moeilikheid hê nie!”
“Ek is ’n man, Heinrich,” sê Erik, sy kleur al weer hoog.
Margot sluk benoud, loer onderlangs na Heinrich. Hy sit met fyn presisie en skil maar sy mond is ’n harde lyn.
Sy kyk na die vrug in haar hande en loer weer tersluiks na die broers. So eenders en tog so verskillend. Sy roep ook Marnitz se beeld op. Mens kan werklik met ’n oogopslag sien dat hulle verwant moet wees. Al drie met hul digte swart hare wat net so effentjies onder agter die ore inkrul. Nes Debora s’n. Haar hare is nou wel lank met hier en daar ’n silwer stringetjie, maar dis net so dik. Die oë is egter hul pa s’n. Felblou en diep sodat mens voel jy wil, soos by ’n venster, graag inloer.
Mens soek na daardie punctum waarvan haar ma gepraat het, dink Margot. ’n Gaatjie wat sal lig werp.
Sy glimlag onderlangs. Iets kan sy darem waarneem. Erik het anders geword. Hy begin sy kleim in die huis afsteek. Hy gaan nie meer voorgesê word nie.
Maar as sy nou eerlik moet wees, is Heinrich op die oog af die aantreklikste een van die drie. So beweer Hantie ook mos. Marnitz is die een wat afstandelik is. Misterieus. So asof hy ver en onsigbaar is, al sou hy reg langs jou sit. ’n Klein rilling glip langs haar rug af.
“Marnitz Schlagerfeldt,” het Susan ’n ruk gelede opgemerk toe hy pas van Pretoria af tuis gekom het, “het ’n spesifieke aura.”
“Watse aura?” wou Margot laggend weet. “Ek dink hy’s arrogant.”
“Tj! Julle jonges gebruik die woord ‘arrogant’ links en regs en dink julle kan dit as etiket aan iemand vasspeld. Julle moet dalk versigtiger met die byvoeglike naamwoorde wees.”
“Ag, goed dan, Mams. Ek bedoel maar net dat hy … dat hy …”
“’n Aura het.”
Margot was ’n bietjie opgeruk. Haar ma weet eenvoudig te veel. Mens kan g’n met haar of met haar groot vriendin Debora redeneer nie. Hulle sit jou koud nog voordat jy begin. Dit laat haar alte veel voel dat haar eie persoonlikheid net so effentjies onderdruk word. En sy is nou volwasse. Al amper negentien. Op pad lewe toe. Dis goed dat Erik sy sê in hierdie huis begin sê.
’n Paar tortelduiwe koe-koer-doek in die sipresse wat hul donker skadu’s al hoe nader aan hul stamme trek. Netnoumaar is dit twaalfuur en dis klaar snikwarm. Margot vee met haar voorarm oor haar wang en adem sagkens in en uit.
Eensklaps fluit Heinrich deur sy tande, hou sy taai hande voor hom in die lug. “Himmel tog, ek het amper vergeet. Ek het gister vir dominee Hamman gesê ons drie sal Sondag saam met die orrel speel. Dis nagmaal en hulle soek ’n paar psalms. Maar hy’t gesê ons kan iets van Bach ook speel.”
Erik klik met sy tong. “Nou sal ons moet wag tot Marnitz kom.”
Debora sit ’n heerlike maaltyd van gebakte skaapribbetjie en gebraaide aartappels voor. Gebraaide patats met gouestroop. Kool met witsous ook en tamatieslaai. Susan, wat ’n slag huis toe was om ’n bietjie te rus, daag ook weer op. Sy pik aan haar kos, maar Margot is gesond honger en sy lê weg. Anna kom skep vir herr Dieter in en gaan om hom te voer en stellig een van haar vele olifantstories te vertel.
Debora kyk haar dankbaar agterna. “Wat sou ek sonder dié mens doen?”
Halfpad deur die maal kom Marnitz terug. Hy groet met ’n kopknik en sy ma skep vir hom ’n vol bord in. Heinrich vertel hom van die oefensessie wat voorlê en tot Margot se verbasing, glimlag hy.
“Net wat ek nou nodig het.”
Margot staan op om koffie te maak en toe die broers hul ma vir die ete bedank en opstaan om te gaan oefen, sê sy: “Ek sal skil en luister. Lekker oefen.”
Sy wag totdat sy die swewende viool- en tjelloklanke vanuit die sitkamer kan hoor, toe gaan sit sy op die stoep waar die eikeskadu nou al by die onderste trap lê, tel die messie op en begin werk. Haar gedagtes begin ook skil aan alles wat haar tegelyk fassineer en pla.
