terwyl hy aan ’n nuwe onderwerp vir bespreking dink. Hy sien dat Karl tot vervelens toe hieroor gaan praat.
Van die koshuis se stoep af kom ’n meisie na hulle aangehardloop.
“Dis Anna,” sê Garrick. Sy het lang, skraal, bruingebrande bene en terwyl sy hardloop, warrel haar rok om haar. Sy het swart hare en ’n klein gesiggie met ’n skerp ken. “Dag, Sean,” sê sy.
Sean brom iets.
Sy val langs hom in en huppelstap om by te bly. “Het jy lekker vakansie gehou?”
Sean steur hom nie aan haar nie. Sy moet altyd geselskap kom soek met hom, selfs wanneer sy vriende by is!
“Ek het ’n hele blik vol brosbeskuit, Sean. Wil jy ook daarvan hê?”
Daar is ’n flikkering van belangstelling in sy oë. Hy draai sy kop half na haar kant toe. Mev. Van Essen se brosbeskuit is beroemd in die kontrei en tereg ook. Maar dan keer hy homself en stryk onverbiddelik aan koshuis toe.
“Kan ek hierdie kwartaal langs jou in die klas sit, Sean?”
Hy vererg hom. “Nee, jy kan nie! En loop nou weg hier. Ek is besig.”
Sean klim die trappies uit en Anna bly onder staan. Dit lyk of sy lus het om te huil en Garrick gaan beskroomd by haar staan. “Jy kan maar langs my sit as jy wil,” sê hy saggies.
Sy kyk op na hom en dan dwaal haar blik af na sy houtbeen. Die trane verdwyn uit haar oë en sy giggel terwyl sy na sy kant leun. Sy is mooi.
“Houtbeen,” sê sy en giggel weer.
Garrick bloos bloedrooi en sy oë begin skielik brand.
Anna hou albei haar hande oor haar mond en giggel in haar hande. Dan swaai sy om en hardloop na haar vriendinne voor die meisies se deel van die koshuis.
Garrick bloos nog terwyl hy die trappies agter Sean opklim en aan die leuning vashou.
Fräulein staan voor die seuns se slaapkamerdeur. Die staalraambrilletjie op haar neus en die grys hare laat haar baie streng lyk, maar haar gesig word versag deur die glimlag waarmee sy Sean herken.
“Ach mein Sean, daa ies jy.”
“Dag, Fräulein,” Sean haal sy heel beste glimlag uit.
“Wieder het jy gegroei.” Fräulein meet hom met haar oë. “Al die tyd jy groei net. Jy is al die grootste seun in die sjoel.”
Sean hou haar versigtig dop, gereed om haar te ontwyk as sy sou probeer om hom te omhels, soos partykeer gebeur wanneer sy nie meer haar gevoelens in bedwang kan hou nie. Sean se sjarme, sy mooi gesig en sy windmakerigheid het haar Germaanse hart heeltemal verower.
“Snel nou, uitpak, uitpak! Die sjoel begin nou-nou.” Sy gee daarna haar aandag aan ander sake en verlig lei Sean sy manskappe die slaapsaal binne.
“Pa sê ek kan sy koeëlgeweer aanstaande naweek gebruik om te jag, nie net teikenskiet nie.” Karl stuur die gesprek terug na hom toe.
“Dennis, sit Garry se koffer maar op sy bed.” Sean maak of hy nie gehoor het nie.
Dertig beddens staan al langs die mure van die vertrek, elkeen met ’n sluitkassie langs hom. Die kamer is net so skoon en somber soos ’n gevangenis of ’n skool. Agter in die vertrek sit vyf of ses seuns en gesels. Hulle kyk op toe Sean inkom, maar hulle groet mekaar nie. Dis die opposisie.
Sean gaan sit op sy bed en wip op en af om die vere te voel. Dis so hard soos ’n plank. Garrick se houtbeen klop op die vloer terwyl hy in die slaapsaal afstap en Ronny Pye, leier van die opposisie, fluister iets aan sy maats. Hulle lag almal terwyl hulle na Garrick kyk. Garrick bloos weer en gaan sit gou op sy bed om sy been te verberg.
“Ek skat ek sal maar eers net duikers skiet voor Pa my toelaat om koedoes of bosbokke te jag.” Karl begin weer en Sean frons.
