julle albei huis toe, asseblief,” beveel sy streng. “Nie een van julle kom in nie.”
Kevin probeer haar voorkeer toe sy die deur wil oopsluit. “Waarom gaan jy weg? Waarheen gaan jy?”
Sy druk by hom verby. “Ek gaan terug Suid-Afrika toe, oor ’n maand. Gee asseblief nou pad. Ek sal jou môre alles vertel.”
“Bye. Lekker baklei,” hoor sy Thomas sê, en hy verdwyn by die trappe af.
“Ek het lank vir jou gewag,” kla Kevin met ’n martelaarstem.
“Waarom? Jy het mos gesien ek is uit. Jy moes huis toe gegaan het.”
Sy hand sluit om haar boarm. “Jy skuld my ’n verduideliking. Waarom het jy met daardie vrouejagter uitgegaan?”
Sy sug ergerlik. “Los my, Kevin. Daar is geen rede waarom ek aan jou verantwoording moet doen nie. Gaan slaap nou. Ek is te moeg om jou vir koffie te nooi, en môre moet ek soos gewoonlik vroeg opstaan.”
Hy los haar en storm weg, by die trappe af. Brenda voel sleg oor die onderonsie, maar sy besitlikheid kan sy eenvoudig nie meer verduur nie. Sy gaan net môre kennis gee en haar plek op die vliegtuig terug Suid-Afrika toe bespreek.
5
Brenda is skoon op haar senuwees terwyl sy wag om voor die komitee van die Departement Ginekologie en Verloskunde te verskyn. Dis weer die ou bekende gebou, met mense wat sy ken en groet en wat haar terug verwelkom en tuis laat voel. Selfs die reuke is bekend, en die vriendelike deurwagte by die ingange het haar sowaar herken. Dis asof sy nooit weg was nie.
Die komitee gaan haar aan ’n mondelinge kruis- en ondervraery onderwerp en sy sal haar storie moet ken. Sy stuur ’n smeekgebedjie op, haar hande inmekaargeklem. Al ken sy hulle reeds, weet sy dat dit streng gaan wees en dat die standaard hoog is. ’n Ander kandidaat is nou voor die komitee en sy het gelukkig tyd om te dink.
Sy kyk by die venster uit na die binneplein, die kafeteria en die koshuise in die verte. In daardie Huis Francie van Zijl het sy jare lank gebly en hard geswot. Nou het sy ’n dorpshuis in Loevenstein gekry, maar as sy nie vandag slaag nie, sal sy dit moet prysgee. Rolf het haar verseker dat sy altyd by sy praktyk op Stellenbosch kan kom aansluit, en sy is diep dankbaar vir dié vangnet indien sy val.
Eben wou nie saam terugkom nie, want hy wil nog vir minstens ses maande die groot salaris in Engeland verdien. Die probleem is net dat die lewenskoste daar so hoog is; dit sluk in elk geval baie van dié verdienste in. Nogtans het sy dit reggekry om heelwat te spaar.
Kevin het daarop aangedring om saam te kom na die lughawe om haar weg te sien, en hy het belowe dat hy nog vir haar in Suid-Afrika gaan kom kuier.
Thomas is besluiteloos oor sy toekoms, maar sy kry tog die indruk hy is uitgekuier met Londen, en veral met die jong dokter wat, soos hy beweer, haar kloue in hom wil slaan. Hy is net so bang vir ’n verbintenis soos sy wat Brenda is.
Die deur gaan oop en die ander kandidaat kom uit. Sy lyk vir Brenda taamlik bleek en bedremmeld.
“Was dit erg?” vra Brenda simpatiek.
“Sjoe, ek dag ek sneuwel. Hulle het my onder kruisverhoor geneem. Dis die ergste mondeling wat ek al ooit beleef het. Ek kan jou net sterkte toewens.”
Brenda byt op haar lip. As sy vandag faal, sal dit die eerste keer in haar lewe wees dat sy nie slaag in wat sy aanpak nie. Dit sal haar beslis nederigheid leer.
Sy bid weer soos sy haar hele lewe lank voor eksamens bid, met haar oë toe en haar hande teen mekaar.
“Dokter Wiechers,” laat ’n stem haar skrik en sy maak haar oë oop.
Dis professor Aucamp en hy glimlag vir haar. “Kom maar binne.”
Die volgende uur veg sy vir haar loopbaan en toekoms. Hulle peper haar met vrae, maar sy kan alles beantwoord. Sy vergeet skoon om senuagtig te wees, want haar kennis is blykbaar darem toereikend om hulle tevrede te stel.
