Trish Goosen

Hartstog op Hartenbos


Скачать книгу

pers brilraam verontwaardig op haar neus terug. “Nee, die kind het mos nie ore wanneer ek met haar praat nie. Voel ek praat met die muur.”

      “Ag, man, los haar eers. Dalk is sy maar net …”

      “Inge, ek praat nie weer nie. Kom nou!”

      “Ja, Má,” roep Inge van anderkant die toe kamerdeur. Die oordrewe toon drup van sarkasme. Karien kan nie anders as om te wonder oor die een deur nie. Is daar dan nie nog ’n slaapkamer in die woonstel nie? Wie slaap waar?

      “Ma? Sy noem jou ma?”

      Lize sug en gooi haar hande moedeloos omhoog. “Ja, sy noem my ma wanneer, en ek haal aan, ‘ek aangaan soos ’n ou vrou met ’n nat broek’.”

      Karien proes saggies agter haar hand. Dan kom die lag los. Lize lag ook, steek ’n arm uit en druk Karien styf teen haar vas, baie meer opreg as met die eerste druk.

      “Inge? Ek praat nie weer nie!”

      Die deur gaan met mening oop, en die meisie wat sleepvoet uit die kamer kom, lyk soos ’n jonger weergawe van Lize. Sy is net ’n bietjie langer en skraler en lyk glad nie meer soos die dogtertjie van elf jaar gelede nie.

      Inge frons van konsentrasie, haar blou oë – ook agter ’n bril –steeds op die selfoon in haar hande gerig. Haar vingers tik verwoed terwyl sy tydsaam nader stap.

      “Het ek nie mooi gevra dat jy die selfoon asseblief nou bêre nie?”

      Inge loer verontwaardig oor haar bril na haar ouer suster.

      “Nee, jy’t nie mooi gevra nie. Jy’t al weer op my gegil.”

      “Ek het nie geskree nie.”

      “Ja, jy het.” Dan glip Inge die selfoon in haar uitgewaste jeans se sak en knipoog vir Karien. “Haai. Hoe gaan dit nog met jou?” vra sy vriendelik, knik haar kop ’n aks eenkant toe, ’n duim in elke broeksak.

      “Goed, jong. Ek kan nie glo jy het my daar op die lughawe herken nie.”

      Inge stap kombuis toe, haar treetjies nou meer doelgerig. Sy haal ’n langsteelglas uit die kas bo die wasbak en skink vir haar ook van die hanepoot in.

      “Maar natuurlik het ek jou herken. Jy loop en praat so met jouself, ek kon jou nie miskyk nie.” Die soetwyn stort amper oor die rand van die glas toe sy haar langs Karien op die rusbank neerplak.

      “Moenie so val op die meubels nie. Jy breek die goed,” raas Lize.

      Mens kan sien dié twee is sussies. Lize het nie juis ’n voorbeeld gestel toe sy haar ook vroeër op haar stoel neergevel het nie. Sy is ongeduldig met Inge, maar dis tog seker te verstane. Karien onthou so goed die dag toe Lize haar vertel het hoe kanker hulle pa gevat het. Hy het hulle alleen grootgemaak. Arme Lize, sy was maar elf toe hy oorlede is. Sy moes bitter vinnig haar grootmensskoentjies aantrek en stap. Dis vreeslik onregverdig dat sy ’n ma vir haar sussie moes wees, terwyl sy self nog pure kind was. Ai, hoekom gebeur sulke slegte dinge altyd met goeie mense?

      En daardie pleeghuis waar hulle moes bly, was darem wraggies erger as ’n tronk. Die kwaai tannie het die huis met haar Pietie Peper-slaanding geregeer, en baie van die houe het onnodig geval. Daar was ten minste slaapplek en kos, maar luukshede en liefde was skaars. Ai, dit moes seker maar moeilik gewees het. Wie is sy om te oordeel? Tog is dit nie lekker om te sien hoe onnodig kwaai Lize met haar sussie is nie.

      Inge rol haar oë so effentjies in Lize se rigting en rig haar astrante blik weer op Karien. Sy wag seker vir kommentaar op die stelling dat sy met haarself geloop en praat het.

      “So? Praat jy gereeld met jouself?” vra sy uiteindelik en kyk Karien net so goed deur soos Lize ’n paar minute gelede gedoen het. Uit dieselfde lappie gesny, dié twee De Lange-meisiekinders.

      “Inge, mens vra nie sulke vrae vir mense nie. Dit is onbeskof.” Lize klink soos ’n ref op die kantlyn.

      Inge gryp een van die sierkussings op die bank langs haar en gooi haar suster daarmee. Lize koes en lag vermakerig toe die kussing haar mis en die muur tref.

