Johan Pienaar

Die dag ná die rowers opgedaag het


Скачать книгу

die land en hul persoonlike lewe nuwe dringende vrae gebring het. Die gesprekke hieroor het vir seker bygedra tot dié boek.

      Terug na die vraag van my vriend: Wat bly oor?

      In die koffiekuiers het ons mekaar bly herinner dat daar meer, véél meer moet wees. Tussen al die ontnugterings en onsekerhede moet daar ’n plek wees waar iemand weer opgewonde oor die lewe kan praat. Ons het ook vir mekaar begin sê dat die antwoord beslis nie lê in “Kyk net terug en wees dankbaar!” of “Kyk net vorentoe en byt vas!” nie.

      Sommerso tussendeur sê een: “Dalk moet ons die onsekerheid oor gister en môre gebruik om te fokus op waar ons nou is!” Hierdie opmerking sou die goue draad word wat baie van die gesprekke in dié boek verbind.

      Wat dit beteken om hier en nou te leef

      ’n Groepie het die blog netpuntnou hieroor begin, wat 31 dae geduur het, en waaraan ander kon deelneem. Sommige dae was daar tot 3 000 besoekers. Oor sommige van die medereisigers:

      ’n Tannie van 86 bel ná ’n radio-onderhoud oor die onderwerp en sê: “Ek is sweet sixteen and never been kissed. Ná jou praatjie gaan ek hard aan die tweede deel begin werk.” ’n Inrigting in die Noordwesprovinsie stuur ’n e-pos waarin hulle noem dat een van hul inwoners, ’n 36-jarige serebraal gestremde, deel van die Vandag-organisasie wil word.

      Ek het begin skryf. Van die bydraes op die blog is ingewerk. Die boek is betitel. Alles was gereed vir voorlegging aan die uitgewers.

      Toe kom Maandag, 28 Julie 2014!

      Om 12:30 die middag het ek, my vrou en ons huishulp deurgeloop onder ’n gewapende roof by ons huis. Dit was boos en brutaal en in ’n kort tydjie het al die stroompies hierbo in ons persoonlike waterval verander.

      ’n Klomp dinge het die dag ná die rowers gebeur …

      Daar was net nóg meer vrae.

      Ons moes bereken hoeveel ons regtig verloor het. Nee, nie ter wille van die versekering nie. Die rowers het baie skade aangerig en van die goed waarmee hulle weg is, is onvervangbaar, sentimenteel onvervangbaar. Is onvervangbaar dieselfde as belangrik? Het ons iets van werklike belang verloor? Is daar enigiets op die lang lys waarsonder ons nie gelukkig kan wees nie? As geluk nie in die goed lê nie, waar dan?

      Ons moes van voor af besluit oor ons roeping in die land en tussen sy mense. Ons eerste onskuld was daarmee heen. Ek en my huweliksmaat is nog altyd verbete verslaaf aan ons land en sy mense. Ons was trouens al in die moeilikheid omdat ons weier om meegesleur te word deur sommige se negatiwiteit oor enigiets wat Proudly South-African is. Ons storie was soos ’n dam wat net gewag het om te breek. Almal het hul eie belewenisse langs ons s’n kom neersit met net een vraag: Hoe dink julle nou oor Suid-Afrika? Kan ’n mens nou en hier lééf?

      Bowenal het ek ’n beduidende deel van die manuskrip verloor toe hulle met my rekenaar weg is … en ek moes met elke stuk wat oor- en teruggeskryf is, vra of dit ook die toets van ’n 9 mm-pistool kan oorleef. Is dit regtig so? Geld dit vir die sagte kabbeling van ’n stroompie, maar ook vir die gedruis van ’n waterval?

      Is dit ook waar die dag ná die rowers opgedaag het?

      Die groot vraag

      In sekere sin het al die strome in een groot vraag byeengevloei toe ’n vriend die dag ná die roof vra hoe dit voel wanneer ’n mens die dood in die oë staar. Ek het dadelik geantwoord: “Terwyl ek so op die mat vasgebind gelê het, het ek die lewe in die oë gekyk. Die vraag in daardie oomblikke was nie hoe dit gaan voel om dood te gaan nie, maar wat dit vra om te leef!”

      Dít is waaroor ons gaan praat.

      Wat bly oor die dag ná die rowers by jou was, jy by die dokter gehoor het jy het kanker, die egskeidingsbevel aan jou beteken is, jy by die graf van ’n geliefde gestaan het?

