Malene Breytenbach

Hoe kwesbaar die hart


Скачать книгу

      Hy draai om en loop weg, maar Brenda kom agter dat die twee verpleegsters by haar hom gefassineer agterna staan en kyk.

      “Wat ’n man,” sê die jonger een op Engels. “Is hy ook van Suid-Afrika?”

      “Ja, ons was klasmaats. Kom, ons het werk om te doen,” betig Brenda haar.

      Sy kyk na die pasiënt se kaart. Hy het ’n blindedermoperasie gehad en hy lyk vir haar maar bleek en moeg.

      “Hoe voel u vanoggend, meneer Blake?” vra sy en neem sy pols.

      “Aansienlik beter vandat ek so ’n mooi dokter gesien het,” skerts hy.

      Sy maak asof sy dit nie hoor nie. Enige reaksie op sulke aanmerkings lok gewoonlik ’n lawwe flirtasie uit, en sy wil professioneel wees.

      Die kafeteria is vol en dis rumoerig soos almal gesels, maar Brenda herken onmiddellik vir Thomas, wat by ’n tafeltjie vir twee wag. Hy het opgestaan en wuif vir haar. Dit val haar op dat hy steeds tussen ander mense uitstaan omdat hy lank en aantreklik is, met die selfversekerde houding van iemand wat weet en verwag dat mense na hom kyk en hom bewonder. Net sy oom Charl, wat rypheid en wysheid aan sy kant het, is aantrekliker as hy, dink sy.

      Toe sy by die tafel kom, soengroet hy haar. “Ek wou jou nie voor die pasiënte in die verleentheid stel en jou ’n klapsoen gee nie,” lag hy. “Het jy lus vir koffie, of is jy honger?”

      “Ek is honger. Kom ons gaan kry skinkborde en kos.”

      Hulle gaan staan in die ry. “Hoe lank is jy al hier?” vra hy oor haar skouer.

      “Twee maande. Eben Brynard is ook hier. Jy onthou hom mos?”

      “O ja, jou groot pel. Ek het maar gister aangekom. Eers bietjie Europa deurgetoer na my Zuma-jaar. Ek moes van daardie hel herstel, maar ek vertel jou alles as ons eers sit.”

      Brenda en Eben het vir hulle huisdokter-opleiding by Tygerberg aangebly, maar sy weet Thomas is Pretoria toe. Sou hy die verleidingsweivelde daar dalk groener gevind het? kan sy nie help om meewarig te wonder nie.

      Hulle kry gekookte kos en gaan tafel toe. Brenda is ongemaklik bewus daarvan dat mense omdraai en na hulle kyk. Hy is natuurlik ’n nuweling, sy is ook nog betreklik nuut en hy is so opvallend. Die verpleegsters sal waarskynlik gaande wees oor hom, en soos sy hom ken, sal hy hom in die aandag verlustig. Dit gee haar so ’n trilling van irritasie. Dat hy van alle mense hier moes uitkom!

      Hy val weg en eet. “Die kos is nie te sleg nie.”

      “Nee, die personeel kry goeie kos, en die akkommodasie is heel skaflik. Ek het ’n lekker woonstelletjie in die dokterskwartiere. Eben is langs my. Jy sal hom nog te siene kry.”

      Verbeel sy haar of sien sy spot in sy oë? Hy kon hulle altyd so spottend op universiteit aankyk, asof hy dink hulle is twee fratse. Sy moet haarself dwing om vriendelik te wees.

      “Was jou Zuma-jaar hel gewees?” vra sy.

      Hy snork. “Was dit hel? Ek moes in ’n hospitaal in KwaZulu-Natal gaan werk, en die meeste pasiënte het MIV of full-blown Aids gehad. Ek het darem ook ’n verskeidenheid kindersiektes en peste behandel, en babas gevang vir ’n vale. Ek het my vrek gewerk.”

      “Maar jy het baie geleer, en buitendien gaan jou werk altyd lang ure behels. Dit was vir my ook ’n skok om so met die probleme buite die opleidingshospitaal te doene te kry. En ons het gedink ons ken reeds ellende.”

      Hy kou en sluk voordat hy weer praat. “Jy was mos in die Oos-Kaap? Seker net so bleddie erg.”

      “Die hospitaal se toerusting het veel te wense oorgelaat en ek het ook hard gewerk, maar dit was baie leersaam. Ek het goeie vriende daar gemaak.”

      “Little Miss Sunshine,” spot hy.

      Brenda vererg haar. “Ons het die Hippokratiese Eed afgelê, Thomas. Ons het belowe om ons lewe te wy aan die verligting van ander se pyn en ellende. Dis nie iets om mee te spot nie. Jy was nog altyd ’n spotter en ek het nog altyd onder jou spot deurgeloop. Wanneer gaan jy grootword?”

