Helene de Kock

Debora en seuns


Скачать книгу

sy stap tjoepstil saam met hom huis toe. Hoor die driftige in en uit van sy asem soos hy lang, lang treë gee.

      Hoofstuk 4

      In die loom somerdae weet sy dat sy reg gedink het. Daar is ’n nuwe gemoedelikheid tussen haar en Heinrich wanneer sy smiddae saam met hulle sit en skil. Hulle deel ’n geheim. Net Erik, weet sy, kom dit nie agter nie want sy kop is te ver weg. Hy fluit heeltyd saggies asof hy nie byna altyd ’n gehoor het nie en ignoreer hulle as hulle met hom skoor.

      Een middag tydens die skillery sny hy homself met die skerp messie raak. Hy pluk sy hand geskok weg, staar na die bloeiende vinger.

      Debora en Susan wat ook by is, kyk verskrik toe.

      Debora se kleur is hoog. “Zerstreut!” roep sy ergerlik uit. “Du bist wirklich zerstreut!”

      Heinrich lig net ’n wenkbrou maar Marnitz, wat pas terug is van Ou Dok se spreekkamer, kom kalm nader om te help. Druk die bebloede vinger onder die wasbakkraan op die stoep, ontsmet dit met soutwater en sit pleisters op uit sy plat dokterstassie wat deesdae oral met hom saamgaan. Die ouer vroue gaan binnetoe om nog tee te maak. Met baie suiker, beduie Debora nou weer bedaard, want dit neem die skrik weg.

      “Dink jy ook hy’s zerstreut?” wil Margot skertsend by Heinrich weet.

      Hy glimlag skeef. “Verstrooid, ja. Jy sien mos sy kop is op ’n heel ander plek.”

      Sy knik net. Erik is dikmond toe hy en Marnitz weer ondertoe kom. Moontlik het hy van Marnitz ook ’n broederlike prekie oor Zerstreutheit gekry.

      Die lang Desemberdae kry vir Margot nuwe kleur. Dis samesyn soos selde vantevore. En dit is of haar ma en Debora dit aanvoel. Hul kuiertjies smiddae op die agterstoep is warm en vrolik. Erik is steeds ietwat verstrooid en soms betrag Debora hom met ’n kommerkeep, maar andersins is Margot se tye saam met die Schlagerfeldts besonder harmonieus. Tot Marnitz is, wanneer hy tuis is, jovialer as voorheen. Dalk is dit die naderende Kerstyd wat hom milder maak, dink Margot en verlekker haar in sy geselskap.

      Soms bly sy en haar ma saans tot laterig oor. Smul op Debora en haar seuns se aandrang saam aan die varsgebakte brood met stroopblink heelvyekonfyt en luister ná ete na die seuns se meesleurende strykmusiek. Margot speels soms saam op die klavier, maar meesal sit sy net en luister. Verkyk haar aan die drie swartkoppe wat met fronsende erns, lippe saamgepers, hul instrumente bespeel. Sy besef al hoe meer dat hulle werklik drie baie talentvolle musici is. Vir die eerste maal begin sy wonder hoe dit vorentoe met hul musiek sal gaan. Sal hulle ooit nog speel as die oorlog hierheen sou kom?

      Sy stoot die angsgedagte weg. Alles moet net bly soos dit is, dink sy met ’n fladdering van skrik. Net so is alles perfek.

      Margot en Heinrich gesels dikwels. Veral oor die universiteitslewe. Hy vergas haar op staaltjies uit sy ervaring van die losieshuis waar hy tuisgegaan het en sy lag lekker vir al die studentemanewales. Dan sê hy ook: “Maar daarmee is ek nou klaar.”

      Marnitz raak al hoe minder by die skilsessies betrokke. En wanneer hy dan smiddae laat tuis kom, neem hy sy tjello op en speel met soveel dringende passie dat Margot se binneste soms wringend saamkramp.

      “Hy werk so hard, die arme kind,” sug Debora een laatmiddag toe Susan ook opdaag en Anna vir hulle tee inskink terwyl die tjelloklanke opklink. “Ja, hy speel pragtig, maar Ou Dokter sê hy het die hande van ’n chirurg.”

      “Ai, dis wonderlik,” sê Susan bewonderend. “Dat mensehande ander menselywe oopsny en binne-in regmaak, bly vir my steeds ’n mirakel.”

      “Ja, die Marnitz, nè,” glimlag Debora. En, in wat ’n totaal onbewaakte oomblik moet wees, gaan sy aan: “Ek het geweet hy sou ’n dokter word daardie dag toe …”

      “Mutti!” onderbreek Heinrich haar. “Ek ruik iets. Brand die stroop nie?!”

