ons ry aan Gustav gaan voorstel. Hy is eintlik ’n baie oulike seuntjie en sodra hy jou leer ken en met jou begin gesels, sal jy gou agterkom hy is ’n fassinerende kind. Baie besonders vir sy vierjarige ouderdom. Ons gee hom net nog ’n paar minute om stoom af te blaas.” Daar is ’n sagtheid in sy oë wanneer hy van die kind praat. “Ek gaan hom en natuurlik my suster en swaer mis wanneer ek weer terug in Johannesburg is.”
“Gustav is gelukkig om jou as oom te hê. Ek is seker jy gaan ook gemis word. Die studente sal beslis agterkom jy is nie meer daar nie, dis seker.”
“Die universiteitspos was tydelik. Ek het die fakulteit net vir die jaar gehelp terwyl doktor Vermeulen, wie se pos ek volgestaan het, sy navorsing voltooi. Maar my aandag is nou dringend elders nodig en doktor Vermeulen is gereed om terug te kom. Dit was ’n interessante jaar. Veral voorgraadse studente is ’n vreemde spesie. Min ander werke sorg vir soveel vermaak. Maar die afgelope jaar by die universiteit was nodig. Die rede hoekom ek hierheen gekom het, was om my suster en haar gesin by te staan.”
“Waar is jou suster dan?”
“Uitstedig in verband met werk en haar vlug land eers seweuur vanaand. Haar man is ’n chirurg en die oppasser sê hy het laat weet hy is nog in die teater en sal eers ná negeuur tuis wees. Naas Gustav se ouers is ek die persoon met wie hy die gemaklikste is. Hulle het ’n jaar en ’n half gelede van Johannesburg hierheen verhuis omdat my swaer se werk dit vereis het. My suster werk steeds vir dieselfde maatskappy, daarom dat sy so baie uitstedig is. Maar dis net tydelik. Dit behoort nou te begin verander.”
“Dit klink na ’n moeilike situasie.”
“Dis soms moeilik. Gustav kom goed klaar met die oppasser, maar sy is nie altyd opgewasse om ’n uitbarsting te hanteer nie, dan moet die sleutelpersone in sy lewe beskikbaar wees. Kom, ek dink ons kan hom nou gaan groet.”
Sy volg hom teen die trap op en wag langs hom toe hy sag aan die halfpad toegetrekte kamerdeur klop voor hy dit versigtig oopstoot.
“Gustav, ek gaan nou inkom. Ek wil jou groet, want ek gaan ry.”
Die seuntjie kyk op van die mat waar hy met ’n hoop karretjies speel. “Cool,” sê hy en Leila weet nie of sy moet glimlag nie.
Lukas tree die kamer voor haar binne. “Kan ek jou voorstel aan my vriendin? Dis Leila.” Hy sit sy hand op haar skouer en die aanraking stuur ’n elektriese golf deur haar ingewande.
Die seuntjie kyk wantrouig na haar en dan weer vinnig terug na Lukas. Toe draai hy sy rug op hulle en speel verder met sy karretjies.
Lukas gaan hurk langs hom en sit sy arm om die seuntjie. Hy gee hom ’n soen teen sy slaap en druk hom teen sy bors vas. “Ek is lief vir jou, groot seun.” Gustav hou aan speel met sy karretjies, maar kyk tog op na Lukas om te wys hy het gehoor.
Buite by die viertrek maak Lukas die deur vir haar oop. Hy bly staan langs haar deur nadat sy ingeklim het. Sy kan hom ruik en sy kan voel hoe sy die drade van haar selfbeheersing begin verloor. Die moue van sy ligblou hemp is tot by sy elmboë opgerol en spiere speel oor sy voorarms terwyl hy die raamwerk van die deur bokant haar vasvat.
Hy leun effens nader aan haar en sy bly roerloos sit. “Is jy lus om ’n glasie wyn saam met my te drink? Ek het nog ’n bottel in die wynrak wat ek vanaand alleen sou gedrink het.”
Sonder aarseling knik sy en hy strek oor haar om haar sitplekgordel vas te maak. Sy arm skuur skrams teen die kant van haar bors en onmiddellik reageer haar lyf roekeloos.
Hy kyk na haar, glimlag lui. Haar vel word hoendervleis. Sy mond is so naby hare. Maar dan tree hy weg en druk die deur tussen hulle toe.
Vier
Hulle ry ’n rukkie in stilte, maar haar gedagtes is allesbehalwe kalm. Vroeër vandag sou sy nooit die uiteinde van haar besoek aan hom kon droom nie. Nou ry sy saam met hom na sy huis om ’n glasie wyn te gaan drink. Miskien is Karla reg, die geluksgodin is aan haar kant – of dalk is sy en Lukas een van daardie dinge wat bedoel is om te gebeur. Hoe sal sy nou weet? Al waarvan sy seker is, is dat sy nie “nee dankie” gaan sê nie. Sy gaan die geleentheid om hom beter te leer ken met albei hande aangryp.
