voel ’n bietjie moeg na gisteroggend se aanval, maar dit is natuurlik te verstane. In elk geval, ek sal môre weer beter voel,” antwoord hy.
“Hm, ja, dit is te verstane,” beaam sy en neem sy pols tussen haar vingers.
Met ’n veraf blik tuur sy deur die venster na die reën wat nou sagter val. Dis duidelik dat die storm uitgewoed is. Sy kyk op haar polshorlosie, en na ’n rukkie los sy die oubaas se pols.
“Ek veronderstel dokter Malan het vir oom medisyne voorgeskryf? Waar is dit?” vra sy.
“Alles is op die bedtafeltjie langs oom Petrus se bed, suster,” antwoord Gert.
Sy neem ’n koorspen, skud dit ’n paar keer en plaas dit onder die oubaas se tong. Weer kyk sy op haar polshorlosie en bepaal dan haar aandag by die medisyne wat op die bedkassie staan. Na ’n rukkie kyk sy weer op haar polshorlosie, neem die koorspen uit die oubaas se mond en bekyk die kwik in die buisie aandagtig. Sy spoel die koorspen onder die kraan by die wasbak af en plaas dit terug in haar sak.
“Jy moet mooi verstaan,” sê oom Petrus skielik, “ek laat nie so ’n jong meisiekind soos jy aan my liggaam raak nie. Ek is oud genoeg om jou pa te wees.”
“Ek weet, oom Petrus,” paai sy sag. “U is dertien jaar ouer as my pa. Maar dit het niks met die saak te doen nie. Ek is ’n verpleegsuster. Ek het al baie mans verpleeg, oud sowel as jonk.”
“Wel, ek laat nie toe dat so ’n kind soos jy my was en my met persoonlike dinge help nie. As ’n vroumens my dan moet versorg, kan dokter Malan vir my ’n ouer verpleegster kry.”
“U kan gerus daarvan vergeet, oom Petrus,” val sy hom vriendelik in die rede. “Ouer verpleegsters is gewoonlik getroud en het ’n eie gesin wat hul aandag vereis. Om daardie rede kan hulle nie by ’n pasiënt inwoon nie, want die gesin verwag dat die ma saans tuis moet wees.”
“Dis nie nodig dat die verpleegster hier moet inwoon nie,” sê hy, en sy weet dadelik dat sy ’n opdraande stryd met hom gaan hê. Sy weet nie waarom ’n ou mens so moeilik moet wees nie. Sy wys hom vriendelik tereg.
“U verwag dus dat die verpleegster elke oggend van Johannesburg of Pretoria af hierheen moet ry en saans weer terug? Dit is gans onmoontlik, oom Petrus, en in u toestand is dit veiliger om ook snags ’n opgeleide verpleegster byderhand te hê.”
“So, jy het ’n antwoord vir alles,” snou hy haar ergerlik toe. “Maar ek sê jou nou, jy kan maar oppak en weer môre teruggaan na waar jy vandaan kom. As ek nie ’n ouer verpleegster kan kry nie, verkies ek om sonder een te bly. Ek sal Malan dit sê ook. Ek laat nie so ’n jong kind aan my vat nie.”
Die oubaas is nog besig om sy griewe te lug toe Annie die vertrek met sy aandete binnekom. Alta se wenkbroue vorm ’n duidelike vraagteken toe sy na die bord kos kyk. Soveel ryk voedsel is beslis nie wenslik vir ’n hartlyer nie.
“Oom Petrus,” vra sy versigtig, “het dokter Malan nie vir u ’n dieet voorgeskryf nie?”
Hy kyk haar met ’n kil blik aan en antwoord openlik sarkasties: “Hy het, maar ek kan nie sien wat dit met jou te doen het nie, suster. Wat dokter Malan vir my voorskryf, is sy saak, en wat ek daaromtrent doen, is my saak. En ek sal eet wat ek wil . . . ”
“Daardie vet skaapribbetjie is gif vir ’n hartlyer, en daardie klomp room oor die nagereg ook,” sê sy met ’n glimlag, sonder om haar aan sy kil blik te steur.
“Ek het jou gesê . . . ” begin die oubaas, maar Alta onderbreek hom ferm.
“Ek weet wat u gesê het, oom Petrus,” sê sy kalm, “maar dit is my plig om u te vertel dat daardie kos glad nie bevorderlik is vir u gesondheid nie. My pa is ook ’n hartlyer, weet u?”
“Nou waarom gaan verpleeg jy nie jou pa nie?”
