dwing. En dis belaglik dat hy agter haar erfporsie aan is.”
“So?” Manda het haar intussen reggeruk, neem nou weer plaas en kyk uitdagend op. “U wil my dus wysmaak dat ’n meisie van agtien jaar al hierdie dinge uit haar duim gesuig het? Ek gee toe dat sy miskien hier en daar kon aangedik het, maar die basiese feite, glo ek …”
“Ek wil jou niks wysmaak nie. Dit traak jou nie uit watter vinger Jeanette daardie klomp snert gesuig het nie, maar ek sê vir jou dis nie waar nie.”
’n Onrustigheid pak Manda beet. Die man klink so seker van homself. Sou hierdie Jeanette ’n grap probeer maak het of sou die kind nie heeltemal normaal wees nie? Aan daardie moontlikheid het sy nooit gedink nie! “As ek dan u woord daarvoor moet neem dat niks hiervan waar is nie, moet ek aflei dat sy … wel … aan ’n oormaat verbeelding ly of selfs …”
“Swaksinnig is?” sis hy, steeds woedend. “Ek het nog nooit so daaraan gedink nie, maar begin dit beslis nou vermoed. Wat vir my ’n voldonge feit is, is dat net ’n swaksinnige grootmens so ’n brief vir soetkoek sal opeet, dit publiseer en dan nog die vermetelheid het om haar raad te gee, die soort raad wat wel gegee is. Geen volwasse mens by sy sinne sal so iets doen nie.”
Dis nou Manda se beurt om ’n blos op haar wange te kry. “Meneer, ek dink nie dis nodig om so beledigend te wees nie. U is ook onredelik. U moet onthou dat ons net dít wat aan ons geskryf is, het om na te oordeel. Daarvolgens gee ons raad en probeer ons help.”
“Help? Noem jy dit help? Ná wat gebeur het …”
“Wat het gebeur?”
“Sy het die raad aanvaar. Sy het weggeloop. Spoorloos verdwyn.”
Manda se hart ruk. “Sy sal weer terugkom …”
“O? En hoe weet jy? En wat kon intussen nie alles met haar gebeur het nie? ’n Jong meisie wat die lewe nie ken nie en dan nog die erfgename van ’n fortuin.”
Manda se oë rek. Jeanette het net melding gemaak van ’n bietjie geld wat haar ouers vir haar nagelaat het. Sy het nooit iets van ’n fortuin genoem nie. “Is dit werklik so baie?”
“Ek sou sê tienmiljoen is seker nie kleingeld nie,” kom dit sarkasties en Manda staar hom net aan. “Waar is daardie juffrou Hettie, juffrou Maree?”
“Wat … wat wil u hê? Wat … kan sy doen?”
“Sy het hierdie gemors veroorsaak.”
“Nee, sy het nie.” Manda lek oor haar lippe. “Dit was ek. Ek het daardie rubriek geskryf. Ek het dit gehanteer terwyl juffrou Hettie in die hospitaal was.”
“Jy!” Hy is vir die eerste keer stom … stom van verbystering en skok.
Manda kyk moedig op. “Dis nog altyd net u woord teen dié van Jeanette dat die feite wat sy my gegee het, leuens is. Ek vind dit steeds moeilik om u woord bo hare te aanvaar. Dit maak nie sin dat sy so ’n brief sou skryf as daar nie ten minste ’n greintjie waarheid in steek nie.”
Weer lyk dit of hy gaan ontplof. Weer is dit duidelik dat hy nie ’n man is aan wie se woord ooit getwyfel word nie. Koel en uit die hoogte kyk sy hom aan. “Ek kan nie sien waar u in die prentjie pas nie.”
“Nie? Wel, laat ek jou dan vertel, sodat jy kan weet waar ek in die prentjie pas en wie se woord om te aanvaar. Ek, juffrou Maree, is die ou man wat agter haar fortuin aan is en haar in ’n liefdelose huwelik met my wil dwing – die ou man wat haar oupa kon gewees het. Ek is Rocco de la Rey – Jeanette de la Rey, die erfgename van die De la Rey-fortuin, se oom en voog, ’n wewenaar, ses en dertig jaar oud en self ’n hele paar miljoen rand sterk. Wel?”
2
Manda kan hom net sit en aanstaar en die ongeloof lê helder in haar oë. Dan maak dit plek vir skok toe die volle besef van wat die man haar pas vertel het, ten volle tot haar begin deurdring. Meteens is hy nie meer ’n blote vreemdeling wat net uiters lastig is nie. Hy begin vaag bekend lyk en die naam klink nog bekender. Rocco de la Rey is bekend in die stad, sinoniem met rykdom, sukses en invloed. ’n Ou gevestigde in die wêreld van groot geldsake en bedrywe.
