is toe sy skaars twaalf was. Die afgelope ses jaar bly sy by ’n neef van haar oorlede vader, ’n man wat vir haar baie goed was tot dusver, en baie jare ouer as sy. Sy het hom nog altyd as ’n pa beskou, en sy is natuurlik lief vir hom. Heel beskeie word vertel dat haar ouers haar ’n bietjie geld nagelaat het waarop sy eers geregtig is as sy mondig word of wanneer sy gaan trou.
Nou kom haar probleem. Hierdie voog van haar het blykbaar trouplanne met haar. Hy is self redelik welaf, maar hy het dit al teenoor haar genoem dat dit goed sal wees as hulle hul onderskeie besittings bymekaar kan voeg. Jeanette is baie onseker van haarself. Sy is eintlik raadop. Sy het ’n baie beskermde lewe gelei, danksy haar voog wat haar nog altyd soos ’n stukkie goud opgepas het.
Natuurlik oor die geld, dink Manda fronsend terwyl sy verder lees. Jeanette se vriende is van kleins af gekeur en hoe verder sy vertel, hoe duideliker word dit vir Manda dat die voog haar doelbewus van jong geselskap weggehou het omdat hy haar vir homself grootgemaak het. Manda kan sy plan so helder soos daglig tussen die reëls lees en hoe verder die verhaal ontplooi, hoe meer ontevrede en ontsteld raak sy. So ’n ou jakkals!
Soos ek gesê het, is ek lief vir Rocco. Hy was vir my nog altyd baie goed. Maar hy is darem soveel ouer as ek, juffrou Hettie. Ek kan my nie as sy vrou voorstel nie.
Ek sou so dink, beaam Manda ontstoke. So ’n liewe, onskuldige kind die vrou van so ’n skelm, slinkse ou man! En hy is net agter haar erfporsie aan. Dis so duidelik soos daglig. Maar hierdie kind gaan swig voor hom uit skone dankbaarheid dat hy al die jare so goed was vir haar. Sy is nog te onervare om te besef dat hierdie ou mens haar glad nie uit suiwere onselfsugtigheid en familieliefde al die jare soos goud opgepas en versorg het nie. Nee. Sy is nog te jonk om dwarsdeur sy slinkse planne te sien.
Met bekommerde oë lees Manda verder.
Daar is niemand wat ek so goed ken dat ek openlik my probleem kan bespreek nie. Daarom skryf ek aan u. Wat moet ek doen? Ek was pas agtien en het ’n kontantbedraggie uit my ouers se boedel gekry. Ek het al gedink ek moet stilletjies verdwyn. Maar dit sal Rocco vreeslik seermaak en teleurstel. Maar ek sien ook nie kans om met hom te trou nie – nie nou al nie, juffrou Hettie. Ek is nog jonk. Ek wil nog lewe en ’n bietjie plesier hê. Ek sal later met hom trou. Ek sal moet. Ek kan hom nie teleurstel nadat hy so goed was vir my nie. Maar ek wil net eers so ’n bietjie wegkom, net so ’n bietjie sien hoe lewe die res van die wêreld. Dan sal ek terugkom en probeer om ’n goeie vrou vir hom te wees. Haar laaste sin ruk aan Manda se hart. As hy net nie al so oud was nie!
Daar is ook ’n naskriffie: Ek sal u rubriek dophou. Help my, asseblief.
Manda sit en kou aan die agterkant van haar pen sonder dat sy dit agterkom. Sy wens die kind het liewer haar volledige adres verskaf. Dan kon sy haar persoonlik antwoord. Maar dit sal seker ook te gevaarlik wees. Die ou man sal natuurlik haar pos sensor.
In haar verbeelding sien sy ’n ou man van om en by sestig, sewentig, so maer soos ’n stuk songedroogde sening en sy gril. Die arme Jeanette. Sy sien die meisie in haar verbeelding met lang, blonde hare, groot onskuldige blou oë en ’n engellyfie. Die vrou van so ’n ou man. Sy sien ook in haar verbeelding die plek waar hy hierdie pragtige kind gevange hou: ’n kasarm van ’n huis êrens op ’n eensame, afgesonderde plek. En daar is tralies voor die vensters.
Sy knip haar oë en weet dat haar verbeelding dalk nou ’n bietjie met haar op loop gesit het. Maar nietemin … Die prentjie bly steek en sy plaas haar vingers op die sleutelbord. Hierdie brief gaan sy heel eerste beantwoord. Sy moet. Arme kind …
Vir die res van die dag is Manda druk besig. Sy het die eerste rubriek afgehandel en deurgestuur. Maar hoe sy ook al probeer konsentreer op ander pligte, die eerste brief van haar eerste rubriek bly haar by. Vaag wonder sy wat juffrou Hettie se antwoord daarop sou gewees het. Maar juffrou Hettie sou presies dieselfde as sy geantwoord het, daarvan is sy seker. Daar kán geen ander antwoord wees nie. Elke ander antwoord sal wreed teenoor so ’n arme kind wees. Dit sal haar bind tot lewenslange gevangenisstraf saam met ’n ou man wat haar oupa kon gewees het. Nee. Haar antwoord was die enigste wat daar was.
