flying the thing, but I wanted to test the camera too. On something worthwhile. Like this scenery.”
Jamie Keyter het sy Ferrari-sonbril van sy neus afgelig om vir Bannister die ek-sien-deur-jou-kyk te gee.
Die man het net ongemaklik gestaan en wag.
“So you have everything on video?” het Keyter eindelik gevra.
“Yes.”
“Show me.”
Toe kyk hulle saam op die selfoon na die video. Twee keer. “Okay,” het Keyter gesê, en vir Bannister beveel om by sy kar te gaan wag. Die adjudant het sy Ferrari-sonbril weer op sy neus geplaas.
In die swart Polo-gholfhemp wat sy bollende biseps ten beste vertoon, en sy swart Edgars-chino met die swart leergordel, hande op die heupe, kyk hy nou na die twee voete wat onder die plastiek uitsteek.
Hy is ingenome met homself. Die voete, ondanks die nadoodse verkleuring, is duidelik dié van ’n witte. Dit beteken media-aandag.
Jamie Keyter hou van media-aandag.
* * *
Bennie Griessel, ses-en-veertig jaar oud, rehabiliterende alkoholis, seshonderd-en-twee dae op die waterkar, sit en staar deur die voorruit van sy motor, vasgevang in die verkeer van Buitengracht.
Gewoonlik haat hy Desembers.
Gewoonlik sal hy met ’n geprewelde “jissis” dié malhuis van vakansiegangers verwens, veral die fokken Gautengers wat met hul vet beursies in blinknuwe BMW’s so vinnig moontlik afjaag Kaap toe om die Krismis-bonus hier te kom blaas. Met ’n houding van ons-sal-Slaapstad-wakker-skud. En die totale bevolking van die Kaap se noordelike voorstede wat hul inhibisies by die huis los en strande toe stroom. Saam met die Europeërs wat vlug vir die koue.
Gewoonlik sal hy die gevolge van hierdie oorname wrewelrig oordink: Jy kry nie parkering nie, die verkeer stink, alles se pryse styg en die misdaadsyfer klim met minstens twaalf persent, want almal suip soos visse en dan kom al die verkeerde goed los.
Gewoonlik. Maar nie hierdie jaar nie. Want die benouing is in hom en oor hom en om hom. Soos ’n mistroostige wolk. Al weer. Nog steeds.
Die verligting van sy ontsnapping uit die Ocean Basket het verdamp. Op pad kar toe het die swaarmoed in Mbali se stem tot hom deurgedring. Die gedemptheid, die ontsteltenis, versterk deur haar poging om dit te verbloem. In skrille kontras met die positiwiteit wat sy die afgelope twee maande as groepbevelvoerder probeer uitstraal het.
I need you in Edgemead. Farmersfield Road. Vaughn is on his way too.
Daar wag dus onheil. En hy sien nie meer kans vir onheil nie.
Daarom is die Desember-malhuis en die trae verkeer nie vandag ’n doring in sy vlees nie, maar ’n seën.
* * *
Die forensiese span het die lengte van Ernst Richter se lyk ontbloot.
Adjudant Jamie Keyter laat die videospan weer nader kom sodat hulle dit kan vaslê: die dik swart plastiek wat om die liggaam gerol is, net nie lank genoeg om die voete te kon bedek nie. En die bloedrooi koord waarmee dit deeglik vasgewoel is – bo by die kop, om die middel en om die enkels.
Keyter het die koerantfotograaf gesien wat met sy lang lens van Otto du Plessis-rylaan af foto’s probeer neem. Daarom staan hy nou wydsbeen, hande op die heupe: die toonbeeld van ’n speurder in beheer van sy misdaadtoneel. Hy hou die videospan dop tot hy tevrede is dat die opname al die toepaslike hoeke dek.
“Okay,” sê hy. “Kom julle uit.” En dan vir Forensies, met ’n gebiedende handgebaar: “Sny hom oop.”
Die twee forensiese analiste kies die regte instrumente uit hul toerustingkaste, lig die misdaadband en gaan kniel by die slagoffer. Die een sny die rooi koord versigtig los. Die ander neem die koord en plaas dit in ’n bewysstuksakkie.
Jamie Keyter klim nou self onder die geel band deur en stap tot by die liggaam. “Kom ons rol hom oop.”
