FdT: Nou goed, neem maar op.
SP: Dankie, meneer Du Toit. Kan jy jou volle name, jou geboortedatum en jou beroep vir die rekord gee?
FdT: Ek is Francois du Toit, gebore op 20 April 1987. Ek is ’n wynboer van die plaas Klein Zegen by Stellenbosch … Uit op die Blaauwklippen-pad.
SP: Jy is nou … sewe-en-twintig?
FdT: Dis reg.
SP: Getroud?
FdT: Ja. Met San … Susanne … Ons het ’n seun van ses weke. Guillaume.
SP: Dankie. Ek verstaan van jou prokureur dat die polisie op die oomblik vir jou wag? Op die plaas?
FdT: Ja …
SP: En jy soek advies oor hoe om die saak te hanteer?
FdT: Ja.
SP: Waarmee hou die polisie se ondersoek verband?
FdT: Gustav … my prokureur … Het hy nie vir jou gesê nie?
SP: Ek het afgelei dit is ernstig, maar ek het vir meneer Kemp gevra om nie detail te gee nie. Ek verkies om dit van die kliënt self te hoor.
FdT: Dit is … dit hou verband met die moord op Ernst Richter.
SP: Die ou wat vermis was? Die Alibi-man?
FdT: Dis reg.
SP: En jy is betrokke daarby?
FdT: Die polisie sou seker nie … Ek is jammer. Dit … Dis ’n lang storie … Ek moet die hele ding vir jou … Asseblief.
SP: Ek sien … Meneer Du Toit, voor ons verder gaan, kom ek gee jou die toespraak wat ek vir alle kliënte gee. Ek is nou al agt-en-twintig jaar lank ’n advokaat, en in dié tyd het ek meer as tweehonderd mense in kriminele sake verteenwoordig. Moord, manslag, verkragting, bedrog, noem maar op. My advies is altyd dieselfde, en die ervaring het oor en oor gewys dis goeie advies: Jy hoef nie met my eerlik te wees nie, maar dit maak uiteindelik my taak heelwat makliker. Ek oordeel …
FdT: Ek is van plan om eerlik …
SP: Laat ek net eers klaarmaak, asseblief. Ek is nie hier om jou te oordeel nie, ek is hier om te verseker dat jy die beste regsverteenwoordiging kry wat ek kan bied. Ek glo onwrikbaar in ’n regstelsel waar ’n beskuldigde onskuldig is tot die teendeel bo redelike twyfel bewys is deur die staat. Een van my grootste verantwoordelikhede is om die standaard vir redelike twyfel so hoog moontlik te stel. Ek het al sake aanvaar waar die kliënt vir my gesê het hy is skuldig, en ek het net so hard vir hom geveg as dié wat hul onskuld bepleit. Want die stelsel kan net werk as ons almal gelyk is voor die wet. En ek glo in die stelsel. Dus, ek gee nie om of jy skuldig is nie …
FdT: (Onhoorbaar.)
SP: Asseblief, meneer Du Toit …
FdT: Noem my Francois …
SP: Nee, ek gaan jou meneer Du Toit noem. Ons is nie vriende nie, ons is advokaat en kliënt. Dit is ’n amptelike, professionele verhouding, waarvoor jy baie geld gaan betaal. En waar ek my afstand en objektiwiteit moet behou. Ek wou sê, ek gee nie om of jy onskuldig is nie. Dit sal geen verskil maak aan my toewyding of die gehalte van my werk nie. Ek doen my absolute bes, want dit is waarvoor jy betaal. Ek kan jou nie dwing om met my eerlik te wees nie, maar ek wil graag vir jou die implikasies uitstippel. Versweë inligting het ’n manier om uit te kom. Nie altyd nie, maar dikwels. En wanneer dit op ’n onsimpatieke tydstip uitkom, kan dit jou verdediging onberekenbare skade aandoen. Ek kan net in terme van my rol verantwoordelikheid neem vir dit wat ek weet. Ek kan net jou saak bou en jou verdediging hanteer op grond van wat jy met my deel. As dit jou keuse is om ’n fiktiewe weergawe aan my voor te lê, het ek nie ’n keuse nie, ek moet daarmee werk. Maar na my mening, en gegrond op my ervaring, het dit feitlik nooit ’n positiewe invloed nie. In kort, meneer Du Toit, hoe eerliker jy met my is, hoe beter is ons kans om jou uit die tronk te hou. Verstaan jy dit?
