baie moontlikhede voor haar opduik.
“Nee, mevrou.” Hy lag verleë. “Daar by ons is vrouens skaars. Dit is …” Hy bly stil as hy besef wat hy nou wou sê.
“Hester sal jou wys waar jou kamer is. Dit is hier onder …” Sy beduie met haar hand in ’n rigting. “Jy kan jou maaltye saam met die ander huispersoneel neem.”
“Ek … ek kan nie dalk by meneer Conradie bly nie?” vra hy ongemaklik om nie ondankbaar te klink nie.
Sy kyk hom peinsend aan en sug dan liggies. “Dit lyk my julle is uit dieselfde hout gekap,” sê sy dubbelsinnig.
“Bo-op die stalle is ’n volledige huisie. Die vorige afrigter het daar gebly. Trek dan eers daar in. Hester kook vir die personeel en daar is ’n eetvertrek waar julle kan eet.”
Herman kyk vinnig na haar omdat sy dan nou so seergemaak klink.
“Ek is nie ondankbaar nie, mevrou, ek … ek is net rou en kom uit die bos uit. Ek doen verkeerde dinge en dan gee ek aanstoot.”
“Ek verstaan, my kind. Ons is egter nie almal koud en hovaardig nie. Onthou dit net!”
“Wat is my pligte, mevrou?”
“Dawid en Estie sal jou inlig. Dawid sal ook jou salaris en sulke goed reël. Ek … ek hoop jy sal gelukkig wees hier en ek hoop jou taak hou jou ’n rukkie hier by ons,” sê sy vriendelik. Sy lui ’n silwerklokkie op die tafel en na ’n paar minute kom Hester vinnig in.
“Hester, meneer Van Rensburg is nou in ons diens. Maak hom bietjie touwys. Hy gaan eers in Clive se huis bly. Hy neem sy maaltye saam met die ander personeel.”
Sy wag vir Herman en lei hom deur die huis tot in die kombuis. Sy beduie na die stoel. “Drink eers koffie, dan sal ek jou gaan wys waar alles is.” Sy wag nie vir ’n antwoord nie maar stoot die koffie oor die witgeskropte kombuistafel.
“Ek is jammer oor die onaangenaamheid netnou,” maak Herman verskoning. “Ek weet nie van sulke goed nie. By ons is almal by die voordeur welkom. ’n Mens sal dink ek het in die kraal rondgerol.”
“Ag, moenie jou aan haar steur nie, ek dink haar ma het geskrik toe sy klein was en sy moes toe suur melk drink, sy het nog nooit weer reggekom nie.” Hester klink so ernstig dat Herman dit uitskater van die lag en dan vinnig sy hand voor sy mond druk.
“Ek verstaan jy kom van Duitswes af. Dit is anders hier, kind. Hier tel status en geld baie. Ons is net werksmense en ons moet ons plek ken. Jy sal maar in die vervolg van die agterdeur gebruik moet maak.” Hester stoot die bord beskuit tot voor Herman. “Eet, kind, jy is so groot!” sê sy moederlik.
Na ’n rukkie stoot Herman sy leë koppie terug en staan op. “Dankie, tannie … e … Hester, nè?”
Sy knik en druk sy arm goedig as hy by haar verbykom.
Sy kyk hom diep ingedagte agterna. Sal die Goeie Vader nie gee dat hy verlief raak op Estie nie. Hulle is tog almal so lief vir die kind wat haar oupa met soveel liefde versorg. Sy sal ’n wonderlike vrou uitmaak vir enige man.
Op die boonste verdieping staan ’n ander vrou met presies dieselfde gedagtes toe Herman se groot gestalte in haar gesigsveld kom. Hy stap met lang, gemaklike treë oor die werf, en daar is iets so natuurlik en bekend in die beweging van sy liggaam, dat haar gedagtes sommer hul eie koers neem.
Die verlede is besig om homself te herhaal! Vandag toe sy hom daar in die voordeur sien, en die lig in Leana se oë, was dit soos ’n helder flits in haar verstand.
Hierdie keer sal sy veg vir die liefde! Hierdie keer sal sy geen steen onaangeroer laat nie. Sy sal al die sosiale norme en argumente doodeenvoudig verwerp en dit sal haar ’n bietjie troos vir al die eensame, vermorste jare.
Sy sug diep en vandag voel sy haar volle ag en sestig jaar. O, Dawid Conradie, jou hardkoppige, hardkoppige mens! ween haar hart. Dit kon so anders gewees het vir my en vir jou!
