van julle Vermeulens ooit probeer uitvind wat daaragter skuil? Hoeveel ek verloor het? Hoe ek my verdriet probeer wegsteek het?”
“Ons het ons bes vir jou gedoen,” opper hy gepynig.
“Dan sê ek nou vir jou, julle kon beter. Jou ouers is dierbare mense, maar hulle weet net van seuns en varkies grootmaak.”
“Madeleine de Koker!” Hy is eindelik ook kwaad, gegrief. Die hoenders in, wat ook al. “Jy byt die hand wat jou gevoed het …”
Hy het met ’n ligte hart hierheen gekom, onvoorbereid op die furie wat hy gaan ontketen. En dit lyk of hy met elke opmerking dieper in die gemors beland.
“Loop net,” kners sy dit uit. “Jy haal vanaand die lelikste uit my.”
“En dan verwag my pa en ma ek moet ’n ogie oor jou hou. Dit spyt my, maar dis onmoontlik, sal ek vir hulle sê.”
“Sê wat jy wil. Tot siens.” Sy druk hom fisiek deur toe. Hoekom laat hy dit toe? Hy is langer en sterker as sy, hy kan sy staan behou. Maar hy is bang vir haar soos sy nou is. Tog staak sy vanself die poging, asof sy besef hoe belaglik dit is.
’n Ysige voorgevoel laat sy voorarms kriewel. Wat gaan met haar aan? Waarop stuur sy af? ’n Totale breuk met die enigste gesin wat sy werklik oorhet? Op watter vreemde en dalk krom paaie wil sy haar begewe? En hoeveel het haar “afspraak” daarmee te doen? Is dit iemand wat haar gemoed vergiftig?
“Wie is die man … in jou lewe, of hoe sal ek sê?” Hy wou fors klink, maar sy stem kom bra flou deur.
“Hy het ’n naam. Theo. En hy is ’n buitengewone dosent in argeologie. Goed genoeg?”
“Seker, ja,” antwoord hy oorbluf. Hy self het vurig begin studeer, maar gou opgeskop en liewer met ’n paar buitemuurse kursusse sy vaardighede in rekeningkunde geslyp. Hy het sy ouers tevrede gestel met allerhande vaaghede oor bevooroordeelde proffies en vakke wat bots. “Is hy professor, of doktor?”
“Hy is nog meneer. Hy werk aan sy proefskrif. Baie hard ook.”
“Alle geleerdes moet seker iewers begin. Watter universiteit?”
“’n Kollege. Moes ek uitvra om beter aan jou verslag te doen?”
“Hoe lank sien julle mekaar al?”
“’n Maand, maar nie gereeld nie. Sy program is baie vol.”
“Waar presies het jy hom ontmoet?” Sy stemtoon spel twyfel.
“Hy het my in die reën opgelaai.”
“Jy het jou deur ’n vreemde man laat oplaai?” Hy is wys genoeg om nie weer die woord “oppik” te gebruik nie.
“Ja, en hy het my nie vermoor en in ’n ou gruisgroef gegooi nie. Daar was ’n parkeerplakker van die kollege op sy kar se ruit, en hy was ordentlik, en ek was papnat gereën. Hy het my woonstel toe gebring en koffie gedrink. Ons was twee keer daarna uit, en ek voel veilig by hom.” Sy is nou ernstig, ietwat uitgewoed. “En ek sal regtig diep dankbaar wees as jy betyds gaan, De Wet. Ek wil nie hê hy moet dink …”
“… dat ek jou hartlam is nie?” snap hy gegrief.
“Dis nie juis dit nie. Dis eerder dat jy van lawwe … ek bedoel lughartige geselskap hou. En hy …”
“Hy praat geleerd? Red my siel.” Hy rol sy oë plafonwaarts.
“Nie geleerd nie, maar ernstig. Hy is die eerste mens wat my nie soos ’n opgetelde lappop behandel nie.”
Hy wonder skielik hoe sy, verblind van reën, die plakker op die voorruit so maklik sou kon eien. Sy sou dit mos eers kon sien as sy binne sit. Hy wonder ook of sy die hele storie van die manier van ontmoeting versin het. Maar sy het nogal eerlik geklink.
Oplaas begin dit tot hom deurdring dat sy vanaand werklik snaaks en anders is. Die afgelope tyd het dit nie so duidelik geblyk nie omdat sy nog pal besig was om woonstel in te rig en in haar werksomgewing bekend te raak. Hy, De Wet, met wie sy nou so snaaks is, het met sy pa se bakkie die meubelstukke aangery en die bakkie weer teruggevat. En werklik, hy kan nie onthou of sy dankie gesê het nie. Dalk was die meubels ook nie goed genoeg nie? Dalk voel sy dis aan haar afgesmeer, en dat sy moderner winkelgoed wou hê?
