Johan Pienaar

Die dag ná die rowers opgedaag het


Скачать книгу

>

      

      Die DAG ná

      die ROWERS

      OPGEDAAG het

      Leef hier en nou

      Johan Pienaar

      Lux Verbi

      Do not let your fire go out, spark by irreplaceable spark in the hopeless swamps of the not-quite, the not-yet, and the not-at-all.

      Do not let the hero in your soul perish in lonely frustration for the life you deserve and have never been able to reach.

      The world you desire can be won. It exists … it is real … it is possible … it’s yours.

      AYN RAND in Atlas Shrugged

      Mat 6:25-26 Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

      Aanloop

      “Die dag ná die rowers opgedaag het – Leef hier en nou,” merk iemand op. “Wat ’n vreemde titel! Waar kom die gedagte aan dié boek vandaan?”

      Wanneer ek terugkyk, was daar ’n klomp stroompies wat op verskillende plekke begin en mettertyd byeengevloei het.

      Een was die lees van The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy waarin ’n depressiewe superrobot, Marvin, opdrag kry om die groot en finale waarheid vir die lewe, heelal en alle ander belangrike dinge te formuleer. Ná eeue se wroeg, verklaar hy dat die antwoord “42” is. Toe die omstanders hom hieroor uitvra, kreun hy, soos net ’n depressiewe superrobot kán kreun, en sê dat mense eers die regte antwoorde gaan kry wanneer hulle leer om die regte vrae te vra.

      Sy “42” het bygedra tot my ongemak oor maklike antwoorde wat ons so dikwels gee soos: “Kyk net terug en wees dankbaar!” Of: “Kyk net vorentoe en byt vas!” Daarmee saam het ek ál meer begin wonder oor al die mooi tekste, slagspreuke en beloftes wat ons daagliks oor soveel media vir mekaar stuur. Dié met nuwerige selfone kan selfs sagte musiek saam met die elektroniese kaartjies vol engeltjies en blommetjies aflaai.

      Bevredig dit regtig? Waarna soek mense werklik?

      Ek het met nog groter aandag begin luister in vele gesprekke met bestuurders en direkteure. Daar was die gewone oor personeel, stakings, politieke sisteme en brandstofpryse, maar agter dit alles soms ’n onverwagse en intense wonder oor sin en betekenis. Een gesprek bly my by. ’n Direkteur reageer op ’n kompliment deur te antwoord: “Hou ons vas wanneer dit lyk asof ons verbykom op pad boontoe, want ons is netnou weer op pad ondertoe.” En toe haar vraag: “Ons onderneming het ’n duidelike strategie. Ek is net nie seker of dit mý by die regte plek gaan uitbring nie. Mense sê ek is daar, maar waar is daar? Wanneer het iemand daardie eindbestemming bereik?”

      Waar is daar?

      ’n Volgende stroom was vele koppies koffie waar vriende soms diep gesug het.

      In baie van ons kuiers het dit gegaan oor verhoudings, gesondheidsgoeters, kinders en al die dinge wat deel van ons alledaagse lewe uitmaak, maar daarmee saam die onvermydelike gesprekke oor ons land en sy toekoms.

      Dit is belangrik om hier te sê dat nie een van die vriende van nature negatief is of, soos ons een vroom professor dit eendag beskryf het, “anti-alles-en-pro-bokkerol”, nie. Hulle is lief vir ons land en sy mense en wil graag bydra, maar sug omdat so baie mense dit hul heeltydse beroep maak om te mors. Hulle wil leef, maar sukkel. Ry of bly, koop of verkoop, of soos een dit gestel het: “Oor watter brûe moet ek beweeg en watter moet ek afbrand?”

      Ietsie meer oor hul sug. Sheila Cussons skryf in “Noudat ek” in die bundel ’n Engel deur my kop dat ’n sug meer is as net hoorbare asem, dit is die lang geheue van die mens! My vriende se versugtings was hul lang geheue van hoe dinge was en nou is … hul somme maak oor wat hulle gehad en verloor het.

      Een het met soveel drif gesê: “Ek het my bevorderingsmoontlikhede verloor. Die kinders het hul speelruimte buite die huis verloor.” En toe volg dié betekenisvolle woorde: “Ons het ons verlede verloor. Ons het ons toekoms verloor. Wat bly oor?”

      Dalk maak sy vraag vir jóú nie soveel sin nie, maar vir die breër gesprek is dit tog belangrik om so ’n bietjie hierby stil te staan.

