met wie weet wát daarin, ’n boksie sjokolade, ’n passerstel met ’n spul skryfgoed wat binne-in die kissie langsaan hoort.
Eenkant op die groot lessenaar lê omtrent sewe opgerolde planne, en langs ’n spul dokumente in ’n houer is drie dik boeke opgestapel. Op ’n kantoorstoel staan ’n rooi handsak, oor die leuning hang ’n bypassende baadjie. Nee flip, hy kan nie reguit dink in hierdie kantoor nie. Sal beter wees as hulle in sy kantoor, waar dit ordelik is, gaan gesels.
Mm, kyk nou hoe analities en takserend kyk sy hom deur. Hy kan sweer daar is ook ’n tikkie arrogansie in haar blik. Sy het beslis meer as genoeg van sy uitlatings gehoor . . . niks wat hy nou daaraan kan doen nie. Hy kan haar netsowel laat weet dat hy besef sy het afgeluister. Dalk kan hulle die lug dán suiwer.
“Jy het reeds gehoor dat ek skepties oor jou aanstelling is. Ek wens ek kon eerlik sê dat ek jammer is oor alles wat ek kwytgeraak het, maar ek glo steeds dat ’n vroumens tussen ’n spul mansmense nie gaan werk nie.”
’n Blos begin vanaf haar hals oor haar fyn, amper deurskynend ligte vel stoot en vlek haar wange. Ja-nee, sy behoort skaam te kry omdat sy afgeluister het. Hy kyk haar in die oë. Hel, dis toe nie skaamte nie, haar groen oë blits van verergdheid en verontwaardiging.
Hy gaan haar maar eers tyd gee om af te koel.
Doelbewus skuif sy oë na haar blonde hare. Aan die haarwortels en die gesonde skynsel kan hy sien sy kleur dit nie. Nogal raar om blonde hare in hul oorspronklike kleur te sien. Lucinda gaan gereeld haarkapper toe en bleik haar donker haarwortels . . .
Hy frons. Vir wat kom foeter sy vorige girlfriend nou tussenin. Hy fokus weer op die meisie se gesig. Asof hy haar tyd mors, kyk Salomé doodluiters na die rekenaarskerm. Sy het boonop nog net twee woorde gesê, en haar ongeërgdheid begin hom nou irriteer. “Jy is nie baie spraaksaam nie. Gaan kommunikasie vir jou ’n probleem wees?”
Asof verveeld, draai sy haar kop en glimlag stadig. “Nee. Vir my is kommunikasie tweede natuur. As ek die dag régtig tyd het, kan ek vreeslik lekker gesels.”
Maar so ’n wipstert van ’n snip! Sy gee duidelik nie ’n duit om oor die onderhoud met hom óf oor die uitkoms daarvan nie. Maar aan die ander kant, hoekom sal sy? Stefan het haar mos klaar vir ’n proeftydperk van drie maande aangestel.
Malan kyk op sy horlosie. Darem nog genoeg tyd voor hy die ander ouens op site moet kry. “Stap saam, juffrou Delport, dan bespreek ons jou CV in my kantoor.”
Sy haal die leesbrilletjie met ’n geoefende beweging af, sit dit neer en tel die lêer op. “Goed,” sê sy styf.
Malan wag dat Salomé voor hom uit stap. Sy het ’n fyn beenstruktuur, maar hy kan sien sy is goed bedeeld, al wys die stylvolle bloes nie te veel nie. Onwillekeurig dwaal sy oë na haar netjiese sitvlak in Levi-jeans . . . Seker ’n satyndeurtrekkertjie of dalk glad . . . Get a bloody grip, Malan! Hy kyk liewer na haar voete. Mm, skoene van goeie gehalte, dienlik en duursaam. Sy trek beslis nie aan om aandag te trek nie.
Die meisie het ’n grasieuse manier van stap, asof sy voor hom sweef. Geen geswaai van haar heupe om sy aandag te trek nie, anders as soveel ander meisies met wie hy al te doen gehad het. Dit tel in Salomé se guns dat sy professioneel is deur nie sy aandag op haar kurwes te probeer vestig nie.
In sy kantoor gekom, gaan sit sy met die lêer op haar skoot, en hy neem oorkant haar plaas. Malan is intens bewus van die manier waarop Salomé sy kantoor deurkyk terwyl hy deur haar CV lees. Hel, hy het lanklaas so gesukkel om te konsentreer.
Right, graad by die Universiteit van Kaapstad . . . Plaaslik internskappe gedoen terwyl sy geswot het . . . Drie jaar by ’n Pretoriase ingenieursfirma ’n internskap gedoen voor sy eksamen afgelê het vir registrasie om as ingenieur te praktiseer. Vier jaar in die buiteland saam met nege verskillende argitekte gewerk. Stefan het ’n blad ingevoeg: Het almal gebel, alle sertifikate waterdig.
