weer in die truspieël se rigting. Dié dat sy verlig voel toe hulle eindelik by die hotel op Springbok aankom. Dis makliker om haarself te wees tussen die ander toergangers.
Sy sorg dan ook dat sy en Jan deel word van Ben en Elsie se groep toe hulle die aand voor aandete in die sitkamer vergader. Maar toe hulle aan die etenstafel gaan sit, beland Peet en Bets regoor haar en Jan. Dit maak dat sy hom nie kán ignoreer nie, en noodgedwonge moet deelneem aan die geselskap. Maar sy kies haar antwoorde versigtig wanneer Peet haar iets vra, want sy bly deurentyd bewus van Bets se jaloerse geaardheid.
Ná ete ontmoet almal weer in die sitkamer. En sy wil amper glo dis uit pure moedswilligheid dat hý, en nie Bets nie, op die leë stoel langs haar kom sit. Sy het die tergliggies in sy oë opgemerk toe hy haar blik op hom betrap. Dit help nie ’n snars sy probeer haarself oorreed hy is ’n doodgewone man, en hy kan sit waar hy wil sit nie. Sy bly oorbewus van hom langs haar. Gelukkig is almal in ’n jolige luim, en sy sorg dan ook dat sy heerlik saamlag vir Ben se grappe, al voel dit naderhand of haar mond skeef gaan bly staan.
Teen halfelf staan Peet op. “Ek weet nie van julle nie, maar ek gaan nou slaap.”
“Ag, nee man,” gooi Bets wal. “Die aand is nog jonk. Ek is nog nie vaak nie.”
“Ek sê nie jý moet gaan slaap nie. Onthou net, môreoggend is dit weer vroeg opstaan.”
’n Rukkie later staan Alet ook op. “Ek gaan ook nou inkruip. My oë wil nie meer oopbly nie.”
“Ja, ek dink dis vir my ook slaaptyd,” sê Jan. “En jy, Bets?”
“Nee, gaan slaap julle maar. Ek kuier nog heerlik.”
Op pad na hul kamers loop hulle Peet in sy kamerjapon in die gang raak, sy hare nog nat van die stort wat hy geneem het. “Waar is Bets?” vra hy. “Is sy nog in die sitkamer?”
“Ja, sy kuier nog lekker saam met die ander,” sê Jan voordat hulle mekaar ’n goeie nagrus toewens en hy saam met Peet verder loop na die kamer wat hulle deel.
Dit help nie om dit te ontken nie, dink Alet by haarself toe sy in die bed klim. Peet maak iets in haar wakker. Sy sal versigtig moet wees, want Bets is ’n fyn waarnemer. Dit kan net tot moeilikheid lei as sy toelaat dat haar emosies met haar die loop neem.
Sy raak gou aan die slaap, maar skrik dadelik wakker toe die kamerlig aangaan. “Waar kom jy nou vandaan?” vra sy verstom vir Bets met haar oog op die horlosie wat wys dis amper drie-uur in die oggend.
“Wat traak dit jou waar ek was?” vra Bets met ’n tong wat sleep. “Ek is nie van plan om my vakansie om te slaap soos jy nie!”
’n Verslaentheid oorval Alet toe sy sien Bets struikel oor haar tas op die vloer. Sy het sweerlik te veel gedrink! Dis die eerste keer dat sy haar vriendin só sien. Maar sy weet instinktief dis nie nou die tyd vir berisping nie, dus keer sy haar rug op Bets sodat dié moet glo sy slaap verder.
Opstaantyd is dan ook ’n stryd om haar wakker te kry. Al kreunende en protesterende sit Bets darem later regop in die bed. “Het jy nie iets vir my kop nie? Dit voel of dit wil bars!”
“Hier is vir jou twee hoofpynpille. Drink dit. Ek hoop jy’t jou les geleer.”
“Dankie, jong. Wat sou ek sonder ’n vriendin soos jy gemaak het?”
“Hopelik jouself nie aan drank oorgegee het nie.”
“Luister, ’n mens is net een keer in jou lewe jonk. Ek hoop nie jy gaan vir die ander vertel ek was dronk nie!”
“Hoe ken jy my? As ’n skinderbek?”
“Nee, ek sê maar net.”