En voor sy stad toe gekom het, het hy haar ’n lang tyd glad nie gesien nie. Laas toe hy vir ’n langnaweek huis toe was, was sy na haar ver familie toe. Emaline Kemper was saam met hom en hy was eintlik bang dat Madie se pad hare moet kruis. Uiteindelik het Madie wel betyds genoeg tuisgekom om vir Emaline te ontmoet, maar sy het ’n gepynigde gesiggie opgesit en skaars self ’n woord gesê, net na Emaline geluister. Ander kere het sy vir Emaline net skrams gesien. Nou het sy haar mond danig vol oor Emaline se kleredrag.
Sy gedagtes steek vas by die besef dat hy vir Madie eintlik ’n bietjie afgesterf het. En dis waarlik jammer, want sy is vir hom ’n groot aanspraak met dié dat hy nie susters het nie.
Dit was veral gaaf om die afgelope tyd sommer net hier in te val op pad na Emaline toe of terug, en nou word dit hom ontsê. “Aag, nou ja, dis maar die vreugde van broer wees: As jy nodig is, is jy daar. As jy nie nodig is nie, moet jy skoert. As dit dan jou wens is, sal ek padgee. Maar hoekom kan ek nie bly en hom ontmoet nie?”
“Luister, De Wet,” praat sy nou mooi terwyl sy naby hom staan. Hy kry die subtiele geur van ’n nuwe, duur parfuum en dit laat die vervreemding dwarsdeur slaan.Voorheen was die billiker parfuum van afdelingswinkels vir haar goed genoeg, en dit was ongekompliseerd om dit of badskuim op haar verjaardag en met Kersfees te gee.
“Luister,” herhaal sy, “waarom sal jy nou probeer om my in verleentheid te plaas? Dis die eerste keer dat Theo by my woonstel kom. Stel jou voor, as jy in sy skoene was: Jy kom ingeloop nadat die meisie vir jou die deur oopgemaak het. Jy laat jou oë deur die vertrek dwaal. Daar op die bank sit ’n gomtor in ’n denimbroek en bont hemp en hy lyk ewe tuis, eet grondbone soos ’n dieretuinaap. Hy bekyk jou van kop tot tone. Terloops, jy self is netjies aangetrek, pak en das kompleet. Wat sou jy doen?”
Hy weet dat sy hom met die oordrywing probeer afskrik. Hy kyk haar aan en weet nie of hy kwaad of geamuseerd moet wees nie. Hy dink kastig diep. “Ek weet,” erken hy eindelik, “ek sal sê: Boggom, los vir my ook iets, ek behoort aan dieselfde spesie.”
Madie lyk moedeloos. “Ek vra weer, bel my voordat jy kom. Dit sal net soveel geriefliker wees. En dink jy nie dalk Emaline wag vir jou nie? Jy is mos bang ’n ander ou krap in jou slaai as jy ’n halfuur laat is.”
Sou sy waaragtig ernstig wees? Dat hy moet bel voor hy kom? In sy diepste gemoed voel hy seergemaak, maar besluit koppig om dit nie te toon nie. “En dink jy nie dalk,” kap hy terug, “dat jy my afsprake met Emaline kan verongeluk nie? Wat moes sy nog altyd dink van my mense wat so naïef is? Vandat jy hier is, veral. Sy spot my reeds omdat ek jou moet oppas. Sy’s ’n gebore stadsmens, sy’s hier so tuis soos ’n vis in die water. Wat moet sy dink van ’n man wat ’n sussie het wat nie weet wat garnale, ’n saunabad en unisex klere is nie?”
Toe hy hom kom kry, het Madie se oë vol trane geskiet. Dis asof daar wolke voor die son ingeskuif het. Sou dit trane van woede wees, wonder hy, en word dit van hom verwag om haar te troos? Sy het nog nooit gehuil as hy haar terg nie. “Aag, jong, wat’s dit nou met jou?” probeer hy paai. Hy klop haar saggies teen die slouer soos ’n mens met ’n skreeuende kleintjie sal doen.
“Hou jou hande van my af,” roep sy boos en met die trane op die punt om vryelik te vloei. Hy put genoeë daaruit: Haar gesig sal rooi gehuil en haar grimering bederf wees as die vent kom.
“Maar, Madie …” Hy gryp rond na die ou vertroulikheid, die onskadelike pret, die vryelike omgang van vroeër, maar alles voel meteens anders. Hy haal sy skouers op. Hy het vanaand oorgekom om vinnig ’n bietjie lekker te ontspan, koffie te drink, te terg en te klets en dan weer ongehinderd sy gang te gaan en sy afspraak met Emaline na te kom. Hy pluk die deur oop.
“De Wet, ek … ek is jammer, ek wou jou nie wegjaag nie.”
“Toemaar,