Bloudruk vir die liefde
Susan Pienaar
Satyn
1
Salomé steek voor Stefan Rademeyer se kantoordeur vas toe sy ’n vreemde en erg omgekrapte manstem hoor.
“’n Vroulike projekbestuurder! Hel, Stefan, ek kan dit wragtig nie glo nie.” Dan volg die slag van iets soos ’n lêer wat met drif op ’n lessenaar neergegooi word. “Ek het ’n verdomde manlike ingenieur nodig wat met gemak en outoriteit met die ingenieurs en kontrakteurs kan saamwerk.”
Salomé gaan staan langs die deur naby die muur om verder te luister. Mm, dan is die hoof- uitvoerende beampte van Verster & Rademeyer Argitekte vandag terug. Sy het die afgelope twee dae nogal baie van Malan Verster by haar nuwe kollegas gehoor, maar niks wat daarop gedui het dat hy ontevrede met haar aanstelling gaan wees nie.
“Sy is nou wel ’n vrou, maar –” begin Stefan.
“Watter man in ons beroep,” stoom Malan voort asof sy vennoot nie gepraat het nie, “gaan ’n vroumens ernstig opneem en haar instruksies uitvoer?” Hy lag ironies. “Tensy sy natuurlik soos ’n man gebou is, met rooi beenhare en ’n snor.”
Salomé lig ’n hand, groet ’n man wat hom in die verbyloop aan haar vergaap. “Verrassinkie vir jou, Malan,” sê sy binnensmonds. Dit sal nie die eerste keer wees dat sy iemand wat haar onderskat, verkeerd bewys nie. Daardie arrogante ingenieur wat tydens haar internskap as derdejaarstudent voorspel het dat sy sou opskop, moes lekker op sy neus kyk. Hy wou hom mos nie steur aan hierdie “ou girltjie” se “wiskundesommetjies” nie, maar hy het hom lelik misgis.
“. . . ook saam met ’n hele paar verskillende argitekte aan ’n verskeidenheid medium- en high-rise geboue in die VSA gewerk. Lees haar CV deur, dan praat ons weer,” hoor Salomé gedeeltelik wat Stefan sê.
“Daar was mos ’n hele paar manlike aansoekers vir die pos,” praat Malan nou kalmer. “Laat een van ons sekretaresses of Adam die mense bel en hoor wie is nog beskikbaar, en reël onderhoude vir so gou moontlik. Jy kan die vroumens dalk by die Thorn Park-projek inspan, of elders, net solank ek iemand anders kan kry.”
“Hendrik is projekbestuurder by Thorn Park.” Stefan sug. “Met die siftingsproses het daar drie kandidate oorgebly. Ouens met heelwat minder kwalifikasies as Salomé.”
Salomé het tydens die onderhoud nie dadelik besef sy gaan saam met Malan werk nie – Stefan het die onderhoud gevoer en sy het aangeneem sy werk saam met hom.
Maar toe sy vasstel presies waar sy in die maatskappy inpas, het sy nogal gedink sy en Malan behoort lekker saam te werk, juis omdat hy nie alleen argitek is nie, maar ook struktuuringenieur. Nou klink hy regtig soos ’n aaklige mens . . . maar sy sal nie toelaat dat dit haar afskrik nie. Sy het tog al met ’n hele paar mislike argitekte te doen gekry, sy weet hoe die meerderheid se koppe werk. Sommige argitekte reken mos ingenieurs is nie kreatief genoeg nie, en ja, soms is dit waar, maar beslis nié in haar geval nie.
Salomé het Malan gegoogle toe sy gehoor het sy werk saam met hom. Om te dink sy het hom in die stilligheid bewonder omdat hy duidelik besef hoe noodsaaklik struktuur in die beplanningsfase van argitektoniese ontwerpe is, en daarom ’n graad in ingenieurswese, sowel as in argitektuur, behaal het.
Maar nou is die vent nie geneë om met ’n vroulike ingenieur saam te werk nie.
Laat Malan maar gal braak, sy is nie in die minste deur hom geïntimideerd nie. Sy ken haar waarde en weet Malan kan dankbaar wees dat Stefan háár aangestel het om vir hulle te werk.
“Jy’s flippen moeilik en onredelik,” grom Stefan. “Ek het die beste kandidaat tussen die hele lot gekies. Jy’t gesê ek moet my goeie oordeel gebruik, en ek hét. Salomé Delport se CV is impressive, sê ek jou.”
Malan Verster lag effens. “Hel, jy’s so dêm goedgelowig waar dit vroue aangaan. As jy my vra, is die bleddie ding boonop gekook.”
Salomé voel haar bloeddruk styg. Hoe durf die vent! Sy haal diep asem. Kalmeer, Salomé, kalmeer. Sy gaan eenvoudig maar voorgee sy het niks van hierdie gesprek gehoor nie. Verster & Rademeyer Argitekte is ’n prestige-onderneming wat groot projekte aanpak.