En dis dié Rocco de la Rey wat hier voor haar staan, en dis aan Jeanette de la Rey dat sy die raad gegee het om weg te breek, te verdwyn voordat sy haar in ’n gedwonge, liefdelose huwelik met haar ou voog bevind, die slinkse ou man wat net agter haar geld en jeug aan is …
Die giggellaggie wat meteens die swanger stilte verbreek, klink so onvanpas dat sy self daarvoor skrik en vir ’n oomblik yskoud word. En dan borrel dit verder na buite, totdat sy later net met tranerige oë hulpeloos na die man kan opkyk wat voor haar staan en wat lyk asof hy uit graniet gekap is. Sowat van skok en verbystering, van kale ongeloof, het sy nog nooit tevore op ’n gesig gesien nie. En hoe meer granietagtig die man vertoon, hoe snaakser lyk hy vir haar.
’n Vuis slaan op die blink lessenaarblad en laat haar penorent wip. Dit bring haar histerie oombliklik tot ’n einde. “Is jy van die duiwel besete? Daar is niks om oor te lag nie, verduiwels! Jy het van my die grootste gek voor al my vriende gemaak! Die hele stad is aan die skinder en lag ten koste van my!”
“Wat … wat bedoel jy?” vra sy verward, en sit ’n streng hand op haar keel. Dis beslis nie nou die tyd vir lag nie. Hierdie man lyk asof hy hom elke oomblik te buite kan gaan.
“Omdat almal weet wie die Jeanette is aan wie jy sulke puik raad gegee het, veral noudat sy spoorloos verdwyn het. Dis nie moeilik om twee en twee bymekaar te sit nie, veral nie vir die mense wat ons persoonlik ken en ook hierdie snert lees wat jy skryf nie. En natuurlik vind hulle dit kostelik en geniet hulle hul terdeë! En dis alles jou skuld! Jy moet liewer vir jou ’n man soek en jou met iets meer konstruktiefs besig hou as om soos ’n alwyse oujongnooi in ’n kantoor te sit en twak aan jong kinders te verkoop …”
Haar lus vir lag is nou totaal weg. Hierdie man kan honderd keer ’n miljoenêr wees, maar sy gaan haar nie deur hom laat beledig nie. “Ek hou nie van die toon waarop u met my praat nie, meneer De la …”
“En ek hou nie van die wyse waarop jy in jou rubriek na my verwys het nie, juffrou Maree. Ek hou niks daarvan om deur ’n oujongnooi vir die gek en bespotting gehou te word nie. En jou raad aan Jeanette staan my glad nie aan nie. En …”
“En ’n oujongkêrel van ses en dertig het natuurlik baie meer wysheid in pag as ’n oujongnooi van sewe en twintig!” kap sy sarkasties terug en voel hoe die bloed in haar slape klop. As hy nog een keer die woord oujongnooi gebruik, sal sy … sal sy hom met iets gooi. Miljoenêr ofte nie!
Blitsig is sy antwoord: “Moenie vir my op die rak soek as jy self daar sit nie, juffrou. Ek is nie ’n oujongkêrel nie. Ek het jou gesê ek is ’n wewenaar.”
“O!” Die wind is vir die soveelste keer uit haar seile. Sy laat haar blik sak en haar stem klink meteens baie meer bedees. “Wel, wat gaan u doen? Ek veronderstel u gaan die tydskrif dagvaar, my uit my werk laat gooi en …”
Hy trek sy asem diep in en vir die eerste keer sedert hy die kantoor ongenooid binnegestap het, heers daar ’n hele rukkie stilte. Lank kyk sy kwaai bruin oë priemend na die waarnemende hoofredakteur. Dan laat hy hoor, sy stem ook nou kalmer, maar nietemin nog beslis: “Nee, juffrou. Ek is nie ’n onredelike mens nie. Ek is self ’n werkgewer en ek weet ’n mens moet soms maar noodgedwonge gebruik maak van die dienste van iemand wat geensins bekwaam genoeg is vir ’n spesifieke taak nie.”
Manda verstyf merkbaar by die aanhoor van hierdie woorde en die oë wat na hom opkyk, vermoor hom stilswyend.
Maar hy gaan kalm voort: “Nee, ek sal nie die tydskrif en jou hoofde verantwoordelik hou vir jóú voortvarendheid en onkunde nie. Maar jy gaan nie skotvry hiervan afkom nie. Jeanette moet gekry word – dadelik!”
“Maar … hoe? Waar moet ek …?” begin sy hulpeloos.
“Ek het natuurlik reeds privaat speurders op soek na haar. Ek wil nie ’n polisiesoektog op tou sit nie. Dit sal te veel publisiteit meebring. Maar jy het haar