Deon Meyer

Ikarus


Скачать книгу

die verteller.

      “Fok jou,” sê Bennie Griessel, “dis nie waar nie.”

      “Fok jóú, dronkgat. As jy nie ’n poliesman was nie, het ek jou gemoer.”

      “Jy kan nie ’n duik in ’n drol moer nie,” sê Griessel en staan wankelrig op. Hy slinger, baie onvas op sy voete, tot teen das-en-baadjie.

      Die man slaan hom teen sy wang met die vuis. Griessel val.

      Die verteller sê vir sy vriend: “Jy’s my getuie – hy’t eerste gestamp.”

      7

      Transkripsie van onderhoud: Adv. Susan Peires met mnr. Francois du Toit.

      Woensdag 24 Desember. Hugenote Kamers 1604, Koningin Victoriastraat 40, Kaapstad

      FdT: Ek het vir Richter … Miskien moet ek … Hel, ek het dit nie sien kom nie. Twee jaar gelede het ek nog oorsee gewerk, ek het nooit gedink … Mens doen sulke stupid goed en dan dink jy daar’s nie ’n ander keuse nie. Stres is ’n bliksem … En paniek. Dit was meer paniek, dink ek, maar as jy in die ding is, as jy nie weet hoe nie, en ’n ou kom na jou toe …

      Hierdie storie … Hoe kan ek …? Dit kom nie van gister af nie, nie van laas jaar af nie. Hierdie storie … Ek het gedink, nou anderdag, toe die koerante so vol was van Richter se verdwyning, toe dink ek, hierdie storie kom van ver af. Van my oupa se tyd af. Hy was Jean du Toit, die WP-skrumskakel, ek weet nie of jy … Hy’t in 1949 en 1950 … Maak nie saak nie. Daar’s so baie … Klein Zegen is sewe geslagte lank in ons familie. Voor ons was dit die Vissers. Die plaas is meer as driehonderd-en-dertig jaar oud, dis in 1682 geproklameer. Driehonderd-en-dertig jaar, so baie geskiedenis en swaarkry en harde werk … Peste … Die wingerdluis van die agttien-negentigs, my oupagrootjie se pa moes alles uitruk, elke wingerdstok, al ses-en-negentig hektaar … Verlede jaar, toe dink ek, die plaas het ’n soort vloek op hom, as jy kyk na die geskiedenis …

      Ekskuus, gee my net kans, dis op die ou end alles relevant …

      SP: Neem jou tyd …

      FdT: Ek is regtig jammer. Dis Kerstyd, ek is seker jy wil liewer … jy weet, by jou familie …

      SP: Ek verseker jou, dit is nie ’n probleem nie. Neem jou tyd, gee alles wat jy dink nuttig kan wees.

      FdT: Ek wil net hê jy moet verstaan … Ek soek seker na versagtende omstandighede. Is dit die regte term?

      SP: Dit is.

      FdT: Ek wil … Ek bedoel, die storie het gebeur in ’n sekere konteks … Ek … Dis al wat ek het. My storie. En die hof, ek bedoel, die regsproses, dit werk op feite. Dié een het dit gedoen, en dáárdie een het dat gedoen, en dis die hof se eindelike beslissing. Ek dink nie die reg luister na stories nie. Maar ons stories is belangrik. Ons stories definieer ons. Ons is die stories, en die produk van ons stories.

      Ekskuus … ek weet ek maak nie sin nie. Ek is die leser van die familie. Ek en my ouma Hettie. En my ma … Ek het ’n verhouding met stories, ek dink dit het … As mens so baie lees, van kleins af, dan wil jy hê jou lewe moet soos ’n boek wees, ’n sekere struktuur van stryd en oorwinning, van chaos tot orde. ’n Einde wat van alles sin maak. Dis hoekom ek praat van die storie se konteks, want die konteks gee eindelik die insig. Deel van my konteks is … daardie ding van die sonde van die vaders … En die eersgebore seun, dis so half Bybels, die hele …

      Daar is twee goed wat jy moet verstaan: Die eerste is die tradisie van die eersgebore seun wat die plaas erf. Dis seker hoe die meeste plase in hierdie land werk, dit kom al sewe geslagte lank vir die Du Toits, van 1776 af. Dit is net hoe dit is. My agter-agter-oupagrootjie het ses dogters gehad voor daar ’n seun was, hy was al in die veertig voor hy kon ophou kinders maak, dis ’n tradisie met implikasies, maar wat kan jy doen?

