hy’t maar gesukkel, hy moes raap en skraap om haar universiteit toe te stuur. Sy het vertel dat die swangerskap vir haar ouers ’n verskriklike ding was, ’n baie groot skande, want sy was hulle paspoort tot respektabelheid, sy was die simbool van hulle vordering uit agterlikheid en armoede. Daardie tyd moes dit baie erg gewees het, negentien-een-en-vyftig … Maar sy’t altyd gesê die een ‘klein zegen’ was dat sy in September van haar finale jaar swanger geword het. Sy kon nog graad vang, sy’t onderwys geswot. En natuurlik die feit dat dit ’n wynboer was wat haar swanger gemaak het, ’n WP-skrumskakel. Dit het ’n bietjie gehelp.
“Ouma was ’n ongelooflike vrou. Ek dink dit was haar sin vir humor wat haar … en die plaas, en my pa gered het. Die humor en die aardsheid …
“Oupa Jean … Ouma het vertel dat hy soos ’n magneet was. Daardie oë, daardie glimlag, daardie kyk wat sê die hele wêreld behoort aan hom. Sy het altyd gesê sy was baie ordentlik, sy was konserwatief, sy’t nog skaars ’n man gesoen voor oupa Jean, maar toe hy daardie aand vir haar vra om te dans, en hy kón dans, hy het haar so goed op die dansvloer laat lyk, en sy ruik hom en sy gesig is hier teen haar en hy sê: ‘Jy is die mooiste nooi op die hele Stellenbosch,’ toe verloor sy al haar opvoeding.
“Sy wás mooi. Baie mooi. Oupa Jean het baie foute gehad, maar smaak in vrouens was nie een van hulle nie …
“My pa is daardie aand gemaak, in die opstal. Dit was omtrent die laaste goeie ding wat oupa Jean gedoen het, behalwe om natuurlik met Ouma te trou, maar hy’t nie regtig ’n keuse gehad in daardie jare nie.”
12
Cupido sukkel om stil te sit. Hy wil beweeg, maar die vaalgeel lêer wat Stellenbosch in sy afwesigheid afgelewer het, is effens dikker as die tipiese verdwyningsdossier.
Daarom bly hy sit, trek dit nader, maak dit oop. Daar is ’n foto heel voor binne-in vasgekram, drie verklarings in Deel A en twee forensiese verslae in Deel B. Die volledigheid van die ondersoekdagboek in Deel C beïndruk hom, maar hy weet die media-aandag wat Stellenbosch gekry het, moes groot druk op die SB en sy speurders geplaas het om deeglike werk te doen.
Heel agter is ’n ondertekende SAPS 55(A) – die vorm wat die polisie vrywaar van bedrieglike aanmeldings en hulle die reg gee om die verdwene persoon se foto en beskrywing te sirkuleer en te publiseer.
Hy kyk na die foto. Dit stem ooreen met die gesig wat hy by die lykshuis gesien het. Dit wys Ernst Richter in ’n denim en blou T-hemp waarop staan HTML, en daaronder (expert in) How To Meet Ladies. Hy lyk jonk: dalk vroeë dertigs, hy lag, sy hande besig om iets te beduie toe die kamera hom vasgevang het. Skoongeskeer, dik, donker hare wat amper op die skouers hang, die lyf skraal. Hy het sy ma Bernadette se lang neus, maar sy wangbene is skerper en sy mond meer prominent.
Dis nie hoe hy ’n ou sou voorstel wat ’n alibi-webwerf operate nie, dink Cupido. Richter lyk decent. Normaal. The guy next door, soort van, as jy in ’n middle-class whitey suburb bly. Maar hy het deur die jare geleer: Met whiteys moet jy nie op looks gaan nie. Very deceiving.
Hy ontsyfer die eerste verklaring, deur ’n aanklagkantoor-konstabel met ’n byna onleesbare handskrif geboekstaaf. Dit is op 27 November afgelê deur ene Cindy Senekal, aangedui as “a friend of the missing person”.
Volgens haar het sy op Woensdag 26 November verskeie kere met Richter oor die telefoon gesels. Hy was opgeruimd en “normal”. Die laaste oproep was teen 16:00. Hulle het om 19:00 ’n afspraak vir aandete gehad by die Dorpstraat Deli op Stellenbosch. Toe hy vyftien minute laat was, het sy hom probeer skakel, maar net sy stempos bereik. Senekal het nog verskeie kere gebel, en twee stemboodskappe gelaat. Sy het tot 19:45 by die restaurant gewag, toe na haar meenthuis op die dorp teruggekeer. Sy het deur die loop van die aand hom weer telefonies probeer kontak, maar sonder sukses. Senekal sê Richter se selfoon het van ongeveer 20:30 direk na stempos gegaan en nie meer gelui nie. Haar laaste oproep na hom was om 00:24. “I called again this morning at approximately 06:50. At that time, I was still just getting his voicemail. So I drove to his house. The doors were locked. Nobody answered the door. Ernst was sometimes a little late for appointments, but he’s never disappeared like this,” lees die verklaring.