Amalia gaan sit op die stoel wat voor die venster staan sodat sy ver oor die wingerde kan uitkyk. Haar gedagtes hardloop soos gewoonlik terug op die ou uitgetrapte paadjie van vyftig jaar gelede. Vyftig lange jare.
Hulle het in die oestyd ontmoet. Die jaarlikse Druiwefees op Bordeaux. Dawid het net die vorige week teruggekom van Engeland af waar hy vir veearts gestudeer het, en sy was die mees gesogte en rykste meisie aan die Kaap.
Met die voortvarendheid van die jeug het niks anders saak gemaak nie. Hulle was van die eerste oomblik af verlief. Halsoorkop en hopeloos verlore.
Dawid het ’n sukkelende praktyk op die dorp begin. Al die geld wat hy geërf het, het hy gebruik om te gaan studeer en hy kon net die nodigste koop om hom toe te rus. Hy was egter so begeester en het so ’n natuurlike liefde vir die diere gehad dat niks harde werk of armoede sy geesdrif kon demp nie.
Sy het al hoe meer geleenthede gesoek om dorp toe te gaan en het dikwels onverwags daar gaan inloer. Die blydskap en verrassing op sy gesig was altyd genoeg beloning vir al die moeite wat sy moes doen om daar uit te kom.
Amalia het gou besef dat dit nie haar ouers se goedkeuring gaan wegdra nie. Sy kon kies en keur tussen die room van die Kaap en hulle het ander planne vir haar gehad.
Sy het onverwags ondersteuning van haar enigste broer gekry. Hy het haar oral heen saamgesleep en haar dan by Dawid se spreekkamer gaan aflaai.
Dawid het sommer die eerste jaar al op sy voete gekom en sy praktyk het gegroei. Hy het baie werk gehad maar min geld, want hy sou nooit aandring op betaling nie en dit het hom meer geliefd in haar oë gemaak. Sy was bereid om alles waaraan sy gewoond was op te offer en saam met hom te werk en sy kinders in die lewe te bring.
Siegfried, haar broer, het Dawid ’n paar keer uitgebring Bordeaux toe, gewoonlik saam met ander gaste sodat haar ouers nie suspisieus moes word nie. Dit was ook hy wat besluit het dat die tyd nou ryp is dat sy en Dawid haar ouers moet gaan sien.
Amalia bewe liggies as sy weer aan daardie aand dink, die verslaentheid op Dawid se gesig, die vernedering, soos vanoggend in Herman se oë.
“Dit is verregaande vermetelheid,” het haar vader getier. “Wat het jy om vir my dogter aan te bied? As jy dink jy gaan in ’n vet erfporsie instap om jou brandsiek praktyk aan die gang te hou, het jy dit baie ver verkeerd, jong man. Sy kan nie sonder my toestemming trou voordat sy een en twintig is nie en intussen verbied ek jou om haar te sien, en as sy dit sal waag om jou weer te sien, sal ek haar onterf en dit sal vir die res van jou lewe op jou gewete rus.”
Dawid het omgedraai en by die deur uitgestrompel en sy het huilend agterna gehardloop.
“Ek is lief vir jou …” het sy gesmeek. “Asseblief, moet my net nie alleen hier los nie. Ek sal saam met jou werk, en ek sal alles doen.”
Hy het haar styf teen hom vasgedruk. “Jy is nog nie eers een en twintig nie, my lief. Hulle sal jou kom haal en my in die tronk sit.”
“Ek sal vir jou wag … ek belowe …” Sy het snikkend aan hom vasgeklou. “Ek weet net nie hoe ek sal kan aanhou lewe as ek jou nie kan sien nie.” Sy moes toe al geweet het wat gaan gebeur. Dawid is so trots en so koppig!
Hy het haar styf teen hom vasgedruk en haar twee, drie keer gesoen voordat hy omgedraai het en ’n rukkie later het sy die perd se hoefslae gehoor.
Haar ouers het haar opgepas asof sy in ’n tronk was. Siegfried is nie meer vertrou om haar iewers heen te vat nie en sy was ’n gevangene in hulle huis.
Sy het darem briefies deurgesmokkel gekry deur Siegfried, maar nooit ’n antwoord ontvang nie.
Drie maande het so verloop voordat sy weer toegelaat is om dorp toe te gaan. Haar hart het so wild tekere gegaan dat sy bang was haar ma gaan dit hoor. Hulle het die oggend inkopies gedoen en Amalia was later bang dat sy gaan flou word van die spanning. Haar ma het die middag bietjie gaan lê en sy het haar kans waargeneem en behoorlik na sy spreekkamer gehardloop.
Daar was egter ’n ouer man … ’n dokter Vermeulen. Hy het Dawid se praktyk