van Tegnologie. “Dit was baie hard op my én my ma. Daar was net-net genoeg geld om vir die klasse te betaal. Ek het treingery stad toe, ek het naweke en vakansies gewaiter, my ma het oortyd gewerk sodat ons die boeke en alles kon bekostig.
“In my tweede jaar, toe begin ek en twee van my maats so ’n klein web design-maatskappy, ons het die varsity se rekenaars gebruik vir die eerste ses maande, maar ons kon goedkoper quote as enigiemand anders, en ons designs was cool, en ek het besef ek kan verkoop, ek kan by ’n ou gaan sit en vir hom sê useability en estetika is twee kante van dieselfde munt, die kombinasie is ’n competitive advantage.
“Toe kon ek ophou waiter. Ons het nogal goed geld gemaak.
“En toe maak ons klaar by die varsity en ons gaan aan met die maatskappy. Dit was tough, want toe is ons nie meer studente nie, en ons moet ’n kantoor huur en ons moet ons eie hardware en software koop, en ons moet hoër quote. Maar ons het bly glo. Ons het hierdie groot plakkaat van ’n Steve Jobs quote teen die muur gehad: ‘If you keep your eye on the profit, you’re going to skimp on the product. But if you focus on making really great products, then the profits will follow.’
“Toe kom die iPhone en die iPad, en omdat ons sulke totale nerds was, het ons al vroeg agtergekom dat app design die volgende groot golf gaan wees. Toe is ons proaktief. Ons het met al die tydskrifte gaan praat. Die helfte van die tydskrif-apps wat jy nou op ’n iPad sien, het ons ontwerp. Ons het okay gedoen … Maar so twee jaar gelede, toe raak ek onrustig. Toe voel ek ek het ’n nuwe challenge nodig. Toe verkoop ek my aandeel, en ek gaan kyk wat is daar wat nog nie gedoen is nie. Dis hoe Alibi gebore is.”
En die game design?
Hy lag weer. Hy sê hy het Alibi.co.za se webwerf ontwerp. Dit is baie mooi én funksioneel. “Hoeveel websites in die online dating-industrie kan dieselfde sê?”
Game design sal ’n droom bly, want daar is nie groot geleenthede daarvoor hier aan die suidpunt van die Donker Kontinent nie.
Maar egbreuk bied klaarblyklik groot geleenthede?
Hy sê met groot erns(t): “Your time is limited, so don’t waste it living someone else’s life. Don’t be trapped by dogma – which is living with the results of other people’s thinking. Don’t let the noise of others’ opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition.”
“Steve Jobs?” vra ek.
“Ja,” sê hy.
“Voel jy ’n konneksie?”
“Absoluut.”
Oor die geld? Vyftienduisend kliënte teen R62.50 per maand is byna ’n miljoen, net aan basiese inkomste. En dis maar die begin. Baie geld vir ’n jong man.
Die glimlag verdamp. “Ons maak nog lank nie wins nie. Daar is nog harde werk wat voorlê. Ek sal nooit so ryk soos Steve Jobs wees nie. Maar ek sal altyd my hart volg.”
17
Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.
Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad
FdT: Pa is vir my nog steeds ’n raaisel.
Pa het nooit eintlik gepraat oor alles nie. Ouma Hettie het vertel, maar jy weet nie wat nié gesê is nie. Jy weet net wat sy gesien en ervaar het, en dit is ook uit ’n sekere perspektief. Dis nog ’n ding wat ek geleer het, in die laaste jaar of wat: Jy kan nooit deur iemand anders se oë kyk nie. En selfs as jy probeer, is dit skeef en krom. So, ouma Hettie het gekyk deur die oë van ’n vrou wat … kwaad was, seker. Ek weet nie of dit die volle waarheid is nie.
My ma het so hier en daar iets gesê, maar Ma kom ook van ’n wynplaas-familie, dis ’n geslote kring, jy praat nie uit nie, jy hou die fronte voor. Oom Dietrich … Hy’s ons buurman op die plaas langsaan, Blue Valley. Dietrich Venske. Hy en Pa het lank saam gewerk destyds, ek praat baie met hom oor Pa. Hy sê mens kon die skade sien, vroeër. En Pa het hom dinge vertel …
In elk geval, my pa het in die sestigs op die plaas grootgeword. Ek het hierdie prentjie in my kop: My pa moes sien hoe Ouma sukkel met oupa Jean. Pa moes die groot bakleie gehoor het oor die affairs, hy moes sekerlik ook die verwerping van sy pa ervaar het. Hy moes kyk hoe Ouma sy twee jonger susters probeer grootkry, hoe sy die arbeiders moes bestuur om alles op die plaas gedoen te kry.
