haar. Dan is dit hoekom sy vandag bietjie uit haar sel kon kom. Haar ma het dit so beplan!
Sy het vasbeslote by haar ma se slaapkamer ingestap en die dodelike, yskoue woede het haar krag gegee. “Waar is hy? Dit is ma-hulle se werk hierdie.”
“Van wie praat jy, kindjie?” het haar ma onskuldig probeer wees, maar Amalia het nader gestaan en daar was iets so gedetermineerd in haar houding dat haar ma haar rug styf teen die bed se styl gedruk het om verder van haar af weg te kom.
“Ma moet luister en mooi luister ook! Ek gaan met Dawid Conradie trou sodra ek die dag een en twintig is en niks en niemand gaan my keer nie. Ek is liewer arm saam met hom as wat ek ’n huwelik soos Ma en Pa het, met al julle geld.”
Of haar ouers iets met die volgende verwikkelinge te doen gehad het, wou sy nooit probeer uitvind nie. Deur hulle te blameer het die pyn draagliker geraak.
Daar was ’n kort briefie van Dawid. Hy is getroud, met ’n eenvoudige boeremeisietjie wat by hom gepas het. Sy moet hom vergewe, maar hy kon nie haar lewe so verwoes nie, daarvoor was hy te lief vir haar.
Iets het in haar geknak. Sy het alle belang in die lewe verloor. Haar ouers het al wat hubare man is oorgenooi, maar vir haar was hulle soos skaduwees wat rondbeweeg het.
Sy weet dat Christiaan Vermeer, wat twintig jaar ouer as sy was, ook altyd iewers op die agtergrond was in daardie tyd. Wat haar betref, het hy egter vir haar ouers kom kuier, so min het sy belanggestel.
Haar pa het haar een aand laat roep. Hulle was almal daar. Haar pa en ma en Christiaan.
“Christiaan het ons gevra of jy … e … jy met hom sal trou?” Haar pa was ’n oomblik ongemaklik maar het homself gou reggeruk.
“Christiaan is ’n gevestigde man met groot sakebelange en die mooiste plaas in die distrik. Hy sal mooi na jou kan kyk, kindjie.” Haar ma het moederlik en liefdevol probeer wees.
Amalia het haar ma se hand ongeërg van haar arm afgeskud. “Weet Christiaan dat ek vir Dawid Conradie sal lief wees totdat ek die dag sterf?” het sy uitdagend gesê en vir Christiaan Vermeer vol in die oë gekyk.
As sy gehoop het dat sy hom sou skok, was sy verkeerd.
“Ek is ’n groot man, Amalia,” het Christiaan met ’n verdraagsame grinnik gesê. “Ek was reeds voorheen getroud, maar my vrou is vyf jaar gelede dood. Ek glo nie meer aan vreeslike onsterflike liefde en sulke onsin nie. Ek soek ’n vrou om vir my ’n erfgenaam in die lewe te bring, want ek het geen kinders uit my vorige huwelik gehad nie.”
Sy het hom met leë oë aangekyk en geknik. “Goed … solank ons mekaar net verstaan.” Daar was nie ’n greintjie gevoel in haar binneste nie.
Hulle is twee maande later getroud en Amalia het met genoegdoening die bekommernis en verwyt in haar ouers begin raaksien.
Christiaan was ’n gemaklike mens om mee oor die weg te kom. Hy was belese en interessant en sy perde was iets besonders. Hy het haar leer perdry en sy het gehelp met die afrigting van die diere en dit het tog haar dae weer bietjie meer lewe gegee.
Die volgende jaar is Anton, haar enigste kind, gebore. Hy was ’n sieklike kind wat nie eers sy dertigste verjaardag gehaal het nie. Hy het egter haar dae vol en mooi gemaak en al die liefde wat so in haar opgekrop het, het sy op hom uitgestort.
Anton is gelukkig vroeg getroud en kon darem vir Leana verwek. Sy vrou, Magda, was egter alles wat Amalia verwag het. Geldgierig en hoogmoedig!
Die teleurstelling is sommer weer brandend in Amalia. Leana aard so baie na haar ma! As sy tog maar liewer soos Estie kon gewees het! Hoeveel kere die afgelope drie jaar het sy dit nie al gewens nie.
Sy is egter lief vir Leana, want sy is bloed en haar bloed. Vanoggend toe sy omdraai, het sy die lig van belangstelling in Leana se oë gesien en het hierdie idee in haar begin ontkiem.