Debora se kokery, byvoorbeeld. Dis wat haar seuns dit tergerig noem. Maar met ’n goeie skeutjie trots ook, weet Margot. Want dié kokery het so met die jare ook ’n lekkergoedmakery bygekry. Fondant en pienk-en-wit klapperys. Debora en Anna het die fondant met voedselkleursel gekleur en die soet, kleierige brousel in allerhande vormpies gebrei en gedruk. Margot kon haar verkyk. Daar was groen en pienk hartjies. Dié het so te sê verkoop nog voordat dit behoorlik gestol het, het Debora altyd gelag. En dit het die vrou destyds die moed gegee om haar winkeltjie te begin.
Noudat Margot soms daar uithelp, sien sy die plek ook in ’n ander lig. Dis vreemd gesellig, al is dit so klein. Gehuisves in ’n vertrek wat eers ’n stoorkamer vir die prokureurs langsaan se dokumente was en net ’n bietjie breër as ’n gang is. Lang, smal vensters langs ’n groen houtvoordeur en ’n agterdeur wat uitloop in ’n smal, stowwerige jaart. In dié winkeltjie kreun die voorste houtrakke wat Fanjan vir Erik help aanmekaartimmer het onder botteltjies en flessies en groot glasbottels vol stukke fudge en klapperys. Op twee lang toonbanke agter staan die brode, koeke en beskuit onder nette. En Margot glimlag altyd, as sy soms saam met Erik in die winkel is, vir die mense wat elke dag se brood kom koop en dan om die dood nie verby die fondanthartjies kan loop sonder om eers een of twee te koop nie.
Debora het later nog ’n koei by Engelie se pa gekoop – vir die room, het sy gesê – en fondantharte met kakaopoeier in ook begin gemaak. Van piepkleintjies wat fluwelig op jou vingerpunt balanseer tot mooi ronde hartjies wat sy in klein blikkies gepak het. ’n Kunstige boer in die Slabberts-distrik het stukke sinkplaat mooi gebuig en gevorm sodat dit ’n oulike blikboksie gemaak het. Net reg vir soetgoedjies daarin. Mense het bly koop. En eet. Die glasbotteltjies met kurkproppies was net so gewild. Die kurkproppe het Debora met ’n mengsel van kerswas verseël nadat sy dit met goue marmelade, dieporanje perskekonfyt en pienk kwepermoes gevul het.
Die moeilike jare ten spyt, het mense vir verjaardae en Kerstye tog wel hul sak geskud. Moontlik omdat dit so bekostigbaar was. Want om die glasbotteltjies en vierkantige blikkies het Debora fleurige satynstrikkies gebind. Elk met ’n gedagtetjie daarby – in sierskrif op pastelkleurige kaartjies. Iets soos ”Gaan jou gang onverstoord deur die lewe” of “Liefde kom wanneer jy dit nie verwag nie”. Selfs meer gewaagde gesegdes soos “Wie nie proe nie, sal nooit weet nie”. En “Een hap en jy’s verlore”. Ensovoorts. Dié kaartjies is vakansies deur die drie Schlagerfeldt-broers en Margot op die mooie papiertjies geskryf. En in die linker-boonste hoek van elke kaartjie is daar ook swierig in drukletters aangebring: “Debora en Seuns”, nes op die advertensiekaartjies van Moir’s en ander groot lekkernyname. Maar Heinrich was die een wat met die meer jolige gesegdetjies vorendag gekom het. “Proe en swymel”, “Moenie wonder nie – wéét”, “Ekstase in ’n bottel”. En hy wou hom vreklag daaroor.
“Skaam jou, Heinrich,” het Margot eendag opgemerk. Sy was maar vyftien en het gedink een van sy “Proe, en val flou!” is nou regtig nie ordentlik en gesofistikeerd nie. Maar Heinrich het net gelag.
Marnitz se donkerblou oë het oor haar geblits. “En wat sal so ’n ou dogtertjie nou van sofistikasie weet?”
Sy het ’n bietjie geskrik. Marnitz was toe al ’n groot man. Sy het haar nietemin vererg. “Meer as jy!”
Sy een mondhoek het effens gelig maar die blou blik het gevlam. “Moenie dat ons nou hier ’n alterkasie hê nie, meisiekind.”
Sy het stilgebly omdat sy nie mooi geweet het wat alterkasie beteken nie. Dit eers later gaan opsoek. Twis. Woordewisseling. En dit wou sy nie hê nie. Sy wou in die Schlagerfeldts se goeie boekies bly.
Maar die entoesiasme oor Debora en Seuns se fondanthartjies het nie getaan nie. Veral nadat Debora gehoor het van ’n man, ene Gino Rosetti van Johannesburg wat glasbottels in die vorm van ’n hart maak. Die man is glo in Venesië gebore en opgelei en het ’n paar jaar gelede agter ’n Suid-Afrikaanse vrou aan na die Unie toe verhuis. Debora het sy adres by ’n ou kennis van haar gekry en vir hom ’n brief geskryf. ’n Dosyn hartvormige bottels bestel. Susan en Margot was by toe Debora een laatmiddag die bottels, netjies in ’n houtkas verpak,