      Ek was die tweedegebore seun …

      My oupa Jean het net een seun gehad – my pa, Guillaume … Wag, miskien moet ek … Het jy … Kan ek daardie pen en ’n vel papier kry?

      SP: Natuurlik.

      FdT: Ek wil net vir jou ’n stamboom … Nou nie van al die voorgeslagte nie. Net … ses, maar dan kan jy darem sien … Dis oupa Jean en ouma Hettie … Dan my pa, Guillaume, en my ma, Helena … en my broer, Paul … en ek … Hier. Nou kan jy sien …

Stamboom.jpg

      SP: Dankie …

      FdT: My pa was nie die enigste kind nie. Hy het twee jonger susters. Maar hy was oupa Jean se enigste seun …

      My oupa Jean … Dis waar dit begin het. Oupa Jean was ’n enigste seun. Hy het die plaas geërf. En hy het lank … hy moes homself eers dooddrink voor my pa kon gaan boer, en toe … Dis die tweede ding wat jy moet verstaan: Die invloed van my oupa Jean. Geneties en sielkundig en … kom ons sê, finansieel. Ek … ’n mens kan nie na hierdie hele … na my storie kyk sonder om by oupa Jean te begin nie. Sy skaduwee strek ver. Tot by Ernst Richter.

      So laat ek by oupa Jean begin.

      8

      Vaughn Cupido hou nie van die staatslykshuis in Durhamstraat, Soutrivier, nie. Dit is ’n onaansienlike plek van buite: ’n versameling plat bruinbaksteen-en-rooidakgeboue agter die verweerde heining van betonpaaltjies. Binne is dit nog meer spartaans en neerdrukkend; die nou gange, die reuke, die herinneringe aan makabere lykskouings wat hy soms moes bywoon. Maar bowenal het hy ’n renons in die uitkenning van die dooies. Want dit gaan altyd gepaard met groot ongemak en baie emosie vir die naasbestaandes.

      Die uitkenningskamertjie is klein en kaal – net die eenvoudige sitbankie teen die muur en die stowwerige blou gordyn voor die besigtigingsvenster. En nou moet hy dié engte deel met adjudant Jamie Keyter van Table View-stasie en mevrou Bernadette Richter, moeder van die verdwene Ernst.

      Hy hou nie van Keyter nie.

      Mevrou Richter is in haar sestigs. Sy kleur haar hare donkerbruin, dra ’n klein silwerraambril, sy is so lank soos Cupido, en baie gespanne. Haar gesig is gebou vir vrolikheid, met ronde mosbolletjie-wangbene en ’n uitsonderlik lang neus. Dit dra nou swaar aan die somberheid van dié oomblik.

      In die klein vertrek ruik sy sterk na parfuum.

      “Hulle sal die gordyn wegtrek, dan sal jy die liggaam sien,” sê Jamie Keyter vir haar.

      Sy knik net. Cupido sien sy bewe.

      “Is jy reg?” vra Keyter.

      Jissis, dink Cupido, watse bedside manner is dít? “Mevrou,” sê hy, “is u ingelig dat u dit nie hoef te doen nie?”

      “Nee.”

      Hy onderdruk die drang om vir Keyter ’n baie vuil kyk te gee. Hy sê: “As daar iemand anders is … ’n familielid, iemand wat saam met hom werk …”

      “Ek is sy ma.”

      “Ek verstaan, mevrou, maar ons weet hoe moeilik dit is. As u …”

      “Nee. Ek is al wat hy het. Laat ek dit doen.”

      “U kan soveel tyd neem as wat u wil.”

      Sy knik.

      “Is hier iemand wat u kan ondersteun …?”

      “Ja. My vriendinne is hier buite.”

      “Dankie, mevrou.”

      “Ek is reg.”

      Keyter klop ongeduldig aan die venster. Die gordyn beweeg stadig.

      Mevrou Richter staan doodstil. Hulle al drie staar na die lyk. Cupido sien die liggaam is nog nie voorberei nie. Daar sit nog sandkorrels aan die gesig vas.

      Dit is doodstil in die klein vertrek. Van buite, iewers in die gang, kom die geluid van ’n trollie wat gestoot word, een skewe wiel wat irriterend raas.

      Sy