“Hy het nie ’n verpleegster nodig nie, oom Petrus. Hy bepaal hom streng by die hartspesialis se bevele en as u dieselfde sou doen . . . ”
“Sustertjie, ek dink jou kos word koud, jy moet liewer gaan eet. Annie, vat die meisiekind saam met jou sodat ek in vrede kan eet.”
“Oom Petrus, oom se halsstarrigheid sal u niks baat nie,” voeg Alta hom met ’n geamuseerde glimlaggie toe. “Ek het vandag baie ver gery om u te kom verpleeg, en ek is vasbeslote om hier te bly en my taak uit te voer.”
“So, jy is vasbeslote om hier te bly!” Hy meet haar met ’n streng blik. “En as ek weier om jou vir jou ongevraagde diens te betaal, wat gaan jy dan doen?”
“U betaal my nie direk nie, oom. U sal ’n rekening van die verplegingsburo kry. Anders sou ek u in so ’n geval gratis verpleeg het. Om die waarheid te sê, ek het nie geld nodig nie.”
“Jy verwag tog seker nie dat ek dit moet glo nie? Waarom verpleeg jy dan as jy nie die salaris nodig het nie?”
“Omdat ek graag my medemens wil dien,” antwoord sy sag. “In elk geval, ek gaan ook nou eet. Ek sal oom later kom gereedmaak vir die nag, en stadig asseblief met daardie vet skaapribbetjie. Die nagereg moet oom maar liewer nie eet nie.”
“Suster, ek laat my nie voorskryf nie.”
“Ek ook nie, oom Petrus, in elk geval nie deur ’n pasiënt nie,” roep sy hom met ’n glimlaggie toe.
“Vroumens, bewys my asseblief ’n guns en gaan eet nou.”
Alta begin meteens vrolik lag. “Ek gaan nou, oom Petrus,” sê sy. “Tot later.” Hierna verlaat sy die siekekamer saam met ’n swygsame Gert en Annie. Toe hulle buite hoorafstand is, sê sy sag: “Hy is baie koppig. Maar hy sal my maar net moet aanvaar, of hy daarvan hou of nie. Ek ken sy soort, ons het baie van hulle in die hospitaal verpleeg.”
“Dis waar, hy ís koppig. Maar aan die ander kant kan ’n mens hom ook nie blameer nie, suster,” tree Gert vir sy werkgewer in die bres. “Dit is nie maklik vir ’n man om ’n vreemde jong meisie toe te laat om hom met persoonlike dinge te help nie, ek bedoel nou . . . ”
“O, ek besef dit, Gert,” antwoord sy bedaard. “Ek sal sy gevoelens in ag neem en sagkens met hom werk, maar ek gaan darem ook nie aan al sy nukke toegee nie. Ek dink jy moet dokter Malan bel en hom vertel hoe die oubaas op my teenwoordigheid gereageer het. Dit is noodsaaklik dat hy sy pasiënt môreoggend onder vier oë moet kom spreek, anders gaan ek ’n lang ruk ’n opdraande stryd met die oubaas hê, en dit gaan my taak aansienlik bemoeilik. Hy moet besef dat ek hier is om hom te help, nie om met hom te argumenteer nie.”
“Ek sal dokter Malan na ete bel, suster,” belowe Gert.
Hulle nuttig ’n gesellige maal terwyl die reën nou sag op die huis se dak neersif.
“Gaan jy jou motor heelnag buite laat, suster?” vra Annie toe hulle van die tafel af opstaan.
“As hier nie kwaaddoeners is wat die voertuig sal beskadig nie, kan hy gerus maar buite slaap. Ek het regtig nie lus om weer nat te reën nie.” Sy kyk Annie vraend aan.
“Hier is nie kwaaddoeners nie,” verseker Annie haar, “maar as dit my motor was, sou ek dit nie heelnag in die reën laat staan het nie.”
“Ek ook nie,” kom dit van Gert. “In elk geval, ek sal die tuinier môreoggend aansê om jou motor te was en te poleer.”
“Dankie, Gert, dit is baie vriendelik van jou. Ek sal nie graag wil sien dat die motor iets oorkom nie, want dit was ’n geskenk van my pa. Maar as julle my sal verskoon, wil ek eers gaan kyk wat oom Petrus aanvang en of daar iets is wat ek vir hom kan doen.” Sy verlaat die eetkamer en stap na die siekekamer toe.
“Wat, is jy al weer hier?” begroet die oubaas haar, glad nie vriendelik nie.
“Maar ek het mos gesê ek sal oom later kom gereedmaak vir die nag,” antwoord sy met ’n soet stem en so onskuldig soos ’n kind.
Sy verwyder die leë borde van die bedkassie af en plaas dit op die dienwaentjie.
“Gert