op ’n heining. Hulle kom ook vir die ekstra aantrekkingskrag van Garry se stomp been. Sean is baie trots daarop.
“Daar het die dokter dit toegewerk,” vertel hy en wys na die ry steekmerke in die pienk plooi van nuwe weefsel.
“Kan ek daaraan vat?”
“Nie te hard nie, anders bars dit dalk weer oop.” Garrick het nog nooit in sy lewe so baie aandag gekry nie. Hy straal terwyl hy na die kring van grootooggesigte om hom kyk.
“Dit voel snaaks, so warmerig.”
“Was dit seer?”
“Hoe het hy die been afgekap – met ’n byl?”
“Nee.” Sean is al een wat tegniese vrae in hierdie verband kan beantwoord. “Met ’n saag. Net soos ’n stuk hout.” Hy beduie met sy hand.
Maar selfs hierdie boeiende onderwerp kan hulle nie lank besig hou nie. Gou raak hulle rusteloos.
“Haai, Sean, ek en Karel weet waar daar ’n nes vol kuikens is, wil jy kom kyk?” Of: “Kom ons gaan vang paddas,” en Garrick moet wanhopig ingryp.
“Julle kan na my seëls kyk as julle wil. Dis daar in die kas.”
“Nee wat, ons het dit nou die dag gesien. Kom ons waai.”
Dis dan wanneer Ada, wat deur die kombuisdeur na die gesels geluister het, met die eetgoed inkom. Koeksisters in heuning gebraai, sjokoladekoekies met pepermentversiersuiker, waatlemoenkonfyt en ’n hele klomp ander lekkernye. Sy weet dat hulle nie sal loop voor alles op is nie. Sy weet ook dat hul mae daarna onderstebo sal wees, maar liewer dit as dat Garrick alleen lê en luister hoe hulle wegry die heuwels in.
Die naweke is kort en met een warreling is hulle weg. Nog ’n lang week begin vir Garrick. Daar is altesame agt van hulle, agt vervelige weke voor dokter Van Rooyen hom toelaat om bedags op die stoep te sit. Skielik word die vooruitsig om weer gesond te wees ’n werklikheid vir Garrick. Die been wat Waite besig is om te maak, is byna klaar. Hy moet nog net ’n kom van leer sny waarin die stompie van die been moet rus. Wanneer dit klaar is, hamer hy dit met platkop-koperspykers aan die hout vas. Hy werk versigtig, knie die leer om dit sag te maak en stel aan die gesperieme wat dit op sy plek moet hou. Intussen oefen Garrick op die stoep. Hy hou aan Ada se skouer vas en spring-spring met die een been terwyl hy van al die konsentreer op sy tande byt. Die sproete staan skerp uit op sy gesig wat so lank nie in die son was nie. Twee keer per dag gaan Ada op ’n kussing voor Garrick sit en masseer die stompie met spiritus om die vel hard te maak vir sy eerste kontak met die harde leerkom van die kunsbeen.
“Ek wed ou Sean sal verras wees as hy my sien rondloop, nè?”
“Almal sal,” stem Ada saam. Sy kyk op van sy been en glimlag.
“Kan ek dit nie nou al aanpas nie? Dan kan ek mos saam gaan visvang wanneer hy Saterdag kom.”
“Jy moenie te veel verwag nie, Garry. Dit sal eers nie baie maklik wees nie. Jy sal moet leer om dit te gebruik. Dis soos perdry, jy onthou mos hoe baie jy afgeval het voor jy leer ry het.”
“Maar kan ek nou begin?”
Ada vat die bottel spiritus, gooi ’n bietjie in haar hand en smeer dit oor die stompie. “Ons sal moet wag tot dokter Van Rooyen dink dat jy reg is. Dit sal seker nie meer lank wees nie.”
Ná sy volgende besoek sê dokter Van Rooyen aan Waite terwyl hulle na sy trappie stap: “Jy kan hom nou maar ’n kans gee om die houtbeen te probeer. Dit sal hom iets gee om te bereik. Maar moenie dat hy homself uitput nie, en hou die stompie dop dat dit nie rou skaaf nie. Ons wil nie nog ’n ontsteking hê nie.”
“Houtbeen.” Die lelike woord klink nog deur Waite se brein terwyl hy staan en kyk hoe die dokter wegry. “Houtbeen.” Hy bal sy vuiste langs sy sye, want hy wil nie omdraai om die hartroerende, gretige gesig agter hom op die stoep te sien nie.
6
“Is jy seker dis gemaklik?” Waite sit op sy hurke voor Garrick se stoel en verstel die been. Ada staan langs hulle.