Maar soos die dae kom en gaan, vervaag hierdie treurige prentjie van ’n bloedjong meisietjie in die kloue van ’n slinkse ou man. Haar rustige aandjies voor die TV, selfs ook die twee aande in die week wat sy haarself toelaat om uit te gaan, is iets van die verlede. Vragte werk waardeur sy nie in kantoorure kan kom nie, word nou saans huis toe gebring, onder hulle stapels probleembriewe wat sy soms in die nagtelike ure sit en deurworstel. Sy troos haar aan die lof wat sy van meneer Kock inoes vir die bekwame wyse waarop sy die leisels vasgevat het ná juffrou Hettie se ongeluk.
Toe sy veertien dae later juffrou Hettie se woonstel binnestap, kyk die ouer vrou haar met ’n goedkeurende glimlag aan. Sy is so pas uit die hospitaal ontslaan, en hoewel sy nog lank nie op kantoor sal wees nie, het sy darem nou sodanig herstel dat sy weer vanuit die diep gemakstoel in haar eie sitkamer die leisels kan oorneem. Van siekteverlof wou sy nie hoor nie.
“Ek makeer niks. Dis net hierdie gips wat so lastig is, anders was ek al terug op kantoor,” het sy laat hoor toe haar hoof enkele minute gelede die voorstel aan haar gedoen het. “Die een wat vakansie nodig het, is Manda. Sy moet totaal oorwerk wees, die arme kind.”
Meneer Kock het geredelik geknik. “Sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt. Ek het my werklik verbaas vir die kalme wyse waarop sy die verantwoordelikheid op haar skouers geneem het. Jy was soos altyd weer reg, juffrou Hettie. Manda Maree sal ’n waardige opvolger vir jou wees. Ek hou haar in die oog.”
Juffrou Hettie het tevrede geglimlag. Lof vir Manda is ook lof vir haar. Sy het haar immers opgelei en haar uitgekies tussen talle ambisieuse joernaliste. Manda sal haar opvolger wees. Só het sy lankal besluit. Maar sy voel nog glad nie na aftree nie. O, nee. Daar wag nog hopelik tien jaar vir haar, en in daardie tyd sal sy Manda afwerk en poleer tot ’n fyn en bekwame redakteur. Manda kan nog soms impulsief en onnadenkend wees, nie altyd so taktvol as wat haar hoofredakteur verlang nie. En takt is een van die grootste vereistes vir ’n suksesvolle joernalis. Maar daaroor bekommer sy haar nie nou nie. Manda gaan nou eers met vakansie, ’n baie welverdiende een, en wanneer sy dan terugkom, sal juffrou Hettie die finale afronding begin doen.
“Jan Kock was nou net hier. Ek het goeie nuus vir jou,” laat sy met haar beminlike glimlag hoor toe Manda gaan sit.
“Ja? ’n Verhoginkie miskien?”
“Dit ook. Dit is vanselfsprekend ná al die werk wat jy die afgelope tyd moes verrig. Maar daar is nog so ’n ekstra verrassinkie. Jy is van Maandag af met ’n volle, ronde maand se vakansie. Lekker!”
Manda se oë rek. “Maar ek het ses maande gelede vakansie gehad. Hoekom …?”
“Omdat ek dit voorgestel het, eintlik geëis het. En Jan Kock stem volkome met my saam dat jy dit verdien.”
“En die kantoor? Ek bedoel … u kan tog nie regtig nou al … van Maandag af terug wees op kantoor nie. Juffrou Hettie, u gaan u nie ter wille van my ooreis nie,” laat Manda fronsend hoor en haar senior se oë verteder. Sy het nie geweet die mense is so lief vir haar nie. Tot die mees junior tikstertjie het vir haar blomme gestuur en haar so dikwels moontlik kom besoek. Hoeveel dit vir haar beteken het, weet net sy alleen. Sy is maar net ’n oujongnooi, hoe bekwaam ook al en dikwels maar baie eensaam. Almal in daardie groot persgebou is vir haar soos haar kinders. Sy het altyd in elkeen van hulle belanggestel, maar sy het nie geweet dat hulle ook soveel in haar belangstel nie. Tot ’n paar weke gelede …
Neem nou maar vir Mandatjie. Die laat nagte agter die rekenaar het sy tol begin eis, maar ter wille van ’n eensame ou vrou sal sy liewer voortgaan om haar te breek.
“Kind, daar is niks om jou oor te bekommer nie. Dis net hierdie gips wat my bewegings belemmer, dis al. My kop makeer mos niks. Mattie sal gereeld soggens kom en die werk kom haal vir die dag en Ursula kan heeldag hier by my bly en my tikwerk vir my doen. As julle my langer soos ’n suikerklont gaan behandel, beland ek van verveling in ’n huis vir sielsiekes.”
Manda kyk haar onseker aan. Dis net soos juffrou Hettie is om voor te gee dat sy haar ’n guns sal bewys as sy met vakansie gaan. “Is u baie seker, juffrou Hettie? Ek gee nie