Sy wil hier werk waar sy haar kan uitleef soos sy nie by ’n kleiner firma sal kan doen nie.
“Salomé is klaar op ’n proeftydperk van drie maande aangestel,” sê Stefan, en in die daaropvolgende stilte hoor Salomé ’n geklingel soos van ysblokkies wat in glase gegooi word. “Jy’s in ’n moerse bui. Hoe’t dit by die konferensie gegaan?” Glas klink teen glas. “Wil jy daaroor praat?”
“Cheers. Bleddie tydmors gewees,” sê Malan. “Weer die ou-ou storie van die verskillende persepsies wat ingenieurs en argitekte het. Argitekte soek logika in visuele patrone . . . bla-bla-bla . . . ingenieurs gebruik die begrip van wiskunde en translitereer wat hulle sien in abstrakte modelle of diagramme. My raad aan hulle was: ‘Doen jou graad in ingenieurswese saam met argitektuur en jy’t nie probleme nie.’” Dis ’n paar oomblikke stil. “Ek moet oor ’n uur en ’n half Waterfall site toe. Ek het nie die geduld om boonop saam met ’n oningeligte ingenieur te werk nie.”
“Jy’t niks om oor te worry nie. Ek sê jou Salomé Delport is briljant en hardwerkend,” sê Stefan. “Met haar aanstelling het sy dadelik die verskillende planne en dokumente van die Waterfall-projek en die insette van die ander ingenieurs aangevra en bestudeer. Sy is ingestel op detail. Dè, vat Salomé se CV en gaan dit op jou tyd deur. Of wag, laat ek saamstap en julle aan mekaar voorstel. Dan lees jy saam met haar . . .”
Salomé tol om. O genade, sy moet wegkom. Sy draf in die gang af. In haar kantoor gekom, gaan sit sy agter haar lessenaar en druk haar leesbril oor haar neus. Sy het die lêer darem betyds oop toe die twee vennote binnekom. Sy gee voor dat sy seker maak al die Waterfall-dokumente is binne-in die lêer, kyk eers op toe Stefan keel skoonmaak.
Stefan Rademeyer glimlag vir haar. “Salomé, laat ek jou voorstel aan Malan Verster. Malan, ontmoet Salomé Delport.”
Salomé het nie ’n keuse nie, sy moet nou maar na Malan kyk. Binne oomblikke som sy hom op: lank en breedgeskouerd in swart jeans en ’n netjiese wit oopknoophemp, met donker hare, ’n sterk beenstruktuur en loodgrys oë wat stip in hare kyk. Baie aantrekliker in lewende lywe as op die foto op die maatskappy se webblad, moet sy toegee, veral met daardie dagoue baard.Maar noudat sy weet van sy chauvinistiese uitkyk op vroue in haar beroep, is sy nie meer so seker nie.
Salomé knik en bly sit. “Meneer Verster,” wurg sy. Sy kán nie . . . sál nie voorgee dis ’n aangename ontmoeting nie.
“Malan wil darem ook saam met jou deur jou CV lees, om . . . u-hm, seker te maak van sekere aspekte,” probeer Stefan haar gerusstel.
Sy glimlag. “Natuurlik, Stefan. Ek verstaan.”
Malan kom tot sy sinne toe Stefan hom met ’n plathand teen die rug slaan en vir hom knipoog. “Nou maar dan sien ek jou later.”
Malan vee met ’n hand oor sy oë. Sal hy hom nou so wragtig staan en verkyk aan die blonde groenoog-wipstert wat gestaan en afluister het? Hy het gesien hoe sy gou by haar kantoordeur inglip. Hy kan maar net hoop sy het nie alles gehoor wat hy oor haar kwytgeraak het nie.
“Aangenaam, juffrou Delport.” Sy stem klink vreemd in sy ore en hy vergeet skoon om sy hand uit te steek.
Soos glinsterende groen juwele kyk haar oë bo-oor ’n piepklein swartraam-brilletjie wat op die punt van haar fyn neusie gebalanseer is, trotserend in syne.
Sy’s stunning . . . hel-uit mooi, maar hy kan nie dadelik sê wat presies dit aan haar is wat hom so interesseer nie. Sy draai haar kop, kry ’n pen en nou eers sien hy haar blonde hare hang in ’n vlegsel laag teen haar rug af. Franse vlegsel, het een van sy vorige meisies dié styl genoem. Hy vrek oor lang hare. Hel, sy hande jeuk skielik om daardie hare los te maak en sy vingers daardeur te trek. Hy hoes in ’n hand om homself reg te ruk. Laat hy liewer op haar aanstelling konsentreer, die storie met haar afhandel.
Malan kyk eerder af na haar lessenaar. Stadig neem sy brein die verandering waar. Sy het klaar haar persoonlike stempel op die kantoor