee om vir my!” val sy hom in die rede en vir die eerste maal dat hy haar ken, drup daar trane oor haar wange sodat sy dit met ’n ergerlike gebaar wegvee. “Ek dag jy wil eendag my man wees! Ons . . . ons is albei grootmense en teen dié tyd behoort jy mos te weet!”

      Die woorde ruk hom soos daardie aand toe oupa Murray hom kom sê het dat sy pa eindelik dood is ná ’n ses maande lange lyding. Hy voel onverklaarbaar verpletter. Binnekant rou en buite broos. Want dis ook so ’n oopruk-situasie hierdie. Al is dit skoon anders as daardie aand toe hy gehoor het sy pa is weg om nooit weer te kom nie. Dit voel kompleet asof hy afkyk en sy hart rooi tussen sy ribbes sien pomp. Toe hy praat, is sy stem hees.

      “Surita . . . Ek weet dat ek ernstig oor jou voel, maar ek weet niks van die toekoms af nie.” Die drif kom terug in hom en sy hande praat saam: “Ek het ’n probleem met dié wat so maklik sê hulle gaan mos eendag trou. Hoe weet hulle wat voorlê?”

      “Hoe weet ’n mens jy gaan nie eendag skei nie?” kap sy terug, haar wange bloesend.

      Hy kyk lank na haar, toe trek hy haar nader tot sy weer teen sy bors sit, haar kop in die holte van sy nek.

      “’n Mens weet nie, Surita. ’n Mens weet eintlik niks. Daarom verkies ek om nie slimpraatjies te maak oor diep dinge nie. Ek verpes filosofietjies en pasklaar antwoorde. En . . . ek weet goed dit word as intellektueel naïef beskou as jy die Tien Gebooie te ernstig opneem. Maar vir my is dit veel makliker as om maar net voort te vaar in die hoop dat alles eendag maar reg sal uitwerk!”

      Sy is ’n rukkie stil, toe sê sy huiwerig, half kinderlik: “Ek glo ook wat in die Bybel staan, maar . . .”

      “Maar?” por hy.

      “Maar ek dink jy’s te doktrinêr,” sê sy afgemete en hy kon voel hoe haar liggaam met elke woord strammer raak. Sy haat die gesprek, weet hy meteens weer. Sy wil nie oor dinge tob nie. Sy wil liefs op ’n golf ry in die hoop dat dit nooit sal breek nie. En sy is onredelik bang dat hul verskil in sienswyse ’n breuk tussen hulle sal veroorsaak. Hy weet ook waarom: Voor sy geestesoog sien hy hoe haar ma se netjiese kapsel op en af knik as haar pa iets kwytraak. Hy wat Pietman is, het hulle nog nooit oor enigiets hoor verskil nie. Maar Surita moet dit al gehoor het. En leer vrees het.

      Hy sug en vat haar bos glansende hare tussen sy hande was, streel oor die brose vorm van haar kop.

      “Ek is jammer,” sê hy opreg, “maar dit is hoe ek voel. En dit kan tog geen kwaad doen om te wag nie, kan dit?”

      Sy vryf haar kop teen sy palms, sê gelate: “Nee, seker nie. Dis net dat ek dink jy is baie, baie sexy!”

      Die óú opwinding swiep deur hom, vang hom onkant toe sy opkyk en haar mond vir hom hou. Hy soen haar gedagteloos, moeiteloos soos die gladde spasma van ’n brander wat wil breek. En net vir ’n oomblik stem hy met haar saam: hy wat Pietman is, is hopeloos te konserwatief. Hy hoort in ’n museum. Hier het hy ’n dierbare en gewillige meisie in sy arms. Die wêreld sal nie ophou draai as . . .

      Maar dis dié gedagte wat hom in vlak water laat strand en hy lig sy kop om asem te skep. Dis mos wat oupa Murray ook altyd sê as hy wat Pietman is, met hom korswil: “Nee, die wêreld sal nie ophou draai as jy die wet oortree nie, my kind, maar die kans dat hy jou sal afgooi, is groot.”

