Kristel Loots

Dokter van drome


Скачать книгу

kry net gou my handsak.”

      Sy swaai om en los hom net so op die drumpel in die hoop dat hy daar sal bly, maar verniet! Juan Harmse steur hom min aan haar gebrek aan hoflikheid. Toe sy in die nou gangetjie af draf om kamer toe te gaan, sien sy hoe hy ’n paar tree gee tot binne-in haar heiligdom en dadelik na haar boekrak stap.

      Dit ook nog! Sy wil nie hê hierdie man moet weet wat sy lees nie. Die akademiese boeke, die mediese joernale, die biografieë, die liefdesverhale waarin sy haar so kan verkneukel, niks daarvan wou sy vir hom wys nie. Die man moet niks van haar persoonlike sake af weet nie, net die deel wat sy vir hom wil wys. Hy moet haar beskou as ’n bekwame assistent wat sy sake vir hom sal reël en sy afsprake seepglad sal laat afloop. Dis al.

      Sy gryp die ellendige handsak en veroorloof haar geen oomblikkie om in die spieël te kyk nie. Haar plan was om hom in volle oorlogsmondering te woord te staan. Gepoeier en gepaint van blonde kroon tot pêrelpienk toon nadat sy ’n draai by Gary van Gary’s Hair Haven en ’n skoonheidsalon gemaak het. Hierdie man stel hoë eise en sy wou mooi genoeg wees om hom sy woorde van vertwyfeling te laat sluk. Sy wou hom nie laat wegkom met ’n powere Helena van Troje-verwysing nie. O nee, hy moes so stomverbaas gewees het oor haar skoonheid dat hy om verskoning sou vra omdat hy haar onderskat het.

      Maar sy’t ’n idee Juan Harmse is nie ’n man wat maklik om verskoning sal vra nie. Vir niemand nie!

      2

      Ek kon dit seker verwag het, dink Anastasia toe sy na ’n limousine gelei word. ’n Spierwit wa, uitspattig lank en luuks.

      “Is dit nou om jou pasiënte te beïndruk?” Sy lag. ’n Mooi beskaafde laggie. Nie spottend nie … wel, nie heeltemal nie.

      “Eintlik is dit eerder om hulle te laat tuis voel. Die Amerikaners wat hier aanland, is dikwels so gewoond aan ’n limo soos ek en jy aan ’n BMW.”

      Anastasia glimlag binnetoe. Ja, sure, meneer die wêreldbekende dokter, dink sy. Noem my en jou gerus in een asem. As jy dalk ’n grap wil maak. Daar wás miskien ’n tyd dat ek net so gewoond was aan ’n Bee-Em soos jy. Die goeie, oue tyd toe ek saam met die groot haaie geswem het en gulsig gegryp het na alles wat ek kon kry. Maar dit was lank gelede voordat ek soos vrot seewier op die strand uitgespoel het. Nou sit ek in ’n woonstel opgehok en soek werk wat ek met my oë toe kan doen en wat vir my geen uitdaging of bevrediging sal bied nie.

      Die swartgeklede chauffeur rond die prentjie volmaak af. Hy knik statig in haar rigting en skuif die deur van die limo vir haar oop. “En ek sonder my Sondagsklere,” maak sy ’n flou grappie omdat haar oorwerkte jeans skielik nie gepas lyk vir die rit lughawe toe nie. Jeans waarvan daar derduisende die wêreld vol rondloop, terwyl sy wil wed Juan s’n is ten minste van die maan af vir hom ingevoer – met ’n prysetiket wat dit die moeite werd maak.

      Sy skrik effens toe Juan ook buk om langs haar in te skuif, maar gelukkig is ’n limousine groot genoeg dat hy nie naby haar hoef te sit nie. Hy sak oorkant haar neer en antwoord eers weer sy selfoon voordat hy aandag aan die chauffeur gee. Een van sy pasiënte moet glo ’n pynstiller kry, die ander een se verbande moet omgeruil word.

      “Lughawe toe, John,” sê hy toe hy die selfoon bêre. “En laat waai maar, hoor. Ons is laat.” Toe draai hy na haar. “Verskoon my net ’n oomblik,” versoek hy en trek sy skootrekenaar nader. “Daar is iets wat ek moet nagaan.”

      Anastasia doen haar bes om so ongeërg moontlik op te tree, maar sy verlekker haar tog heimlik in die luuksheid van die limo. Om haar is die verkeer op die snelweg na die lughawe so besig soos gewoonlik. Steunende vragmotors met enigiets van bakstene tot troppe skape agterop gelaai, toetende taxi’s wat soos miere van baan tot baan vleg en alle padreëls verontagsaam, selfs ’n paar motors wat seker met spoeg en genade aan die gang gehou word – almal deel ewe haastig en ongeduldig die pad met die meer luukse motors.

