haar ma se nek.
“Ek sal gereeld skryf,” snik sy. “Maandag, na ek op Sesdorings aangekom het, sal ek dadelik skakel en ek sal elke dag skryf om te laat weet dat dit goed gaan. Dankie vir die koek en beskuit wat Mams vir my gebak het. Ek waardeer dit. Ek is nie ondankbaar nie, dis net … dis net …” Verder kom Hennie nie. Sy hou net baie styf aan haar ma vas.
“Ek weet,” paai Thelma terwyl sy oor die lang rooibruin hare streel. “Ek verstaan dat jy die stadium bereik het waar Pa en Ma se nes verlaat moet word om jou vlerkies uit te toets. Pa sal nie vir altyd kwaad bly nie. Een van die dae kom ons Sesdorings toe om vir jou te kuier en dan wil ek nie meer trane sien nie. Jy moet jouself baie mooi oppas, my kind. Belowe my jy sal ’n geskikte persoon kry om by jou in te woon.”
“Ek sal, Mams. Ek het aan mevrou Jansen gedink wat af en toe die woonstel en bib vir Oupa kom skoonmaak het. Dalk sal sy bereid wees om by my te loseer. Ek het ánder groot planne. Vir ekstra fondse wil ek koffie en tee en koek bedien om mense aan te lok. Sy kan dalk die teekamer behartig, terwyl ek in die bib besig is. Dink Ma so iets sal werk?”
“Dit behoort.”
“Dit sal wonderlik wees as Pa regtig eendag vir my sal kom kuier.” Hennie is ’n rukkie stil en dan wil sy in ’n klein stemmetjie weet: “Was … is Ma baie teleurgesteld omdat Wim en ek uitgemaak het?”
Thelma dwing ’n moedige glimlaggie om haar mond.”Hoe kan jy met ’n man trou as jy hom nie liefhet nie, my kind?”
“Maar hy is ryk en … en hy sou ’n ideale skoonseun gewees het, nie waar nie?”
“Wim is ’n baie gawe seun. Wie weet, as jy oor ’n jaar terugkom, besef jy dit dalk self en is jy bereid om huisvrou te word.”
“Ja, wie weet,” stem Hennie saam, meer ter wille van haar ma. “Oor ’n jaar is ek ouer en dan gaan my oë dalk oop en raak ek dolverlief op ryk, aantreklike dokter Wimpie Liebenberg.”
“Of, wie weet, dalk ontmoet jy op Sesdorings ’n ander oulike kêrel wat jou hart steel en word jy boervrou.”
Hennie glimlag bewerig. “Op Sesdorings is net spinnekoppe, skerpioene en stowwerige boeke.”
“En die Meirings,” terg haar ma.
“Ma!” Hennie is baie ontstoke. “Dink Ma ek sal so ’n verraaier wees om met die spul Meirings vriende te maak? Na alles wat hulle arme oupa Drik aangedoen het? Ná hulle sy lewe vergal het en hom van Sesdorings probeer wegdryf het? Ek is nie van plan om met die vyand te heul nie. Oupa se stryd het nou myne geword. Hulle moenie dink omdat ek ’n vroumens is, hulle my sal kan terroriseer en die laaste elf hektaar van ons deel van Sesdorings ook inpalm nie. Ek gaan veg vir wat myne is, en ek gaan my regverdige erfenis stukkie vir stukkie van die Meirings terugkoop, totdat Sesdorings weer die volle familieplaas is, soos wat dit in Ouma se leeftyd was.”
“Moet hulle tog net nie onnodig antagoniseer nie, Hennie,” waarsku haar ma, wetende dat dit waarskynlik op dowe ore sal val. Haar rooikopdogter het te veel van die berugte Vermaak-koppigheid geërf om haar aan vermanings te steur. “Hulle kan jou lewe baie onaangenaam maak, my kind.”
“Die Meirings sal vind dat ek miskien ’n ander proposisie is as ’n arme, eensame ou man wat niks meer as net rus en vrede vir sy siel gesoek het nie. Hoe kon hulle so nagaande gewees het om Oupa se pragtige ligusterheining aan die brand te steek?”
“Hulle het gesê daar was ’n siekte in die struike wat dalk na hulle landerye kon uitbrei.”
“Glo Ma tog nie daardie onsinnige storie nie? Oupa het gesê die ligusters het niks makeer nie. Trek Ma tog nie ’n Vermaak se woord in twyfel teen dié van ’n Meiring nie? Wat van die hek wat hulle gesluit het, sodat motors nie tot by die biblioteek kon ry nie? Dit het veroorsaak dat Oupa ’n hele week baie besigheid verloor het.”
“Ja, dit klink vir my ook ’n bietjie moedswillig. Ek glo egter daar is altyd twee kante aan ’n saak en miskien moes jou oupa nie hulle drade geknip het nie.”