“Hoekom gaan jy juis môre terug Johannesburg toe? Dis nog nie die einde van die semester nie. Die eksamen begin eers volgende week.”
Hy draai by ’n sekuriteitskompleks met ’n hoë muur rondom in. “Ons het ’n familiemaatskappy. Tot dusver was ek net langs die kantlyn betrokke, maar die waarnemende CEO het ’n hartaanval gehad oor die naweek en dis tyd dat ek die leisels neem. My pa het die maatskappy bestuur en my oupa voor hom. Tot onlangs het ek gevoel ek is nog nie gereed daarvoor nie en het ons ’n tydelike waarnemende hoof aangestel.”
“Hoekom het jy gevoel jy is nog nie gereed daarvoor nie?” Sy draai geïnteresseerd na hom.
Hy haal sy skouers op. “As ek eers die leisels geneem het, gaan ek dit nie weer kan neerlê nie. Nie tot ek dit die dag aan die volgende Strauss oorgee nie. Daar was nog te veel wat ek wou gedoen het en ek wou nie so gebind wees nie. Natuurlik was my oupa ongelukkig oor die besluit, maar ek het die tyd goed gebruik. Mettertyd kon hy darem insien dat dit ’n goeie besluit was.”
Die oprit waar hy stilhou, is nie ver van die ingang nie. Die eenheid is stylvol en die klein tuintjie voor die huis word duidelik met ’n ferm hand in stand gehou. Dis nogal die tipe plek wat sy met hom sou assosieer.
“Vanaand is die laaste aand wat ek hier slaap. Die huis is feitlik leeg, ek hoop nie jy gee om nie.”
Sy skud haar kop. “Ek is ’n student. Ek’s alles gewoond.”
Hy glimlag vir haar en sy raak opnuut verlore. Sy sal ’n ewigheid so na hom kan kyk. Nooit sal sy moeg word vir sy gesig nie. En nog minder vir sy lyf. Die gedagte laat haar liggies bloos en sy begin aan die deur vroetel. Dis nog gesluit en na ’n paar probeerslae gee sy moed op. Sy oë is steeds op haar toe sy vraend na hom kyk. Sy glimlag verbreed. Haar lyf reageer onmiddellik op sy tergende mond en word week onder die intensiteit in sy oë. ’n Stadige, ritmiese geklop diep in haar vrouwees herinner haar dat sy hom lankal reeds as die een vir haar geëien het.
“Kom, Leila. Ek gaan skink vir ons wyn,” verbreek hy die gelade oomblik tussen hulle.
Behalwe vir twee stoele is die woonvertrek leeg. Daar is nog ’n paar basiese benodigdhede in die kombuis. Die res is alles in twee bokse wat by die ingang ingepak staan. Terwyl hy die glase uit die kas haal en die wyn skink, dwaal sy deur die leë vertrekke. In die een slaapkamer is daar net ’n netjies opgemaakte bed, die ander is leeg.
“Dít en die twee stoele behoort aan my suster.” Sy skrik toe hy onverwags agter haar praat. Hy staan so naby haar, sy kan die hitte van sy lyf teen haar rug voel. “Hulle was gaaf genoeg om dit vir my te leen terwyl ek hierdie plek gehuur het. Omdat ek my nie permanent hier sou vestig nie, het ek nie veel meubels aangeskaf nie. Eintlik was die pos by die universiteit soos ’n sabbatsjaar vir my, ’n welkome wegbreek van die gejaagdheid waaraan ek so gewoond was.”
Sy vat die glas by hom en hulle gaan sit teenoor mekaar op die stoele in die woonvertrek. Hy teug behaaglik aan sy wyn en leun agteroor teen die rugleuning. “Jou studentenommer wys jy is drie jaar ouer as die gemiddelde studente van jou jaargroep. Het jy ook eers ’n Sabbatsjaar of twee geneem voor jy begin studeer het?”
Verras kyk sy na hom. Hy het waarlik haar studentenommer opgelet. “Ja, ek het drie jaar na skool in Engeland gaan werk omdat ek nie seker was wat ek wou doen nie. Aanvanklik sou dit net ’n jaar gewees het, maar na ’n jaar het ek ’n beter pos gekry by die bank waar ek gewerk het en toe bly ek langer. Toe ek terugkom, het ek onderwys begin studeer, want ek hou van kinders. Maar ek het gou besef dis nie vir my bedoel nie. Die tyd in die Londense bank het my belangstelling in beleggings geprikkel en ek het van studierigting verander. Natuurlik tot my pa se ontsteltenis. Hy hou nie daarvan dat mens nie klaarmaak wat jy begin het nie.”
Hy lag en die timbre daarvan is diep. “Jy is dus ’n vrou met waagmoed. Nie baie studente sien kans om van studierigting te verander nie.”
Ja,