“Hoe’s die nuwe onderwyser?” vra hy.
“Ag, hy lyk nie te sleg nie,” antwoord een van die ander. “Ek en Jimmy het hom gister by die stasie gesien.”
“Hy’s skraal en hy het ’n snor.”
“Hy glimlag nie juis baie nie.”
“Ek skat Pa sal my volgende vakansie oor die Tugela neem om te jag.” Dis weer Karl.
“Ek hoop hy lol nie baie met spel en sulke goed nie,” praat Sean. “Ek hoop ook hy kom nie weer met al daardie desimale soos ou Akkedis laas nie.”
Almal stem saam en dan lewer Garrick sy eerste bydrae. “Ag, wat, desimale is maklik.”
Daar is ’n oomblik stilte terwyl hulle almal na hom kyk.
“Dalk skiet ek nog ’n leeu,” sê Karl.
10
Groot en klein, meisies en seuns, ontvang saam hulle onderrig in een groot klaskamer. Die kinders sit in dubbelbanke. Op die mure is daar ’n paar landkaarte, ’n groot stel tafels en ’n prent van koningin Victoria. Van sy kateder af beskou mnr. Anthony Clark sy nuwe leerlinge. Daar is ’n gespanne stilte, een van die meisies giggel senuweeagtig en mnr. Clark se oë dwaal in haar rigting, maar hulle steek vas voor hulle haar bereik.
“Dis my ongelukkige plig om julle te probeer opvoed,” kondig hy aan. En dis geen grappie nie. Sy roepingsin is lank reeds oorweldig deur sy diepe afkeer van kinders. Hy gee nou net onderwys om ’n salaris te kry.
“En dis jul ewe onplesierige plig om julle met al die krag tot jul beskikking hieraan te onderwerp,” gaan hy voort terwyl hy teësinnig in hulle blink gesigte kyk.
“Wat sê hy?” fluister Sean sonder om sy lippe te roer.
“Sjuut,” sê Garrick.
Mnr. Clark se oë swaai vinnig om en val op Garrick. Stadig stap hy in die gangetjie tussen die banke af en kom staan langs hom. Met sy duim en voorvinger vat hy ’n paar van die klein haartjies op Garrick se slaap en pluk dit met ’n vinnige beweging opwaarts. Garrick los ’n gil en mnr. Clark stap stadig terug na sy lessenaar.
“Ons sal nou voortgaan. Standerd-eens, maak asseblief jul spelboeke op bladsy een oop. Standerd-twees blaai na bladsy vyftien …” Hy deel almal se werk uit.
“Het hy jou seergemaak?” fluister Sean. Garrick knik so effens en Sean voel hoe die haat vir die man in hom groei. Hy staar na hom.
Mnr. Clark is ’n raps oor die dertig jaar oud. Hy is skraal, ’n feit wat sy driestukpak eerder beklemtoon as verberg. Sy gesig is bleek en sy hangsnor gee dit ’n weemoedige uitdrukking. Die punt van sy neus wip so geweldig dat ’n mens wie weet waar in sy neusgate kan sien; hulle steek soos die bek van ’n dubbelloopgeweer uit sy gesig. Hy kyk op van die lys wat hy in sy hand hou en mik met sy neusgate reguit na Sean toe. ’n Oomblik kyk hulle stip na mekaar.
Moeilikheid, dink mnr. Clark. Hy kan hulle onfeilbaar uitken. Breek hom voor hy buite beheer raak.
“Jy, seun, wat is jou naam?”
Sean draai hom met groot gebaar om en kyk oor sy skouer. Toe hy terugkyk, gloei mnr. Clark se wange. “Staan op!”
“Wie, ek?”
“Ja, jy!”
Sean staan op.
“Wat’s jou naam?”
“Courtney.”
“Meneer!”
“Courtney, Meneer!”
Hulle kyk na mekaar. Mnr. Clark wag dat Sean sy oë moet laat sak, maar hy kyk stip na hom.
Groot moeilikheid, baie groter as wat ek gedink het, besluit mnr. Clark, en hy sê hardop: “Goed, sit maar.”
’n Mens kan byna sien hoe die spanning in die klas verslap. Sean voel die bewondering van die ander kinders. Hulle is trots op die manier waarop hy die saak hanteer het.