Hennie verkies om die laaste deel van haar ma se antwoord te ignoreer. “’n Bietjie? En moedswillig? Ek sê reguit hulle het arme Oupa probeer viktimiseer sodat hy van Sesdorings moes padgee en hulle die laaste elf hektaar grond vir ’n appel en ’n ei kon koop om hulle simpel ou dam op te bou. Hoekom kan hulle nie hulle ou dam op ’n ander plek bou nie? As die Meirings so iets met my probeer doen, gaan ek reguit polisie toe en stel ’n eis in vir skadevergoeding.”
“Dit klink nie of jy veel tyd vir boeke skryf gaan hê nie,” terg Hennie se ma in ’n poging om haar dogter te paai. Hierdie Vermaak-Meiring-vete weeg swaar by Hennie en sy verwyt haarself omdat arme oupa Drik twintig jaar lank gestry het, man-alleen teen ’n oormag van drie vyande. Wat Hennie blykbaar nie besef nie, is dat “arme Oupa” meer as mans genoeg was vir ’n honderd Meirings plus hulle prokureurs en ander handlangers. Soos almal geweet het, en haar man ook uit dure ondervinding geleer het, was Hendrikus Vermaak ’n moeilike kalant en nie ’n opponent met wie jy vrywillig ’n oorlog aangepak het nie.
“Daar sal tyd wees, Ma. Ek sal nie opsetlik sonde met die bure soek nie. Ek wil die hele biblioteek volgens die Dewey-stelsel herorganiseer, ’n voorraadopname doen en my teekamer aan die gang kry, en dan gaan ek begin skryf – eers een of twee kortverhale en as dié suksesvol is, pak ek ’n vollengte roman aan.”
Thelma Vermaak onthou van die sterre in Hennie se groen oë toe sy die eerste dag begin skoolhou het, en sy kan maar net hoop dat haar dogter se drome hierdie keer dalk bewaarheid word en dat die sterre nie ook ná ’n ruk verdof om weer plek te maak vir ontnugtering en teleurstelling nie.
“Haai,” onthou sy van haar kos wat op die stoof staan en watertrek. “As ek nie nou kombuis toe gaan nie, kry jou pa en Erik nie vanaand aandete nie. Ek wil nog gou ’n baksel beskuit uitdroog en môre vir jou ’n blik soetkoekies bak. Wat van jou klere, my kind? Oor vier dae vertrek jy en onthou, Ma sal nie daar wees om knope aan te werk en some te verstel nie.”
“Al wat ek saamneem, Ma, is ’n paar seilbroeke en hemde. Ek gaan om te werk, nie om die jongste modes Dendron toe te neem nie.”
“Wat van die kerk, my kind? Jy sal darem seker Sondae kerk toe wil gaan.”
Hennie gee haar ma ’n druk en ’n soen op die wang. “Natuurlik sal ek kerk toe wil gaan, Ma, en dis hoekom my nuwe donkerblou baadjiepak reeds ingepak is, met alle moontlike knope, some en nate reeds dubbeldeeglik vasgewerk. Ek glo voorkoming is beter as genesing.”
“Ingepak? Gaan jy nie Maandag daardie nuwe baadjie aantrek nie? Jy wil ’n goeie indruk op die prokureurs maak.”
Hennie glimlag skeef. “Wil ek? Onthou, Muller, Dykstra, Bothma en Seun is ook die Meirings se prokureurs. Ek wil dalk liewer die indruk van ’n tawwe tienie skep, in ’n praktiese seilbroek en hemp en met my hare in ’n poniestert vasgebind. Ek moet van die begin af lyk soos iemand met wie jy nie skoor soek nie.”
“Ag nee, Hennie, tog nie in ’n seilbroek nie! Wat sal die mense van jou dink?”
“Moeder, meneer Muller, Dykstra en Bothma was volgens Oupa saam met Noag in die ark. Ek dink selfs die en Seun is redelik argaïes. Nie een van daardie oude menere is hubaar nie, dus maak dit nie saak wat ek aantrek nie. Dit sal geriefliker wees om in ’n slenterbroek te ry.”
2
Dendron lyk nog net soos Hennie dit van elf jaar gelede af onthou, behalwe dat die hoofstraat geteer is en die prokureurskantore nuut is en staan waar die ou opelugmark altyd was.
“Goeiemiddag, mevrou Vermaak.” Wynand Bothma steek sy regterhand uit, stel homself voor en betrag Hennie waarderend op en af.
Ekskuus, vra Hennie in haar binneste om verskoning. Hierdie een was nie saam in Noag se ark nie en lyk beslis nie argaïes nie. Inteendeel. Hy is jonk en aantreklik en die manier waarop hy na haar staar, maak haar verleë.
“E … Dis juffrou Vermaak,” korrigeer sy.
Wynand is bly. Die posisie