ook terug, twyfel ek of ons twee se paaie weer sal kruis. Ek kan nie dink dat ek as ’n droë, oninteressante wetenskaplike iets te sê sal hê vir ’n beroemde sangeres nie.”
Sy oë priem in hare. “In elk geval, as jy dalk eendag weer met ou vriende wil kontak maak, of net laat weet hoe suksesvol jy is, kan jy my deur oom Alwyn opspoor. Hy sal altyd weet waar ek my bevind. Alle voorspoed met die maanlanding.”
Oom Alwyn kyk hom verbaas aan. “Die maanlanding? Wat beteken dit?”
Neil se oë het nog nie ’n oomblik van Deidre se gesiggie gewyk nie. Hy glimlag nou, ’n harde glimlaggie, en sê in daardie veraf stemtoon: “Deidre weet waarvan ek praat.”
Deidre weet dat sy so gou moontlik hier moet wegkom. As sy ’n sekonde langer na hierdie vreemde, kille, haatlike Neil, so heeltemal anders as die Neil waaraan sy gewoond is, moet luister, sal iets in haar breek. En sy sterf liewer as om hom die bevrediging te gee dat hy moet sien hoe diep sy woorde haar seermaak. Haar lippe is styf en haar keel pyn van ingehoue snikke toe sy antwoord.
“Dankie. Ek sal aan jou dink … wanneer ek op die maan aankom.”
Hy buig spottend, formeel.
“Dankie … maar ek twyfel of jy my dan nog sal onthou.”
Sonder ’n verdere woord of ’n enkele terugblik na oom Alwyn, stap Deidre die kantoor uit, gevolg deur haar nuwe bestuurder, en nie een van die mans dink eens daaraan dat hy Deidre sonder ’n groet volg nie.
Toe Deidre in haar motortjie klim en die deur hard toeklap, weet sy dat sy die laaste stap geneem het, weet sy dat sy enkele sekondes gelede finaal afskeid geneem het van ’n fase in haar lewe. ’n Deur het agter haar toegeklap. Al wat vir haar oorbly, is om vorentoe te gaan … en te hoop vir die beste.
3
Die huishulp draai om na die meisie in die bed.
“Sal ek die gordyne laat oopstaan of moet ek dit ’n bietjie toetrek?”
“Trek dit ’n bietjie toe, Lucy, asseblief. Die lig is te skerp vir my oë. Wanneer het die dokter gesê kom hy weer?” vra die meisie in ’n krakerige stem.
“Vyfuur se kant. Dis oor ’n halfuur. Is daar nog iets wat ek vir juffrou Deidre kan doen of bring?”
“Nee dankie, Lucy. Geniet die aand. Ek sal heeltemal goed regkom. Meneer Norman sal ook netnou hier wees.”
“Ek gee glad nie om om te bly nie, juffrou Deidre. Juffrou lyk vir my glad nie goed nie,” laat die jong bruin vrou hoor, maar Deidre is baie beslis.
Toe die deur eindelik agter Lucy toegaan, lê en luister Deidre hoe haar voetstappe wegsterf. Die stilte sak swaar op haar toe. Sy lê roerloos met geslote oë.
’n Eensaamheid soos sy nog selde die afgelope tyd ervaar het, neem skielik van haar besit. Van ver onder kom die geluid van die woelige verkeer van die Goudstad dof na haar toe aangeswewe, maar hier bo in haar woonstel is dit stil en eensaam. Meteens voel sy ontsettend alleen, amper verlate, en sy wens dat sy Lucy se aanbod om by haar te bly, aangeneem het. Tot haar eie verbasing voel sy skielik trane in haar oë opwel. Wat sou haar makeer om skielik aan die grens te wil gaan? dink sy ontsteld. Maar diep in haar hart weet sy hoekom die trane so maklik, asof vanself, in haar oë opwel. Haar senuwees is aan flarde sedert sy griep opgedoen het. As sy net nie so ellendig gevoel het nie! As daar net die geringste teken van beterskap wil kom, maar dis nou al meer as ’n week dat die griep haar in ’n knelgreep beethet en ten spyte van die beste doktersbehandeling, lyk dit nie asof sy baie gou gaan herstel nie. En sy moet. Sy móét!
Onder die laken lê haar gestaltetjie, wat die afgelope week nog kleiner geword het, soos ’n gespanne boogsnaar. Sy besef dat sy haar gedagtes van hierdie onderwerp moet wegkry, anders gaan sy nog ’n senuwee-instorting kry. En dan sal alles werklik verlore wees. Maar waaraan kan sy dink wat haar sal kalmeer?
Doelbewus dwing sy haar gedagtes in ’n ander rigting en probeer die fyn stekies in haar keel ignoreer. Haar gedagtes dwaal terug oor die lang pad wat sy gekom het. Miskien is twee jaar nie so lank nie, maar vir haar wat van die onderste sport moes opklim, was dit ’n lang pad. Tog het sy dit gedoen, dink sy nou met trots. Dit was ’n harde twee jaar wat agter die rug is. As dit nie vir Norman was nie, twyfel sy of sy op eie krag en met eie deursettingsvermoë dit so ver sou gebring het.
