Deon Meyer

Ikarus


Скачать книгу

dit. Hy’s op ’n real vacation. Hy en sy vriend Jack.

      Hy sluk sy glas leeg en wink vir die kroegman.

      * * *

      Majoor Mbali Kaleni sit in haar kantoor en sy bel Bennie Griessel se selnommer.

      Cupido staan anderkant haar lessenaar. Hy moet die blomkool-dampe inadem en hy dink dis ’n disgrace. Sy’s nou ’n groephoof en haar quarters ruik só?

      Dis oor haar diet. Waarmee sy al glo elf kilo’s verloor het, maar hy kan dit nie sien nie, sy lyk vir hom nog net so kort en dik soos altyd.

      Twee weke terug, toe weet hy nog niks daarvan nie. Hy’t in die gang afgestap gekom, smullend aan ’n pakkie Speckled Eggs, en Mbali loop verby en sy sê vir hom met daardie irriterende beterweterigheid: “Prof Tim says sugar is poison, you know.”

      Hy’t dit net laat verbygaan, want ’n argument met Kaleni is soos ’n sumo wrestling match – jy kry nooit ’n decent grip nie, and afterwards it leaves you all sweaty and unsatisfied. Maar ’n dag later, toe hy ’n bakkie jogurt vir ontbyt by sy lessenaar eet, toe’s dit: “Prof Tim says the whole low fat thing is a fraud.” Hy het dít ook laat slide. Tot die volgende oggend, toe hy met ’n pakkie Simba-sout-en-asyn by die oggendparade uitloop, en Mbali sê: “Prof Tim says it’s the carbs that make you fat, you know.” Hy kon dit nie meer hou nie. Hy maak toe die groot fout en vra hoogs geïrriteerd: “Prof Tim who?”

      En sy vertel vir hom. Alles. Van dié professor Tim Noakes wat eers vir die hele fokken wêreld laat pasta vreet het, en toe spring hy om en hy sê, nooit, carbs is wat almal obese maak, en hy skryf ’n boek vol reseppies, en nou’s hy Mbali se groot hero, “because it takes a great man to admit that he was wrong”, en sy het al soveel gewig verloor en sy het soveel meer energie, en dis glad nie so moeilik nie, sy mis nie die carbs nie, want sy eet nou cauliflower rice en cauliflower mash en flaxseed-brood.

      Flaxseed-brood, for fuck’s sake.

      Mbali, with the passion of the newly converted, asof hý ook dik is.

      Sy koop elke lunchtyd twee koppe blomkool wat in haar kantoor staan en reuke afgee, en hy mis die dae toe dit hier na KFC geruik het.

      Ná ’n ewigheid sê Kaleni: “Bennie isn’t answering.”

      Cupido staan oorkant haar lessenaar en hy moet homself inhou. Want hy weet Griessel antwoord altyd sy foon. En as major Mbali minder bekommerd was oor haar nuwe diet, en meer gekonsentreer het op haar mense, sou hy nie nou diep hoef te geworry het oor Bennie nie. Vanmiddag in Edgemead kon hy die skok en verslaentheid op Griessel se gesig sien. En toe sy kollega daar weg is, het hy gewonder of hier nie moeilikheid kom nie.

      Major Mbali moes nooit vir Bennie soontoe gestuur het nie.

      Hy onderdruk sy frustrasie, kyk net na haar.

      “I’ve left him a message,” sê sy. “Will you please get started? As soon as he calls back, I’ll ask him to join you.”

      “Yes, major.” Vandat sy groepbevelvoerder is, is sy so vreeslik nice met hom. Dit ná sy hom in die ou dae nie kon verdra nie. What’s with that? Maar hy draai net om en hy loop.

      “Captain, I have a feeling they are dumping this one on us,” sê sy voor hy by die deur is. “When you are sure the deceased is definitely the Alibi man, please involve captain Cloete.”

      John Cloete is die Valke se mediaskakelman.

      “Okay,” sê Cupido.

      “I want you to take JOC.”

      Dit vang hom heeltemal onkant, hy’t nooit gedink sy sal hom in beheer plaas van ’n gesamentlike operasionele bevelvoering nie. “Okay,” sê hy weer, en hy wonder of hy JOC-leier gekry het net omdat Griessel nie sy selfoon antwoord nie.

