sug na roem. Dikwels gedurende hierdie afgelope dae het sy op die punt gestaan om met hom daaroor te praat, om hom te vertel dat sy daardie nuwe horison wat hy vir haar gestel het, nooit sal kan bereik nie. Maar elke keer het die woorde in haar keel vasgesteek. Sy het by voorbaat geweet dat dit hopeloos sou wees.
En sy het bang geword, bang dat hierdie man wat haar in der waarheid van niks af opgebou het, haar ook uiteindelik sal vernietig. Maar sy het nie die krag en morele moed om iets aan die saak te doen nie. Soos sy jare lank vir Neil Maritz geluister en toegelaat het dat hy haar lewe reël, so het sy Norman die afgelope twee jaar toegelaat om vir haar te dink, te besluit.
Daar verskyn nou ’n wrang glimlaggie om haar mond. Sy het daardie dag aan Neil gesê dat sy van nou af op eie bene gaan staan. Maar dit was nie so nie. Sy het maar net Neil vir Norman verruil. Dit was Norman wat haar kontrakte nagegaan het, dit was Norman wat besluit het watter uitnodiging sy sal aanneem en watter sy sal afwys. Hy het selfs besluit watter aandrok sy by watter geleentheid sal dra. Nie dat sy een oomblik in opstand daarteen gekom het nie. Sy was maar te dankbaar dat sy ’n kenner soos Norman gehad het om haar in die kunstenaarswêreld touwys te maak. Sy het so ’n beskermde lewe gelei tot daardie dag dat sy saam met hom na Johannesburg vertrek het, dat sy maar te bly was dat daar iemand soos Norman Zietsman was wat die pad vir haar gelyk kon maak.
Soos met Neil, het sy uit die staanspoor in die gewoonte verval om te doen soos wat Norman sê. Ook toe hy drie maande gelede voorgestel het dat hulle verloof raak, het sy ingestem. Daar was geen ander man in haar lewe nie. Daarvoor was sy te besig. Daar was tot dusver net nog geen tyd om enige ander man goed te leer ken nie. Dit was vanselfsprekend dat sy en Norman later ’n intiemer verhouding sou aanknoop. Indien sy wel gekies word om na Milaan te gaan, sal hulle trou voordat hulle daarheen vertrek, want natuurlik moet Norman saamgaan. Dit was ondenkbaar dat sy alleen oorsee sou gaan.
’n Geluid by haar kamerdeur trek haar aandag van haar gedagtes weg en sy probeer glimlag toe die dokter binnestap.
“Hoe gaan dit vanmiddag? ’n Bietjie beter?”
“Ek weet nie wat om te sê nie, dokter. Dit is dan of daar geen verbetering hoegenaamd wil intree nie,” antwoord sy met ’n hees, krakerige stem, wat die dokter diep laat frons.
“Sulke dinge neem tyd om reg te kom, juffrou Retief. Jy sal geduldig moet wees. Om nou oorhaastig te word kan groot skade aan jou stem veroorsaak. Jou stembande is kwaai aangetas. Jy moet so min moontlik praat.”
Sy knik net en ná ’n rukkie, nadat hy haar weer deeglik ondersoek het, kom hy orent en laat sy stetoskoop sak.
Sy oë kyk ernstig in hare af.
“Daar is darem ’n baie geringe beterskap hoorbaar in jou bors.”
Die blou oë kyk diep bekommerd na hom op.
“Maar hoe lank nog, dokter? Ek moet oor ’n week kan sing!”
“Oor ’n week sal jy nog in die bed wees, juffrou. Dit spyt my. Meneer Zietsman het my vertel van volgende week se groot okkasie, maar ek is bevrees jou stem sal dan nog nie reg wees nie, behalwe as daar ’n wonderwerk gebeur.”
Hy sien die verslaentheid op haar gesiggie en vervolg vinnig: “Ons kyk maar hoe dit volgende week gaan, juffrou. Pas jouself maar intussen baie, baie goed op.”
Deidre voel skuldig oor die gevoelens wat die dokter se skeptiese uitkyk op haar kanse vir herstel teen volgende week in haar opgewek het. In plaas daarvan dat sy ’n gevoel van ontsettende teleurstelling ervaar, is dit eerder ’n gevoel van verligting. Sy sug saggies by haarself toe die dokter vertrek en sy weer alleen is. Sy kan dit maar reguit aan haarself erken: sy is ’n lafaard. Of moet sy op ’n ander plek die oorsaak soek vir hierdie onwilligheid om aan die sangfees in Milaan deel te neem?
Onwillekeurig gaan haar gedagtes terug en op hierdie oomblik hoor sy Neil Maritz se stem duidelik na haar kom: “Maar pas op, Deidre, dat jy nie ook eendag, wanneer jy eindelik die maan bereik, vind dat dit in werklikheid kaal en bar, ru, onvriendelik en … eensaam is nie.”
