Beste Brenda
Dankie vir jou aansoek om by hierdie departement te spesialiseer. Ek sien my destydse aanmoediging aan die beste student wat ek in jare gehad het, het nie verlore gegaan nie. Ek het die superintendent van die hospitaal reeds van jou voorneme in kennis gestel.
Die proses in ’n neutedop: Kom terug en werk as kliniese assistent in ons departement, waar jy ook ’n salaris sal verdien. Jy sal egter eers voor ’n keurkomitee bestaande uit onder andere ekself en die superintendent moet verskyn. Jy sal ook ’n eksamen moet aflê, maar daar voorsien ek dat jy met vlieënde vaandels sal slaag. Soos jy weet, bestaan die kursus uit heelwat praktiese opleiding – saalrondes en bespreking van gevallestudies – saam met die nodige seminare en werkstukke. By die tydskrifbesprekings sal jy jou beurt kry om oorspronklike navorsing voor te dra. Jy sal met my en ander dosente sowel as konsultant-ginekoloë uit buitepraktyke saamwerk. Dit gaan vier jaar se harde werk verg, maar jy sal nooit spyt wees nie.
Ek hoop om gou van jou te hoor. Laat my weet wanneer jy beoog om te kom. Kompetisie is natuurlik kwaai vir dié poste, maar jy was ’n uitstaande en toegewyde student, wat waardevolle ginekologie-ondervinding in Engeland opgedoen het. Daarom verstout ek my om jou hoop op ’n suksesvolle aansoek te gee.
Vriendelike groete
Prof. Peet Aucamp
Brenda gee ’n gilletjie en voel asof sy kan bokspring. Dit klink so aanmoedigend!
“Haai, wat het oor jou lewer geloop?” hoor sy Eben se stem agter haar.
Sy draai om en val hom om die hals. “Ek het ’n brief van prof Aucamp ontvang! Ek het jou mos gesê ek doen aansoek om in ginekologie en verloskunde te spesialiseer. Hy jaag my nogal aan, en hy laat dit klink asof ek maklik aanvaar sal word.”
Eben lyk egter nie baie bly nie. “Wil jy regtig nou al gaan? Jy is nog nie eens ’n jaar hier nie, en jy verdien ’n beter salaris as wat jy daar sal verdien. Ek dag ons gaan twee jaar lank bly.”
Brenda vou die brief op en steek dit terug in die koevert.
“Nee, ek is regtig jammer, maar ek is haastig om te kwalifiseer. En buitendien moet ek wegkom van Kevin af. Hy skimp al glad dat ons moet trou, en vir daardie stiff upper lip-familie sien ek nie kans nie.”
Sy sal dit nooit uitlap nie, maar die enigste man wat haar al ooit laat voel het dat trou dalk nie onmoontlik is nie, is die verkeerde een: Charl Naudé. ’n Man met ’n vrou en issues.
In die hospitaalgang die volgende dag loop sy vir Thomas raak.
“Wat hoor ek van jou?” vra hy.
“Dat ek teruggaan na Suid-Afrika?”
“Ja. Moet jy nie eerder jou kop laat lees nie?”
Sy vervies haar. “Ek het my redes, en dis nie net die slegte weer in Engeland nie.”
“Jy bedoel voordat iemand jou probeer kansel toe sleep?”
Sy kyk hom agterdogtig aan. “Waar kom jy daaraan?”
Hy grinnik. “Die een oor wie geskinder word, is altyd die laaste een om te hoor. Almal praat van hoe omgeboul die arme Kevin Wakefield is. En ek het oë in my kop. Hy is so erg oor jou dat ek te bang is om jou te date.”
Sy sug. “Wel, dit raak nou lastig. Dit was nog altyd my droom om ’n ginekoloog te word, daarom is ek vir seker nie van plan om te trou nie. Veral nie met ’n pukka-Engelsman wat ek nie liefhet nie.”
“Sjym, arme ou. Ek het ook al gewonder of ek nie moet teruggaan nie. Die vleispotte van Egipte is wel geil hier, maar hier is ’n doktertjie wat net so hard probeer om haar kloue in my te slaan. Netnou sê sy sy’s verwagtend en ek is die pa en dan sit ek in die dinges.”
