Louisa du Toit

Dan kom die eensaamheid


Скачать книгу

man, een met ’n hart. Hy het self volwasse kinders en leef met hulle mee.

      Die oomblik raak lank uitgerek, spanningsvol, met ’n onderstroming van kloppende drif terwyl die twee jongmense stuwend op ’n antwoord wag. Sy voel die spanning, sy, Nellie Hasper. ’n Vrou met wye ervaring is sy nie, maar sy weet wat sy weet.

      “Jong, Manus, ek weet nou nie,” sê sy uiteindelik twyfelend. “Môre is soos ’n gewone werksdag by ons.” Anders as by julle, is haar onuitgesproke oordeel.

      “Ek sal vir Boet omkoop om vir Ma te help groente sny en kerf.” Boet hou veral daarvan om aartappelskyfies te maak, met die eenvoudige toestel wat dit netjies doen, hoewel dit iets van ’n kragvertoning verg. Groente voorberei is nogal iets waarmee haar pa ook soms help, met sy knipmes fyn en netjies op die kerfbord. Hy hou van tyd verwyl, want niks groters word van hom verwag terwyl hy hiermee besig is nie.

      Nellie laat toe dat Manus die skottel met groente vir haar dra. Hy is jonk en sterk en sy vaste greep maak Nellie se hulp opsigtelik onnodig. Dis asof hierdie feit die deurslag gee; asof hierdie vrou wat nog nooit die fisieke vermoëns van haar man of seun in haar eie huis wou erken nie, nou voor hierdie sterker krag van buite swig.

      “Nou laat ek nog ’n bietjie dink,” sug sy en kyk na Hantie, asof sy late hulp uit daardie oord verwag. Dat Hantie iets moet sê soos: Of dalk gaan ek liewer ’n ander naweek, as Ma my nie so nodig hier het nie.

      Die flitslig het Nellie reeds ter wille van besparing afgeskakel, maar daar is genoeg skemerlig oor om haar dogter se gesig te kan lees. Sy besef finaal dat sy aan die verloorkant is. Die mooi meisiegesig straal van blydskap. Dis asof haar oë en hare, haar hele wese, in hierdie oomblik blinker word, sagter. En Nellie draai weg van hulle, vroetel nog by die tafel, hoewel dit onnodig is. Die groentelowwe het sy reeds in ’n aparte houer vir die komposhoop gegooi.

      ’n Oomblik lank, egter, wou Hantie haar verbeel dat sy iets ontsettends op haar ma se gesig lees. Iets soos intense pyn, deurleefde leed … of vreesagtige verwagting.

      Intuïtief weet Hantie: Sy maak iets deur waarvan ek nie weet nie. Ek het nou net iets daarvan sien deurskemer. Wat kan dit wees? Laat dit tog niks wees in verband met my en Manus Bruwer nie, bid sy woordeloos. Waarom Nellie se uitgerekte handeling van die was van haar hande, byna ritueel, asof sy hulle spreekwoordelik in onskuld wil was?

      Sy kan tog niks teen Manus hê nie, of hoe? Almal was nog altyd bly wanneer hy kom kuier. Hy is aan die stil kant, maar nie bot nie. Hy dra ’n vriendelikheid in hom om, hy verlig enige geselskap met sy teenwoordigheid. Hy gedra hom nooit soos ’n haan onder die meisies nie, al was hy reeds op skool baie gewild. Met sy sagte bruin oë en lang, stil aantreklikheid – die effense flambojantheid van sy ma, die broeiende en tog boeiende voorkoms van sy pa, is hy in enige geselskap gesog. Hy het nie uitgeblink in sport, akademie of enigiets anders nie, en die onnies het hom bestempel as begaaf maar lui … goedig, want almal het van hom gehou.

      Die meisies, veral. Met sy lang ledemate en gewillige glimlag kon hy betower, en nou nog. Ek hoop tog my ma besef watter uitsonderlike voorreg dit is dat Manus juis in my, en net in my, belangstel, dink Hantie vir die soveelste keer. Dis nie sommer so vanselfsprekend nie. Die dorp wemel buitendien nie van hubare mans nie.

      “Hoekom gaan jy dan nie môre vroeg nie,” wil Nellie sonder opwinding weet, asof sy die oomblik wil uitstel waarop sy haar dogter tydelik moet afstaan.

      “Kan ek haar sommer vanaand saamvat, tannie? Ek is nie die vroegste onder die opstaners nie, dit moet ek erken.”

      “Ek het nie bedoel só vroeg nie, ek het gepraat van brekfis se kant.”

      “By ons is daar nooit juis brekfis nie, en op ’n Saterdag glad nie,” weer Manus haar sedig af.

      “Wat sê jy?” Nellie wend haar na Hantie. Haar blik probeer die uitstel afdwing.

      “Asseblief vanaand, Ma. Dis tog minder moeite, nie ’n dubbele ryery nie.”

      “Jy praat of Donkervlei ver van die dorp af is. Mens sien dan die bloekombome se toppe.”