Kom sy dalk nou tot daardie ontdekking? ’n Ligte siddering trek deur haar. Is die bietjie roem en al die kollig wat die afgelope tyd op haar geval het, al die opofferings van die verlede werd? En noudat sy eindelik aan die bopunt van die leer is, is dit nie waar dat dit eensaam hier bo is nie? Ondanks soveel bewonderaars, ondanks die feit dat sy die gewildste sangeres in die land is, ondanks die feit dat sy Norman Zietsman se verloofring aan haar vinger dra, bly daar dalk tog iets binne-in haar onbevredig? Voel sy ondanks al die aandag en bewondering en sukses dalk tog alleen?
Daar is Norman … Hoekom is daar die afgelope tyd soveel onsekerheid in haar hart? Hoekom die twyfel of hy haar werklik liefhet om haarself en nie om haar sang en roem en die prestige en geld wat dit meebring nie? As daar iets moet gebeur … Veronderstel dat sy eendag nie meer kan sing nie, of van haar troon afgestoot word deur ’n talentvoller kunstenares, sal Norman Zietsman nog beweer dat hy haar liefhet? Sal hy nog in haar as mens belangstel – of stel hy bloot in haar as sangeres belang?
Sy roer onrustig en weer raak sy intens bewus van die benoudheid in haar bors en die fyn stekies in haar keel. Wanhopig probeer sy wegbreek van hierdie morbiede gedagtes af. Sy jaag nou net spoke op. Dis maar net omdat sy op die oomblik so ellendig siek en swak en magteloos voel dat sy sulke negatiewe gedagtes begin optower. Wanneer sy oor ’n paar dae gesond is, sal sy vir haarself lag dat sy toegelaat het dat sulke verspotte vrae ooit by haar opgekom het.
Toe Norman ’n paar minute later haar slaapkamer binnestap, ontvang hy ’n breë glimlag van sy verloofde en sy oë helder op.
“Te oordeel na daardie glimlag, voel jy vanmiddag baie beter,” merk hy op en buk en soen haar vlugtig op die voorkop.
Met suiwere wilskrag hou sy die opgewekte glimlag om haar lippe en antwoord: “Ja, baie beter. Dokter sê daar is ’n verbetering. Ek is op pad na herstel.”
Hy toon sy verligting baie duidelik. “Ek is baie bly om dit te hoor, my skat. Ek was in ’n stadium baie bekommerd. Maar nou is alles reg. Volgende week skiet jou ster die hemelruim in!”
Sy lê en luister met ’n glimlag om haar lippe terwyl hy opgewonde voortpraat, maar binne-in haar voel sy hoe dit donkerder en donkerder raak. Sy kan hom nie nou teleurstel nie! Sy durf dit nie doen nie! Hy vestig al sy hoop op aanstaande week. Sy sal net eenvoudig aanstaande week móét gesond wees! dink sy paniekerig.
Dis deur blote wilskrag dat Deidre ’n week later uit haar bed opstaan. Dit lyk asof die ligste windjie haar kan omwaai, maar sy doen haar uiterste bes om almal ’n rat voor die oë te draai. Net dokter Beneke kan sy nie flous nie. Die eerste keer sedert hul kennismaking praat hy baie streng met haar.
“Juffrou, jy hoort nog in die bed, en jy weet dit so goed soos ek. Jy is besig om jouself te dwing. Ek waarsku jou vooraf dat ek geen verantwoordelikheid gaan aanvaar as daar iets met jou gebeur nie.”
Deidre besef dat dit nie sal help om voor hom toneel te speel nie. Sy ontken ook nie sy bewering nie. Sy voel nog ontsettend siek en swak en binne-in haar is ’n bewerasie wat nie ’n oomblik stil is nie. Sy draai nou in wanhoop na hom.
“Maar ek móét môre sing, dokter! Dis die hoogtepunt van my loopbaan! Probeer verstaan, asseblief! Ek kan nie nou siek wees nie!” Haar stem breek. “Daar is nie nou tyd nie!”
“Siekte het nie tyd nie, juffrou. Siekte pas nie by jou aan nie; jy moet jou by hom aanpas. Besef jy dat jy jou stem ontsettende skade kan aandoen as jy môreaand gaan sing? As jy nou ’n koue moet opdoen, sal ek geen geld op jou verwed nie. Die weer het juis so guur geraak van gister af.”
Sy blik rus bekommerd op die ingevalle, bleek wange. “Ek oordryf nie, juffrou. Ek is baie, baie ernstig. Jy kan nie môreaand gaan sing nie!”
Sy sprei haar hande magteloos oop.
“Ons … ons kyk maar hoe dit môremiddag gaan. Sal dokter weer môremiddag omstreeks vyfuur kan kom?”
“Ja, ek sal.” Hy neem sy swart dokterstas op en sug sag. “Totsiens, juffrou. Net nog dit: Ek wil nie prekerig klink nie, maar onthou – niks,