en blink was. Maar haar rooi mond was strak.
Daardie kristalbrose oomblikke tussen die onkapabele man en sy streng raakvatvrou het Margot finaal ingetrek in die kring van hul bestaan. Sy het daardie besoek aan Dieter Schlagerfeldt se kamer vir haarself gehou. Nie eens haar ma daarvan vertel nie.
Want sy het bekoor sowel as bedreig gevoel. En te min geweet om dit verder in woorde te kon uitspel, het sy by nabetragting besef. Miskien lê die aantreklikheid in die onbekende, die feit dat die Schlagerfeldts nie gelees kan word nie, dink sy nou weer vir die soveelste maal.
Toe sy oorstap na die groot huis, haar hare blink geborsel met haar wye blou romp wat om haar kuite klok, is sy onnoembaar teleurgesteld toe sy net vir Erik op die agterstoep aantref.
“En as jy so alleen sit?” vis sy en kry vir haar ’n skerp messie om te begin skil aan die hoop appelkose in die emaljeskottel.
Hy sug swaar. “Heinrich is met ’n vaart hier weg en Marnitz is mos by Ou Dok in die spreekkamer. Vandat hy ’n dokter is, verbeel hy hom ook wat.” Erik is vir die res van die middag so bot dat sy niks uit hom kry nie. En Debora is blykbaar winkel toe.
Sy glimlag wrang toe sy per ongeluk van die appelkose se taaiheid aan haar wit bloes afsmeer. Sy wou mos grênd lyk vir ’n man wat dink sy is ’n dogtertjie.
Een aand ná sy en haar ma nuus geluister het, voel sy misnoeg en omgesukkel. Klaar met skool laat haar voel asof haar lewe stilstaan.
Boonop klink haar ma so effe mismoedig: “Ja, die Engelse darem. Het jy gehoor? Drie van hulle skepe was in ’n ure lange geveg met ’n pocket battleship van die Duitsers. Klink darem asof twee van die skepe …”
“Ja, Mamma, ek het gehoor, die Exeter het die stryd gewonne gegee en Achilles en die Ajax het die Duitse skip agternagesit. Maar daar’s iets anders van sekere Engelse wat ek wil weet.”
“Moenie begin nie, Margot,” vra Susan sag.
Maar Margot vlie op uit die stoel waar sy gesit het.
“Waarom wil Mamma nie vir my van hom vertel nie? Al is hy ’n niemand, is hy immers my pa.”
Susan se gesig word wasbleek. Sy slaan soos gewoonlik toe as die onderwerp aangeraak word. Haar hande begin fladder in gebare wat nie woorde na haar lippe kan lok nie. Eindelik kry sy stram uit: “Ek het jou al baie gesê. Omdat hy jou as ’n niemand beskou het … Hy wou ons … wou jóú nie hê nie, Margot. Enne, die verlies is syne.”
“En sy van was Scott?”
“Dit was deel van sy van, ja,” bely Susan eensklaps. “Ek … ek het jou mos al gesê dat ek gedink het, steeds dink, dat hy vir jou … en vir my immers deel van sy naam skuld.”
“Wat was sy volle van?” vra Margot verbaas en klaar halfpad kwaad.
Susan knyp vervaard haar altyd blekerige wange met haar duime en voorvingers vas, wieg effens vorentoe waar sy op die enkelbed in haar kamer sit. “Sy van, Margot, was … is Scott-Trewellyn.”
“Gmf! Dis gewigtig,” smaal Margot, maar sy kan die pols in haar keel voel klop. Byna asof sy in ’n miswolk haar pa se figuur kan gewaar.
“Waar is hy nou?” vra sy met ’n stram keel.
Haar ma se nerveuse vingers knyp weer haar wit wange tot daar pienk kolle sit. “Ek weet nie,” fluister Susan vermoeid. “En ek wil ook nie weet nie.”
Margot loop uit stoep toe, gaan sit op die lae muurtjie. Staar die donkerte in.
Dis wat haar soms rasend maak. Sy het dit al teenoor Erik bely. Soos nou die dag ’n paar weke gelede toe hulle twee van Eisenstein se winkel af op hul swart dikwielfietse op pad terug huis toe was, Erik met ’n bruin kardoes vol drop onder die arm. Hy was lus vir anderster swiets as sy ma s’n, het hy vroeër beduie en Margot omgepraat om saam te ry. Toe sy oor haar pa begin praat, het hy haar net so skuinsweg bekyk en die pedale harder getrap.
“Ek weet jou pa se dinge pla jou. Maar sluk dit en gaan aan. So is dit omdat dit nie anders is nie.”
“Is dit julle Schlagerfeldts se leuse?”
“Dit is, ja, en dit werk.”
