ma nie van die moddermorsery by die kraan hou nie, en dat haar pa nog nooit ’n stukkie sement daaronder gegooi het nie. En om water in die kombuis te gaan haal, bied kosbare uitkoms.
Sy sit oorhaastig die flits op ’n skoon hoekie van die tafel neer en haar voete kry vlerkies binnetoe. Dalk is Manus al daar. Hy kom altyd by die voordeur, en sy sou nie kon hoor as hy klop nie. Boet of haar pa sou hom laat inkom het. Dat hy haar nie hier buite kom soek nie, wys dat hy bedug vir haar ma is. Hy het dit al te kenne gegee.
Sy hoop hy is nog nie hier nie. Sy sou eers nog wou deurglip kamer toe om met ’n tikkie parfuum op haar polse die reuk van uielowwe te verdring.
Maar hy is daar. Haar hart galop met ’n heerlike vaart toe sy die bekende stem hoor.
“O, jy sit en kuier by die mansmense, pleks van ons vroumense te kom help groente skoonmaak,” skerts Hantie. Gelukkig ken hy reeds die eienaardighede in die Hasper-huishouding. Sy eie ma het gehuurde hande vir enige werk wat sy van haar kan afskuif.
“Is dit waar julle wegkruip? G’n wonder mens kry nie koffie in hierdie huis nie,” speel Manus saam om voor te gee dat dit sommer ’n doodgewone kuierbesoekie is. Tog het hy vanoggend, toe hy by die winkel inloer, eenkant vir haar gesê: “Vanaand is die aand. Hou jou reg en maak voorbrand.”
Voorbrand het sy toe nie gemaak nie. Dit kon dalk net die verkeerde stap wees. Maar dat sy haar reghou, is wis en seker. Sy voel vreugdevol oor die skyfies koue vleis en die aartappelslaai en groenslaai wat sy vinnig reggevat het terwyl haar ma by die groentebeddings was. Vir die groenslaai moes sy fynigheid bykoop: blaarslaai, seldery, koringspruitjies, waarna haar ma skuins gekyk het (“Hier ís mos groente in oorvloed, wat is met wortelslaai verkeerd?”). Sy sou graag in die eetkamer wou dek, met kerse en blomme, maar dis buite die kwessie. Hulle eet altyd in die kombuis, wat ’n ruim vertrek is, en die tafel is ook groot genoeg.
Die kombuis het nie ’n deur wat kan toemaak nie, net ’n boog wat na die woondeel toe lei. Een of ander vroeëre bewoner het, waarskynlik in die waan van grandeur, ’n bestaande houtdeur planloos vervang met hierdie swak gemesselde boog. Maar dis vanaand ’n bate, dan voel dit darem nie so kombuiserig eenkant nie.
Manus praat grappig voort: “Jou pa sit ’n mens net en vergas met sy pyp, en Boet vertel Van der Merwe-grappe. Ek is uitgedroog, hoor.”
“Ek vat net handewaswater vir my ma uit.”
“Wag, ek kom saam.”
Sy wens hy wou nie, maar aan die ander kant kan hy haar ma solank bietjie sagmaak. Hy het goeie maniere en kom ordentlik oor. Wat dit betref, kan Nellie Hasper nie ’n speld se punt op hom druk nie. Dit was beslis ’n skimp in die regte rigting, maar Dawie en Boet snap waarlik niks, of so nie speel hulle goed toneel.
“Ag, as jou kindertjies honger ly, maak jy maar net soos Van der Merwe gemaak het,” raai Boet grappig aan. “Hy kom by die bankbestuurder, en dié sê vir hom: ‘Meneer van der Merwe, u rekening is oortrokke met drie duisend rand.’ Van der Merwe sê: ‘Aag, dis niks, ek skryf sommer gou vir u ’n tjekkie’.”
Manus begin lag, eers stadig, soos sy manier is, dan inniger en genotvoller, meer as wat die flou grap eintlik verdien. Is hy ook senuweeagtig? Die “tjek”-onderwerp het beslis ’n teer snaar by haar pa geraak, want hy trek hewiger aan sy pyp. Hantie wens dat die huis eerder na jasmyn of rose as na pyprook wou ruik.
Maar sy hou so van daardie liewe laggie van Manus. Hy is gemaklik met homself en met ander mense. Sy weet haar mense sal hom aanvaar soos ’n eie kind, as hulle hom net in eie reg wou meet en nie op grond van sy pa se grondhonger en maniere van bedinging nie.
“Kom jong, my ma wag,” por Hantie hom aan. Sy kan meteens nie wag om alleen met hom te wees nie, al is dit net ’n halwe minuut. Sy stuur hom daarom by die sydeur uit. Dis dan ’n entjie verder, om die huishoek, na waar Nellie by die agterdeur doenig is. Hulle durf talm, die kosbare oomblikke uitkoop.
“Laat ek die skotteltjie vir jou dra.”
“Ek is nie van goud gemaak nie, Manus. Maar ek hét een los hand, hoor.”