Sy selfoonnommer en ’n beskrywing van sy motor, ’n grys Audi TT, is ook neergeskryf.
Net ná agt het Senekal na die kantore van Alibi.co.za op Stellenbosch gery. Richter se motor was nie op sy gewone parkeerplek nie. Sy het by die kantore ingegaan en navraag gedoen. Die personeel het nie geweet waar Richter is nie. Ná ’n gesprek met die operasionele bestuurder van Alibi, ene Desiree Coetzee, is sy terug na haar eie werk. Senekal en Coetzee het verskeie kere gedurende die dag van Donderdag 27 November gekommunikeer, en nie een van hulle kon met Richter kontak maak nie. Hulle het ooreengekom dat Senekal polisie toe sou gaan as daar teen 17:00 nog geen nuus is nie, wat sy dan ook gedoen het.
Die tweede verklaring is op Vrydag 28 November deur ’n speurder van die Stellenbosch-stasie afgeneem by Alibi se kantore, in ’n onderhoud met die operasionele bestuurder, Desiree Coetzee. Dit voeg net enkele nuwe stukkies inligting by: Richter is twee dae tevore laas, om ongeveer 17:15 op 26 November, gesien toe hy Alibi se kantore verlaat het. Hy was geklee in ’n denim, swart T-hemp met die woorde I refuse to engage in a battle of wits with an unarmed person in wit letters daarop, en “white sports shoes”. Hy was, soos gewoonlik, in ’n goeie luim. Daar was geen dagboekinskrywings op sy rekenaar vir die res van die dag nie. Sy grys Audi TT is sy enigste motor. Sy kollegas weet van geen werklike vyande nie, maar die maatskappy kry voortdurend dreigemente van veral godsdiensfanatici. Dit het al doodsdreigemente ingesluit, direk gerig aan Ernst Richter, maar dit was sonder uitsondering naamloos en gestuur van tydelike of gemaskeerde e-posbedieners.
Cupido sug. Dis waarvoor hy bang was. Elke dreigement sal nou opgevolg moet word.
Die Coetzee-verklaring sê ook dat Richter geen noemenswaardige rekord van afwesigheid gehad het nie, hoewel hy soms laat was vir afsprake, “maar nooit meer as ’n uur nie”.
Die derde verklaring is van Bernadette Richter, die slagoffer se ma, maar Cupido huiwer voor hy dit lees. Daar’s iets wat nie wil pas nie. Hy skuif die dossier ’n entjie terug op die lessenaar.
Iets wat Senekal of Coetzee in hul verklarings gesê het?
Nee, die fout lê nie daar nie.
Cupido staan op. Hy haat die gesit, hy kan nie só dink nie. Hy loop uit by sy kantoor, gangaf, sonder bestemming.
Fokken Benna wat gaan staan en suip het, waar’s sy partner noudat hy hom nodig het?
Want hy wil nou met Griessel praat oor dié saak. Hulle is ’n team, die yin en die yang van die Hawks, Batman en Robin. Hy dink dikwels hulle operate so goed, want hy wat Cupido is, is die danser: twinkle toes, pappie, lightning mental footwork, hy’s die investigative artist, with everything that goes with it – creative, eccentric, a little touchy at times. En Benna is die philosopher, the thinker, daai dude is methodical. And grounded, except for the drinking problem of course, ma’ dis oorlat Benna te veel dink. En te diep. In dié jop is daai dangerous.
So what usually happens, hy wat Cupido is, gooi die idees, duisend myl ’n minuut, en Benna is die screen, die filter, die gate guard. Sy sounding board.
En nou’s sy sounding board domdronk en hy sal eers self moet regkom.
So, something doesn’t make sense.
Dis nie in die verklarings nie.
Dis iets van vanmiddag, by die lykshuis.
Hy staan ’n oomblik stil in die halfdonker gang.
Dis die datums.
Hy draai om, draf geluidloos op sy Nike Air Pegasus Plus-tekkies terug na sy kantoor toe. Hy klik op sy rekenaarskerm om die Outlook-dagboek oop te maak en tel die dae vanaf 26 November, toe Richter verdwyn het.
Een-en-twintig tot vanoggend, toe Richter in Blouberg se duine gevind is.
Die probleem is, die liggaam wat hy vanmiddag in die lykshuis gesien het, was definitief nie twintig dae lank begrawe nie. Not enough decomposition. Hy’s