      “Jy gooi soos ’n meisie!”

      Karien glimlag met deernis. Albei sussies is ewe uitgesproke en vooraan.

      “Ek maak net ’n grappie met haar,” verdedig Inge haar verontwaardig.

      “Dit is oukei,” keer Karien voor Lize weer iets kan terugsê. “Ek hét met myself geloop en redeneer.” Die warm gloed wat oor haar wange kruip, vang haar onkant. Sy het nie gedink dat om dit hardop te erken haar só skaam sal laat voel nie. Shaun het haar herhaaldelik daarop gewys dat sy geneig is om in haar eie kop weg te raak. Sy begin dink oor dinge en wanneer sy haar kom kry, is sy weer besig om iets met haarself te bespreek.

      Shaun verpes dit. Sy sal dié gewoonte sommer vinnig moet afleer.

      “Maar dis nie noodwendig ’n slegte ding nie,” sê Inge wat moes gesien het sy voel verleë.

      Lize frons. Dit lyk of sy ook nie weet waarop Inge afstuur nie.

      “Issit nié ’n slegte ding nie? Hoe so?” vra Karien. Sy is effe skrikkerig vir die antwoord. Sy is amper seker sy gaan nie daarvan hou nie.

      “Wel, ons voel tuis by mense wat met hulleself praat. Dan weet ons daar is darem ander mense op aarde wat net so weird en eksentriek soos ons is, nè, Sus?” Inge kyk na Lize vir goedkeuring, maar Lize gaap haar verbaas aan.

      Jip, ek was reg, dink Karien. Ek hou glad nie van die antwoord nie.

      “Nee, Inge, moenie vir mý kyk nie. Jy is op jou self aangewese. Jy kan mos nie sulke goed sê nie. Karien sal nooit weer hier kom kuier nie.”

      Karien wil al die warm emosies van die afgelope halfuur net in ’n tassie pak en van die De Lange-sussies af wegloop. Maar sy forseer ’n laggie, terwyl sy voel hoe haar rug in teësin reguit raak.

      Dié mense moenie vir ’n oomblik dink sy is soos hulle nie. Sy is nie weird nie. Karien van Tonder is ’n gesiene en gerespekteerde sakevrou van Kampsbaai wat hanepoot beslis nie by die emmer drink nie.

      Nadat die sussies Karien uitgevra het oor die nuwe hotel, voel sy darem bietjie beter oor Inge se kras uitlating. Dit was ’n simpel ding om te sê, maar Inge is nog jonk en onervare. Seker maar gedink sy help haar sus om die ou verwaarloosde vriendskapsband met haar beste ekspêl te heg. Eks? Dalk beskou Lize haar regtig as ’n eksvriendin. Tog is dit sý wat na al dié verlore tyd weer ’n hand van vriendskap uitgesteek het. Lize was na alles die een wat die moeite gedoen het om te bel.

      Inge drink haar wyn klaar en verskoon haar. Sy moet gaan slaap, want môreoggend moet sy baie vroeg opstaan.

      Karien laat die laaste spoegie hanepoot ’n paar keer om die bodem van die glas tol.

      Ekspêl. Ekskêrel. Malan Hugo …

      Sal Lize weet of hy nog in die omgewing woon? Sy is só nuuskierig dat sy iets wil oorkom, maar miskien moet sy maar eerder nie uitvra nie.

      Die uur wat sy sou gekuier het, het al amper dertig minute langer gerek. Karien voel glad nie meer haastig om nou al gastehuis toe te gaan nie. Die geselskap is nie sleg nie, en sy gaan in elk geval tog net stres oor Shaun wat nog nie van hom laat hoor het nie.

      Shaun?

      Dalk hét hy al teruggebel, en het sy nie haar foon gehoor lui nie. Sy sluk die laaste soetwyn weg en trek haar handsak nader. Sy haal haar selfoon uit die kantsakkie en sien sommer dadelik daar is geen boodskappe of oproepe wat sy gemis het nie. Sy klap haar tong ergerlik en laat gly die foon weer in die sakkie terug. Sy gaan hom nie weer probeer bel nie. Sy weier.

      “So waarheen gaan ons nou? Is daar nie ’n plek waar ons ’n nightcap kan gaan drink nie?” vra Karien oënskynlik uit die bloute.

      “Het ek reg gehoor? Jy wil uitgaan? Ek dog dan jy wil gaan slaap.” Lize lyk verbaas.

      “Wel, ek het net gedink ek is lus vir nog gesels en ons gaan vir Inge wakker hou as ons hier bly.”