versprei kyk verruk op as hulle jou naam hoor
totdat ’n vlammestriem ons verlange tot stoppels seng
7.
die boesman
daar’s kommosie op die werf die bakkie brul
Petrus jaag te perd
’n boesman is betrap wat ’n skaap keel-af
gesny het agter die bloekoms
’n omie met groen peperkorrels
word in die meelkamer toegesluit
nou wemel die werf van boesmanstories
ook dié van Paul Delport
geskiet deur ’n boesman terwyl hy jag op Turksvykop
hy’s later dood van die gif
Oom moet hom maar self met die stiegriem regsien
sê die jong konstabel vir Pa
dis vreeslik vir so ’n boesman in ’n tronk
te wild om te rehabiliteer
almal word nou van die werf geboender
dis stil in die moerbeiboom
die deur word gesluit agter Pa en Hendrik
my ore verlam in die boom
’n gestoei dowwe sementslae bevele
uiteindelik vleisslae en ’n kreet
in die oop deur later trek Pa sy hemp reg
Hendrik die boesman aan die nek
Jy maak dat jy wegkom sê Pa jy sit
jou voete nie weer op my plaas nie
ek sien hoe die man sy broek probeer vasmaak
ek sien sy geskeurde hemp
ek sien hy beweeg asof hy nog altyd van stof is
’n warreling ’n ligvoetse draffie
hy lig sy hand asof hy ’n dwaasheid groet
sy voete vonk die pad
hy pyl op die rooigrashorisonne af
nie een maal kyk hy om nie
8.
voor-verkiesingspraatjies
‘gaan julle grond kry na die verkiesing?’ ‘nee net hulle op die tiewie’
‘maar julle, as julle kry, sal julle my werk gee?’ . . . ‘julle ken my
as ek kom vra, watse werk sal julle my gee?’ ‘wérk?’‘ja!
Petrus wat sal jy my laat doen?’ ‘skaap oppas’ dis uit voor
hy kan keer beelde van ’n trop skape met pa te perd iemand by
die sweisery proes ‘nee, die baas moet iets anders doen!’
‘melk!’ Pa in die hardste, mees fisiese werksure op die plaas ‘liewer
tuin, spit en natlei vir die miesies’ ongemaklike gelag ‘Matjama
wag, jy kan dryf. ek sal sê: man, jy’t permissie vir my kar, vat my bietjie
Kaap toe die veld is mos so mooi vanjaar’ uitbundige gegier die
jonges swier in wawiele skielik sny alles af asof met ’n mes
Pa kom stadig agter die trekker uit bewerig kom een
vir een in die stoor se oprit sit asof meteens op ’n rant tastend
na die onsigbare – tot tarentale die bloekoms opsoek vir die nag
9.
om soos vroeër
om soos vroeër die Kroonstad/Viljoenskroonpad te vat
en nader aan die afdraai te hoor hoe rits my gewrigte los
hoe sidder my vel as ek by die plaaspad-middelmannetjie
oorskakel na tweede rat vir die kyk die kruie tot waar
die werf oopblaai in boord, bees, melk en klip die geflap
van bengels ganse en die spruitwatergeur van wilgers voor
mens die dubbelvoordeur binnestap – hoe gons vrydag-
skoonmaak, politoer en ysterklip as ek sonder klop
die klipgang op die hoor-af loop in julle aan’t vertelle
aan’t lagte aan’t koppies regsit in – ’n vignette aan die
groot eetkamertafel van ’n soort behaaglike akkoord
sonder omhaal skuif ek gewoon in op my plek en die
woord bevoorregting kom nie eens by my op as Ma
my koffie ingooi en my beveel om regop te sit Pa
die groen suikerpot aanskuif die beskuit en ek
sorgloos dieploos bloosloos deel in hierdie liefdesritueel
ag, ek verlang na my pa en my ma soos wat hulle was
daar aan die bopunt van die tafel voor in die kar
geselsend in die hoofslaapkamer en die wêreld deur hulle
in stand gehou volkoringheilsaam en onvernietigbaar
so het dit gevoel ek hardloop julle van agter-af in sit
my arms om julle skouers en loop in die warm wesend-
heid van julle knorrige gewetes loop liedswermend soos
ek eens geloop het as julle kind, julle wit batende kind
oor die uitgestrekte werf van leuens want kyk
’n heerskare was onder ons hak ’n gehaksel
wat bloei: ek dra met julle saam dit wat nou so
skeur uit ’n haag van bloed en bitter wraakgebroei
10.
dis hy!
dis mos Pa! storm my hart in my keel op maar toe ek om
die hoek kom is dit ’n bejaarde swart man
in ’n netjies gestopte Harris Tweed-baadjie soos mens
in Pa se wintertrommel sou kry ek stap agter hom
en my oë kleef die te groot baadjieskouers:
wat as hierdie man my pa was wat as dit sý vingers
was wat so aan die plastieksak onder sy arm frommel
wat as my pa swart was en oud en vol eerbaarheid
uitgelewer aan sy verslete spiere
sy gepoleerde skoene op pad na my ma êrens
in ’n buitekamer geblus eintlik moet
ek my hand op sy rug sit en sê: mooiloop kgosi my
raaf my pragtige koedoe-kop laat my jou vashou want
jy stap stil soos ’n staf nerf-af en alleen
maar ek draai weg: my aandadigheid onverduurbaar. vas
geheg bly ons hede aan die verlede sterf
11.
versteende boomstam
’n klippie hier op jou lessenaar in Kanadese mika lig
’n stukkie versteende stam van ’n oerobelisk wat jy opgetel het
toe jy die plaas gaan groet as terugvouende aarde aan’t