Alet kan haar maar net verwonder oor Bets. Want aan die ontbyttafel is sy weer net so sprankelend soos altyd. Vrolik en vol kwinkslae dat jy beswaarlik sal glo sy’t weinig meer as drie uur se slaap agter die rug. En so lieftallig teenoor Peet dat Alet haar gewaar word van ’n tikkie afguns. Hy blyk nie so lieftallig teenoor Bets te wees nie, maar nou ja, dis nie alle mans wat hul gevoelens vir ’n meisie openlik wys nie.
Hulle is kwalik in die voertuig en op pad, of Jan se tergery dwing Alet om aan ander dinge te dink as aan Bets en Peet se danigheid met mekaar. Want hy skuif ineens tot teenaan haar, en wil kamma weet of enigiemand haar al vertel het hoe mooi sy is.
“Nee, nog nooit!” speel sy lugtig saam.
“Dan wil ek die eerste wees om dit vir jou te sê. Jy’s nie mooi nie, jy’s sommer pragtig!”
“Dankie vir die kompliment.”
“Hoe is dit dan dat jy nog nie getroud is nie?” wil hy weet. “Het jy ’n liefdesteleurstelling gehad?”
“Nee. Ek het maar nog net nie ’n man raakgeloop wat my wil hê nie.”
“Sy jok,” antwoord Bets van die voorste sitplek af. “Sy kon lankal getroud gewees het as sy minder puntenerig was, en haar ma nie so ’n kwaai tannie was nie.”
“Nou wat verwag jy dan eintlik van ’n man?” vra Jan.
“Niks. Ek soek nie ’n man nie.”
“Nie eens so ’n gawe ou soos ek nie?”
“Nee, beslis nie. Jy’s te laf en verspot.”
“Wat dan van ’n sedige ou soos ou Peet?”
Sy kyk half onbewustelik truspieël toe, en verbeel haar weer eens sy hoor haar nekwerwels kraak toe sy haar kop wegruk van die paar laggende oë in die weerkaatsing van die spieël. “Ag, stop nou jou lawwe praatjies, man. Ek sê jou mos ek soek nie ’n man nie.”
Sy gekorswil met haar hou egter aan totdat Peet hulle daarop attent maak dat hulle nou Helsekloof binnegaan. Dis ’n nou paadjie en sleg verspoel. Alet kan nie help om Peet se bestuursvermoë te bewonder toe sy sien hoe behendig hy die slegte slaggate mis nie. Op ’n plek hou hulle ook eers stil om die petrogliewe langs die pad te bekyk.
“Dis ’n soort Boesmankuns,” verduidelik Peet aan haar toe hulle by die plat klippe met die graverings gaan staan. Sy weet nie hoe dit gebeur het nie, maar Bets en Jan het skielik tussen die ander toergangers weggeraak. Om alles te kroon kry hy haar onverwags aan die hand beet en trek haar nader om langs hom te hurk. “As jy mooi kyk, sal jy sien hierdie gravering lyk na ’n donkie.”
“Ja, ek sien,” sê sy en trek vinnig haar hand uit syne.
“Hierdie een lyk na ’n bobbejaan.”
“En daardie een is ’n voël of iets. Seker ’n volstruis,” raak sy ook geïnteresseerd.
Toe hulle ’n rukkie later terugklim in die voertuig, kyk sy vinnig na haar hand. Sy was nie naby ’n vuur nie, maar dit brand soos warm kole. Heng, sy sal versigtig moet wees. Die mansmens is besig om haar verstand te bekonkel.
“Is ons nou naby die Richtersveld?” vra Bets toe hulle weer op die vlaktes kom.
“Nee,” sê Peet. “Dis nog ’n hele paar uur se ry voordat ons die Richtersveld binnegaan.”
“Dan gaan ek nou eers ’n uiltjie knip.”
“Ek ook,” sê Jan.
Alet wonder wat haar te doen staan. Sy is niks vaak nie, maar as Jan en Bets albei slaap, sal sy ook maar maak of sy slaap. Dog, op ’n keer toe sy in die truspieël loer, en Peet haar blik vang, sê hy dadelik: “Ek het gedag jy slaap nie. Jy beter met my gesels, anders raak ek ook aan die slaap en ry van die pad af.”
“Ek het nog nie klaar geslaap nie. Jy kan mos sing om jou wakker te hou.”
Hy lag. “Ek sal sing as jy saamsing.”
“Ek is vals.”
“Ek glo jou nie. Hulle sal nie vals mense in ’n kerkkoor laat sing nie.”
Sy frons. “Hoe weet jy ek sing in ’n kerkkoor?”
“Bets het my vertel.”