      Hy sit terug en kyk haar gebelg aan. “Chill, Brenda! ’n Mens sou sweer ek is ’n monster. Ek maak maar net ’n grappie, dis al.”

      Sy bly stil en eet verder, maar daar is ’n ongemaklike stilte. Hy maak sy bord kos klaar voordat sy halfpad met hare is, en toe sit hy haar en bekyk.

      “Jy het mooi grootgeword, maar niks vriendeliker nie.” Sy stem klink seergemaak, maar sy vermoed hy dik aan.

      Eers toe sy klaar is en haar mond met die servet afvee, kyk sy na hom.

      “Little Miss Sunshine is gewoonlik vriendelik en nie humeurig nie, Thomas Naudé. Die moeilikheid met jou is dat jy nog altyd ligsinnig was en jou verbeel jy is beter as ander. Dat jy met mense se gevoelens kan speel, hulle kan beledig en verkleineer, en dan moet hulle maar vir lief neem daarmee, want jy is so oulik.”

      “Hel! Hier sien ek ’n ou vriendin en al wat sy doen, is om my uit te vreet vir als wat sleg is.” Sy mooi gesig vertrek komies.

      “Wel, jou sondes haal jou in. Jy sal nooit weer die kans kry om ’n weddenskap met my te wen nie.”

      Hy is dadelik behoedsaam. “Waarvan praat jy, sussie?” sis hy.

      “Jou weddenskap destyds dat jy my sal oorreed om na jou broer se partytjie te gaan, boetie,” sê sy opsetlik bedaard. “Onthou jy? Ek hoop jy het jou honderd rand darem goed bestee. Daarmee kon jy ’n ander meisie vir ’n hamburger geskiet het.”

      Sy mond het oopgeval en nou lyk hy erg verleë. “Hel, Brenda … Ek het nie gedink jy sou dit uitvind nie. Ek het nie bedoel om jou gevoelens seer te maak nie.”

      “Nee, omdat jy my gevoelens geensins in aanmerking geneem het nie. Maar dis water onderdeur die brug. Kom ons vergeet daarvan.”

      Hy skud sy kop. “Ek is regtig jammer. Jy laat my soos ’n hond voel.”

      “Dankie vir jou geselskap en toemaar, moenie huil nie. Nou moet jy my verskoon. Ek is weer aan diens.”

      Sy staan op en los hom aan tafel, bewus daarvan dat hy haar agterna kyk.

      Nou weet jy waar jy met my staan, Thomas Naudé, dink sy. Maar toe is sy half spyt. Hy is nog nuut en vreemd hier. Moes sy dit ooit opgehaal het? Dis so lank gelede. En juis hier waar dit lekker is om ’n ou bekende te sien. Sy sug. Ag nou ja, hy moet dit maar verwerk soos sy die destydse belediging moes verwerk het. Dit het haar nogal seergemaak, maar hy is gewoonlik so ligsinnig dat hierdie ding hom sekerlik nie lank sal laat sleg voel nie.

      Soos Brenda voorspel het, maak Thomas ’n indruk op al wat vrou is. Dit gons behoorlik oor die aantreklike jong Suid-Afrikaanse dokter. Sy weier egter om betrek te raak by praatjies oor hom. Sy is hier om te leer, en die ondervinding gaan ’n aanbeveling wees as sy aansoek doen om in Suid-Afrika in ginekologie en verloskunde te gaan spesialiseer.

      Sy en Eben is die oggend vry en hulle beplan om na Hampton Court-paleis te gaan. Daar is ’n klop aan haar deur en sy maak oop, want sy verwag hom. Tot haar verbasing is dit nie hy wat daar staan nie, maar Thomas Naudé.

      “Haai. Is jy nog kwaad vir my?” vra hy sedig.

      Sy glimlag. “Nee wat. Ek het gedink dis Eben. Ons gaan Hampton Court toe. Ons is besig om al die besienswaardighede die een na die ander in te ryg in ons vrye tyd.”

      “Ag nee. My oom is hier vir ’n mediese kongres. My oom Charl. Onthou jy hom nog van die gewraakte partytjie af? Die ginekoloog?”

      Dis asof haar asem ’n oomblik verstok. Sy knik. “Ja, ek onthou hom.”

      Hoe kan ’n mens so ’n man ooit vergeet?

      “Hy nooi ons – vir my, jou en Eben – uit vir die dag. Môre gaan hy terug. Wil julle nie eerder ’n ander dag na Hampton Court gaan nie? Hy neem mens altyd vir helse lekker etes uit, en hy is hier met ’n gehuurde Bentley. Ons hou