“Ja, ja, laat ek dit nou aanpas. Gits, ou Sean sal verras wees, nè? Ek sal Maandag al saam met hom kan teruggaan, nè?” Garrick bewe van gretigheid.
“Ons sal sien,” brom Waite ontwykend. Hy staan op en stap om die stoel. “Ada, liefling, vat jy sy ander arm. Luister nou, Garry: Ek wil hê jy moet dit eers net voel. Ons sal jou ophelp en jy kan net daarop staan om jou ewewig te kry. Verstaan jy?”
Garrick knik gretig.
“Nou ja, opstaan!”
Garrick trek die been na hom toe en die punt knars oor die houtvloer. Hulle tel hom op en hy laat sy gewig op die been sak.
“Kyk net, ek staan daarop! Haai, kyk, ek staan daarop!” Sy gesig straal.
“Laat my loop, komaan, laat my loop!”
Ada kyk na haar man en hy knik. Saam lei hulle Garrick vorentoe. Hy struikel twee keer, maar hulle hou hom vas. Bof, bof klink die houtbeen op die vloerplanke. Voor hulle die einde van die stoep bereik, weet Garrick al dat hy die been moet oplig as hy dit vorentoe swaai. Hulle draai en op pad terug na die stoel struikel hy net een keer.
“Dis mooi, Garry, jy kom mooi reg,” lag Ada.
“Jy sal sommer in ’n japtrap op eie houtjie kan loop,” grinnik Waite verlig. Hy het nooit durf hoop dat dit so maklik sou wees nie. Garrick neem sy woorde letterlik op en sê: “Laat ek nou alleen staan.”
“Nie nou nie, kind, jy het goed genoeg gedoen vir een dag.”
“Ag, Pa, asseblief. Ek sal nie probeer loop nie. Ek sal net staan. Pa en Ma kan bystaan om my te vang. Asseblief, Pa, asseblief!”
Waite weifel ’n oomblik en Ada praat namens Garrick. “Ag, laat hom maar, hy het so goed begin. Dit sal help om hom vertroue te gee.”
“Nou maar goed. Maar moenie probeer roer nie! Is jy reg, Garry? Los hom!” Hulle haal hul hande versigtig van hom af. Hy wankel effens en hulle hande skiet terug.
“Toe maar, ek kom reg. Los my maar!” Hy glimlag vol vertroue en hulle los hom weer. Hy staan ’n oomblik regop en vas, dan kyk hy af na die grond. Die glimlag verdwyn van sy gesig. Hy is alleen op ’n hoë berg en sy maag draai duiselig in hom rond. Hy is skielik bang, wanhopig, onredelik bang. Hy steier verwilderd vorentoe en voor hulle hom kan bykom, roep hy: “Ek val! Haal dit af!”
Soos blits gryp hulle hom en laat hom op die stoel sit.
“Haal dit af! Ek gaan val!” Die verskrikte geskree jaag Waite aan en hy pluk wild aan die gespes waarmee die been vasgemaak is.
“Dis af, Garry! Ek hou jou vas, jy’s veilig!” Waite druk hom teen sy bors vas en probeer hom met die krag van sy arms en die veiligheid van sy eie groot liggaam kalmeer, maar Garrick hou aan met sy verskrikte gestoei en geskree.
“Vat hom kamer toe, vat hom binnetoe.” Ada praat vinnig en dringend en Waite hardloop met die kind nog altyd aan sy bors gedruk die huis binne.
En dan kry Garrick vir die eerste keer sy wegkruipplek. Die oomblik dat sy vrees te groot word om te verdra, voel hy iets binne-in sy kop roer, iets wat agter sy oë fladder soos ’n mot teen ’n venster. Alles word vaal om hom soos in ’n misbank. Die mis raak dikker en dikker en alle lig en geluide word verdof. Dis warm in die mis, warm en veilig. Niemand kan hom hier bykom nie, want dit is soos ’n kombers om hom gedraai en dit beskerm hom. Hy is veilig.
“Ek dink hy slaap,” fluister Waite aan sy vrou, maar hy klink uit die veld geslaan. Hy kyk noukeurig na die seun se gesig en luister na sy asemhaling.
“Dit het so gou gebeur, so onnatuurlik. En tog, dit lyk nie of daar iets verkeerd is nie.”
“Dink jy ons moet die dokter laat kom?” vra Ada.
“Nee.” Waite skud sy kop. “Ek sal hom net toegooi en by hom bly tot hy wakker word.”
Garry