om soos ’n wafferse feniks uit die as op te staan en aan te gaan toe die res van haar gesin in die stof gebyt het, maar ek is ’n doodgewone ou meisietjie wat nie geseënd is met so ’n paar sterk vlerke nie. Vir my is dit nie so maklik om my kop te lig nie.
Sy haal haar skouers op. “Wat kan ek sê? My pa was ’n geskiedenis-boffin op sy dag en Russiese tsare het hom gefassineer.”
“Die tragiese gebeure rondom die Romanoffs en veral die bespiegelinge of Anastasia saam met die res van haar gesin vermoor is en of sy ontkom het, ís nogal ’n besonder boeiende verhaal.”
“Mag wees, ja, maar ek dra swaar aan my naam. My pa kon gerus maar besluit het om my liewer Olga te noem. Sy was immers haar pa, Nikolaas, se witbroodjie.”
Hy kyk na Anastasia deur vernoude oë. “Ek weet nie of dit so goed sou werk nie.”
“Natuurlik sou dit en ek sou heelwat spot kon vryspring. Om in ’n klas op te staan en vir jou juffrou en dertig, veertig klasmaatjies te vertel jou naam is Anastasia, vát nogal aan jou, hoor.”
“Ek wil dit glo!”
“Later jare raak die wysneuse se wisecracks nog erger. Ek het dit al oorweeg om my naam te verander. Olga is ook ’n trotse naam en sal beslis beter by my pas.”
Maar dan skud Juan sy kop. “Tog nie,” sê hy nadenkend. “Toevallig het ek ’n afdruk van ’n foto van Anastasia in my studeerkamer. ’n Mens kan jou verkyk aan daardie gesiggie. Daardie meisietjie het iets veel dieper as die gewone in haar saamgedra. Dit sou my nie verbaas as sy wel oorleef het nie. Dalk het sy haar losgepraat uit die situasie.”
“Ek is bly vir haar onthalwe, maar wat het dit met my te doen?”
“Wel, Anastasia was die klein snip in die gesin, die terggees, die kreatiewe stoutstert. Sy was ’n klein rissiepit wat nie geweet het wanneer om stil te bly nie. Het jy geweet hulle het haar Shwbzik genoem?”
“Ja, Juan. En ek weet ook wat dit beteken – klein niksnut, rakkertjie, so iets. My pa het tog te graag vir my die verhaal van Anastasia vertel.”
“Miskien het jou pa jou by die geboorte al een kyk gegee en geweet dis die enigste naam wat by jou sou pas.” Sy oë plooi genoeglik.
“Dis jammer jóú pa het nie oor dieselfde vermoë beskik nie. Want dan kon hy jou dalk Iwan die Verskriklike genoem het.” Sy glimlag om die stekie uit haar woorde te neem.
“Of Alexander die Grote.” Die man is blykbaar onverstoorbaar.
“Of eerder Raspoetin. Hy was ook vol streke.”
“Ag, nee wat, hy’t te maklik afgetjop.”
Daar skort voorwaar niks met Juan se self beeld of sy ego nie.
“Gelukkig was nie almal so behep met geskiedkundige name soos my pa nie. Hy’t blykbaar van jongs af al met sy neus in die boeke gesit, stowwerige boeke met stories uit die verlede en alles van Shakespeare waarop hy sy hande kon lê.”
“Hy klink na ’n merkwaardige man om so ’n besonderse naam vir sy dogter te kon kies. Ek sal hom graag wil ontmoet.”
“Hy … Jy kan nie. Hy’s dood.” Soos altyd val die wreedheid van die woorde vreemd op haar ore. “Daardie dag het my hele lewe verander.”
“Ek is jammer.” Anastasia hoor die deernis in sy stem en ruk haar reg.
Te veel inligting, jou dwaas! berispe sy haarself. Wil jy nou jou kanse verder beduiwel deur vir Juan te vertel wat daardie dag gebeur het? Die deel wat jy tot jou pa se dood bygedra het, vir hom oopvlek sodat hy jou sommer net hier langs die pad kan aflaai?
“Nee, ék is jammer, ek moes nie daarna verwys het nie.”
Sy sal haar kop bymekaar moet hou, sy sal haar moet dwing om ten alle tye professioneel teenoor dokter Juan Harmse op te tree. Die feit dat hulle mekaar op die naam gaan aanspreek, beteken nog lank nie dat hulle op dieselfde vlak verkeer nie.