      “Ons moet liewer gaan slaap,” sê hy en staan in een beweging op, trek haar saam. Sy stribbel nie teë nie, glimlag net geheimsinnig soos ’n vrou wat weet wat sy weet. En hy wys vinger vir haar. “Jy’s stout, hoor!”

      “Miskien.” Sy lag openlik en stap swaailyf die vertrek uit. Dis toe Pietman al in die bed lê dat hy half lui op die bedkassie rondtas na sy sakbybeltjie. Hy blaai na 1 Korintiërs 1. En hy lees: “Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie?”

      Hy lê lank en dink – en toe hy slaap, is dit om te droom van oupa Murray wat in sy studeerkamer op Potch sit. Hy druk met ’n voorvinger op die noordelike as van die groot aardbol wat altyd op sy lessenaar staan. Met die ander vingers tik-tik hy sodat die aarde al vinniger draai. “Klou, Pietman,” sê hy. “Klou of jy’s jou staanplek kwyt.”

      4

      Die laaste vakansiedae is droomlekker. En Pietman moet toegee tante Yvonne is nou wel ’n plesiervraat, soos wat Keppie sou sê, maar sy doen werklik haar uiterste bes om alles so aangenaam moontlik vir Pietman en Surita te maak. Dis sy wat daarop aangedring het dat hulle drie die laaste paar dae by tante Juliette, oom François se suster, deurbring. Toe sy dit aangekondig het, het Pietman se moed by voorbaat gesak. Nog ’n eindelose rondte van kastele, restaurante en museums. Maar hy was verkeerd. Tante Juliette, ’n klein vroutjie met die wakker ogies van ’n mossie, se eeue oue huisie binne die Middeleeuse mure van Autun is ’n snoesige hawe. By hul aankoms het sy ’n sappige bredie vol klein uitjies en sampioene saam met ’n volronde rooiwyn opgedis. Die smullekker kos het die snerpende, Boergondiese sneeudag buite gehou en die wyn het hul binneste warm gemaak. Dit het Pietman met ’n heerlike, loom belangstelling laat luister na die gebroke Engels waarin sy hulle vertel het dat Autun deur keiser Augustus sélf tien jaar voor die geboorte van Christus gestig is. Pietman kon dit goed glo, want vandat hulle die ou gedeelte van Autun binnegery het, het die wêreld buite gebly. Die lewe het soos poeding gestol vir hom en Surita. Selfs tante Yvonne het hulle laat begaan en heeldag saam met tante Juliette gesit en gesels. En hulle was vry om soos die luim hulle lei, die ou huisie met sy rooibruin, mosbedekte dakteëls te verlaat en al met die nou stege langs te slenter. Dit was ongelooflik vredig om af te stap na die sentrale dorpsplein, die Champ de Mars, en by die Auberge de la Bourgogne worsies met mosterd en wyn te eet, hande vas te hou oor die breedte van ’n tafel terwyl die ure verbytik en die lewe luiweg vanaf oormôre wink . . .

      Saans speel hulle skaak met ’n oeroue marmerstel voor ’n groot kaggel terwyl die ouer vroue gapend en glimlaggend toekyk. Pietman kon hom amper verbeel dat hy hier gebore en getoë is. Eg Boergondies in murg en been. Hy het selfs die streekdis van slakke, gestop met knoffel, pietersielie en sampioene, begin geniet. My ou, sou Keppie kopskuddend gesug het, jy laat toe dat die genietinge van die lewe jou verlei. Kry jou brein in rat, Pieta. Sien jy dan nie wat aan die gebeur is nie? Die meisiekind en haar eienaardige tantetjies spin ’n web om jou. Maar sulke gedagtes waai Pietman met ’n handgebaar weg. Hy loop die laaste yskoue oggend saam met Surita uit strate toe om vir oulaas te drentel.

      Hulle stap na die suidelike hoek van Autun waar die katedraal van St-Lazare troon. Tante Juliette het gesê hulle moet daarna kom kyk – want dan sal hulle besef dat die Middeleeuse mense glad nie so verkramp was as wat algemeen gedink word nie! Pietman lag hardop toe hy sien wat sy bedoel het. Daar is ten minste vyftig naakte standbeelde in die dertiende-eeuse kerk. Maar Surita stap nader, staar kop agteroor na