hoor die loods iets oor die luidspreker afkondig, maar luister nie juis nie. Haar gedagtes is by die hotel, by haar en Shaun se toekomsdrome. Wanneer hulle uiteindelik Hartenbos toe trek, sal dinge so anders wees.
Die sitplek vibreer onder haar toe die vliegtuig rukkerig wegtrek en tydsaam van die lughaweterminaal af wegdraai.
Karien hou haar linkerhand voor haar uit en skrik vir ’n oomblik toe sy nie haar skitterende diamantverloofring aan haar fyn ringvinger sien nie. As sy darem daardie dure ring moes verloor het! Maar dit is juis waarom sy dit gister na die juwelier geneem het sodat hy kan seker maak daardie kleiner steentjie sit stewig genoeg en sal nie uitval nie.
Haar hand lyk vir haar vreemd en kaal. Sy mis haar mooi ring. ’n Man wat só ’n ring vir ’n vrou koop, moet mos lief vir haar wees, of hoe?
Eintlik is dit goed dat Shaun nie môre by is nie. Dit beteken sy kan op die projek fokus. Sy gaan hom só trots maak, hom wys dat sy die hotel vrou-alleen kan beplan.
Die vliegtuig tel spoed op. Al vinniger en vinniger. Die plantegroei langs die aanloopbaan word een groot, geel, aanmekaargeweefde massa.
Dit sal die eerste keer in elf jaar wees dat sy weer op Hartenbos kom. Sy voel nogal senuagtig, maar het darem genoeg tyd gehad om haar sielkundig voor te berei. Solank sy nie in haar ou pêlle vasloop nie, behoort sy oukei te wees. Hel! Wat sê sy? Sy gaan hulle wel die een of ander tyd raakloop. Sy kan tog nie vir ewig wegkruip nie. Hoe snaaks is die lewe nie? Sy het haarself destyds belowe Mosselbaai en sy mense sal haar nooit weer sien nie. Sy het selfs die uitnodiging verlede jaar na haar matriekreünie geïgnoreer. En kyk nou.
’n Ongelooflike krag druk Karien teen die sitplek vas. Die vliegtuig se wiele verlaat die aarde, en haar maag gee ’n draai toe die beboude horison buite haar venster stadig kantel.
Die skaduwee wat die vliegtuig oor die aanloopbaan jaag, raak al hoe kleiner, volg hulle oor die aanmekaargelapte sinkplaatdakke van ’n township en verdwyn iewers tussen krimpende wolkekrabbers in. Kronkelende are spitsverkeer, wat vanuit die stadskom na die voorstede vloei, skitter in die middagson.
En dan is die vliegtuig skielik so hoog dat sy die menslike bedrywighede op die grond nie meer kan waarneem nie. Sy voel skoon dronk toe sy besef hoe hoog hulle is. Selfs Tafelberg lyk soos ’n molshopie wat deur die enorme blou oseaan ingesluk word. Die vliegtuig maak ’n lui, slap draai voor die loods afkondig dat hulle binne ’n uur op George sal land en dat die passasiers hulle veiligheidsgordels mag losmaak.
Karien stel haar sitplek effens agteroor en maak haar gemaklik. Sy het ’n besige dag agter die rug en is boonop emosioneel uitgeput. Dalk is ’n slapie net die regte medisyne. Sy moet vanaand nog vars genoeg wees om deur haar notas te gaan vir môre se vergadering. Die argitekte wat sy gaan spreek, het al ’n klomp pryse vir hulle werk gewen, so sy wil darem klink of sy weet waarvan sy praat. Sy maak haar oë toe en visualiseer vir die soveelste keer die plan van die bouperseel.
Die vliegtuig se eentonige gedreun sus haar en word die gesuis van die see, die sagte geklots van blink rivierbrandertjies onder ’n volmaan. Sy en Shaun staan hand aan hand op ’n smal strokie strand tussen die voltooide hotel en die rivier. Hulle aanskou haar handewerk. Die sagte lig vlei die gebou se rondings, die imposante Marokkaans geïnspireerde boë en torings, die ornate motiewe op die swaar handgekerfde houtvoordeur. Die plek lyk indrukwekkend. Sy is ongelooflik trots.
“Well done, honey, I knew you could do it,” sê Shaun.
“Dankie, Engelsman. Nou kan ons lewe saam uiteindelik begin.” Karien glimlag sag vir hom en merk op hy het ’n swart pak aan.
Wat het sy aan? Sy kyk af en sien sy dra haar ma se trourok uit die tagtigerjare. Die pofskouers raak amper aan haar ore. Wat het haar besiel om hierin te trou? Sy gryp paniekerig na haar kop. Nee, dit kan nie wees nie. Sy het vergeet om haar hare te laat doen. Dan hoor sy ’n gefluister en vrouestemme wat venynig giggel.