Brenda kyk met afkeer na sy mooi gesig, wat skielik nie meer vir haar so mooi is nie. Watter selfsugtige vent is hy nie. Gebruik die meisies, maar aanvaar geen verantwoordelikheid vir hulle gevoelens of die uitkoms van sy verhoudings nie. Sy wonder of hy weet watse ongure reputasie hy al by die hospitaal gekry het.
“Wil jy ook gaan spesialiseer?” vra sy koel.
“Die familie verwag dit natuurlik van my. Dis mos ons tradisie. Dis nie goed genoeg om ’n GP te wees nie.”
Sy dink aan haar broer wat ’n algemene praktisyn en geliefd by sy pasiënte is, en sy is sommer geïrriteerd.
“Maar wíl jy spesialiseer?” vra sy kil. “Is dit vir jou ’n roeping?”
Hy gryns. “Geneeskunde was nog nooit vir my ’n roeping nie; ek het dit gedoen omdat dit van my verwag is. Maar selfs my oom Charl sien my as ’n ginekoloog. Ek moet hom seker nie teleurstel nie.”
“Nee, seker nie.”
“Ek sou veel eerder professionele rugby wou speel. Maar nou ja, dit kan nie. Wanneer beplan jy om te vertrek?”
“Oor ’n maand, want ek moet kennis gee.”
“Ons moet darem gaan uiteet voordat jy vertrek.”
Brenda is teësinnig om saam met hom gesien te word, netnou dink almal sy is een van sy verowerdes. Maar sy kan nie onbeskof wees nie.
“Goed, die een of ander tyd,” stem sy vaag in. “Wag, ek moet draf. Sien jou weer.”
Toe sy wegloop, hoor sy hom agterna sê: “Kevin Wakefield het darem goeie smaak.”
Sy is verstom oor die kompliment, maar sy draai nie om om dit te erken nie.
Die volgende oggend keer Thomas haar by die ingang van die ginekologiese afdeling voor.
“Kom eet vanaand saam met my. Hier is ’n lekker restaurant in Kensington, naby Harrods. Indonesiese cuisine. Hou jy van Oosterse kos?”
“Ja.” Sy het die aand niks vas aan nie, al het Kevin geskimp dat hy ’n draai wil maak. Op ’n ingewing besluit sy om tog saam met Thomas te gaan, hoofsaaklik om Kevin te vermy.
“Ja, jy hou van die kos of ja, jy wil saamkom?” vra hy spottend.
“Albei. Jy weet waar ek bly. Kom haal my so teen sewe-uur.”
“Met my Rolls Royce. Sien jou dan, dokter Wiechers.”
Maak sy nou ’n groot fout deur eerder saam met hom as met Kevin uit te gaan? wonder Brenda toe hy wegstap. Uit die vet in die vuur?
Wel, sy sal hom net moet kortvat as hy te vrypostig raak.
“Jy lyk mooier as gewoonlik,” komplimenteer Thomas haar toe sy die aand vir hom die deur oopmaak.
“Jy ook,” grap sy. Hy dra ’n kasjmier-jas en lyk regtig aantreklik.
Hy neem haar elmboog toe hulle by die trappe afgaan, en buite lei hy haar na ’n splinternuwe MG-sportmotor.
“Ek het vir my ’n lekker Engelse karretjie aangeskaf,” sê hy kastig ongeërg, maar sy hoor die noot van trots in sy stem.
Die motor is so nuut dat dit nog na leer ruik.
Hy bestuur taamlik vinnig deur die druk verkeer. “Gaan jy nie vir jou ’n motor koop om saam huis toe te neem nie?”
Sy is sommer vies oor hy so taktloos is. Hy moet mos weet sy is nie so ryk soos hy nie.
“Ek het nog nie genoeg Engelse ponde verdien om dit te kan bekostig nie,” antwoord sy kil.
“Gaan jy in die Kaap vir jou ’n nuwe motor koop? Jy kan tog nie nog steeds met daardie studentetjorrie ry nie. Wat was sy naam nou weer?”
“Haar naam – Skigtige Saartjie. Dis die naam wat my broer Rolf haar gegee het, want sy was eers syne. En ja, ek gaan haar beslis weer ry. Sy staan tans by my broer se huis op Stellenbosch.”
Hy skud net laggend sy kop.
Die restaurant is besonder deftig, en Brenda is bly sy het moeite gedoen met haar voorkoms. Dat Thomas haar sommer na ’n eenvoudige