      * * *

      Die een das-en-baadjie vertel vir die ander een ’n storie, hier langs Griessel. Hard genoeg dat hy alles kan hoor. En hy luister, want dit is ’n ontsnapping van sy eie morbiede gedagtes.

      “Noleen sê dis ’n vriendin van ’n vriendin. Nice girl, heel mooi en so …”

      “As ’n girl sê ’n ander chick is mooi, is sy gewoonlik nié …”

      “Jy weet dan. Dis weird. Anyway, Noleen sê die mooi girl het opgebreek met haar ou ses maande terug, sy werk by ’n klein besigheidjie, so sy ontmoet nie baie ouens nie, toe besluit sy sy try internet dating …”

      “Bad move …”

      “Jy weet dan. Anyway, so laat sy ’n paar foudies neem by ’n pro, check al die dating sites uit en zoom in op een. Maak ’n profile met die nuwe, nice foudies, skryf haar likes en dislikes, go live, en die ouens begin haar chaff. Gaan deur die hele ding, skei die koring van die kaf en begin ná ’n paar weke met hierdie handsome dude op die site chat. En hoe meer hulle chat, hoe meer kom sy agter hy’s eintlik cool. So besluit sy, okay, sy sal saam met hom op ’n date gaan. Baie veilig, ry met haar eie kar, kry hom in ’n restaurant. Dude kom daar aan en hy’s moerse charming en intelligent, hulle chat ’n hond uit ’n bos uit, eet lekker, drink ’n wyntjie, sy raak so half verlief. Long story short, dude loop saam met haar kar toe, en sy gee vir hom die regte signs en hy soen vir haar. Niks serious nie, net so ’n semi-romantic soen, van daai wat sê ‘I respect your boundaries on a first date’. En sy scheme, wie’t gesê internet dating kan nie werk nie? Twee dae later begin sy sulke klein wit seertjies op haar lippe kry …”

      “Fok, broe’ …”

      “Jy weet dan. Anyway, sy gaan dokter toe. Dokter sê sy moet nou baie eerlik met hom wees: Het jy kontak met dooie mense. Jy weet, lyke.”

      “Fok!”

      “Ek sê jou. Girl sê, glad nie, dokter. Hy vra haar, watse kontak het sy gehad? Sy dink mooi, en sy vertel hom van die handsome dude. Hy sê, enigste manier wat jy daai seertjies kan kry, of vir ander mense kan aansteek, is wanneer jy self kontak het met lyke. Soos in lyke soen …”

      “Fokkit, broe’.”

      “Jy weet dan. Die dokter sê vir haar, hy sal die polisie moet bel. Sy sê dis reg. Polisie kom en hulle vra vir haar, sal sy weer saam met die ou op ’n date gaan, dat hulle die ou kan vang. Sy sê dis reg, en dié keer laat sy die ou vir haar na sy huis toe vat, met die polisie wat hulle agtervolg. Toe hulle instap, toe’s dit net SWAT team, en hulle deursoek die plek, en hulle kry drie lyke, broe’, met die etikette nog so om die tone …”

      “Kan jy fokken glo?”

      “Dude werk by die lykshuis …”

      “Kak,” sê Bennie Griessel. In sy beneweldheid kom dit harder uit as wat hy bedoel het.

      “Wat?” vra die storieverteller.

      “Dis ’n kak storie,” sê Griessel. Sy tong sleep met die “s”.

      “Hoe sal jý weet?”

      “Ek’s ’n poliesman,” kry hy met moeite uit.

      “Jy’s fokken dronk,” sê die ander das-en-baadjie.

      “Nie dronk genoeg nie. Maar dis ’n kak storie.”

      Dan begin sy selfoon lui. Bennie haal dit uit, kyk na die skerm. Vaughn Cupido. Hy sit die selfoon terug in sy sak.

      “Hoekom is dit ’n kak storie?” vra die verteller.

      “Artikel vyf-en-twintig van die Stafpos … Strafposes …” Hy sukkel om die woord te vorm, sê dit afgemete en stadig: “Straf- … proses- … wet. En ons sal nooit ’n Haas … ’n burgerlisse … bur- … ger- … like …”

      “Pêl, jy’s paralytic.”

      “Waar’s jou polisie-badge?”

      Griessel druk sy hand in sy sak, haal sy beursie uit. Dit neem ’n rukkie. Die twee das-en-baadjies kyk met groot afkeer na hom. Hy vroetel deur