Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 10


Скачать книгу

toe sleep.”

      “Dankie vir die onselfsugtige aanbod, maar ek sal nooit droom om een van die Meirings moeite aan te doen nie.”

      Carl se humeur het kookpunt bereik en Hennie se moedswillige antwoord laat dit oorborrel. “En ek sal ook nooit droom om vir ’n Vermaak hulp aan te bied nie,” sê hy kwaad. Die oomblik toe die woorde uit is, is hy spyt. Dis nutteloos en vernederend om soos twee kinders te staan en baklei en mekaar met beledigings te probeer troef. Wat bereik hy daardeur om met die vroumens te stry?

      “Maar jy laat my geen keuse nie,” voeg hy kalmer by. “Dis ’n privaatpad hierdie en as …”

      “O, ekskuus tog,” onderbreek Hennie hom. “Ek was nie daarvan bewus dat hierdie ’n privaatpad is en dat ek op die Meirings se eiendom oortree nie.”

      “… en as hier ’n ongeluk veroorsaak word, is ek verantwoordelik,” gaan Carl voort asof hy haar nie gehoor het nie. Hy klim in sy motor, draai dit en hou naby genoeg aan die Volkswagen stil sodat hy die tou aan die voorste as kan koppel.

      “Klim agter die stuurwiel van jou motor in,” beveel hy. “Jou remme werk. Probeer om nie van agter in my vas te ry wanneer ek moontlik om ’n draai moet rem nie.”

      3

      Die sleeprit het langer geduur as wat Hennie verwag het en een of twee keer het die tou byna gebreek toe sy die Volkswagen se remme te stadig gelos het, uit vrees dat Carl Meiring weer gaan rem en sy teen hom mag vasry. Carl raak egter niks kwyt oor haar swak bestuursvernuf toe hulle op Sesdorings stilhou nie. Hy klim uit en ontkoppel die tou. Dan staar hy ergerlik na die rooi baksteengeboutjie. Alles is pikdonker en nêrens is ’n teken van lewe nie.

      “Het jy die sleutels?” vra hy kortaf.

      Hennie was van plan om te sê dat hy dadelik mag ry, maar toe ook sy die donker geboutjie sien, voel sy onverwags grillerig om alleen binne te stap en haar bagasie aan te dra. Dis vernederend om nog verder van Carl Meiring se hulp afhanklik te wees, maar sy sluk haar trots en oorhandig sonder teëstribbeling die voordeursleutel.

      “Het jy niemand laat weet dat jy kom nie?” wil Carl weet terwyl hy die krakerige voordeur oopstoot.

      “Daar was niemand om te laat weet nie. Ek ken geen mens in hierdie omgewing nie.”

      “Gaan jy alleen hier woon?”

      “Tot tyd en wyl ek ’n geskikte persoon kan kry om by my te loseer. Ek het gehoop om ou mevrou Jansen om te praat. Sy is ’n weduwee sonder afhanklikes en …” Hennie besef skielik met wie dit is wat sy ewe vriendelik staan en gesels en haar lippe sluit ferm opmekaar. Wat traak dit hom of sy soos ’n kluisenaar gaan woon?

      Carl se hand voel na die ligskakelaar, dog dit werk nie. Hy brom iets onderlangs, maar onthou dan dat ou oom Drik of iemand waarskynlik die hoofskakelaar sou afgeskakel het. Hy kry ’n flitslig uit sy motor en stap kombuis toe, waar hy onthou al die skakelaars is.

      “Is daar ’n hoofskakelaar iewers?” roep hy na ’n paar minute se vrugtelose gesukkel om die ligte aangeskakel te kry.

      “Ek weet nie.” Hennie se stem eggo deur die donker gebou. Sy gee verskrik pad toe ’n spinnekop oor die wasbak skarrel. Sy gril vir goggas en daar trek ’n rilling langs haar ruggraat af. Dis jammer dat dit juis Carl Meiring moet wees, maar sy is verlig dat hier darem iemand by haar is sodat sy nie alleen by hierdie pikdonker plek aangekom het en nie die ligte kon aanskakel nie. Sy het nie eers daaraan gedink om ’n flitslig saam te bring nie … Hoe het sy vir hulle huishoudkunde-onderwyseres gesê? “Ek is nie van nature ’n senuweeagtige soort mens nie …” Sy was verkeerd. Dis omdat sy nog nooit in die middel van die nag by ’n vreemde plek aangekom het, in die donker en met allerhande grillerige goggas wat oor haar voete hardloop en haar die kriewels gee nie. Dis hoekom sy nog nooit uitgevind het sy is die soort wat maklik hoendervleis word, wie se nekhare by die geringste provokasie rys en wat begin wens het sy het nooit die geklike idee gekry om alleen op Sesdorings te kom woon nie.

      “E … Ekskuus?” vra Hennie toe sy besef dat Carl iets gesê het.

