Antjie Krog

Mede-wete


Скачать книгу

stol van slib glasagtige slyk spil die klippieblinkheid

      ’n stukkie versteende stam van ’n oerobelisk wat jy opgetel het

      stil in sediment het grondwaters gesypel – dompelend, melkig

      uit die stol van slib glasagtige slyk spil die klippieblinkheid

      argloos gepalmde brokkie in die Vredefortkrater ver-eeuig

      stil in sediment het grondwaters gesypel – dompelend, melkig

      klontering sink met silikaat: alles sug alles lig teen magma se gewig

      argloos gepalmde brokkie in die Vredefortkrater ver-eeuig

      die aarde is een en spreek jou vry van vaderlandsbesit

      klontering sink met silikaat: alles sug alles lig teen magma se gewig

      soet sing aardplaat en koorskleed hulle mantras in gigabyte

      die aarde is een en spreek jou vry van vaderlandsbesit

      die aarde behoort aan niemand en is gesmolte ewigheid

      soet sing aardplaat en koorskleed hulle mantras in gigabyte

      toe jy die plaas gaan groet as terugvouende aarde aan’t verdig

      die aarde behoort aan niemand en is gesmolte ewigheid

      ’n klippie hier op jou lessenaar in Kanadese mika lig

      12.

      plaaspad bloekom-en-dennelaning

      toegespoelde motorhek verroeste store

      windpomp omgevalle klipmure

      verlate statte in die verte vervalle plaasskool

      gebreekte grensdrade middagwolke wat opsteek

      oorgroeide boord verminkte appeltjies

      gebarste dam kakiebos kankerroos

      wewenaars ou moerbeiboom kiewiete

      uilmis onder die slagboom yster-eg in die katbosse

      peperboomkoelte kareeskadu

      kweperlaning ’n heining wilde rose

      hoenderhokpale oopgelate hek

      en die huis iemand bly nog in die huis stap soggens

      uit op die werf en lig haar hande soos goue granate

      13.

      Ouwerf

      wind wat deur werfbloekoms blaai ruis

      soos g’n ander wind nie in bloekoms

      word ’n wind braks van verslaentheid

      en kerf harthoog geluide van toiings en

      weerskyn van hardgebakte uitgeputte

      mistroosde aardes wat steier en weier

      om op oog te kom met die triest van

      dubbeltjies van windgeskaafde stamletsels

      van leedvesels en die vas-erf van verset

      ’n skaap blêr onbewaard die voorkop-

      keep van my pa oop in die droogte

      na jare koer ons (die enigste oorlewers)

      belaai met sterflig en bloeisiek van erfenis

      : die nuwes maak gereed vir die werf

      sondagmiddagete

      almal is by die huis

      ek kook die wêreld as kos

      is ’n vermenslikte wêreld

      om te kook is ’n daad van hoflikheid

      die kombuis damp in goue beslag

      van lag en wyn en spesery

      die naelstring tussen ons en die wêreld

      is die kastrol – ouma Dot se kastrol

      in die oond – gestop met roosmaryn

      en stafies knoffel sis die boud

      elke brandende bos is ’n heilige bos

      maar wie skaapboud voorsit is ’n priester

      ek kook rys asof ek vir kindertjies sorg

      met ’n titseltjie neut prys ek die skepping

      geskropte wortels begin van binne af gloei

      in botter en gemmer vind hulle ’n ware

      stem boontjies dompel in wit peper en vinkel

      ’n slaailepel ontbloot ’n korenteflits en die sag-

      klikkende juwele van naak olyf kerstamatie en

      amandel die diepste so-wees van pampoen kom

      op die tafel die geëte-van-die-oorvloed-wêreld

      is ’n liefgehadde wêreld ’n maaltyd

      wat oorstort van hartlikheid se versaligde

      geluide ja, kosgee is ’n morele daad

      ’n wederopstanding. my uitgelate gesin sit aan –

      ineens broos in hulle genoegheid hulle on-

      beskadigdheid ons almalnogsaamheid. ons prys

      die gulle-gee as die groot genoegsame Garansie.

      Die vatters van die aarde vat hande.

      (na Martin Versfeld)

      verlies

      ek bevind my

      vir die seerste keer

      in die skare van verbrandes

      die ongeboekstaafde uitmekaar-uit-verbrandtes

      tot-wond-geskroot en hart-knerpend

      loop ons vooroor

      ons dorsborskaste slepend van skerf- en afwaarts-stortende geluide

      ek groet hom

      die kind van my

      kalsiumbenig nog met soveel vlieënde droom-neuriënde skaduwees

      sy lyf hou ek vas

      vir oulaas ter hart en melkig vas teen my vas

      ín in my vastigheid vas

      as ek my losmaak is ek korter huilender krankender

      en skielik uitgedun wieg ek ontvlerkd op my voete

      my liefde hortnaaldend en tot ewigontmagtiging gekneus

      hy draai om na sy tasse

      en my lyf skeur oop vorentoe voor

      die nate van my arms bars los

      en kwets bloeiend agter sy liefhebbende nabyende lyflikheid aan

      sy lyfwesende lyfheid wat uit my uit geword het

      uit uit alles wat kole was in my en onbevaar

      onaflosbaar openbarend was sy lyf-ende geliefdheid

      kind wat ek ook met die arms liefgehad het

      en sy luidkeels heelhuids-singende wange

      kind

      kind van my bors

      moet my nie verlaat nie

      my en hierdie brandende ontworde onuitgesêde godvergalde vaderland

      hou jou oor teen die skeur van my land

      Cynthia Ngewu:

       dié ding wat

       hulle