’n Groepie stylvol geklede gaste op rye wit oorgetrekte stoele het van nêrens af op die maanverligte strand verskyn. Hulle lag vir háár. Sy weet sommer. Haar bekrompe, uiters Britse skoonma sit in die voorste ry met ’n glas sjampanje en kyk Karien afkeurend aan. Sy fluister iets in die oor van die beeldskone, donker meisie op die stoel langs haar. Die ander meisie proes bitsig in Karien se rigting voor sy haar lang bruingebrande bene oormekaar vou.
“Shaun, die mense kan my nie só sien nie. Ek is nog nie reg om te trou nie … Shaun.”
Maar hy is reeds weg.
“Shaun, waar is jy?” Karien kyk senuweeagtig om haar rond en sien hoe haar pragtige hotel se mure soos ’n modderhut in ’n wolkbreuk in die rivier wegsmelt. Die gaste lyk min gepla. Hulle sit houtgerus en klets, salig onbewus van ’n dik misbank wat van die see se kant af inrol.
Net die donkerkop het ’n gemene glimlag op haar gesig en sit arms gevou en staar na Karien asof sy lekker kry. Wie is dié vrou? Dit voel vir Karien asof sy haar ken.
Sy bondel die afskuwelike satynvalle in haar hande saam, gereed om nader te stap. Ag, nee, wat nou weer? Sy lig die rok effens hoër sodat sy haar voete kan sien. Hulle roer nie, hulle kan nie, want hulle is in iets swaars soos betonblokke vasgevang.
Die mooi vrou en Shaun se ma staan op en begin in die rigting van die see wegstap.
“Wag ’n bietjie, wie is jy?” roep Karien agter hulle aan. Haar lam bene wil steeds nie beweeg nie. “Ek vra: wie is jy?”
Die jong vrou kyk om, knipoog vir Karien en haak besitlik by Shaun se ma in. Hulle verdwyn in die aanrollende mis.
“Vlam,” fluister iemand saggies. Daar is net een mens op aarde wat haar só noem. Karien se voete kom los uit die onsigbare boeie, en sy swaai verskrik om. Tog is daar ’n warm gloed in haar bors, die sweem van ’n herinnering aan iets kosbaars.
“Wie’s daar?” vra sy. Maar sy weet. Die misbank het haar ingesluk; sy kan die fyn sproei op haar kaal arms voel. Voor haar kan sy niks meer onderskei nie.
“Vlam.” Dié keer ’n bietjie harder. Dit voel of die stem uit alle rigtings kom.
“Malan, is dit jy?” Sy kalmerende stem het haar destyds telkemale op die rusbank in haar ma se sitkamertjie aan die slaap gesus.
Hy antwoord nie.
“Vlam is weg,” roep sy, maar haar stem trek nie ver nie.
Sy donker silhoeët kom nader. Sy herken die kordate stappie, die atletiese lyf wat sy as tienermeisie so te sê aanbid het.
Hy staan glimlaggend voor haar. Hy lyk presies soos sy hom onthou. Kort donkerbruin hare in alle rigtings gejel. Blou skoolbaadjie met die kraag windmakerig opgeslaan. Die naat van die linkermou is besig om bo by die skouer los te trek. Karien onthou daardie dag op die sportveld só goed. Die baadjie het in die slag gebly toe Malan en die verwaande Anton Steyn mekaar te lyf gegaan het oor Anton lelik van haar ma gepraat het.
Toe hy met sy stukkende lip en deurmekaar kop van die gras af opstaan, het sy na hom toe gehardloop en hom omhels. Hulle sou vir altyd en altyd saam wees …
Hoekom is hulle dan nie meer bymekaar nie?
“Vlam.” Hy druk haar ken saggies op sodat hulle oë ontmoet. Sy kan in daardie donkerbruin poele verdwaal. ’n Warm gloed pols nou deur haar hele lyf.
“Ja?” antwoord sy amper hees.
“Jy maak ’n groot fout,” sê hy.
“Wat bedoel jy?”
“Jy weet wat ek bedoel.”
2
Karien word uit haar droom geruk toe die vliegtuig sy wiele op George se beknopte aanloopbaan neersit. ’n Mengelmoes van voorwerpe en kleure flits verby haar venster, en dan word die vliegtuig se remme aangeslaan. Die grensdraad net duskant die landingstrook pyl hopeloos te vinnig op haar af, en sy maak haar oë liewers toe. Sy het gelees van ’n passasiersvliegtuig wat in nat weer dwarsdeur daardie draad is en in die pad aan die ander kant beland