Hy gee gehoor en vat haar hand styf in syne. Hulle vingers pols teen mekaar. Koel is die aandlug om hulle, maar haar wange gloei.
“Sjoe, ek hoop jou ma is my goedgesind.” Hy klink opreg benoud.
“Het jy jou woorde agtermekaar?” fluister sy dringend.
“Volgens my, ja. Maar my ma reken ons moet jou nog eers beter leer ken.”
Dit tref haar soos ’n skoot koue water in die gesig. Snaaks, dat sy heeltyd gedink het aan hoe haar eie ma oor Manus voel, en nie oor hoe sy ma dalk oor háár kan voel nie. Op een of ander manier het sy, Hantie Hasper, ’n goeie selfbeeld. Het die onderskeidings in matriek dit aan haar besorg? Maar nee, as sy terugdink, het sy nog nooit minderwaardig gevoel nie, daar was te midde van alles ’n besef van eiewaarde.
“Wat?” vra sy, onseker of hy ernstig is. “Jou ma? Beter leer ken? Ons ken mekaar dan al jare.” Hoewel, noudat sy daaraan dink, sy was nog maar enkele kere by die Bruwers aan huis, saam met haar pa tydens onderhandelinge, en mevrou Bruwer was in die meeste gevalle nie tuis nie of, indien sy was, het sy nie haar gesig gewys nie.
“Sy sê daar is ken en ken. Sy wil hê jy moet ’n naweek by ons kom kuier. Hulle ken jou regtig nog nie waffers nie. Ek moet jou glo vanaand al probeer saambring.”
Dit slaan Hantie so effens dronk. Vaag, baie vaag en diep, roer daar ’n tikkie onrus in haar, ’n vermoede dat die lewe, en in besonder die liefde, nie altyd sonder rimpel of vlek kan wees nie. En die uitnodiging … moet sy opgewonde daaroor wees?
Sy hoor haar ma se deurdringende roep en besluit dat sy en Manus geen tyd meer oorhet nie, net sekondes. “Goed,” sê sy sonder om na te dink. “Ek vra vir Ma.”
En sy besef terselfdertyd: Dan is daar geen ernstige pratery vanaand, altans nie aan hierdie kant nie. Of hy dalk met sý ouers ernstig wil praat, weet sy nie. Sy sleep vir Manus aan die arm mee, kom half uitasem om die hoek by haar ma aan. “Hierso, Ma.” En, in dieselfde asem: “Manus se ma het gevra of ek die naweek by hulle kan gaan kuier.”
Sy voel haar knieë bewe oor soveel roekeloosheid. Dis waar, sy ken die Bruwers nie so goed nie. Hulle woon wel reeds vyf jaar lank in die kontrei, maar tog was hulle nooit ten volle deel van die gemeenskap nie. Om die waarheid te sê, sommige mense beskou vir Frieda Bruwer as ’n flerrie. Tog reken Hantie dat hulle haar net nie goed genoeg ken nie. ’n Vrou wat ’n seun soos Manus grootgemaak het, kan nie sleg wees nie.
Sy wonder wat haar ma se antwoord op Manus se versoek gaan wees. Wat sal sy sê oor ’n skielike kuiery by die Bruwers op Donkervlei?
“Naand, tant Nellie,” kry Manus nou eers in. “Ja, my ma wil hê Hantie moet haar bietjie kom help om my maniere te leer.” Hy gryp die flits en lig haar reg in die oë. Sy keer en kla laggend, totdat sy sy arm beetgegryp kry. Dis ’n intense sensasie, haar klein hand om sy sterk voorarm.
“Toe nou, julle.” Nellie se woorde bring hulle tot stilte. Daar is iets soos benoudheid in haar stem, asof sy vrees om met soveel ligtelikheid om te gaan, nie sal weet hoe om dit te hanteer nie. Haar eie lewe was nooit speels nie, haar huwelik sekerlik die minste van alles. Hantie het haar pa en ma nog nooit liefdevol aan mekaar sien vat nie.
Die jongmense bedaar. Dan, asof Manus besluit het om dwarsdeur te druk, vervolg hy: “Eintlik verjaar my pa mos Maandag en my ma wil bietjie klaarmaak en die bure vir môreaand al uitnooi. Sy het gevra of Hantie nie asseblief daar kan kom oorslaap en bietjie handgee nie. Hantie het by tannie so baie van kos geleer,” voeg hy ietwat vleiend by.
Nellie is onkant gevang. ’n Oproep om hulp weier ’n mens nie maklik nie. Dit gaan om werk, goeie arbeid, en dis outonoom, die hoogste wet. Maar sy besef ook dat dit hier nie soseer om die hondjie is nie as om die halsbandjie. Sy vermoed dit lankal, al was die kuiery kastig by Boet. Hantie het nog nooit juis uitgeslaap nie, behalwe die jare van koshuislewe wat verby is. Sy is huisvas en stil.
“Wat van jou werk môre?” gooi sy wal.