      “Ek sê ek ry net gou huis toe om ’n lamp te gaan haal,” herhaal Carl ongeduldig.

      Hennie sou graag wou vra of sy mag saamry omdat sy te bang is om alleen agter te bly, maar sy is te trots en daar is nog ’n sprankie oor van die meisie wat verklaar het: “Ek sal kan bel, skiet, skree, my kwaai hond op die inbreker sit of in my motor spring en wegjaag.”

      Van wegjaag is daar nie sprake nie en die kwaai hond is nog nie aangeskaf nie en Hennie weet nie of Carl Meiring sal kom as sy skree nie, maar toe die agterliggies van die Mercedes verdof, gryp sy haar rewolwer en stap voel-voel na die telefoon om vas te stel of dit werk. Dit werk nie.

      Hennie voel egter trots op haar vindingrykheid nadat sy daaraan gedink het om dit in te prop. Dinge lyk dadelik minder donker. Nou moet Carl ook net gou terugkom om krag aan te kry sodat sy kan uitpak, bad, eet en slaap. Môre, in die helder daglig, sal sy brawer wees en minder soos ’n histeriese vroumens voel.

      Hennie kan nog steeds nie glo dat sy Carl Meiring nie dadelik herken het nie. Al verskoning waaraan sy kan dink, is dat hy in elf jaar baie verander het – altans in voorkoms. Hy is nie meer die maer sproetgesigseun met die windverwaaide blonde hare nie. Dis hare het om die een of ander rede donkerder geword en hy neem seker gereeld aan sport deel, daarom dat hy so fris is. Maar in geaardheid egter, is dit nog dieselfde nare seun wat tot ’n jong dogtertjie se verontwaardiging met ’n windbuks rondgeloop het om arme, weerlose ou voëltjies dood te skiet. Hy is nog net so onaangenaam soos in die verlede en sy is bly dat sy so onvriendelik teenoor hom was. Wat het hy eendag vir haar gesê? “Ek laat my nie deur ’n snip van ’n meisiekind voorskryf wat ek mag en nie mag doen nie. As ek voëltjies wil skiet, kan jy my nie keer nie.” En nou weer: “Enige bobbejaan kan tog seker sien dis ’n skroefsleutel …” Hy mag miskien uiterlik aantrekliker geword het, maar binnekant is hy nog dieselfde nare Carl Meiring in wie sy en haar oupa ’n hekel gehad het.

      Die ander Meiringseun – Donnie – het seker ook nie ’n aangename grootmens geword nie, hoewel hy darem beter as sy ouer boetie was. Hy het nie soos Carl skoenlappers doodgemaak en met kopspelde aan ’n skoendoos se deksel vasgesteek nie. Maar hy het dit geniet om ’n tienjarige dogtertjie oor haar rooi hare te spot en allerhande onvleiende byname uit te dink. Ou Wortels. Pampoenkop. Posbus … Sy kan nie meer al die name onthou nie. Gelukkig het Donnie nooit uitgevind haar doopnaam is Hendrikus nie, anders sou sy nooit die einde daarvan gehoor het nie en sou hy haar siel daaroor uitgetrek het. Carl boer blykbaar op Koedoespoort, maar sy wonder wat van Donnie geword het. Sy hoop hy is iewers ver weg op universiteit of oorsee of iets. Sy hoop nie hy woon ook op haar buurplaas nie.

      Carl het nie lank weggebly nie, maar selfs met die sterk lig van die gaslamp, kan hy nie agterkom wat met die elektriese kragtoevoer skort nie.

      “Die bedrading is oud en jou oupa het nie daaraan geglo om geld aan die gebou te bestee nie,” sê Carl kortaf. “Al waarvoor hy met ’n lekker hart geld uitgegee het, was vir boeke.”

      Hennie sou graag haar oupa wou verdedig het, maar sy het nie ’n been om op te staan nie. Dis gaaf om idealisties te wees, ja, maar om boeke te koop ten koste van die elektriese bedrading en met die gevolg dat sy nou hier in die pikdonker staan en van haar onwillige buurman se gaslamp afhanklik is vir die enigste bietjie lig in hierdie verlate plek …

      “Wat moet ek nou maak?” vra Carl ergerlik.

      Sy krullerige hare hang soos ’n skoolseun se kuif vooroor op sy voorkop en skielik kan Hennie die jong seun herken wat sy elf jaar gelede tydens ’n vakansie laas gesien het. Dit gee Hennie meer selfvertroue en in die helder lig van die gaslamp voel sy skielik baie brawer.

      “Maak?” vra Hennie. “Niks. Al wat jy nou kan maak, is om jou skouers op te haal en huis toe te ry, tevrede dat jy jou plig gedoen het.” Sy kan nie nalaat om by te voeg nie: “Al was dit onwillig en op jou afgedwing.”

      Carl ignoreer die insinuasie dat hy haar nie uit altruïstiese oorweging ingesleep het en die krag probeer regkry het nie. Hy aarsel en haal