As Leana sinnigheid in die mannetjie kry en sy kan dit bewimpel dat hulle trou, sal Dawid weet dat sy nooit deel van daardie plan was nie. Dat sy bereid was om vir hom te wag en saam met hom swaar te kry. Hy is so koppig en so ordentlik! Sy kap vererg met haar hand op die stoel se leuning. Hy glo nou hy het dit alles vir haar beswil gedoen en sal nooit iets doen of sê sodat sy kan verduidelik nie.
Anton was seker al tien jaar oud toe sy Dawid weer vir die eerste keer gesien het. Hy het sy ou praktyk kom terugkoop en het weer hier naby haar kom bly. Sy voel nou nog die wilde klopping van haar hart toe sy hom weer van aangesig tot aangesig gesien het.
Sy vroutjie was ’n nederige soort mens, wat hard kon werk en haar nie veel aan dinge soos onsterflike liefde sou steur nie. Hulle het ook net een seun gehad wat so ’n bietjie ouer as Anton was.
Die dae het weer vir haar ’n kleur gekry. Elke keer as sy ingaan dorp toe, was die verwagting tog daar dat sy hom dalk sal sien. Sy lang, skraal gestalte het altyd vir haar uitgestaan in die grootste groep mense.
Hulle het nooit oor iets anders as die weer en alledaagse dingetjies gepraat nie. Toe Anton dood is, was Dawid ook by die begrafnis, maar het sommer daar van die begraafplaas af weer teruggegaan huis toe. Net haar hand styf in syne vasgehou vir een wonderlike oomblik en toe stil omgedraai.
Hy was daar toe Christiaan met die perd verongeluk het. Hy het die perd kom uitsit wat baie seergekry het, en net sy stille nabyheid het haar deur die hele wrede episode gedra.
Dit is eers vyf jaar gelede toe sy vrou dood is dat sy ernstig daaraan begin dink het om hom hier op Meerlust te kry. Twee jaar later was daar stories in omloop dat hy nou gaan aftree en sy praktyk gaan verkoop. Sy het gedetermineerd dorp toe gery, en by sy spreekkamer ingestap.
“Môre, Dawid.” Sy het beslis die deur agter haar toegedruk.
“Mevrou Vermeer!” Dawid het regop gekom en styf in haar rigting geknik.
“Jy moet vir jou belaglik hou, hoor!” Sy was sommer onredelik kwaad vir sy kastige edelheid.
Hy het haar verbaas aangekyk en daardie bekende vonkeltjies was skielik in sy oë en dit het haar moed gegee om aan te gaan.
“Sê weer vir my mevrou Vermeer en ek slaan jou met hierdie sambreel oor jou kop,” het sy dodelik ernstig gedreig.
Dawid het probeer ernstig wees maar toe uitgebars van die lag. “Wat kan ek vir jou doen, Amalia?” het hy vriendelik gevra en haar hart het soos ’n jong meisie s’n gebokspring.
“Ek verstaan jy tree af,” het sy sommer met die deur in die huis geval.
Hy het geknik en Amalia het liggies gebloos terwyl sy oë stadig en teer oor haar gesig en persoon gegaan het, asof hy elke lyn in sy gedagtes wou graveer.
“Ek soek iemand om na die perde se welstand te kom omsien. Jou kleindogter staan bekend as een van die beste afrigters in die kontrei. Asseblief, Dawid … ek het julle albei bitter nodig.” Sy het openlik gepleit en sy weet dat Dawid Conradie op daardie oomblik die bietjie geluk wat daar nog vir hulle oor kan wees, met albei hande vasgegryp het toe hy bevestigend knik en sonder ’n woord haar aanbod aanvaar.
Sy wou hulle so bitter graag by haar in die huis laat bly. Sy weet nie of dit Leana se houding is wat hom afgeskrik het en of dit maar weer net die Conradie-koppigheid was nie. Hy het egter op ’n plek van sy eie aangedring.
Net om hom hier naby haar te hê, is meer as wat sy voor kon gehoop het. Dit is wonderlik om hom hier te sien rondbeweeg. Sy dring daarop aan dat hy al die boerderysake met haar kom bespreek, al weet sy dat daar geen probleem sal kom nie, net om hom vir daardie paar minute alleen vir haarself te hê.
Sy weet hy geniet dit ook. Dit is sulke kosbare oomblikke. Daardie sekonde wat hulle oë mekaar langer gevange hou. Die ligte beweging van sy vingers teen hare as hy iets by haar aanvat. Die bekommernis in sy oë as sy siekerig is. Sy sluit haar oë en ervaar die saligheid daarvan.
Vandat Magda weer getroud is en in Switserland woon, het haar lewe ook weer normaal geword. Sy sou dit nooit gewaag het om vir Dawid hierheen te bring as Magda nog hier was nie. Sy sou hom met haar snobisme binne die eerste week verdryf het.