“Jy sien, Anastasia …” Weer aarsel hy, asof hy eers die klank van haar naam ten volle wil ervaar. “Jy sien, Anastasia, ek het iemand nodig om my regterhand te wees, iemand wat my soos ’n skaduwee sal volg en my bevele sal uitvoer sonder om te veel vrae te vra.”
Dis nie hoe sy is nie, besef Anastasia. Allermins. Sy vra al vrae vandat sy kan praat, maar dis ’n gewoonte wat sy eenvoudig sal moet afleer as sy haar kans wil benut om vir hierdie man te werk vir ’n salaris wat nie te versmaai is nie.
“Die idee is om die pasiënte by te staan en te ondersteun. Hulle is taamlik broos wanneer hulle hier aanland en daar moet iemand wees wat hulle kan vertrou. Ons doen alles vir hulle. Reël vir hulle vervoer, verblyf en vermaak. Ook die safari’s waarop hulle na die operasies gaan, is ons verantwoordelikheid.”
Van organiseer kan hy haar niks vertel nie. Sy ken van toutjies trek en om dinge skematies uiteen te sit. Geleer van haar hoofmeisiedae af.
“Dit behoort nie ’n probleem te wees nie.”
Hy antwoord haar nie, bekyk haar deur versluierde oë. “Ons sal gou genoeg sien.” ’n Glimlag pluk aan sy mond. “Ook of ons jou getem gaan kry sodat jy ’n sustertjie sonskyn-gesiggie na buite kan wys.”
Hy weet ek gee net voor om goed en gaaf te wees, besef Anastasia. Hierdie man sien dwarsdeur my. “Ek kan die spel speel, Juan,” verseker sy hom. “Ek ken die reëls.”
“En jy was nie verniet in ’n stadium ’n sepiester van formaat nie. Toneelspel is in jou bloed.” Hierdie keer gee hy hom oor aan die glimlag wat om sy mooi mond gehuiwer het.
Dit gaan nie maklik wees om saam met Juan Harmse te werk nie, dit weet Anastasia. Maar sy sien kans vir die uitdaging.
“Beteken dit dat ek die pos het?”
“Voorlopig, ja. Ek sal doodeerlik met jou wees, Anastasia. Ek het werklik nie tyd om iemand anders te soek nie.”
Vir ’n wonder is die noodlot aan haar kant, dink Anastasia met ’n innerlike snork. Sy is vas van plan om die geleentheid aan te gryp.
Dis goed en wel om te bly in ’n woonstel waar jy met tye jou beperkte ruimte met ’n paar kakkerlakke moet deel as jy nie ’n ander keuse het nie, maar sy ís aan beter gewoond en sal nie omgee om na haar vorige fleur terug te keer nie. Selfs op Gannaskraal het sy ten minste ’n drieslaapkamerhuis tot haar beskikking gehad en nie gedurig met engtevrees geworstel nie. Net jammer dit was ’n kaartehuis wat ineengetuimel het en haar met skande en skade ontbloot voor die hele spul op die dorp se verwytende oë gelaat het.
Sý was die vark in die verhaal, die indringer van die stad wat die rus en vrede op die dorp kom versteur het. Sy was die skarlakenvrou, die moeilikheidmaker wat weggewerk moes word.
Liewe hemel, besef Anastasia terwyl sy onthou hoe die sedebewakers soos aasvoëls op haar toegesak het – sy kan bly wees sy is nie destyds gestenig nie! Of ten minste geteer en geveer nie!
Die pad lughawe toe bly besig, maar hulle kom tog gouer daar aan as wat Anastasia sou verkies. John hou ewe swierig voor die deur van die internasionale aankomssaal stil en klim dadelik uit om die deur vir haar en Juan oop te maak.
Sy skuif agter Juan aan om uit te klim. By die deur gekom, steek hy sy hand na haar toe uit. Sy neem dit instinkmatig, maar toe sy hand om hare sluit, is sy spyt dat sy dit gedoen het.
Sulke sjarmante gebaartjies is natuurlik waarmee hy sy vroulike volgelinge aan sy voete kry, maar sy moes voorbedag daarop gewees het. Want die warmte van sy hand, die stewige greep waarmee hy haar uit die motor help, doen vreemde dinge aan haar. Dit laat ou verlangens in haar leef, emosies waarmee sy nie meer opgeskeep wil wees nie omdat dit seermaak.
“Gaan parkeer die motor, John,” sê Juan toe hulle op die sypaadjie staan. “Ek sal jou bel sodra ons die Amerikaners se bagasie gekry het sodat jy ons weer hier voor die deur kan kom oplaai.”
Anastasia moet haar treë rek om by te bly. Daar is ’n gejaagdheid in hom toe hy vooruit stap om