      Kan ’n mens ’n verlede verloor?

      Om die vraag te verstaan moet jy terugdink hoe politiek, skool en kerk tot baie onlangs nog in ’n koor vertel het dat ons ’n besonderse nasie met ’n besonderse geskiedenis is. Ons is gekies om, soos Israel van ouds, ’n besonderse rol in die wêreld te speel. Ons het ook geleer dat hierdie verlede vol besonderse mans en vroue is wat God self gekies het om vir ons die pad aan te wys.

      Ons lewe gaan sin maak wanneer ons in hul voetspore volg.

      Maar, toe begin dit verander. Hoe hulle was, is hoe ons nou moet wees.

      Kom ek noem net twee van talle voorbeelde om te verduidelik. Baie van ons het grootgeword met die verhaal van Piet Retief en sy besonderse staanplek op een van die vier hoeke van die Voortrekkermonument. Hoe hy was, is hoe ons nou moet wees. Nou word ander stories oor hom vertel – stories van bedrog wat hom keer op keer weens skuld en ander oneerlike onderhandelings in die hof laat verskyn het! In 1823 beskryf ene kolonel Scott hom as ’n man sonder enige beginsels.

      ’n Ander heldin is Racheltjie de Beer. Ons is kleintyd al geraak deur haar: “Toemaar, boetie, ek sal jou warm hou.” Nou vermoed navorsers dat haar verhaal versin is na aanleiding van ’n soortgelyke verhaal in Noord-Dakota, Amerika. Daar het die 15-jarige Hazel Miner haar lewe opgeoffer om haar boetie en sussie in ’n sneeustorm te red.

      Kom ons sê vir mekaar: Wanneer ’n streep deur hierdie en ander helde getrek word, is dit nie ’n Hansie of Grietjie wat sneuwel nie, maar ’n deel van só is ons!

      Dit is ongelukkig ook nie net waar van lank, lank gelede se mense nie. As dit net hulle was, sou die jonger geslag hul skouers kon optrek en aanstap. Toe ek met iemand hieroor praat, sê hy: “It’s not my circus. It’s not my monkey!” Nee, nie net die verre verlede nie. Onthou jy nog die woede in Chris Louw se “Boetman- brief ” wat hy aan Wimpie de Klerk in die Beeld (5 Mei 2000) geskryf het oor die oorlog in Angola – woede oor ’n onlangse verlede wat nou ontken of anders vertel word?

      Natuurlik is die laaste woord nie oor een van die sake gepraat nie. Dit het egter ’n klomp van die uitroeptekens waarmee ’n mens grootgeword het in vraagtekens omgebuig. Filmmaker Jan Scholtz skryf in 1967 ’n boek oor die worsteling van die bruin gemeenskap met die veelseggende titel Die man sonder skaduwee.

      Prof Jonathan Jansen sien iets van dié worsteling raak met sy opmerking: “As jy wit Suid-Afrikaners mal wil maak, moet jy met hulle oor die verlede praat.”

      Die verlies aan ’n toekoms

      Ons is nie enig in ons worsteling met die verlede nie. Ander volke het dit ook beleef – selfs nog intenser as ons. Hulle kon egter daarin slaag om ’n gesamentlike toekoms te droom. Ons sukkel daarmee!

      Blaai maar deur die koerante en tydskrifte. Bladsy ná bladsy roep: Geen toekoms … vir ons taal, werkgeleenthede, eiendomsreg, veiligheid en politieke stabiliteit. Selfs ’n landbou-unie waarsku met ’n groot advertensiebord langs die pad: No farmer, no food and no future. Wanneer sowat 840 000 Suid-Afrikaners die land tussen 1995 en 2005 verlaat, bevestig dit baie se belewenis dat hulle hul toekoms verloor het.

      Gooi nou in dieselfde pot al die vrae wat oor die kerk gevra word, die verlies aan invloed van soveel kultuurorganisasies en tradisies wat verdwyn. Voeg nou nog persoonlike verhale hierby en ’n groot groep mense ly tans aan geestelike moegheid en tamheid, ’n verliessindroom en ’n bestaanskrisis. Onseker, diep onseker omdat ons nie aldag meer weet hoe om oor onsself, ons land, gister en môre te dink nie!

      As jy nou terugdink oor al die stroompies wat tot hiertoe genoem is, sal jy reg wees wanneer jy aanvoel dat nie een van hulle onoorkomelik is nie. Die geskiedenis is vol verhale van mense