En omdat Pa sensitief was, omdat hy ’n hart gehad het, het hy gevoel hy wil vir Ouma help. Toe hy so vyftien was, toe hy weer een aand hoor hoe hulle baklei, toe kan hy dit nie meer vat nie. Toe gaan hy in en hy sê vir oupa Jean, hou op. Met alles. Met die gerondlopery en die gedrinkery, met die geboelie van Ouma, met die afskeep van die plaas.
Toe sê Oupa hy is ’n klein snotkop en wat weet hy? En hy moet uitgaan, voor hy ’n pak slae kry. Toe sê Pa, slaan my. En Oupa het vir Pa geklap. Toe staan Pa net en sê, is dit die beste wat jy kan doen? Vrouens en kinders boelie? Toe slaan Oupa vir Pa met die vuis. En Ouma het geskree en gehuil, want Pa se neus het gebloei. Maar Pa het gesê, slaan maar, ek sal elke keer opstaan.
Toe storm oupa Jean uit. Hy was vir ’n week weg – niemand het ooit geweet waar hy was nie. Ouma Hettie het soms gesê dit was die lekkerste week van haar huwelik. Maar toe kom Oupa terug, en hy trek in die spaarkamer in, en só het hulle gebly, vir die res van sy lewe. ’n Soort skietstilstand tussen almal, nooit amptelik verklaar nie, dit het maar net so gebeur. Oupa wat kom en gaan soos hy wou, al hoe minder met sy vrou en sy kinders gepraat het, al hoe minder tyd op die plaas deurgebring het. En Ouma en Pa wat al hoe meer die boerdery se goed oorgeneem het.
Maar oupa Jean het steeds die finale sê gehad. En die mag van die tjekboek.
Die plaaswerk was Pa se ontvlugting, dink ek. Hy het eers saam met die arbeiders gewerk – jy moet verstaan, op ’n wynplaas kom die arbeiders geslagte saam met die plaas aan. Hulle weet alles, van snoei en spuit en oes, die wanneer en die hoe. Toe leer hy by hulle, so stelselmatig.
En in die proses het hy die wingerde, die druiwe leer liefkry. Die arbeiders het ’n baie aardse verhouding met dit alles. Ek dink hulle het ’n groter aanvoeling vir die stadige draai van seisoene, van die wind en die reën en die hitte en die koue en die grond se invloed. Van terroir. Ons wit Suid-Afrikaners wil alles nóú hê, volgens die dag en die maand, ons staar ons blind teen die blokkies op die kalender teen die kantoor se muur. As die KWV sê oes, dan oes jy. Ons het nie ’n duisend jaar van wynmaak agter ons soos die Franse nie. Ons het veral daardie tyd nie die geduld of die wil gehad om uitsonderlike wyn te maak nie. Ons het nie daardie aanklank met die langer termyn, met die natuur, met siklusse en prosesse nie.
My pa het dit by die arbeiders geleer. Hy’t gesien die druiwe is nie twee jaar dieselfde nie en hy het daaroor gewonder. Hy het toe hy in matriek was die druiwe self aangery KWV toe, want hy wou weet presies wat hulle daarmee doen. Wat word van ons plaas se produk. Hy het gesien hoe dit alles saamgegooi word, hoe ons druiwe hulle identiteit verloor in die massa, en dit het hom gepla.
Ek dink hy het begin besef hoe groot die potensiaal was, want Klein Zegen is ’n ongelooflike plaas, en die eienaardige ding is, deur die geslagte het nie een van die Du Toits dit ontgin nie. Hulle het net ’n bestaan gemaak. ’n Goeie bestaan, van hulle …
Die plaas lê heel agter in die Blaauwklippen-vallei, hoog teen die berg. In die somer is dit koeler as op die vlakte, die wingerd is goed beskerm teen die suidooster, so die druiwe kan langsamer ryp word, en die suikerinhoud is laer. Die grond is klipperig en straf, iewers tussen Italië se Chianti-streek en Bordeaux se croupes, dis unieke wynmaakgrond, as jy die regte kultivars gebruik.
Pa het nie hierdie insigte gehad nie. Nie toe al nie, in elk geval. Maar dis asof hy ’n voorgevoel gehad het. Asof hy iewers in sy binnekant geweet het daardie stuk aarde kan meer doen. En liefde is ’n snaakse ding. Passie. Dit laat jou wonder, dit maak die kreatiwiteit los, sodat jy ander moontlikhede en uitkomste sien. Dit laat jou stilstaan, en fokus en dink. Dit laat jou besluite neem oor jou toekoms.
Pa se besluit was dat hy landbou wou gaan