      “Naby of ver, Ma, dis moeite.” Hantie voel moedeloos. Móét haar ma so moeilik wees? En om te dink Manus wou vanaand oor ’n moontlike huwelik praat, of dan ten minste ’n verlowing. Dit kon net ’n veel groter redenasie afgee.

      “Ek sal Ma eers klaar met die aandete help, en opwas.” Sy is immers gretig dat Manus die aantreklike kos moet sien wat sy berei het. Noem dit maar ’n soort privaat verlowingsete, al weet niemand anders dit nie.

      “Ek sal jou help,” bied Manus aan. Hy staan digby haar in die koel aandlug, met die skottel groente nog in sy hande. Hy is ’n kop langer as sy, en sy voel sy warm asem teen haar hare. Die naaste straatlamp het aangeflits en die dowwe lig tower een skaduwee op van hulle twee saam.

      As my ma nou nog nie weet of aanvaar nie, is dit tot haar eie nadeel, want sy gaan haar enigste dogter vervreem, besluit Hantie met ’n soort droewe trots. Haar hart voel so groot, so ruim, so tot barstens toe vol. Sy gaan by haar ou se mense kuier. Haar privaat verloofde. Sy is byna twintig. Sy is volwasse. Sy het lief en sy wil bemin word.

      “Doen dan maar soos julle moet doen,” sê Nellie. Dit klink neutraal genoeg, asof sy haar wil distansieer van enigiets wat kan skeefloop. Soos wat tog? Die Bruwers sal haar sekerlik nie in die hondehok opsluit nie.

      “Dankie, Ma,” sê Hantie sag. Sy ondervind ’n egte drang om haar ma op die wang te soen, maar dis nie gebruiklik in hulle huis om oor en weer lieftallighede uit te deel nie. Daarom betuig sy haar dank maar met die daad en begin dadelik tafel dek toe sy binne kom. Voor die televisie sit Dawie en Boet Hasper soos honger hondjies op wag. Hulle sal ook geen hand uitsteek om iets te help klaarmaak nie, dink Hantie vies. My pa sit altyd en rook, en Boet sit nuwe grappe en uitdink om te vertel, veral noudat Manus vir die vorige een gelag het. Maar nou ja, sy sal hulle alles vergewe as hulle maar net môre in haar afwesigheid met die groente help. Groente, groente, groente. Die alfa en omega van hulle bestaan.

      Asof hy die seun van die huis is en presies die roetine ken, loop Manus voor met die skottel groente en sit dit op die spenstafel neer. Hy neem selfs ’n opgevoude halfvuil tafeldoek wat eenkant lê, en gooi dit bo-oor. “Vir die los vlieg,” grap hy, want die vlieë, indien hier was, sou al gaan slaap het. Hy vrywe sy hande. “Reg, wat is volgende, wat sê die huisvrou?” vra hy in Nellie se algemene rigting.

      Hy kry nogal ’n skrams glimlagtrekkie as beloning.

      Hantie stop ’n handvol eetgereedskap in sy hande. “Messe regs en vurke links, hoor?” onderrig sy kastig kwaai.

      Sy bly naby hom staan en word bewus van die bekende reuk, van sigaret en manseep en gesonde lewe. Sy voorarms in die opgerolde hempsmoue is bruin en glad. Hy is nie die harige tipe soos haar pa en Boet nie. En hy is so netjies. Hy aard na sy ma. Die mense wat nie van Frieda Bruwer hou nie, sê sy kan so netjies en opgetof bly omdat sy alles laat doen en nie self werk nie.

      Sag klink die messegoed en borde. Sy gee aan, Manus dek. Dis of alles meteens so sag geword het, genadig. Voordat iemand dalk die oorhoofse lig in die hoë plafon kan aanskakel, sorg Hantie ongemerk dat sy die staanlamp tussen die kombuis en woondeel aansit. Die stil, gedempte gloed verberg hopelik die blos wat pal op haar wange gloei.

      Manus knik vir haar wanneer hy reken dat alles nou op hulle plek is. Dis papierservette maar darem nie die goedkoop soort nie, daarvoor het Hantie gesorg. Sy ys oomblikke lank dat haar ma met die kombuisskêr sal kom en almal in helftes knip, maar gelukkig gebeur dit nie. Dis asof almal haar en Manus vir hierdie klompie hierdie talmende oomblikke uitlos. Die televisie is nou sagter gestel, en klanklose beelde spring op die skerm rond. Haar pa is sy pyp aan ’t uitkrap en Boet lees in ’n landboutydskrif. Uit die hoek van haar oog merk sy dat hy die penmaatrubriek agterin lees. Boet soek ’n maat, dink sy, en ’n sonderlinge mededoë vul haar. Hy is, soos haar ma tereg sê, nie so aantreklik dat die meisies soos gerwe op die koringland voor hom val nie. Daarby is sy persoonlikheid aan die donker kant, wat op teenstrydige wyse in lawwigheid uiting vind.

      Noudat sy self liefhet, word haar hart taamlik maklik tot bewoënheid beweeg. Boet hou hom maar so vol grappe.