Dit neem amper tien minute, want hulle moet versigtig werk en die enkele stuk swart plastiek is eindeloos lank. Die forensiese mense vou elke twee meter van die plastiek weer versigtig op om kontaminasie te probeer beperk.
Die uniforms, die video-eenheid, die twee speurder-konstabels en die ambulansmense staan nuuskierig nader.
En dan is die liggaam ontbloot.
“Hy lê nog nie lank nie,” sê die een forensiese analis, want daar is relatief min tekens van ontbinding, net algemene verdonkering van die vel, die bloupers netwerk van livor mortis sigbaar aan die voete en onderkant van die nek, en die sandkorrels wat van kop tot tone aan die lyk kleef.
Dit is ’n skraal man van gemiddelde lengte met dik, donkerbruin hare, geklee in ’n blou denim en ’n swart T-hemp met die woorde I refuse to engage in a battle of wits with an unarmed person in groot wit letters daarop.
“Dalk ’n week of so,” sê die ander een, en dink die slagoffer se gesig lyk vaagweg bekend, maar hy kan dit nie op die oomblik plaas nie. Hy onderdruk die impuls om iets daaroor te sê.
Dit is die naaste wat iemand daaraan kom om op die misdaadtoneel vir Ernst Richter te herken.
“Hy’s met iets verwurg,” sê die ander forensiese analis, en wys na die diep verkleuring wat soos ’n ring om die keel loop.
“Obviously,” sê Jamie Keyter.
2
Farmersfieldstraat is stil op dié Woensdagmiddag, middelklas, rye wit en roomkleurige drieslaapkamer-ontwikkelaarshuise met teëldakke en netjiese grasperke. Die oggend se storm het ’n spoor van takke en blare in die straat gelaat.
Griessel hoef nie te soek na die adres nie. Hy sien die bure in klein, verslae groepies oorkant staan, ’n klomp polisievoertuie op ’n bondel. Hy parkeer op die sypaadjie, vyftig meter weg. Hy bly sit met sy hande op die stuurwiel, sy oë neergeslaan.
Hy is nie lus om uit te klim nie.
Iets het gebeur om die normaliteit van voorstedelike Edgemead te versteur. En hy weet dit gaan die benouing van die afgelope maande vererger. PCSI, die elite Provinsiale Misdaadtoneel-ondersoekeenheid, se bussie staan ook daar. Wat maak hulle hier? En hoekom is hy en Vaughn van die Valke af ingeroep?
Hy haal diep asem en laat die stuurwiel stadig los, klim traag uit. Hy loop.
’n Wit muur versper sy uitsig, sodat hy eers moet omstap na die oprit waar ’n konstabel toegang beheer.
Die huis lyk soos die meeste van die ander in die straat. Daar is nog SAPD-mense in uniform voor die deur, in ’n kring, koppe omlaag.
Die konstabel keer hom met ’n verbiedende handpalm. Hy wys sy eieningskaart.
Die oë meteens groot: “O, kaptein Griessel. Kaptein Cupido het gevra dat jy net hier wag. Ek laat hom gou roep …”
“Vir wat?” vra Bennie, en stap om die man.
“Nee, kaptein, asseblief.” Benoud. “Hy’t my beveel. Ek moet hom laat roep.”
“Nou roep hom.” Hy het nie lus vir Vaughn se streke nie.
Die konstabel vra luidkeels vir die uniforms voor die deur om “die Valke-kaptein” te laat kom. Een van hulle draf haastig na binne.
Griessel wag ongeduldig.
Cupido kom uit, haastig in sy Hawk-in-Protest-uitrusting – denim, geel T-hemp, blou baadjie, en die skril stelling van die geel-en-oranje drafskoene, wat hy gisteroggend met groot geesdrif verduidelik het: “Nike Air Pegasus Plus, pappie, almost a thousand bucks regular price, ma’ Tekkie Town het ’n sale gehad. Cool comfort in technicolour, it’s like walking on air in a wet dream. Haal die ‘werk’ uit ‘voetwerk’, every time. Ma’ die eintlike bonus is lat dié sneakers vir major Mbali heavy gaan afpis.”
Vaughn betoog die afgelope week of wat teen “major