FdT: Ja.
SP: Wil jy eers gaan dink?
FdT: Nee. Ek gaan vir jou alles vertel. Alles.
SP: Nou goed. Waar wil jy begin?
4
Om 15:48 loop Bennie Griessel by die Fireman’s Arms in, volgens legende die tweede oudste drinkplek in die Kaap, naas die Perseverance Tavern in Buitenkantstraat.
Die Fireman’s bedien alkoholiste en ander ernstige drinkers al sedert 1864, wat dit op dié Woensdag van 17 Desember sowat ’n honderd-en-vyftig jaar oud maak. Griessel gee nie ’n dooie duit om vir die Kaapse suipgeskiedenis nie. Dit was die beskikbare parkering in Mechaustraat wat hom hier laat stilhou het.
Hy stap doelgerig tussen die donker houttafels en -sitbanke deur tot by die lang toonbank, gaan sit en wag om bedien te word. Hy adem die reuke van die taverne in. Dit maak ’n duisend herinneringe los. Elkeen aangenaam.
Sy arms is op die blad, hy sien die fyn bewing van sy hande. Hy vou hulle saam, sodat die naderende kroegman dit nie sal opmerk nie.
“Dubbel Jack,” sê hy.
“Rocks?”
“Nee, dankie.”
Die kroegman knik en gaan skink. Kom aan met die bonkige glas, twee vingers se amber, meganies en geoefend, onbewus van die gewydheid van die oomblik.
Griessel huiwer nie. Hy dink nie aan die seshonderd-en-twee dae sonder alkohol wat agter hom lê nie. Hy neem die drankie en hy teug, diep.
Die smaak is ’n lang verlore vriend, die reünie ’n vreugde.
Maar dit doen nog niks aan sy binneste nie.
Hy weet die troos is nie in die eerste sluk nie. Dít, en die verdowing en die kalmte en die sin en die heling en die versagting en die balans en die orde en daardie eenwording met die heelal, kom eers later, hier teen die einde van die tweede goddelike glas.
* * *
Die Suid-Afrikaanse Polisie se forensiese wetenskaplaboratorium is sedert 2011 in Silwerboomlaan, Plattekloof, gesetel, meer as 17 000 vierkante meter van indrukwekkende staal en glas. Die ruggraat van die gebou is ’n massiewe hoofletter C, vier verdiepings hoog, met vyf bonkige arms wat daaruit vloei – een elk vir die afdelings Ballistiek, DNS-analise, Wetenskaplike Analise, Dokument-analise, en Chemiese Analise.
Dit is in die kombuis van die Afdeling vir Wetenskaplike Analise, terwyl hy besig is om koffie in ’n beker te skink, dat die forensiese analis meteens besef aan wie die sandbespikkelde gesig van die lyk uit die duine anderkant Bloubergstrand hom herinner.
Kan dit wees?
Hy sê niks vir sy kollega nie, stap net haastig na sy werkstasie, plaas die koffie langs die toetsbord neer en google ’n naam.
Hy klik op ’n skakel, sien die foto wat laai. Hy weet hy het nie ’n fout gemaak nie. Hy soek in sy aantekeninge van die dag na adjudant Keyter se selnommer en skakel dit.
“Jamie,” antwoord die speurder, asof hy nie daarvan hou om gepla te word nie. Hy spreek sy naam “Jaa-mie” uit, nie die Engelse “Djy-mie” nie. Die analis vind dit vaagweg aansitterig en irriterend, soos die man self.
Hy identifiseer homself en sê: “Ek dink … Ek is redelik seker die slagoffer is Ernst Richter.”
“Wie’s Ernst Richter?” wil Jamie Keyter weet.
“Die ou van Alibi wat vermis was.”
Keyter is ’n oomblik lank stil, antwoord dan met groot irritasie: “Ek het nie ’n clue van wie jy praat nie, pêl.”
“Dan beter jy Stellenbosch-stasie bel.”
* * *
Griessel sit met albei hande om sy tweede dop.
Dit is sy vakansie dié, dink hy. Hy’t niks meer nodig nie. Nou kan Mbali haar nonsens los.
Sy het