Sy het ’n ander Norman Zietsman leer ken nadat hulle in Johannesburg aangekom het. Dikwels het hy haar in trane gehad. Dikwels wou sy daar en dan haar goedjies inpak en na haar ou lewe terugvlug. Dikwels het sy hom in haar woede en magteloosheid ’n slawedrywer genoem. Daar was selfs oomblikke dat sy hom gehaat het. Dikwels het hulle verskriklike rusies gehad. Maar nie een van hierdie dinge het Norman Zietsman van koers gebring nie. Deidre Retief sou die hoogtes bereik en hy was die man wat sou toesien dat dit wel gebeur. Sy het nie oornag beroemd geword nie. Daarvoor was haar stem nog te onontwikkel. Lang, uitputtende ure van oefen en nogmaals oefen het gevolg, en stadig maar seker het haar ster begin styg, al hoër en hoër totdat dit nou, twee jaar later, amper bo is. Oor ’n bietjie meer as ’n week sal dit die hoogtepunt bereik – as sy gekies word om Suid-Afrika by die Internasionale Sangfees in Milaan, Italië, te verteenwoordig.
Binne-in Deidre voel sy hoe haar hart van vrees saamtrek. Vir haar sal dit genoeg wees om net een keer oorsee te sing. Vir haar sal dit genoeg wees om haar land by so ’n groot internasionale sangkompetisie te verteenwoordig. Vir haar sal haar ster dan sy toppunt bereik het.
Maar reeds het Norman nuwe visioene begin sien van ’n veel groter firmament as die klein Suid-Afrikaanse hemelruim waarin haar ster tot dusver rondgesirkel en al hoër gestyg het. Reeds het hy begin sien hoe haar ster nog hoër kan klim buite haar land se hemelruim. Deidre moes internasionale status bereik. Haar ster moes ook aan die internasionale firmament begin vonkel.
Sedert die kritici Deidre Retief aangewys het as die moontlike wenner van die gesogte prys en om haar land in Milaan te gaan verteenwoordig, is dit asof Norman ’n bietjie berserk geraak het. Hy het net een doel voor oë, dink net aan een ding: Deidre moet sorg dat sy daardie toekenning kry.
Die afgelope weke kon hy oor niks anders praat nie, en het hy Deidre soos ’n regte slawedrywer gedryf. Hy het nie eens opgemerk dat sy maerder en kleiner word, dat die blou oë groter en dieper in die te skraal gesiggie weggesink het nie. Daarom is dit seker ook nie vreemd dat die ligte aanval van griep wat deur ’n ander mens ná enkele dae maklik afgeskud sou gewees het, tot ’n ernstige graad in Deidre ontwikkel het nie. Sy was te afgemat, haar gestel deur die ure lange, moordende geoefen te afgetakel om weerstand te kon bied teen die siekte wat eers as ’n ligte verkouetjie sy verskyning gemaak het, maar later elke dag in felheid toegeneem het.
Eindelik moes Norman erken dat Deidre werklik siek is en ’n dokter is ontbied. Hy het haar dadelik bed toe gestuur met die ernstige waarskuwing dat sy haar baie goed sal moet oppas, want haar gestel is hopeloos verswak. Hoe sy ook al ter wille van Norman probeer het om gesond te word, kon sy tot dusver hierdie frustrerende moegheid nie van haar afskud nie. Norman het die afgelope dae in haar woonstel geboer, maar hy was nie ’n oomblik stil nie en sy rustelose dwalery deur die vertrek het haar senuwees elke minuut nader aan breekpunt gebring. Hoewel hy dit nooit gesê het nie, het sy die verwyt en beskuldiging in sy oë gelees: Hoe kan jy nóú, op hiérdie tydstip, siek raak?
Sy kon hom net magteloos lê en aankyk sonder enige verweer, want as iemand dan wel skuld hieraan het, is dit hý wat haar genadeloos voortgedryf het sodat sý ambisie verwesenlik kon word. Want dit het Deidre hierdie afgelope dae in die bed besef: Norman se ambisie is nie hare nie.
Die eerste keer in twee jaar is sy tot stilstand geruk en het sy baie tyd gehad om te dink en selfondersoek te doen. Tot haar eie verbasing het sy besef dat sy self geen begeerte het om ’n internasionale sangeres te word nie. Alle mense se kapasiteit vir roem is nie dieselfde nie, het sy meewarig besluit. Die roem wat sy tot dusver behaal het, is vir haar genoeg, bevredig haar. Sy ken haar eie beperkinge. Iets binne-in haar vertel haar dat sy nooit die standaard van ’n internasionale sangeres sal bereik nie. Sy is ook geensins ongelukkig oor daardie feit nie. Die roem en sukses wat sy reeds behaal het, het haar stoutste