      Anastasia haat hierdie pad en is altyd op haar senuwees wanneer dit vir haar nodig is om hier te ry. Maar vandag is dit of sy verwyder is van die geroesemoes daar buite. Asof ek onaantasbaar is, dink sy met ’n ingehoue giggel. Wie gaan dit waag om ’n limo van die pad af te druk of teen een te bots? Don’t talk to me, talk to my lawyer! Vir weelde wat so blatant uitgespel word, het die gewone man groot respek. Sou die eienaar van so ’n weeldewa jou hof toe vat, sal jy betaal totdat jy jou spaargeldjies onder die matras ook moet gaan uitkrap.

      Anastasia sak so effens dieper in die sitplek en voel soos die koningin van die pad. Daar word oor hulle geskinder, sy weet sommer. Die ander motorryers op die N1 wonder oor hulle; wie hulle is en waarheen hulle met hierdie skitterblink limo op pad is. Dit mag wees dat elke tweede, derde Amerikaner in die VSA met ’n limousine rondry, maar hier is sulke rykmanspeelgoed nog skaars genoeg om snaaks te wees.

      Juan hamer ’n paar minute lank op sy toetsbord voordat hy sy skootrekenaar toeklap. Hy kyk vlugtig op sy polshorlosie en fluit ’n toonlose deuntjie deur sy tande. Sy ken die geluid. Dis spanning wat maak dat oorwerkte mense daardie deuntjie sing. Oormatige stres. Die prys wat betaal word vir die dolle, soms doellose, gejaag van ’n rotresies wat net nooit ophou nie.

      En tog … toe Juan jou waarlikwaar twee glase uit die kassie langs die sitplek haal en oorleun om vir hulle iets uit die yskassie te kry, voel dit skielik vir haar of sy met vakansie is. Sy weet instinktief om nie ’n bohaai daaroor te maak nie. Nee, nonchalant is die woord, soos haar ma altyd gesê het. Sy wat Anastasia is, is ’n vrou van die millennium. Als gewoond! Selfs ’n rit in ’n limo.

      “Sal jy iets drink? ’n Koeldrankie dalk?”

      “Vrugtesap, asseblief.”

      Eintlik sal ’n stywe dop welkom wees om die bewing in haar binnegoed tot bedaring te bring, maar dit sal beslis nie ’n goeie indruk maak nie. Nie hierdie tyd van die oggend terwyl die Boeing nog op pad is nie.

      “Gaan haal jy altyd self jou pasiënte op die lughawe?” wil sy weet toe hy vir haar die glas yskoue lemoensap aangee.

      “Nee, natuurlik nie. Hierdie tyd van die oggend opereer ek gewoonlik. Dis een van die redes waarom ek ’n assistent nodig het.”

      Hy leun vorentoe om haar indringend aan te kyk. Asof hy tot onder my vel wil sien, dink Anastasia senuweeagtig.

      “Terloops, ons streef daarna om ’n ontspanne en informele atmosfeer by die kliniek te skep.”

      “Ek het so verstaan. Die tyd wat die pasiënte daar moet deurbring, moet eerder na ’n vakansie voel as na ’n verblyf in ’n hospitaal.”

      “Dis reg, ja. En dis meer as net ’n bemarkingsfoefie. Dis ’n aanslag wat goed werk en altyd meer pasiënte trek wanneer die gerug versprei word.” Hy glimlag. “En natuurlik wanneer my pasiënte by die huis gaan spog met die goeie werk wat ek gedoen het.”

      Na regte behoort hy nie van sy “pasiënte” te praat nie, dink Anastasia wrang. Want hulle is nie siek wanneer hulle hier aanland nie. Hulle makeer niks nie! Kom net om vet te laat uitsuig, van ’n paar maagvelle ontslae te raak of ’n mooier neus te kry en gee nie om om daarvoor te betaal nie. Dit sal eerder vanpas wees as hy na hulle verwys as sy melkkoeie. Of iets dergeliks!

      Sy haat die gedagte om deel te wees van hierdie materiële misbruik van mense se ydelheid, maar sy’t ook genoeg gehad van edelheid en integriteit en beginsels en al daardie wonderlike eienskappe wat sy aan moedersknie geleer het. Tot dusver het dit haar nie veel verder gebring nie.

      Toe daar op Gannaskraal aan haar onskuld geglo moes word, het niemand van haar goeie eienskappe onthou nie en is sy summier vir die varke gegooi. Selfs die man wat sy liefgehad het, het sy rug op haar gedraai!

      “Dit help om ’n meer ontspanne atmosfeer te skep as ons mekaar op die voornaam noem,” verduidelik Juan. “Noem my dus gerus maar Juan, hoor.”

      Anastasia sluk, knik dan. “Goed, dokter … e … Juan,” stem sy in. “En ek is natuurlik Anastasia.”

      “Anastasia …” Hy proe-proe aan die naam. “Besonderse naam, ’n naam van oorwinning. Die