Nogtans voel haar bene taamlik lam toe sy uitstap. Hulle sal haar die uitslag laat weet, en die wag gaan baie spanning meebring. Intussen sal sy teruggaan na Rolf en Lisa op Stellenbosch, wat haar moreel ondersteun.
Asof in ’n waas loop sy uit op die parkeerterrein en na haar geel Volksie. Sy sien niks en niemand raak nie. Die vrae en haar antwoorde maal deur haar kop.
Haar deur is halfpad oop toe ’n groot, silwer Mercedes baie vinnig by die parkeerplek langs hare intrek, sodat sy skrik, haar deur toeklap en teen die Volksie terugkrimp.
Wie is so onverskillig en haastig? dink sy ergerlik.
Die man wat uitklim, slaan haar asem skoon weg.
“Ekskuus, ek het jou amper te laat raakgesien,” hoor sy Charl Naudé se diep stem sê. “Dis van skone haastigheid.”
Sy staar hom aan en hy frons. Hy staar terug. “Maar my magtig, dis mos Brenda Wiechers. Wat maak jy hier?”
Waarom doen haar hart nou sulke snaakse toertjies en is sy so kortasem?
“Hallo, Charl. Ek is terug en het so pas vir my mondeling voor die ginekologie-keurkomitee gegaan. Dit was nogal senutergend.”
Hy kom om die motor gestap, asof hy vergeet het dat hy haastig was.
“Nou toe nou. Ek moet seker vir jou duim vashou, nè?”
Hy steek sy hand uit en sy neem dit. Die aanraking oorstuur haar amper. Hy los nie dadelik haar hand nie.
“Ja, asseblief. Dis die eerste dag van die res van my lewe. As ek nou verkeerd draai by die vurk in die pad … weet ek nie.”
Hy lag en kyk na die Volksie se naam in rooi geverf. “Skigtige Saartjie, nè?”
Dan besef hy blykbaar waar hy is. “Hemel, verskoon my tog. Ek is laat vir ’n belangrike afspraak.”
Vinnig maak hy sy kattebak oop en haal ’n aktetas uit.
“Sterkte en voorspoed, Brenda. Ek sal jou seker weer raakloop.”
“Ja, dankie …”
Brenda klim in haar motortjie en sit eers droomverlore. Haar pad het al ’n paar keer met Charl Naudé s’n gekruis. Dis onmoontlik om onverskillig of afsydig teenoor ’n man soos hy te staan. Om hom te sien was net so aardskuddend soos die mondeling.
Brenda val Rolf om die hals. “Ek het geslaag! Ek is in! Hulle bied my ’n pos as kliniese assistent aan!”
Haar lag sit om in trane van blydskap en hy hou haar styf vas. “Gode sy dank. Hoe ons met jou sou huishou as jy dit nie gekry het nie, weet ek nie. Maar ons het eintlik volle vertroue gehad dat jy dit sou kry. Geluk, my ou sussie. Mamma sou baie trots op jou gewees het.”
Sy snuif en vroetel in haar sak vir ’n snesie, vee haar oë en neus af. “Ja, ek voel altyd ek doen dit ook vir haar, want sy het my so aangemoedig.”
Met besitterstrots staan Brenda in haar nog karig gemeubileerde sitkamer. Sy het haar eie woonplek. Die deposito is betaal met wat sy uit haar Engeland-salaris gespaar het en nou behoort die plek aan haar. Die maandelikse paaiemente is bekostigbaar. Sy voel ryk, al is haar huidige salaris nie naastenby so groot soos in Londen nie. Hier is die lewe in elk geval nie so duur nie.
Rolf-hulle het vir haar ’n paar meubelstukke gegee, en sy het ’n paar gekoop. Sy wil nie skuld aangaan nie, want sy weet hoe dit voel om geldkommer te hê. Sy moet ook spaar vir ’n nuwe motor, want arme Saartjie is al bejaard. En sy sal baie moet ry, ook in die nag. Haar motor moet betroubaar wees, anders gaan staan sy langs die pad.
’n Motor toet voor die huis en sy haas haar buitentoe. Rolf se BMW staan daar, en sy en Lisa se glimlaggende gesigte kyk vir haar. Brenda maak Lisa se deur oop. “Kom kyk my paleis,” nooi sy uitgelate.
“Ons het kos en wyn gebring om dit in te wy,” sê Rolf. “Ek haal dit net gou uit die kattebak.”
Brenda verstom haar oor die hoeveelheid. “Dankie,