Sy het nie verder met hom gelol nie. Weet mos uit ondervinding dat hy niks verder sou sê nie.
Miskien moet sy die hele ding ’n ruk lank uitlos, besluit sy heimlik. As dit dan vir die Schlagerfeldts moontlik is om geheime te hou, dan kan dit seker vir haar ma ook so wees. G’n wonder die twee vroue kom so goed klaar nie. En nou is jy sinies, Margot Scott-Trewellyn. Noudat jy jou volle van het, matig jy jou ’n eie sê ook aan.
Sy skrik ligweg vir die gedagte. En ook vir die nuwe Margot wat selfstandig haar eie kajuitraad hou. Want sy sal nooit aan iemand anders erken dat sy haarself nou as Margot Scott-Trewellyn aanspreek nie.
Dis nie net haar lewe wat al meer verwikkeld begin raak nie. Debora Schlagerfeldt se lewe vertoon maar net bolangs rimpelloos. Onder vloei daar ’n stroom wat rukkerig kabbelings maak. Sy weet dit mos vandat sy die vrou en haar man so tragies intiem saam gesien het. Die vreemd melodieuse woorde, byna poëties. “Daar’s hy, Dieter. Nou’s jy weer skoon soos die oggend.”
En af en toe ’n liefkosende Duitse frase.
Dis oomblikke soos nou, wanneer die dorp begin stil word en die nag se fluisteringe by die oop venster indrywe, wat Margot oor die situasie in die kalkwit huis oorkant die straat tob. En oor haarself. Ook oor haar ma wat vir haar by die dag broser lyk. Soms oor die oorlog wat soos ’n swart onweerswolk in die Noordelike Halfrond hang.
Matriek is verby, dink sy effe teatraal en ’n diep sug wel in haar op. Daar is nou soveel ander dinge om oor te wonder. Dis moeiliker as voorheen om oor haar pa te dink. Dit bly net te vaag. Al weet sy nou wat sy volledige naam en van is. Henry Sean Scott-Trewellyn. Maar dis dit. Sy gaan weer die huis in, sien dat haar ma al kamer toe is en sê sag nag in die gang. Klaar uitgetrek, lê sy gesig na die muur toe, weg van die valerige maanlig wat deur die dun gordyne sif.
Haar gedagtes maak weer ’n draai na haarself toe. Sy is eintlik ook ’n raaisel. Margot met die skim van ’n pa in Engeland.
Die Scotts en die Schlagerfeldts ís enigmas, besluit sy oplaas.
Toe haar ma die volgende middag ’n bietjie gaan rus – iets wat sy deesdae al hoe meer doen – stap Margot oor na die Schlagerfeldts toe. Sy loop deur die lang gang tot in die kombuis. Debora moet by die winkel wees en Anna het seker herr Dieter se tee gaan gee. Margot sien die drie broers op die agterstoep by die witgeskropte tafel sit en gesels. Sy glimlag. En luister ’n bietjie. Al is hul praatjies deurspek van bespiegelinge oor die oorlog en veral die Unie se aandeel daaraan, is daar tog ’n ondertoon van energieke vrolikheid. Veral Marnitz en Heinrich kan dit nie weerstaan om Erik se siel oor iets uit te trek nie. Sy kan aan haar vriend se pienkerige gesig sien dat dit nou weer sulke tyd moet wees. Sy wonder wat hulle sal sê as hulle van die mooie Engelse skooljuffrou moet weet.
Waar sy suutjies in die kombuisdeur huiwer, betrag Margot die drie fris manne met hul donker kuiwe en wit glimlagge, heel in sinchronisasie met mekaar. Al terg en skerts hulle. En onverhoeds pak dit haar. ’n Emosie wat ’n eienaardige sensasie deur haar knieë stuur. So of haar bobeenspiere los daarvan raak. Haar vingers raak aan haar lippe en gly af na haar hals waar sy die pols kan voel tril. Sy tree skuins terug tot op die drumpel sodat hulle haar nie dadelik moet opmerk nie.
Hul hegte broederskap fassineer haar. Ten spyte van hul onderlinge geskoor met mekaar is daar iets meer wat hulle saamsnoer. Hulle weet heel moontlik wat tussen hul pa en ma gebeur het. Hulle ken hul eie geskiedenis. En hulle dra die wete manmoedig.
Sy staar na die drie swartkoppe. En dis of sy op hierdie oomblik sien hoe dit is en ook hoe dit nog altyd was.
Hulle is die mense op wie sy nog altyd gewag het. Sy sluk stram.
Heinrich beduie hardop hy dink die meeste mense besef nog nie dat Suid-Afrika pens en pootjies in ’n oorlog betrokke is nie. Marnitz beaam dit met ’n stywe kopknik. Erik luister net en nou en dan reik