      Margot kyk op en sien dat Debora se wange verbleek. Die vrou staan haastig op. Margot ruik niks en sy sien dat haar ma Debora se smal, effens geboë skouers nadenkend agternakyk toe sy kombuis toe gaan.

      Ook Erik se vingers het om die vrug in sy hand verstil.

      “So ja,” sê Heinrich onverstoord, “mens kan nie die goed laat aanbrand nie. Daarvoor gaan suiker nou heeltemal te skaars word.”

      Susan wil dié aand oor die voorval praat, maar Margot gaap en sê sy gaan bed toe.

      “Die dag was warm en lank, Mams.”

      Nee, dink sy toe sy inkruip, sy gaan nie oor hulle praat nie. Erik en Heinrich vertrou haar en sy gaan nie hierdie nuwe vertrouensband verbreek nie.

      Een aand kom Margot Marnitz op die trap teë toe sy op haar ma se aandrang ’n Huisgenoot van ’n paar weke gelede by Debora wil gaan leen. Die hoë trap is soos gewoonlik net bo-op die portaal met ’n olielamp verlig en sy het ingedagte afgekyk om nie dalk in die halfskemer ’n trappie te mis nie. Hy is skielik reg voor haar om haar pad boontoe te blokkeer.

      Sy kyk verskrik op.“N-naand.”

      “Goeienaand, Margot.” Beheers maar met daardie skaars waarneembare laggie in sy stem.

      Sy sluk stram. “Ek het ’n Huisgenoot kom leen. ’n Oue. Jy weet, die een van 15 September?”

      Hy kom tot langs haar, sit sy hand onder haar elmboog. “Kom ek help jou. Ek weet waar daardie Hugenote-nommer is.”

      Haar woorde steek vas. Sy is skerp bewus van sy warm handpalm wat haar elmboog stut.

      “Ek …” kry sy uit toe hulle in die geel lig van die olielamp staan, “ek het gehoor Engelie praat van die uitgawe wat oor die koms van die Franse Hugenote gaan en toe dink ek ek en my ma sal dit ook graag wil lees.”

      Sy kyk op in sy donker gesig en sy tande flits wit.

      “Ja, dit sal sekerlik interessant wees. Hou jy ook van geskiedenis?”

      “Nogal, ja.”

      “Soos jou ma, nè? Nou kom.” Hy stap vooruit, Debora se slaapkamer binne, en gaan sit kruisbeen op die mat by die stapel Huisgenote. Tik op die rooibont Persiese tapyt. “Kom sit. Ek hou so daarvan om in die ou Huisgenote te blaai as ek hier by die huis is. Kom kyk. Hier’s kostelike goed, hoor.”

      Sy gaan sit langs hom. Verwonder haar oor dié spontane toeganklikheid. Die eensklapse woorde. Hy trek ’n paar tydskrifte onder uit die hoë stapel uit. Vou een triomfantelik oop en hou dit na haar toe. “Hier’s hy! 25 Julie 1930. My ma het dié kopie nog by Eisenstein gekry. Hy hou mos die ou tydskrifte aan. En kyk nou hier, rugby en perdewedrenne deel ’n dubbelblad.”

      Sy vat dit bedees by hom. En glimlag. “Transvaal ly ’n gedugte nederlaag” en “Die Durbanse Julie-hendikep”. Twee fotoartikels langs mekaar met groot swart-en-wit foto’s.

      “Jy sal sien,” sê hy, en leun sameswerend na haar toe oor, “rugby gaan nog die groot sport in hierdie land word. Perde gaan ver tweede kom.”

      “As jy so sê,” waag sy.

      Hy lag uit sy bors en die klank fassineer haar so dat sy na hom staar. Hy trek nog ’n tydskrif uit die stapel. “Ek sê inderdaad so.” Asof wat hy sê noodwendig wet is. “My ma het absolute skatte hier, hoor. Kyk net hierdie uitgawe van 7 September 1928. Sê jy nou vir my dis nie kosbaar nie.”

      Margot neem die effens vergeelde kopie by hom. “Sowaar,” sê sy en klink vir haarself effens uitasem, “hier op die voorblad doen die All Blacks die haka net voor die toets teen die Springbokke op Nuweland.”

      Sy kyk op in sy gesig en ervaar ’n eienaardige sensasie toe hy met haar glimlag. Of dit te warm is in die kamer. Haar asem brand effens.

      “Klein Margot,” sê hy mymerend, sy persblou oë tastend op haar mond. “Ek is bly dat jy kan opgewonde raak.”

      ’n Stilte talm. Sy is pynlik bewus van hom. Van sy lang lyf, die groen geur van gras wat aan hom kleef ná hy teen laatskemer vir Fanjan gehelp het om die grasperke te sny.