Sy is vaardig in die skep van agtergrondplanne in Revit . . . kan afskaal na PDF’s, AutoCAD, 3ds Max en Excel . . . You name it, sy het als gedoen. Sy’t die struktuur van ’n brug oor ’n highway in New York gedoen . . . ander groot projekte . . . geen residensiële projekte . . . Mm, hy kan sien hoekom Stefan haar aangestel het. Maar flip, hy weet darem nie so mooi nie . . . Sy het kennis van groot projekte, maar wat gaan dit help as die werkspanne haar nie ernstig opneem nie? Hy het mos al gehoor hoe van die ouens vroue agteraf bespreek; hy weet daar gaan mans wees wat haar net as ’n mooi dingetjie sal beskou. Wie sal dan vir haar intree? Hy het wragtig nie tyd daarvoor nie. Dis mos juis hoekom hy iemand wil aanstel – sodat sy werkslading verlig kan word.
Hy maak haar CV toe en leun terug. “Gee jy om as ek jou ’n paar vrae vra?”
“Nee, natuurlik nie. Vra gerus, ek sal antwoord so goed ek kan.”
Haar stem is melodieus . . . laat hom so wragtig helder oordag aan sagte satynlakens en sjampanje dink. Hy sluk swaar, skiet orent, loop kry twee glase en twee bottels water uit sy yskassie. Vir ’n man wat skaars ’n maand uit ’n wurggreep-verhouding is, iemand wat vroue vir eers afgesweer het, is hy wragtig vinnig besig om sy varkies te verloor. Hy moet sy verdomde kop laat lees om gedagtes oor die vroumens te kry, terwyl hulle nou noodgedwonge saam sal moet werk. Daardie vervlakste Stefan!
Haal diep asem, Malan, dink helder. Moet onttrekkingsimptome wees wat hom beet het. Suspisieuse en versmorende Lucinda, wat hom op die ou einde geen spasie vir leef gegee het nie, het hom ontnugter.
Hy geniet nog die nuwe vryheid wat sy Harley-Davidson en sy Land Cruiser hom onderskeidelik bied.
Hy weet nie hoekom hy Salomé nou met ’n vorige meisie staan en vergelyk nie. Salomé is op die oog af totaal verskillend van Lucinda, ook die ander meisies voor haar. Hulle het van sexy klere wat mans se tonge laat uithang, swaarder grimering en hope juwele gehou. Salomé Delport is glad nie uitlokkend aangetrek nie. Sy het ’n mooi gesiggie en lyfie, maar wat is nou so besonders daaraan? Tog, sy het iets meer . . . ’n kwaliteit . . . hy weet nie wat nie, ’n onsigbare aura . . . iets . . .
Malan vra nie of Salomé wil hê nie, hy stoot haar glas water tot voor haar en sluk syne staande af. Sy is klaar aangestel. Dis gedane sake, maar alles pla hom aan haar – haar houding, haar stiltes – en hy het nog nie eens begin om saam met haar te werk nie.
Hy voel effens meer in beheer toe hy weer oorkant haar sit. “Wat het jou laat besluit om in die VSA te gaan werk? Jy’t tog reeds jou lisensie hier in Suid-Afrika gekry.”
Sy drink eers ’n slukkie water, sit die glas neer en kyk hom in die oë. “BMS Construction in New York het aan my ’n werksaanbod gemaak, toe volg die een projek ná die ander. So ja, ek was besig.”
“Ek’s nuuskierig. Wat het jou laat besluit om ingenieur te word?”
Sy frons, tik nadenkend met ’n vinger teen haar ken, knik dan. “Ek het kleintyd gehou van Lego-blokkies . . . jy weet . . . het sulke hoë geboue en vreesaanjaende ruimtewesens van blokkies aanmekaargesit,” beduie sy met ’n geamuseerde glinstering in haar oë.
Spot sy dalk? Teen sy beterwete kan hy nie anders as om te glimlag nie. Haar vere is goed deurmekaargekrap, maar blykbaar het sy steeds ’n sin vir humor. “Jy’s nie ernstig nie, of is jy?”
Sy knik. “O, maar ek is. En ek het boonop ’n kop vir wiskunde gehad. Nogal raar in ’n meisiekind, nè?”
Sy spot beslis. Sy het baie meer as aanleg in wiskunde in hierdie beroep nodig en sy weet dit. Sy is ’n regte snip, maar om die een of ander rede vind hy dit prikkelend. Haar houding is aansteeklik. “Jy’s nie skaam om met jou prestasies te spog nie.”
“Feite is feite,” knik sy.
Daar is nog water in sy bottel en hy skink dit in sy glas, drink ’n paar slukke. Hy moet hom regruk en beheer neem. Dit is nie ’n flirtasie nie, dis ’n onderhoud, magtig. Die meisie het selfvertroue en ’n sterk persoonlikheid, wat natuurlik broodnodig is, maar ’n probleem vir hom kan wees.
“As ingenieur is jy gewoond aan orders gee. Sal jy daartoe in staat wees om te kan volg? Om sonder argumente my opdragte