      Hoe kyk jy die lewe in die oë? Wat vra dit om te lewe, hier en nou? Is dit moontlik om sin en betekenis te beleef? Hoe lyk die reis van oorleef na leef?

      ’n Laaste opmerking: Die boek maak geensins aanspraak op volledigheid en is nie die finale antwoord op die lewe, heelal en alle ander belangrike dinge nie. Glad nie. Die 30 gesprekke hierna is soos in die skryf van ’n melodie net die eerste ritmiese klop met ’n potlood op die tafel. Ons vertrou egter dat jy, soos jy vorder, elke dag verwonderd én met behae ’n heildronk sal drink op die enkele leefbeurt wat jy het.

      Dit is waarby jy moet uitkom.

      Dit is in alle gevalle wat God vir jou in gedagte het!

      JOHAN PIENAAR & VRIENDE

      Naskrif: Die geheim gaan wees om nie te jaag nie, maar elke dag net een van die gesprekke te lees. Ná elke stuk is daar ’n Skrifdeel wat aansluit by die kern van die gesprek en ’n Gedagte wat jy kan oorskryf en êrens opplak.

      Dit is belangrik dat jy nie net lees nie, maar in die Stilhouplek tyd maak om die gesprekke jou eie te maak waarna dit dan afgesluit word met die Besluit aan die einde.

      VANDAG 1

      Die groot onrustigheid

      Jy voel vreemd onrustig êrens diep onder jou derde ribbetjie en wonder toenemend oor die sin van jou lewe.

      Jy is nie alleen nie!

      Dalk is dit die politieke en ekonomiese onsekerheid; dalk ’n belewenis dat die positiewe profesieë oor die nuwe millennium nie gebeur het of dalk nooit gaan gebeur nie; dalk die vrees dat die reënboog van ons reënboognasie finaal agter die wolke verdwyn het; dalk ’n afsku van die verterende gulsigheid wat so deel van ons samelewing geword het; dalk die tekens teen die wolke en sterre wat sê dat die tolletjie van ons aarde begin afrol.

      Wat die rede ook al mag wees – ’n groot groep mense praat, sing en skryf oor die groot onrus en vra na ’n lewe wat sin maak – nie net eendag anderkant die graf nie, maar nou en hier. Hulle wil ook aan die einde van alles saam met Frank Sinatra kan sing dat hulle nie oor een enkele oomblik spyt is nie.

      Is so ’n lewe moontlik?

      Is daar sin?

      As jy groot pret wil hê, moet jy op ’n besige sypaadjie gaan staan en met jou hande na iets denkbeeldigs, ver en doer bo, wys.

      Gou-gou sal ander langs jou kom staan en ook opkyk. ’n Kind sal by sy ma neul om vir hom te beduie en ’n ou omie en tannie sal so half teen mekaar aanlê in hul poging om dit te kan sien. As jy lank genoeg daarmee volhou, sal verbygangers vir mekaar begin vertel wat alles doer bo is!

      Is dit nie maar net so met die sin-storie nie? Almal praat daaroor, maar is daar so iets? Is dit nie maar die spreekwoordelike pie in the sky nie?

      Rick Warren vertel van ’n vraelys wat onder ’n groep filosowe, wetenskaplikes en skrywers versprei is waarin hulle gevra is na die doel van die lewe. Hul reaksies is genoeg om enigeen depressief te maak. Een hoop dat die lewe nie ’n grap is nie, want dan snap hy dit nie. ’n Ander een is kwaad, want niemand het vir hom gesê wanneer jy die bopunt bereik, wag daar niks nie. Sommige erken wel dat hulle nie weet wat die doel van alles is nie, maar as iemand dit vasstel, moet daardie persoon asseblief vir hulle ook laat weet.

      Carl Jung, die bekende sielkundige, kon nie agterkom wat die betekenis van die lewe is nie, maar het tog geglo dat daar ’n doel moet wees. Dalk vat Joseph Taylor hierdie onsekerheid saam in sy boek met die betekenisvolle titel, I Have No Answers to the Meaning of Life and I No Longer Want to Search for Any.

      Hoogs terneerdrukkend!

      Kan ons darem tot hul verdediging sê dat selfs iemand met eretitels soos Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem in Prediker 1:2-7 uitroep: “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks. Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld? Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde. Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer. Al die riviere loop in die see in, maar die see word nooit vol nie. Die riviere hou aan om te loop na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het.”